DIE GRAF IS LEEG
Neville Goodchild
Hy het opgestaan!

Dag 1: Nuwe mens, die oue is verby
Gedurende Paas Vrydag herdenk en vier ons die redding van sonde deur die bloed van Jesus Christus en die feit dat ons die ewige lewe verkry het. Dit het ewigheidswaarde. Ons gebruik die elemente van die nagmaal om die Paas Vrydag te herdenk wat die kruisiging van Jesus Christus behels.
Gedurende die Paas Sondag herdenk ons die opstanding van Jesus Christus. Ons weet dat Jesus Christus het gesterf vir ons sonde en was die volmaakte offer. Nou kan ons omdat Hy vir ons gesterf het en opgewek is uit die dood, saam met Hom opgewek word in die nuwe lewe. Ons neem deel aan hierdie nuwe lewe, nou in die teenwoordige tyd deur gedoop te word. Ons gaan dus as die ou mens in die graf van water waar die ou mens sterf. Ons kom dan weer op uit die watergraf as ‘n nuwe mens in Christus Jesus en nou kan ons in oorwinning leef en deel neem aan die nuwe lewe. Die implikasie vir ons lewe as gevolg van die gebeure op Paas Sondag is dus vir nou en vir ons aardse bestaan. Dit is nie vir eendag of vir na die dood nie. As gevolg van die opstanding het ons nou deel aan die nuwe lewe hier waar ons nou lewe op aarde.
Dit beteken nie dat iemand eers gedoop moet word voor hy/sy ewige lewe ontvang nie, want die misdadiger wat regs langs Jesus aan die kruis gehang het, was nie gedoop nie. Hy het vir Jesus gevra om aan hom te dink in die paradys en Jesus het geantwoord dat die misdadiger nog dieselfde dag saam met Hom in die paradys sal wees. Dit is dus duidelik dat die doop nie verband hou met ons ewige lewe nie, maar eerder met ons lewe hier en nou op aarde.
Bekering lei daartoe dat ons die ewige lewe bekom en doop het meer te doen met ‘n nuwe lewe waar ons in oorwinning oor die vlees lewe.
LEES:
Mediteer:
- Ons het hierdie naweek die kruisdood en opstanding van Jesus gevier en herdenk. Wat beteken hierdie gebeure vir jou?
- Kan jy getuig van ‘n lewe wat na jou bekering en doop oorgegaan het in ‘n oorwinnaars lewe, ‘n nuwe lewe waar jy reeds in die hier en nou in Christus die hemelse realiteite begin beleef?
- Dink weer oor die opstanding van Jesus en wat hierdie realiteit in jou lewe verander het?
Bid:
Dankie Jesus dat U bereid was om die volle pad te stap tot na die kruis, maar dankie ook Vader dat Jesus opgestaan het uit die dood en dat die graf leeg is. Vader help my om die volle implikasie van Jesus se opstanding te verstaan maar ook om in hierdie afgehandelde realiteit te leef en deel te neem. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek leef omdat Jesus leef!!
Aanbidding:
He’s Alive – Don Francisco (Lyrics)

Dag 2: Bevryde oortuiging
Moses gaan na Egipte om God se uitverkore volk, die Israeliete te gaan red uit Egipte, uit slawerny onder Farao en hulle lei na die beloofde land. Moses word deur God gestuur om redding te verkondig aan die Israeliete en om hulle tot bekering te lei. Die boodskap is dat hulle hulle moet bekeer van slawerny en bevry word. Daardie geslag van die Israeliete het tot bekering gekom wat die ewige lewe tot gevolg het, maar die hele geslag het in die woestyn omgekom en het nie die beloofde land ingegaan nie (net Josua en Kaleb het die beloofde land ingegaan).
Ons kan met reg vra: Hoekom nie? Hoekom het hulle nie die beloofde land ingegaan nie? Hoekom het hulle in die woestyn omgekom?
Ons sien dat in 1 Kor. 10:1-2 na die verlossing van die Israeliete, waar hulle droë voet deur die Rooi See gestap het, verwys word as ‘n tipe van die doop. Die implikasie sou dus wees dat die oue is verby en die nuwe het begin. God het vir hulle ‘nuwe lewe’ in gedagte gehad en dit was sy plan vir die Israeliete. Hulle was Sy verbondsvolk en Hy het ‘n goeie toekoms vir hulle beplan. Wat het dan veroorsaak dat hulle dit gemis het?
Die probleem was die volk se onvermoë om hulle denke te vernuwe. God het hulle nie in die woestyn laat vergaan omdat hulle gekla het nie. Die woord sê dat hulle gemurmureer het. In hulle gedagtes het hulle vasgehak by hulle slawe mentaliteit. Hulle het bly leef uit hulle aardse perspektief. 1 Kor. 10:10. Hulle kon nie die goddelike dispensasie begryp nie en was vasgevang in hulle slawe mentaliteit. Hulle het in moeilike tye, nie op God vertrou om te voorsien nie, maar terugverlang na Egipte waar hulle baie swaar gekry het, maar hulle het darem kos en ‘n blyplek gehad. Hulle het elke keer teruggegaan in hulle mentaliteit van Egipte, in plaas daarvan om te besef dat daar heers nou ‘n ander realiteit omdat hulle die verbondsvolk van God is. Daar is nou ‘n ander realiteit, maar die Israeliete gaan voort om soos slawe te lewe. Die redding uit Egipte is die bekering. Aangesien die Israeliete die bloed aan die deurkosyne gesmeer het, ontvang hulle die ewige lewe. Hulle het ongelukkig nie op hierdie aardie die ‘nuwe lewe’ gesmaak nie, omdat hulle in hulle denke nog slawe was. Hulle het nie ‘n nuwe lewe mentaliteit gehad nie.
Lees:
Mediteer:
- Na jy bg. gelees het, dink eerlik na oor jou eie mentaliteit. Leef jy na jou wedergeboorte in ‘n nuwe mentaliteit?
- Kan jy getuig van ‘n skuif in jou denke; ‘n skuif van die ou manier van dink en doen na ‘n nuwe manier van dink en doen?
- Neem ‘n oomblik en vra die Heilige Gees om jou wys in watse areas is jou denke nog nie vernuwe nie en is jy dalk nog vasgevang in denkpatrone wat nie pas by ‘n nuwe lewe nie.
Bid:
Dankie Vader vir my redding deur bekering, ek bely egter dat my denke in verskeie areas nog nie die van iemand wat nuwe lewe ontvang het weerspieël nie. Heilige Gees wil U asseblief vir my kom wys in watter areas ek steeds vasgevang is in denke van die ou lewe sonder Christus. Vader kom verander my denke na die denke van iemand wat presies weet wie hy/sy in Christus is. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is ‘n nuwe skepping, gees , siel en liggaam, ek het die denke van Christus.
Aanbidding:
Casting Crowns – Desert Road (Official Music Video)

Dag 3: ‘Throne room thinking’
Kaleb en Josua was saam met die ander Israeliete in slawerny in Egipte. Hulle het ook grootgeword en geleef in verdrukking soos al die ander. Hulle het dieselfde boodskap van redding deur God die Vader gehoor, wat deur Sy dienaar Moses aan hulle gebring is. Hulle het al die plae en die wonderwerke gesien en ook die laaste wonderwerk waar die eersgeborenes van die Israeliete gespaar was. Hulle het saam met al die ander weggetrek uit Egipte en toe gesien hoe die Rooi See oopgegaan het. Hulle het saam deur die Rooi See gegaan en Kanaän gaan bespied saam met die ander verspieders. Hulle het geglo in God en dat Hy vir hulle die oorwinning gee. Hulle het geglo dat hulle die reuse sal verslaan en dat hulle die beloofde land sal inneem soos wat God dit deur Moses aan hulle gegee het. Hulle het 40 jaar in die woestyn rondgetrek saam met die res van die Israeliete, maar hulle het anders geglo, gedink, gepraat en gehoop as die ander.
Dit is die enigste manier wat ons op aarde ‘nuwe lewe’ sal beleef. Dit is as ons gedagtes, hoop en verwagting gefokus is op God en God se plan vir ons lewe. Dit is ‘Throne Room Thinking’.
Net soos die Israeliete wel die ewige lewe gekry het en nie die beloofde land ingegaan het nie, is daar baie mense wat Jesus Christus aanneem en die ewige lewe bekom, maar wat nie in die plan van God beweeg en in die ‘nuwe lewe’ wandel nie. Hulle gedagtes bly vasgevang by wie hulle as feilbare mense is en die foute wat hulle gemaak het. Hulle bly kleef aan die dinge van die verlede en kan nie vorentoe gaan nie. Hulle bly slawe van goed en kom nie vry van sonde, skande en skaamte nie. Hulle ploeter in die woestyn rond en kom nie by die beloofde land uit nie.
Efesiërs 2:6 sê dat ons saam met Jesus in hemelse plekke gesetel is. Jesus is opgewek uit die dood en het opgevaar en sit aan God se regterhand. Ons is nou reeds saam met Christus gesetel in hemelse plekke en heers op aarde. Ja, ons gaan eendag in die hemel heers, maar dit is vir God belangrik dat ons reeds op aarde heers. Dit is moontlik omdat Jesus opgestaan het, omdat Hy die dood oorwin het en die vyand uitgeklee is, omdat Hy opgevaar het en ‘n volmaakte werk gedoen het. Die gebeure van opstanding Sondag gaan nie net oor Jesus se leë graf nie, maar oor ons ‘nuwe lewe’ hier op aarde. Dit is belangrik om soos Kaleb en Josua deur ‘throne room thinking’ ons beloofde land in Christus Jesus in te neem.
Lees:
Mediteer
- Hoe lyk jou denkpatrone? Is dit belyn met Vader se Woord en karakter, soos Josua en Kaleb se denke of is dit belyn met alles wat jy om jou sien en beleef?
- Is jou gedagtes met hoop en verwagting op Vader gerig?
- Kan jy getuig dat jy soos Josua en Kaleb ‘n ander Gees het a.g.v. jou wedergeboorte en dat jy nou anders dink as voor jou redding?
- Raak prakties. Raak stil en vra Vader wat is Sy gedagtes oor jou, oor jou huwelik, oor jou besigheid, oor jou finansies, oor jou kinders, oor wie jy is in Christus, ens.
Bid:
Vader ek bely voor U elke gedagte wat nie belyn is met U Woord of karakter nie. Help my om duidelik te hoor wat U gedagtes is, sodat ek my gedagtes en denke daarop kan bou. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is skoongewas, vry, ‘n kind van Vader, meer as oorwinnaar en tot alles instaat deur Christus wat my die krag gee.
Aanbidding:
Kampioen (Jesus is die Naam) (Offisiële Liriek Video) \ft Zaretha van Wyk en Nuwe Lof

Dag 4: Sy graf is leeg en daarom is myne ook leeg
Jesus se leë graf is my ‘nuwe lewe.’ Jesus het opgestaan en as gevolg daarvan is daar nou geen 'graf' op hierdie aarde wat my gevange kan hou nie. Jesus se leë graf het tot gevolg dat die dood sy angel verloor het. Sonde het sy houvas op ons verloor. Die vlees het sy oorheersing oor die mens verloor. Daar is oorwinning en nuwe lewe in Jesus Christus en deur die leiding van die Heilige Gees.
Ons kan nou in Christus Jesus se verlossing leef, vry van die slawerny onder die vlees. Ons kan kies en uitstap uit die graf van
- Verwerping
- depressie
- armoede
- gebrek aan perspektief
- murmerering
- hopeloosheid
- verwerping
- om agter gelaat te wees
- siekte
- verslawing
- eetversteuring
- ongesonde gewoontes, om ‘n paar te noem.
Elkeen van ons weet watter ‘graf’ hier op aarde ons wil gevange hou, want elke persoon se ‘graf’ verskil. Onmiddelik as ons hoor daar is oorwinning oor hierdie ‘graf’ in Jesus Christus sal ons aan ‘n verskoning begin dink om in die ‘graf’ te bly. Iemand wat rook sal sê dat hy rook al van skool af en sy ouers het ook gerook. Hy kan homself nie indink dat ‘n mens moet ophou rook nie. Iemand wat oorgewig is sal sê dat hulle eet al so min en eet glad nie verkeerd nie, hulle verstaan nie hoekom hulle nie gewig verloor nie. In die meeste gevalle aanvaar mense hulle ‘graf’ as hulle deel, maar dit is ‘n leuen van die vyand. Ons kan uit ons ‘graf’ op aarde stap, omdat Jesus vir ons die oorwinning behaal het. Hy het opgestaan. Hy lewe en omdat Hy lewe, lewe ons. Dit is ‘n nuwe lewe. Vry van die beperkinge van die vlees. Ons moet ons gedagtes vernuwe en toelaat dat die Heilige Gees ons lei hier op aarde en ons moet die ou vlees neerlê en opstaan in ons verheerlikte nuwe liggaam. Jesus het 40 dae op die aarde gebly in Sy verheerlikte nuwe liggaam voor Hy opgevaar het.
Romeine 8 is een van die plekke in die Woord waar ons ‘n hedendaagse toepassing kry van die leë graf. Ons lees hier dat niks ons kan skei van die liefde van die Here nie. Ons is meer as oorwinnaars deur Christus wat ons liefgehad het. Ons is nie meer in die vlees nie, maar in die Gees. God is baie bemoeid met ons lewe hier op aarde en het in Christus Jesus vir ons alles gegee wat ons nodig het om in oorwinning te leef. Ons moet besef dat in ons menswees sal daar altyd verskonings wees en dit kan baie geldig wees en klink. In der waarheid is ons nie meer gebonde aan die vlees nie, maar is ons nou in die dispensasie van die Gees en die hemelse dinge. Ons kan nie alleen die oorwinning behaal nie, daarom Jesus se leë graf. Daar is oorwinning en nuwe lewe in Christus Jesus ons Verlosser en opgestane Heer.
Lees:
Mediteer:
- Het jy die openbaring en rhema woord ontvang dat oorwinning vir jou beskikbaar is as geredde kind van God, as gevolg van die leë graf van Jesus Christus?
- Jy kan nie en hoef nie alleen die vlees neer te lê nie, ons kan saam met Jesus Christus en die Heilige Gees alle uitdagings in die vlees oorwin.
- Is daar nog iets waaroor jy oorwinning moet behaal in die vlees?
- Bring dit na God die Vader deur gebed en lê die vlees neer. Laat Jesus Christus deur die kragtige werking van die Heilige Gees jou lei op die pad van oorwinning.
Bid:
Dankie Vader vir die leë graf van Jesus Christus my Verlosser. Ek eer U Almagtige God dat daar niks is in my lewe wat vir U te klein of onbenullig is nie. Dankie dat elke deeltjie van my bestaan vernuwe, gered en in oorwinning kan wees, omdat U Jesus Christus deur U Heilige Gees krag weer opgewek het uit die dood. Amen.
Bonus: Spreek Lewe
Ek het nuwe lewe in Christus Jesus omdat die graf leeg is. Ek leef, want Jesus leef.
Aanbidding:

Dag 5: Jesus het waarlik opgestaan
As daar nou een iets is waaroor ons 100% seker kan wees, dan is dit dat Jesus Christus werklik uit die dood opgestaan het en opgevaar het. Die getuienis oor hierdie feit is onbetwyfelbaar. Daar was ongeveer 500 getuies wat Jesus gesien het nadat Hy opgestaan het uit die dood uit. Sy dissipels het gesien hoe hy deur die muur gekom het en skielik tussen hulle gestaan het. Net daarna het Jesus saam met hulle geeët wat dit duidelik gemaak het dat Hy ‘n mens is en nie net ‘n beeld of gesig nie. Thomas het sy vingers in die merke van die wonde in Jesus se hande en in Sy sy gesteek. Verskeie verskynings aan meer as een persoon op ‘n slag is opgeteken en aangeteken. Dit is heel moontlik die beste gedokumenteerde historiese feit ooit, dat Jesus uit die dood opgestaan het.
Twee Romeinse wag, dit wil sê twee peletonne van tussen 4 en 50 soldate, wat gewapen was en op hoogste gereedheid was, het die graf bewaak. Hulle sou die graf met hulle lewe bewaar, want hulle sou fisies met hulle lewe betaal indien die liggaam van Jesus sou wegraak of iemand anders sou toegang kry tot die graf.
Die feit is dat die Romeinse soldate, die Jode, die Farisieërs en almal in daardie tyd geglo en geweet het dat Jesus uit die dode opgestaan het. Daar is nêrens waar ons sien dat iemand oortuig moet word van hierdie feit nie en almal wat geskryf het in die Woord het dit as ‘n feit hanteer en nie as iets waaroor gewonder word nie. Die realiteit is dat dit vir ons aardse bestaan ‘n enorme effek het dat Jesus uit die dood opgestaan het. Ons sterflike liggame het as gevolg daarvan die tempel van die Heilige Gees geword en ons kan deelneem in die geestelike realiteite. Ons hoef dus nooit te twyfel oor hiedie baie belangrike feit nie en kan dus in oorwinning leef met vrymoedigheid en oorgawe. Ons het ‘n vaste sekuriteit en kan op aarde reeds beweeg in hemelse plekke as gevolg van die opstanding.
' THEREFORE, [there is] now no condemnation (no adjudging guilty of wrong) for those who are in Christ Jesus, who live [and] walk not after the dictates of the flesh, but after the dictates of the Spirit. [John 3:18.] For the law of the Spirit of life [which is] in Christ Jesus [the law of our new being] has freed me from the law of sin and of death. For God has done what the Law could not do, [its power] being weakened by the flesh [the entire nature of man without the Holy Spirit]. Sending His own Son in the guise of sinful flesh and as an offering for sin, [God] condemned sin in the flesh [subdued, overcame, deprived it of its power over all who accept that sacrifice], [Lev. 7:37.] So that the righteous and just requirement of the Law might be fully met in us who live and move not in the ways of the flesh but in the ways of the Spirit [our lives governed not by the standards and according to the dictates of the flesh, but controlled by the Holy Spirit]. For those who are according to the flesh and are controlled by its unholy desires set their minds on and pursue those things which gratify the flesh, but those who are according to the Spirit and are controlled by the desires of the Spirit set their minds on and seek those things which gratify the [Holy] Spirit. Now the mind of the flesh [which is sense and reason without the Holy Spirit] is death [death that comprises all the miseries arising from sin, both here and hereafter]. But the mind of the [Holy] Spirit is life and [soul] peace [both now and forever].' (AMPC – Rom.8:1-6)
Lees:
Mediteer:
- Glo jy onomwonde in die opstanding van Jesus?
- Wat beteken die feit dat Hy uit die dood opgestaan het vir jou?
- Die opstanding is die kern waarom die Christendom gebou is, as dit nie waar is nie is alles rondom Christenskap ‘n klug.
- Dink na oor die grafte wat die lewe al vir jou gegrawe het. Voel dit dalk of jy nou in ‘n graf is van iets soos angs, vrees, bekommernis, verslawing ens?
- Daar is hoop want Sy graf is leeg, daarom is jou graf ook oop, jy kan dit oorwin, omdat Jesus die dood reeds oorwin het.
Bid:
Dankie Vader vir die grootste gebeurtenis wat ooit plaasgevind het. Dankie dat U seker gemaak het dat daar genoeg getuies was om dit onbetwyfelbaar te maak. Dankie Vader dat deur Jesus se leë graf daar ook vir my hoop kan wees om elke graf wat hierdie lewe en die vyand vir my wil grawe, te oorwin, want Jesus het dit reeds oorwin. Help my om uit te stap in geloof. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Sy leë graf beteken my graf is leeg!!!!
Aanbidding:
This is the air I breath + Holy Forever – John Wilds | Dwelling Place Church | Dwell’24