Go Deep 18 Mei 2025

DIE VOORDEEL VAN TWYFEL

Neville Goodchild

‘n Reeks boodskappe wat jou bemagtig om jou grootste twyfel te beantwoord!

 

Dag 1: Konstruksie

By Lewende Woord vier ons lewensverandering! Dus kyk ons uit vir stories van redding en geloof wat gebou word en ons vier dit! Ons word ook bewus van stories waar mense weg beweeg van Christenskap af, miskien na ongeloof toe, na ateïsme toe, of ‘n besluit neem om neutraal te staan. Hoe kom ‘n mens op hierdie plek en wat maak ons hiermee? Ons stel ondersoek in. In hierdie reeks, gebaseer op Craig Groeschel se boek “Benefit of Doubt: How Confronting Your Deepest Questions Can Lead to a Richer Faith”, kyk ons na ons geloofsreis en die twyfel wat daarmee gepaard gaan.

Ons geloof bestaan nie net vanself nie. Dit is oor die verloop van jare opgebou. Daar is spesifieke gebeurtenisse in ons lewens en dinge wat God oor ons pad gebring het, wat gemaak het dat ons geloof tot op ‘n spesifieke plek gebou is.

Ons geloof is soos ‘n huis wat gebou is. Daar is fondasie gelê, mure is opgerig en ‘n dak bo-op. Daar is geverf en die binnekant is mooi gemaak, en die huis is leefbaar. Soos tyd verloop, merk jy egter op dat daar krakies in die mure verskyn. Hierdie krake kan gebeur as gevolg van verskeie redes, hetsy grondtipes wat skuif, of die fondasie wat “settle”, hitte en koue wat inkrimping en uitsetting veroorsaak, en nog meer. Dit kan wees omdat die stof wat gebruik is se verhouding nie heeltemal reg is, of reg aangemaak is nie. Krake is ‘n algemene realiteit van bouwerk. Dit is deel van die proses. Dit beteken nie dat die bouer iets verkeerd gedoen het nie. Dit is wel belangrik om inspeksie te doen, om die oorsprong van hierdie krake te ondersoek. Dan kan jy weet wat nodig is om verder te doen. Is dit nodig om te pleister en weer te verf, of is dit nodig om bietjie af te breek en te herbou? Maak nie saak watter kant toe nie, sodra jy aandag gee aan daardie kraak, en die probleem aanspreek, dan is dit beter as wat dit voorheen was.

Ons staan vandag stil by konstruksie. Dit is die oprig, bou en vestiging van ons geloof. Ons het nodig om te dink aan hoe God ons geloof opgerig het. Wat is jou storie wat gemaak het dat jou geloof gebou en gevestig is?

Jesus het Petrus se geloof gebou en gegroei op spesifieke maniere. Ons lees van ‘n paar voorbeelde wat opgeskryf is. Petrus is in Judaïsme grootgemaak en die oomblik toe Jesus hom ontmoet, gee Jesus vir hom ‘n ander naam (Joh.1:43). Jesus sien die potensiaal in Petrus raak. Daarna genees Hy Petrus se skoonma in sy eie huis (Mat.8:14-17. Petrus vang baie visse (Luk.5:1-10). Petrus se geloof begin groei. Hy is in die verloop van tyd in die konstruksie-fase van sy geloof. Dit is die oprigtingsfase.

Dit was die oprigtingsfase wat jou oortuig het om Jesus te volg. Dit was ‘n belangrike fase waarin jy geleer het om jou oog op Jesus Christus te vestig en nie op mense of dinge van hierdie wêreld nie, nie op die kerk, kultuur of familie-gewoontes nie. Dit het jou op ‘n plek gebring waar jy dinge doen soos Jesus Christus.

Lees:

Joh.1:43

Luk.5:1-10

Mat. 8:14-17

Mediteer:

  • Daar was ‘n tyd wat God goed in jou lewe gedoen het om jou geloof te bou. Wat was/is hierdie spesifieke dinge/gebeure?
  • Is daar krake wat jy al opgelet het, binne die konstruksie van jou geloof? Kan jy hierdie krake of twyfel neerskryf?

Bid:

Vader, dankie vir U getroue Hand en inspraak in my lewe en dat U my op 'n plek gebring het waar my geloof in U is en in Jesus Christus, my Redder. Dankie dat U oor die jare heen my geloof versterk het, sodat my oë gerig kan wees op U en nie wankelrig afhang van ander dinge wat nie vas is nie. U is my vaste fondasie. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God het my geloof gebou, sodat ek op ‘n plek is waar ek my oë gevestig hou op Jesus Christus.

Aanbidding:

Firm Foundation – Cody Carnes

Dag 2: Twyfel

‘n Huis met krake is ‘n realiteit. Die probleem is wanneer jy nie weet wat agter hierdie krake skuil nie. Dit kan groot gevolge inhou. Om dit reg te maak, kan soveel voordele inhou. Solank jy nie weet wat agter jou twyfel skuil nie, kan jy nie die voordeel van jou twyfel beleef nie.

Deur die verloop van jare is jou geloof gebou. Hierdie konstruksie wat opgerig is, het nie onmiddellik krake wat jy kan sien nie, maar later begin jy agterkom dat dit nie so “kraak-loos” is soos wat jy gedink het nie. Jy word met realiteite gekonfronteer en hierdie realiteite pas nie lekker in by dit wat jy gedink het jy weet nie. Dit kan gebeur as gevolg van twyfel wat binne jouself ontstaan, of dit kan eksterne faktore wees. Miskien is die groot-gelowige wat in jou lewe inspreek nie so foutloos nie, of ander Christene tree goddeloos op. Miskien ken jy iemand wat oortuig was dat God hulle gaan genees, en toe moes jy hulle aan die dood afstaan. Jy deel met ander om jou se twyfel en ongeloof en veral op sosiale platforms waar mense enigiets kwyt raak. Miskien besef jy dat jy verdraaide opvattings het oor die Bybel en dat jou teologie nie so standvastig is soos wat jy gedink het nie. Miskien verstaan jy net nie wat jy lees en hoe om dit toe te pas nie. Miskien is jy nie meer so seker van dit waaroor jy eens op ‘n tyd só oortuig was nie. Jy begin twyfel.

Om te twyfel, konfronteer jou geloof. Ons dink twyfel is die teenoorgestelde van geloof. Jy word gekonfronteer met ongeloof. Sommige van ons het grootgeword met die idee dat twyfel ongeloof is. Dat jy moet stilbly oor jou twyfel en dit nie laat deurskemer nie. Ons wil dit eerder toemaak, of opsy skuif, Fake it till you make it, want ons dink dat twyfel ons diskwalifiseer, ons verwerp en onaanvaarbaar maak. Ons begin dink, omdat daar twyfel is, is ons dalk nie so Goddelik of gelowig nie, dalk nie so ‘n goeie Christen nie?

Die vyand en ook onsself gebruik dikwels twyfel (die krake in ons struktuur), om ander en ook onsself te veroordeel. Dit is egter nie Jesus se uitgangspunt oor twyfel nie.

Wanneer jy krake in die muur begin raaksien, en dit ignoreer of probeer verdoesel, dan kan dit groot gevolge inhou. Om dit nie te inspekteur en aandag te gee daaraan nie, is nie wys nie. Solank jy nie weet wat agter jou twyfel skuil nie, kan jy nie die voordeel van jou twyfel beleef nie. Daar lê potensiaal in ons twyfel opgesluit, en as ons die twyfel net verskoon, dan mis ons, of kanselleer ons hierdie potensiaal.

Twyfel moet jou op ‘n plek bring, waar jy ondersoek kan instel oor wat jou op hierdie plek gebring het.

Het jy dit al gewaag om met die Here oor jou twyfel te praat?

Lees:

Mat.14:27-31

Mediteer:

  • Hoe gaan jy jou twyfel aanspreek, of toelaat dat die Here, of ‘n Geestelike leier jou help, as jy nie daaraan aandag gee nie?
  • Wat sal die effek daarvan wees, om jou twyfel te verdoesel of te ignoreer?
  • Het jy al tyd spandeer om uit te vind wat agter jou twyfel skuil?
  • Het jy ‘n Geestelike leier wie jy kan kontak om jou vrae en twyfel mee te bespreek?
  • Het jy al antwoorde op jou vrae in die Woord gesoek?
  • Skryf vandag jou vrae en twyfel neer en bid oor elkeen. Gee dit vir die Here en vra Hom om Sy lig daarop te skyn.

Bid:

Vader, vandag wil ek my twyfel vir U gee. Vader ek twyfel oor....(lys al jou twyfel). Herinner my aan nog vrae of twyfel wat ek beleef (skryf dit neer).

Vader, ek nooi U in hierdie twyfel in, in hierdie vrae wat ek het, en ek vra dat U in elkeen van hierdie kom inspreek met U waarheid. Kom openbaar vir my U realiteite wat ek mis kyk. Ek het antwoorde nodig, maar nie wêreldse persepsies en antwoorde nie, U waarheid. Kom vul U hierdie krake. Ek nooi U om die potensiaal in my twyfel te kom vervul en my op ‘n plek te bring waar my geloof in U sterker is as ooit te vore. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is ‘n manier om met twyfel te werk wat my geloof sal opbou en versterk!

Aanbidding:

God Help Me – Unspoken

I Looked Up – Sons of Sunday

I Will Fear No More – The Afters

Dag 3: Petrus en Jesus

Die konstruksie fase is nodig, sodat jy tot geloof kan kom in Jesus Christus. Tog, wanneer jy deur hierdie fase is, besef jy dat daar krake in jou mondering is wat ondersoek moet word.

Ons sien dat Petrus se geloof, soos ons s’n, op spesifieke maniere gebou word. Hy leer by die beste Leermeester. Sy geloofskonstruksie is aan die beste voorbeeld blootgestel. Tog het hy gesukkel met twyfel. Petrus wat by die beste geleer het, se geloof het nodig om deur ‘n de-konstruksie proses te gaan.

Ons sien in Markus 8 dat Jesus profeteer oor dit wat gaan gebeur en dat Hy moet sterf, en dit is Petrus wat Jesus eenkant geneem het om Hom te bestraf hieroor. Maar Jesus het Petrus bestraf en gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense” (v31-33).

Petrus wil nie hê dat Jesus sy voete moet was nie, want Hy verstaan nie waarmee Jesus besig is nie. In sy kultuur hoort dit andersom. Maar Jesus verduidelik vir hom “Wat Ek doen, begryp jy nie nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan. As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie” (Joh.13:6-10).

Dit is Petrus wat Jesus drie keer ontken het (Mar.14).

Petrus het gedink dat redding slegs vir die Jode is, en God moes deur ‘n visioen aan hom verduidelik dat "wat God rein gemaak het, jy nie onheilig mag ag nie" (Hand.10:15), en dit was selfs ná Jesus se opstanding.

Petrus roep uit na Jesus, om na Hom toe te kan loop op die water. "Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?" (Mat.14:28-31).

Wanneer ons Jesus se reaksie lees, is ons geneig om te dink dat Jesus vir Petrus kwaai vermaan, maar Hy doen nie. Dit is nie in lyn met Jesus se karakter nie. Jesus is eerder besig om vir Petrus te sê: “Hey Petrus, na alles wat ek jou nou al gewys het om jou geloof te bou, na alles wat jy by My gesien het, hoekom dink jy Ek kan nie hierdie storm hanteer nie, hoekom kyk jy vir die storm en nie vir My nie, het jy dan nou só vinnig vergeet Petrus? Waarna kyk jy Petrus? Kyk na My!” Onthou, Petrus is die enigste van twee mense wat al ooit op water geloop het!

Die krake in Petrus se mondering het, net soos myne en joune, gekom as gevolg van klomp ander insette en faktore. En Petrus het by die Beste geleer! Dit is daarom nodig dat Jesus ons help om ons geloof te “de-konstrukteer”, met die oog op herbou.

Lees:

Mat.14:27-31

Mediteer:

  • Hoe hanteer Jesus vir Petrus wanneer hy bang word en twyfel in die storm, buite die boot?
  • Hoe lank moes Petrus wag vir hulp?
  • Hoe is Petrus se storie van toepassing op my?

Bid:

Here, dankie dat U my wys dat U nie geïntimideer word deur Petrus se twyfel nie, en daarom ook nie deur myne nie. U gryp dadelik in wanneer Petrus vir U vra vir hulp. U karakter is standvastig en daarom gryp U dadelik in wanneer ek U vra vir hulp. Here, help my met my twyfel asseblief. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die gapings in my mondering is nie vir Jesus ‘n uitdaging nie, maar gelaai met potensiaal vir Geestelike Groei!

Aanbidding:

More Than Able – Elevation Worship

Dag 4: Dekonstruksie

Jesus het onmiddellik Sy Hand uitgesteek en vir Petrus gehelp. Hy het nie vir Petrus gesê: “Sterkte ou, dit is diep”, sonder praktiese hulp nie. Hy is oombliklik by Petrus, trek hom uit, en leer hom om sy oë gevestig te hou op die waarheid van Jesus, ten spyte van die storm. Jesus is betroubaar. Sy karakter is standvastig. Hy verander nie soos die wêreld of omstandighede nie. Hy bly getrou aan Homself, eerbaar en liefdevol.

As konstruksie die proses is waarin elemente saamgevoeg word om opgebou te word tot ‘n werkende meganisme, dan is de-konstruksie die proses waarin ‘n meganisme uitmekaar gehaal word, om elke element apart neer te lê. Elke element word bestudeer, afgestof en dan netjies neergesit, sodat dit weer aanmekaar gevoeg kan word. Elemente wat nie waarde het nie, nie pas nie of nie werk nie, moet vervang word. Wanneer ons begin met die de-konstruksie van die fasette van ons geloof, beteken dit dat ons elke deel uitmekaar haal en mooi bekyk. Ons kyk watter dele daar is, watter dele eg is, werk of nie werk nie en watter dele vervang moet word.

Dit is egter noodsaaklik dat ons hierdie nie alleen aanpak nie. Ons het nodig om dit binne verhouding met God en Geestelike leiers te doen. Dit is reg om jou geloof te de-konstrukteer, maar slegs wanneer jy dit doen met die ingesteldheid om dit weer te re-konstrukteer. Dit help nie jy haal alles uitmekaar, net om dit so te los nie. Daar is ‘n groot beweging in Amerika genaamd “The Deconstruction Movement”. Talle mense de-konstrukteer hulle geloof, net om te besluit om daarvan afstand te doen. Hulle het die voordeel van die oefening heeltemal gemis.

Om te delf in jou twyfel is slegs veilig binne verhouding, met die oog om die dele wat reg is te behou, en van die dele wat nie God se waarheid is nie, afstand te doen. ‘n Mens gooi nie die hele pakkie weg net omdat jy nie verstaan nie.

Ons sien Jesus is besig met de-konstruksie en die herbou proses wanneer Hy die skare aanspreek. Hy gebruik verhale en gelykenisse om die Koninkryk beginsels oor te dra. Hy sê:

“Julle het gehoor dat daar..., maar Ek sê vir julle” (Mat.5:21-22)

“Julle het gehoor..., maar Ek sê vir julle” (Mat.5:27-28)

“Verder het julle gehoor...maar Ek sê vir julle” (Mat.5:33-34)

“Julle het gehoor..., maar Ek sê vir julle (Mat.5:38-39)

Jesus het nie net gestaan en foute uitwys nie. Ons sien dat Jesus dwarsdeur sy bediening besig is om geloof te bou, geloofs-idees te de-konstrukteer en in waarheid en liefde te herbou.

Dit is wat ons nodig het om in die oog te hou wanneer ons kyk na ons geloof. Die de-konstruksie proses is nie die einde nie. Ons wil uitkom by die herbou fase.

Lees:

Mat.5

Mat.5:43-44

Mat.6:2-4

Mat.6:5-6

Mat.6:16; 19

Mediteer:

  • Haal jou pakkie uitmekaar en bekyk elke deel. Watter dele is waarheid en watter dele van jou geloof het onsekerheid? Skryf dit neer.
  • Kyk of daar iets is waarop jou twyfel gebou is, en of dit Woord waarheid is. Wat veroorsaak die twyfel en wat sê die Woord?
  • Bid daaroor. Bestudeer die Woord. Kom by ‘n Geestelike leier uit wat jou kan help werk deur die onsekere dele.

Bid:

Vader, dankie dat ek rustig kan word oor my twyfel. Dat ek dit kan ontrafel saam met U en ander Geesvervuldes en dat ek dit kan bestudeer in U Woord en vra vir U inspraak. Dankie dat U vir my openbaring gee van dit wat ek nie weet nie, standvastigheid bring daar waar ek wankelrig is en dat U duidelikheid gee oor dinge wat ek nog nie verstaan nie. U is goed! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Dit is veilig om binne verhouding met God en ander Geestelike leiers my geloof te ondersoek en dit wat goed is te behou, en afstand te doen van dit wat nie God se waarheid is nie.

Aanbidding:

Safe – Victory Worship

Dag 5: TELOS (τέλος)

Ons het nodig om ons geloof te de-konstrukteer, en dan te herbou op grond van dit wat ons by ons Vader leer, nie by mense nie. Om te groei, het ons nodig om te glo in die uitkomste en ons het nodig om te glo in die eindproduk. Ons wil word soos Hy is.

Ons leer by Jesus dat Hy die potensiaal in elkeen wat voor Hom staan, raaksien. Telos is die Griekse woord wat verwys na hoe Jesus sy dissipels lief het. “Having loved His own who were in the world, he loved them to the end.” (Joh.13:1). Hierdie woord Telos het verskeie betekenisse waarvan o.a. “tot die einde”, “met ‘n doel” en “tot vervulling/voltooing”. Jesus het ons lief met ‘n doel, tot vervulling van ons potensiaal, tot die einde.

As jy na ‘n wegspringblok kyk, dan is dit vir ‘n atleet baie belangrik dat hierdie blokke ordentlik ingekap is. So nie, kan die atleet nie reg wegspring en die einddoel haal nie. As dit reg ingekap is, kan die atleet vertrou dat hy met krag en mening en spoed kan wegtrek. As die wegspringplek wankelrig is, sal die atleet nie die wenpaal haal nie. Net so is ons geloof, nodig om reg ingekap te wees, sodat ons reg kan wegtrek om die einddoel te haal.

Ons wegspringplek is God se liefde. Dit is ‘n stewige fondasie. Liefde doen die harde werk, soos ‘n ploegskaar wat deur harde grond werk en al die houe vat. Liefde doen die werk wat net liefde kan doen, met krag, gebou om konflik te kan hanteer.

God se liefde is nie net ‘n warm gevoel nie.

Telos verwys na resultate. Jesus het Sy dissipels liefgehad met ‘n liefde wat resultate bring. God het jou lief met ‘n liefde wat die werk doen wat gedoen moet word om die oes in te bring. Sy liefde kan die houe vat en resultate lewer. Hierdie resultate word aan die einde van die tyd getoets. Dit kom aan die einde van die seisoen. Jy sien dit nog nie terwyl daar geploeg word nie.

Telos verwys na die einde, dit is profeties en met ‘n doel. God se liefde gee vir jou doel en los jou nie waar jy is nie. Dit sien die potensiaal in jou raak en weet wat die moontlikhede is. God se liefde het jou tot die einde!

Lees:

Joh.13:1

Mediteer:

  • Wat is van die drie maniere waarop God jou lief het?
  • Wat beteken dit ten opsigte van jou twyfel?
  • Wat beteken dit vir jou Geestelike reis?
  • Wat beteken dit vir jou toekoms?

Bid:

Vader, dankie dat ek veilig is in U liefde. Dat ek kan verander en weer kan verander met die wete dat U liefde my vashou en nie laat los nie. Dat ek kan groei en dat U my lief het met ‘n doel, met die ewigheid in oog. Dankie dat U liefde resultate in my lewe lewer en dat ek dit eendag sal sien. Ek maak my vas aan U. U is my God, my veilige vesting. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Liefde is die fondasie om te lanseer, die wete, die oortuiging dat die wegspringblokke vas gekap is om weg te trek met die nodige spoed en ‘n eindresultaat dat God my lief het, dat dit veilig is om te verander, weer te verander en weer, en dat ek veilig bly in U liefde!

Aanbidding:

I Am Your Beloved – Jonathan & Melissa Helser