Go Deep 03 Desember 2023

WHY JESUS?

Neville Goodchild

Ontdek waarom Jesus God se enigste antwoord vir ons wêreld is!

 

Dag 1: ‘n Seun Gebore

Kersfees word wêreldwyd deur talle mense gevier en ook op verskeie maniere. Meeste mense weet dat Kersfees gaan oor Jesus Christus se geboorte, maar nie almal erken Jesus Christus as die Seun van God nie. Min vier werklik Jesus Christus. Tog word daar groot feesgevier en baie moeite gedoen. Daar is kerspartytjies by die werk en in families. Om elke hoek en draai sien jy advertensies en idees van hoe om Kersfees spesiaal te maak. Daar is groot etes wat beplan word, idees word uitgeruil en baie moeite word gedoen met die mooi maak van verskeie areas. Mense gebruik hierdie geleentheid ook om geld te maak.

Met die fokus wat so weg is van Christus, wonder Christene dikwels of Kersfees nog gevier moet word en hoe vier ‘n mens Kersfees op die regte manier? Geskiedkundiges bevestig dat Jesus Christus gebore is, maar ook dat daar ‘n paar feite rondom Sy geboorte is wat ons verkeerd het. Daar is byvoorbeeld sekerheid dat Jesus nie in Desember gebore kon wees nie, maar onsekerheid oor die presiese datum. Wat het kersbome, bokkies met rooi neuse en ‘n ou man met ‘n wit baard en klomp klein werkertjies te doen met hierdie feesviering?

Daar is vrae oor hoe ons Kersfees moet vier en waarom. Jy het waarskynlik self al hierdie vrae gevra. Wat is die slotsom van jou gesprek?

As die wêreld Kersfees vier, en ons weet dit gaan eintlik oor Jesus Christus se geboorte, en ons stem nie saam met hoe dit gevier word nie, beteken dit dat ons moet terugstaan en geen vieringe hou nie? Doen ons verkeerd om deel te neem? Moet ons dalk die datum verander?

Dit is juis in hierdie tyd waarin ons ‘n kragtige getuienis kan lewer van hoekom ons Jesus Christus se geboorte vier.  Dit is juis in hierdie tyd wat jy ‘n geleentheid het om te begin getuig van Jesus Christus in jou eie lewe. Hoé Hy jou lewe kom verander het en wat dit behels. Jy vier Jesus Christus, en nie net dit nie, maar die feit dat jy tot geloof in Hom gekom het; dat Hy vir jou (en die wêreld) gesterf het; dat Hy jou kragtig gered het. Dat Hy opgestaan het uit die dood en dat jy wedergebore is en ‘n nuwe lewe leef. Jou storie is ‘n kragtige getuienis van Jesus Christus. Jesus is die Enigste Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na God die Vader toe en het die ewige lewe hierna, sonder Jesus nie. Lewer jou kragtige getuienis van Jesus. God kies om Jesus deur jou voor te stel aan die wêreld. Vertel vertel vertel, hoekom jy Christus vier!

Lees:

Joh.14:6

Mediteer:

  • Hoe getuig jy in hierdie seisoen van Jesus Christus se lewe, dood en opstanding in jou eie lewe?
  • Wie gaan vertel as jy nie doen nie?

Bid:

Here, dankie dat U in hierdie week vir my kom oopbreek waarom U Jesus Christus gekies het as hoop vir hierdie wêreld, as hoop vir my. Ek het ‘n getuienis om te lewer oor dit wat U in my lewe kom doen het. Help my waar ek dit nog nie raaksien nie en om met my mond te begin getuig van U lewe in en deur my. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is die Enigste Een. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe!

Aanbidding:

The Way – Pat Barrett

Dag 2: Gevind

Die vraag wat ons wil beantwoord in hierdie reeks is waarom God besluit het dat net Jesus die antwoord is. Waarom is daar nie en waarom kan daar nie ander opsies wees nie?

Dit is net Christene wat Jesus Christus erken as die Seun van God. Ander gelowe erken Hom wel as ‘n groot profeet, maar erken nie dat Hy die enigste roete is nie. Dit is nogal interessant as jy daaroor dink. ‘n Profeet is iemand wat erken word omdat hul die waarheid beet het. Hul uitsprake word as geregtig geken. Jesus word geken deur baie ander gelowe as ‘n Groot Profeet. Dit beteken dat hulle eintlik bely dat Jesus die waarheid beet het; dat die uitsprake van Jesus Christus geregtig is en waarheid inhou vir die mensdom. As Jesus gesien word as ‘n groot profeet, beteken dit dat Hy die ultimate waarheid verklaar het. Een van Jesus se grootste verklarings is: “Ek is die weg, en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh.14:6).

Baie mense van ander gelowe is steeds soekend. Hul is opsoek na die Messias, na ander of beter belewenisse. Hul wil ‘n dieper vlak, dimensie of belewenis bereik. Hul dink dat hul iets moet doen en werk vir verdienste. In hierdie soektog is daar verskillende rituele, pelgrimstogte, of dinge wat gedoen kan word om dit te probeer regkry. Mense wil ook op verskillende maniere erkenning probeer verkry.

Ons wat in Christus is, is juis nie meer soekend nie. Ons het die Messias gevind! Meer as dit, ons het Sy Goddelike natuur binne ons ontdek!

“What is man that You are mindful of him, and the son of [earthborn] man that You care for him? Yet You have made him a little lower than God, and You have crowned him with glory and honor” (Ps.8:4-5).

Ons is daarom nie meer soekend nie. Die oomblik wat jy ja sê vir Jesus, nooi Hy jou Self na die tafel van die Vader toe. Hy gee vir ons vrye toegang, sonder beperking. Deur geloof in Christus het ons die volle pakket van Goddelikheid ontvang. Ons het volle toegang tot die Vader, deur Jesus Christus!

Lees:

Ps.8:4-5

Ps.84:5

Mediteer:

  • Die dissipels het gerebelleer toe ‘n vrou wat nie waardig geag was nie, Jesus se voete gesalf het. Hierdie storie wat vir altyd vertel sal word, is die storie van Jesus wat God se enigste antwoord is. Wanneer ons Jesus ontvang, ontvang ons onmiddellik alles.
  • Die dissipels en veral Judas, kon in daardie omstandighede glad nie verstaan nie. Hy het die somme gemaak. Wat hy nie kon besef nie, was dat die Evangelie nie gaan oor verdienste, jou finansiële stand, jou goeie of slegte reputasie, aanvaarbaarheid, moontlikhede of toekoms nie en dit het niks te maak met jou bloedlyn nie.
  • Baie Nuwe Testamentiese Christene haak vas by bloedlyn probleme. Jesus se bloedlyn was nie so perfek nie. Word bevry van die idee dat iets biologies jou terughou van die heerlikheid van die Here af. Jy kan nie op grond van iets in jou verlede agterste sitplek kry by God nie. Jy kan nie deur verdienste op ‘n beter plek in die Here kom nie. Jou posisie in die Here word nie bepaal deur iets in jou verlede wat buite jou beheer is/was nie. Die enigste faktor wat ‘n gamechanger is, wat werklik saak maak, is of jy ja gesê het vir Jesus.
  • Jesus sê: “Welkom in die volle heerlikheid van die Vader”. Zion, God in full view. Welcome home.

Bid:

Here, dankie dat U vir my waarheid, die regte pad en ook lewe gee. Dankie dat ek in U geklee is Jesus Christus, met die Heerlikheid van God. Help my Here om dit af te gooi wat nie van U af is nie, dit wat my leeg en onseker laat, en om op te neem wat U in U rykdom alreeds vir my gegee het. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

In Jesus Christus is ek geklee in heerlikheid en ‘n refleksie van Hom. Ek kan dit nie wen op enige manier nie. Dit is 'n geskenk wanneer ek "Ja" sê vir Jesus.

Aanbidding:

Breathe/What a Friend I’ve Found – Hillsong Worship

Till I Found You – Phil Wickham

Dag 3: Verlore Boek

Daar kom ‘n tyd wanneer mense nie meer die Naam van Jesus sal ken nie, en ook nie die Woord nie. Jesus Self vra of Hy nog geloof sal vind wanneer Hy terugkom (Luk.18:8)? Die storie van Jesus en die hoop wat Hy bring is so kragtig dat daar ‘n groot poging is om Sy karakter aan te tas en Sy ware identiteit te verdraai of heeltemal te laat verdwyn.

Dink ook aan jou eie storie van geestelike groei. Was jy nog al die jare getrou om die Woord te eet soos brood wat jou voed? Het jy dalk tradisies of godsdienstige gebruike gehad, maar ‘n studie van die Woord het ontbreek? Was jy dalk betrokke in allerhande interessante leringe, wat nie een ooreengestem het met die Woord nie? Baie mense naby aan ons leef in gebrek aan Woord kennis.

Wanneer ons so besig raak met ons skedules, met ons tradisies en godsdiens, met ons betrokkenheid by die kerk en op ander gebiede, dan kan ons Jesus maklik mis. In Salomo se regerings jare het hy hom toegespits daarop om vir God ‘n tempel te bou met die beste materiaal,  die beste vakmanne en derduisende arbeiders. Tog het die wetboek van God verlore geraak onder al die besig-wees en niemand het dit besef nie. Met tyd sien ons dat Salomo die pad byster geraak het en opgehou het om God te dien. Die volk het self ook soos verlore skape geraak. Dit het gebeur omdat hulle die belangrikheid van God se inspraak in hul lewens misgekyk het. Hulle het opgehou met hul toewyding aan die Here. Hulle harte het na ander dinge begin draai en hul het God se voorskrifte nie meer geag of geheilig nie. Daar het ‘n einde aan Salomo se regerings jare gekom en baie jare later, na verskeie regeerders aan bewind gekom het, en weer gesterf het, is die belangrike wetsboek eers weer gevind. Onmiddellik het almal opgehou doen waarmee hul besig was om te luister na dit wat in die boek opgeteken was. Hul harte het dadelik berou gekry en teruggedraai na God wat hoop gee, rigting en orde skep.

As Jesus op hierdie oomblik langs jou sou staan en jy ‘n gesprek met Hom kon aanknoop, sou Hy onmiddellik in jou omstandighede in gespreek het, en jou situasie vul met waarheid en hoop. Wanneer ons te besig raak en Hom mis, raak ons mismoedig en verloor hoop. Jesus staan altyd gereed om vir ons hoop te gee. Ons kan nie bekostig om die Woord nie op ‘n gereelde basis te raadpleeg nie. Jesus is die Woord. Dit is ons riglyn en hoop vir hierdie lewe; die Lig op ons pad!

Lees:

2Kon.22:14

Mediteer:

  • Hoe lyk jou Bybelstudie dissipline?
  • Wat se klein aanpassing kan jy in jou lewe maak, om te verseker dat die Woord nie minder word in jou lewe en stelselmatig heeltemal verdwyn sonder dat jy agterkom nie?

Bid:

Here, dankie dat U my herinner aan U waardevolle Woord. U is die Woord, Jesus en ek het U inspraak daagliks in my lewe nodig. Help my om die veranderinge in my lewe aan te bring wat nodig is, sodat ek nie afvallig word en verval in die chaos van hierdie lewe nie, maar die hoop wat U gee uit kan leef. In Jesus se Naam, Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Wanneer ek besef dat daar dinge verlore gaan met tyd, kan ek waaksaam wees om dit nie te verloor nie. Ek kan my toespits daarop om ywerig die Woord van God op ‘n daaglikse basis te bestudeer.

Aanbidding:

Too Good To Not Believe – Brandon Lake

Dag 4: Verlore Seun

Daar is soveel maniere en strategieë wat die vyand gebruik om Jesus Christus te probeer diskrediteer. Ons sien dit veral in flieks en reekse waar historiese feite en karakter eienskappe verdraai word. Die probleem is dat mense dit glo, omdat hul nie die waarheid ken wat vrymaak nie. Die goeie nuus van Jesus Christus raak verlore in gekompliseerde argumente en verdraaide opvattings.

Ons lees in Lukas 2 oor die gebeurtenis van Jesus wat wegraak. In die tog na Jerusalem waar Paasfees gevier word, is die tradisie dat die ouers hulle twaalfjarige saamneem. Tradisioneel word die koms van die Verlosser gevier; dat daar ‘n Messias sal wees wat die volk sal verlos. Hierdie is die grootste bymekaarkom van familie en vriende, en daar is baie wat gedoen moet word. Almal is besig. Met die teruggaan het Josef en Maria aanvaar dat Jesus tussen familie en vriende saam op die pad terug is, en later besef hulle Hy is nêrens te vinde nie. Jesus (die Messias waaroor hierdie tog eintlik gaan), het in die besig wees weggeraak. Dan vind hulle Hom uiteindelik na drie dae! Hulle het Hom verloor juis daar waar Hy veronderstel was om te wees. Jesus antwoord: “Waarom het U My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” (Luk.2:49). Wanneer ons so besig is met belangrike dinge, mis ons Jesus maklik juis daar waar Hy is in die dinge van ons Vader. Tradisies en besig wees kan ons so ‘distract’ dat ons die Een mis waaroor alles gaan.

Lees:

Luk.2:41-52

Mediteer:

  • Het Jesus weggeraak vir jou in die besig wees? Is daar dinge in jou lewe wat belangriker is as jou verhouding met Jesus?
  • Wys jou aksies dat Jesus jou prioriteit is?
  • Hoe kan jy Jesus weer vind?

Bid:

Here Jesus, ek is jammer dat ek dikwels te besig raak met die dinge van God, dat ek U wat die belangrikste is mis. As God sê dat ek net na Hom toe kan kom deur verhouding met U, dan is my verhouding met U die belangrikste in hierdie lewe. Jesus, ek besef ek kan nie godsdienstige dinge en tradisies handhaaf om my verhouding met U te versterk nie. Help my om stil te raak by U soos Maria wat by U kom sit en na U luister. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het nie werke nodig om my verhouding met Jesus te versterk nie. Ek het Jesus nodig!

Aanbidding:

I Speak Jesus – Charity Gayle

Dag 5: Kyk uit vir waarheid

In hierdie wêreld (in ons lewens) is daar vyf faktore wat dreig om ontslae te raak van Jesus Christus:

  • Gesinslewe (ons privaat kultuur): Dikwels kan ons gesinslewe so besig wees dat Jesus verlore raak.
  • Tradisies van die kerk: Soms kan betrokkenheid en gewoontes veroorsaak dat Jesus gemis word.
  • Geestelike gesag van leierskap: Dink maar aan kwessies waar Geestelike leiers van vandag besluit dat die Woord nie meer relevant is nie en nie omgee of daar waarheid is of nie.
  • Kulturele praktyke in ons tyd: Daar is tradisies wat onderhou word (net soos die vrylating van een gevangene destyds), waar die eindresultaat absoluut ontslae raak van Jesus Christus.
  • Politieke korrektheid, kwessies en mag: Om in gesag te bly staan en polities korrek te wees, was jy jou hande in onskuld en ontken jy Jesus Christus as Seun van God en die Enigste weg, waarheid en lewe. Jou keuse om kwessies aan te spreek op so 'n manier dat sekere mense nie aanstoot neem nie, verwyder Jesus uit die prentjie.

Jesus antwoord die Politieke mag en sê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Joh.18:37).

Die Evangelie van Jesus Christus is die enigste lering wat waardig genoeg is om hoop te gee vir hierdie wêreld. Die Woord wat God gee kan nie terugkeer sonder om effektief te wees nie. Sy Woord is absoluut in elke situasie. Dit is waarom Jesus die enigste antwoord is, sodat alles wat verlore is, in Hom gevind word deur genade en waarheid. Hy gee hoop!

“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh.1:14).

Jesus gee genade en waarheid vir jou persoonlik!

Lees:

Joh.8

Joh.1:14

Joh.18:37

Mediteer:

  • Hoe getuig Jesus vir waarheid (Joh.18:37)?
  • Wanneer ons weet dat hierdie vyf faktore ‘n bedreiging is vir ons wandel in Jesus Christus, kan ons waaksaam wees en ons toespits om juis nie toe te laat dat ons verhouding met Jesus Christus skade lei en ons genade en waarheid mis nie.
  • Hoe aanskou ons Sy heerlikheid volgens Joh.1:14?

Bid:

Jesus dankie vir U liefdevolle voorbeeld van heerlikheid wat nie terugstaan vir waarheid nie. Ek het U ontvang, en daarom luister ek na U stem. Dankie dat U my attent maak in my elke dag se lewe om volgens U Evangelie, U waarheid en genade uit te leef na almal om my. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

In Christus leef ek genade en waarheid uit in my lewe en na buite!

Aanbidding:

His Name is Jesus – Phil Wickham