ONS GLO
Neville Goodchild
Hoe sien ons transformasie en bekering?

Dag 1: Mense met passie
Dit is baie duidelik dat werklike verandering, transformasie, nie uit die geledere van politici of groepe mense gaan kom nie. Werklike transformasie gaan vanuit die Kerk kom. God se hervormingsmodel is nie geskoei op beloftes wat nie nagekom word nie, dit word nie onder ʼn politieke party se vaandel verkondig nie en dit het nie ras in gedagte nie. Sy plan het vir my en jou in gedagte, Sy Kerk, ons gaan die wêreld op sy kop draai. En ons gaan dit regkry omdat ons passievol oor Christus is.
Die oorsprong van die woord, passie, kom uit die Grieks-Latynse woord, patior, wat ʼn mens se gewilligheid om te ly vir iets beskryf. In ʼn Bybelse betekenis het passie nie die afgewaterde betekenis van ʼn sterk voorliefde of gevoel vir ʼn spesifieke sport, sportspan of stokperdjie nie. In hierdie konteks het die niks met die liefde tussen man en vrou te make nie.
Passie is 'n diep, intensiewe emosionele toestand, wat gekenmerk word deur entoesiasme, toewyding en opoffering ten wille van die groter saak. In Lewende Woord is Jesus se passie, Sy bereidheid om te ly vir ons, selfs te sterf vir ons sondes, ons maatstaf. Hy het gesterf sodat ons passievol in Sy kerk kan lewe.
Lees:
Mediteer:
- Hoe opgewonde is ek oor my rol on ons kerk? Het ek ʼn rol? Of is dit dalk tyd dat ek voluit, met passie, begin deelneem?
Bid:
Here, ek is ʼn klein mens wat niks beteken in die groter prentjie nie. My hart egter, roep uit na U. Ek het U nodig, want ek besef dat ek self nie kan regop staan teen die aanslagte van die wêreld nie, daarvoor is ek te swak. Ek bid tot U om my passie vir U werke aan te wakker, om my geleenthede te laat raaksien waar ek ʼn verskil in U naam kan maak. Amen.

Dag 2: God se visie vir ons
In Habakuk 2:14 sien ons wat God se visie vir ons is.
“Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Afr. 1933)
Die woord “heerlikheid” beteken hier “hoe God is”, met ander woorde, in bostaande beteken die teks dat die wêreld sal leer hoe God is. Dit word verder bevestig in Joh. 1:14 (1953).
“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid..”
Toe Jesus onder ons kom woon het, het Hy die sigbare ambassadeur van God geword, ʼn visuele hulpmiddel wat God se natuur (hoe Hy is) hier kom wys het vir die mensdom. Die God wat nog altyd onsigbaar was, is nou openbaar hier tussen die mense. Jesus is die venster waardeur ons God se genade en waarheid ervaar.
God se visie vir ons is dus om die aarde te vul met Sy evangelie, om dissipels te wees en aanhou werk totdat elke gemeenskap kennis van die Sy heerlikheid dra. Hoe doen ons dit prakties? Lewende Woord Kerk gee daagliks kos vir kinders wat nie het nie, ons is besig om ʼn veilige skuilplek vir vroue in Soutpan toe te rus, ons help ʼn gemeente om hulle Kerk op te rig ensovoorts. Al hierdie oophand-liefdesgebare is presies wat God se visie is vir ons.
Lees:
Mediteer:
- Hoe en waar kan ek meer betrokke raak om God se heerlikheid vir die wêreld te wys?
Bid:
Liewe Jesus, ek wil U ambassadeur wees deur ander mense met liefde te respekteer. Gee my asseblief die energie en ʼn oop hand sodat U naam verheerlik kan word. Dankie dat U tussen ons kom woon het, sodat ons direk kon sien hoe ons as kerk moet wees. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is deel van God se visie.
Aanbidding:
This is our God – Phil Wickham

Dag 3: Wie is ons?
1 Petrus 2:9 (AMP): “But you are a chosen race , a royal priesthood , a consecrated nation , a [special] people for God’s own possession , so that you may proclaim the excellencies [the wonderful deeds and virtues and perfections] of Him who called you out of darkness into His marvelous light.”
Al ooit die term “dis my mense” in een of ander vorm gebruik? Ons praat gewoonlik so van mense met wie ons baie goed regkom en wie se waardes dieselfde is as ons sʼn. Wanneer ons bostaande vers lees saam met Hos. 2:23, staan daar ʼn paar goed uit. Ons is ‘n uitgekose volk, God se mense – PEOPLE. Ons het ʼn doel as koninklike priesters (PURPOSE) en ons is staan uit want ons is Sy kinders (PRESENCE). Laastens kan ons God se wonderdade passievol uitlig aan ander (PASSION), want ons is uit die donkerte in Sy lig gebring.
In Hosea sê God baie duidelik dat ons Sy mense is. Dis ook baie duidelik dat Hy nie uitsonderings maak of onderskeid tref oor wie in Sy kring beweeg nie. Ons is welkom en ons is Sy mense.
Lees:
Mediteer:
- Ons is in God se kring. Wat beteken dit vir ons in terme van ons alledaagse handeling met alle mense wat oor ons pad kom?
Bid:
Liewe Jesus, dankie dat ek in U span is ek wil op geen ander plek wees nie. Dankie dat U U liefde op soveel plekke in die Bybel verklaar. Ek besef dat ek ʼn verantwoordelik het teenoor ander mense, want ek verteenwoordig U hier op aarde.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is uitgesoek om in God se span te wees.
Aanbidding:

Dag 4: Ons missie, Sý krag
Kolossense 1:28-29 vervat die basiese missie van die hedendaagse Christen, naamlik om Hom te verkondig. Dit verduidelik ook dat ons nie op onsself aangewese is nie, maar dat God ons die energie gee om dit te kan doen.
“He is the one we proclaim, admonishing and teaching everyone with all wisdom, so that we may present everyone fully mature in Christ. To this end I strenuously contend with all the energy Christ so powerfully works in me.”
Hierdie missie is om die geleentheid vir elke mens te skep om getransformeer te word na die beeld van Christus. Wanneer ons bekeer is, beteken dit nie dat ons nou kan sit en kyk wat gebeur nie. Ons word deel van ʼn kerk waar ons onderrig word om Christus met die wêreld te deel en ons gaan uit en ons verkondig Jesus.
Lees:
Mediteer:
- Hoe help jy om die Koninkryk te bou?
Bid:
Liewe Jesus, ek het nie altyd die energie of moed om U te verkondig nie. Vul my met U Gees sodat ek kan intap by U kennis, energie en liefde. Dankie here, dat U my met liefde intrek in U troonkamer. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ʼn bouer van die Koninkryk.
Aanbidding:
Build Your Kingdom Here – Rend Collective

Dag 5: ʼn Voorbeeld uit Antiochië
In Handelinge 11:19-30 lees ons meer van die gemeente wat in Antiochië ontstaan het uit groepe Jode en nie-Jode. Hierdie mense wandel en handel net soos Jesus gedoen het; sterk van karakter, met liefde het hulle evangeliseer en mense bedien. Hulle gaan selfs sover om oor lang afstande kos te stuur vir die wat dit nodig het. Dit val reëlreg in by die vervulling van God se visie deurdat hy aan hulle die Gawes van die Gees en die Vrug van die Gees gee om ander te bereik.
In Ef. 4:11-13 lees ons dat God apostels, profete, evangeliste, herders en leraars gee om die kerk toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die Liggaam van Christus. Verskillende rolle vir verskillende mense, elkeen met sy plek in diens van die Kerk tot eer van die Here. Dit kom daarop neer dat daar plek vir ons almal is om diensbaar te word. Ek hoef nie ʼn charismatiese spreker te wees wat die Bybel uit my kop uit ken nie, iemand moet die koffie skink. God sien ons diensbaarheid raak en enige rol wat ons vervul om die Kerk (Sy Liggaam) te verheerlik en verder uit te bou, is tot eer van die Here.
Lees:
Mediteer:
- Waar kan ek en jy betrokke raak sodat ons werklik deel van Sy Liggaam kan wees?
Bid:
Liewe Jesus, my bydrae tot die goeie funksionering van ons kerk is tot U eer. Help my om ons gemeente te dien met nederigheid en liefde. Skep asseblief geleenthede vir my om te groei in die Woord sodat ek ander na u toe kan lei. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ʼn trotse spanlid in diens van die Here.
Aanbidding: