Go Deep 11 May 2025

DIE VOORDEEL VAN DIE TWYFEL

Neville Goodchild

Is twyfel ‘n ‘cul-de-suc’?

Dag 1: Is mense wat twyfel verlore?

Elke mens sal moet erken dat ons al getwyfel het aan God se plan met ons lewe. Elkeen van ons beleef moeilike tye wat ons geloof uitdaag. Wanneer ‘n geliefde siek word en sterf, het ons vrae. As ‘n geliefde of jong persoon sterf in ‘n ongeluk, het ons vrae. As ‘n bediening mislik en nie van die grond af kom nie, al was dit iets wat ons vas geglo het kom van die Here, dan het ons vrae. As die een ongeluk na die ander met ons gebeur, dan het ons vrae. As ‘n pragtige, geesvervulde kind van die Here ’n terminale siekte kry, het ons vrae. As ons God gevra het vir iets en dit gebeur nie, het ons vrae.

Vrae oor waar God was toe dit gebeur het? Hoekom het die Here my nie gewaarsku en beskerm teen wat gebeur het nie? Hoekom moet ek die hartseer goed deurgaan? As dit die plan en bediening is van God op my lewe, hoekom werk niks uit nie en is daar nie voorsiening vir dit nie. Is ek werklik gered? Is Christenskap en dit waarin ek glo as gevolg van oorlwering van my ouers, die werklikheid?

God word nie bedreig deur iemand wat twyfel nie. Christene, aan die ander kant, kan maklik op ‘n plek wees waar hulle houding en wat hulle sê, iemand wat twyfel, laat voel dat hulle reguit oppad hel toe is en dat daar geen plek vir hulle in die koninkryk van God is nie. Net omdat iemand tydelik goed bevraagteken of nie dieselfde daaroor dink as ek nie, beteken nie dat hulle verlore is nie.

Ons sal ook later sien dat “ongelowige Thamas”, soos wat in die volksmond verwys word na die dissipel van God, toe nie ongelowig was nie en  uit die aard van sy persoonlikheid getwyfel het of Jesus uit die dood opgestaan het en tussen hulle verskyn het, en of dit wat die ander dissipels hom vertel het, die waarheid is. Ons gaan ook kyk na hoe Jesus dit hanteer om die: “What would Jesus do?” vraag te antwoord.

Iemand wat met so ‘n self-geregverdigde kind van God te doen kry, wat hom verdoem omdat hy durf waag om anders te voel of te dink, sal dan voel of hulle in ‘n ‘Cul de sac is, ‘n doodloopstraat. Dit sal vir hulle voel of daar net een manier is en dit is om om te draai na waar hulle vandaan kom.

Craig Grochel het ‘n boek geskryf hieroor: ‘The benefit of doubt.” 

Die belangrike ding is dat Christene aan hulself moet erken dat daar tye in hulle lewe is, wat hulle ook getwyfel het aan God en die evangelie. Dit sal hulle ‘n begeerte gee om met meer liefde en begrip te werk met iemand wat twyfel. Ons moet besef dat iemand nie verlore is omdat hy twyfel of sy geloof nie altyd ewe sterk is nie. Iemand wat hulle twyfel uitspreek is opsoek na ‘n antwoord.

Twyfel is baie keer die begin van ‘n dieper verhouding met God.

LEES:

Joh. 20:19-25

Mediteer:

  • Kan jy sê dat jy nog nooit getwyfel het oor God, Sy karakter of die Bybel nie?
  • Raak stil en dink waaroor jy dalk huidiglik twyfel of wat is die dinge wat jou elke keer in twyfel laat beland?
  • Hoe reageer jy oor mense wat in God of God se goedheid of selfs dalk die feite rondom Jesus twyfel?

Bid: 

Vader ek besef dat ek ook soms twyfel en dat ek vrae het oor dinge wat in U woord staan. Dankie Vader dat U my nie wegstoot omdat ek soms twyfel nie. Vader leer my in hierdie nuwe reeks om my twyfel te gebruik en dit te omskep in ‘n onwrikbare geloof. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

My twyfel is nie ‘n doodloopstraat nie.

Aanbidding:

He’s Alive – Don Francisco (Lyrics)

Dag 2: Twyfel hanteer met begrip en liefde

'En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel. ' MATTHÉÜS 28:17 (Vert. Afr. 53)

In hierdie gedeelte het die elf dissipels Jesus ontmoet by die berg soos wat Hy met hulle afgespreek het. Hier staan dat hulle het Jesus gesien en hulle het Hom aanbid. Daar is egter van hulle wat hom gesien het, maar hulle het nog steeds getwyfel.

In 2 Kor. 5:7 praat die Woord daarvan dat gelowiges in die geloof moet wandel en nie op sig nie. Hier kan ons agterkom dat elke mens anders is. Party glo as hulle hoor. Party glo as hulle sien. Party het gehoor en gesien en nog steeds glo hulle nie. Elke persoon is anders.

'En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.' MATTHÉÜS 28:17,19-20

Jesus moes verseker bewus gewees daarvan dat party van die dissipels getwyfel het, maar steeds het Hy hulle almal dieselfde behandel. Hy het nie die wat twyfel eenkant toe geroep en eers vir hulle op ‘n oriëntasie geneem, sodat hulle glo en saamstem met alles nie. Jesus aanvaar dat elkeen op sy eie plek in sy geestelike reis is.  

Jesus skep ruimte vir mense om dit waaroor hulle vrae het en dit waaraan hulle twyfel, te kan uitsorteer en by die waarheid te kan uitkom. In ‘n omgewing waar mense se twyfel en vrae met antagonisme beantwoord word en hulle verwerping beleef omdat hulle nie saam met die stroom gaan nie, gaan baie gelowiges uit die kerk uit. Daar waar die houding is van “The Bible says it, I believe it and that settles it”, is daar nie ruimte vir mense om vrae te vra in ‘n beskermde omgewing en te groei nie.

Lees:

Matt. 28:17-20

2 Kor. 5:7

Mediteer:

  • Waar pas jy in? Glo jy omdat jy gehoor het of soek jy dalk nadat jy bewyse gekry het?
  • Het jy al getwyfel en dan getwyfel daarin dat Vader jou nog kan of sal gebruik?
  • Dink jy dat as Jesus ten spyte van die dissipels se twyfel, nadat hulle Hom fisies gesien het, hulle nog steeds almal uitgestuur het om die evangelie die wêreld in te vat, dat Hy nie ook jou twyfel tegemoet sal kom en jou nog steeds sal gebruik nie?

Bid:

Dankie Vader dat my twyfel nie vir U ‘n probleem is nie en dat U my nog steeds gebruik vir U werk. Vader wil U my ontmoet in my plek van twyfel en my help om dit te omskep in rotsvaste geloof.

Bonus: Spreek Lewe!

My twyfel is ‘n geleentheid vir Vader en my om my geloof te versterk.

Aanbidding:

Jon Foreman – Jesus, I’ve got my Doubts (Official Lyrics Video)

Dag 3: Faktore wat bydra tot twyfel

Dit is nie maklik om voort te gaan en nooit te twyfel nie. Ek wonder of ek sou kon glo soos Abraham, wat ‘n belofte van God gekry het van ‘n nageslag en eers 25 jaar later het God dit weer kom bevestig. Ek wonder of ek sou kon glo soos Noag wat ‘n opdrag gekry het van God om ‘n ark te bou met al die aanwysings en toe eers weer 100 jaar later van God gehoor het. Ek wonder of ek sou kon glo soos Dawid wat gesalf was tot koning, maar daarna vir jare ‘n vlugteling in die wildernis was omdat die huidige koning hom wou doodmaak.

Ek twyfel baie keer en daar is baie minder op die spel vir my. Daar is ‘n paar goed wat kan bydra daartoe dat ons twyfel:

  • Omstandighede: Die omstandighede waarin ons is kan partykeer frustrerend wees en ontnugterrend. Partykeer vra mense hoe God kan toelaat dat hierdie goed gebeur en hulle kan nie glo dat goed gebeur nie, soos siektes, dood, finansiële en verhouding probleme.
  • Intelligente mense: Mens wat baie intelligent is twyfel meer omdat hulle aanhoudend en oor alles vrae vra. Hulle wil logiese antwoorde hê.
  • Emosies: Baie keer is ons tussen gelowiges en ons beleef God op ‘n spesifieke manier. Kom ons noem dit ‘n “high”. Ons aanbid saam met gelowiges en beleef dat God met ons praat en ons is baie opgewonde daaroor. Later is ons egter alleen en dan voel ons nie meer dieselfde nie en ons twyfel of dit werklik God was wat met ons gepraat het.
  • Terleurstelling in mense: Dit gebeur soms dat iemand na wie ons opgesien het in ons geestelike lewe, soos ‘n leier, val. Dit veroorsaak baie twyfel en vrae. Jy verloor dan jou roete kaart en weet nie wat om te glo en wat waar is nie.
  • Afwesige pa of pa wat mishandel: As mens in ag neem dat alle bekende ateïste, se pa’s het hulle mishandel, is dit duidelik dat hierdie faktor baie kan bedra daartoe dat iemand in God twyfel.
  • Persoonlikheid: Party mense het ‘n siniese, twyfelagtige persoonlikheid en hulle sukkel om te glo.
  • Besluite: Dan is daar die mense wat ‘n doelbewuste keuse maak om aan te hou en te volhard in sonde. Dit gebeur as hulle weier om met sonde te breek. Sulke persone twyfel gedurig omdat hulle nie in die regte verhouding met God kan staan nie.

Om te twyfel is dus nie die probleem nie, maar wat ons doen met ons twyfel is deurslaggewend. Solank jy nie weet wat agter jou twyfel skuil nie, sal jy nooit die voordeel van die twyfel beleef nie.

Lees:

Matt. 28:17-20

Mediteer

  • Kan jy nou al aan sekere tye dink wat jy getwyfel het in jou lewe oor God of dalk Sy plan met jou lewe? Dalk is jy nou in seisoen van twyfel wat jy nou kan begin op die naam noem.
  • As jy bg. redes lees oor hoekom mense twyfel, kan jy dalk identifiseer met een of twee van die redes vir twyfel?
  • Praat met Vader en wees eerlik met Hom en noem jou twyfel vir Hom. Vra Hom om jou in jou twyfel te ontmoet en om jou tegemoet te kom in jou rede vir twyfel.

Bid: 

Vader ek kom na U toe met ‘n oop hart en is eerlik as ek sê ek twyfel in ………………………, en dit is gewoonlik as ……………………. oor my pad kom. Vader wil U my kom ontmoet in my twyfel en my kom oortuig van U goedheid en liefde. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My twyfel is nie ‘n bedreigng vir God nie.

Aanbidding:

I Believe – Phil Wickam (Official Music Video)

Dag 4: Thomas: Ongelowig of twyfel?

Thomas, een van Jesus se dissipels, is ‘n baie goeie voorbeeld daarvan dat om te twyfel beteken nie dat jy in ‘n doodloopstraat is nie. Dit beteken verseker ook nie dat jy ongelowig en afvallig is nie. Indien dit die geval was, sou daar baie min mense gewees het wat as gelowiges of regverdiges van God beskryf kon word.

Die bekende storie uit die Bybel, wat daartoe gelei het dat ons vir Thomas in die volksmond gedoop het as “ongelowige Thomas”, is soos volg:

Daar was 10 van die dissipels bymekaar toe Jesus die eerste keer aan die dissipels verskyn het. Johannes skryf spesifiek dat Thomas nie by was nie. Die tien wat Jesus gesien het, was baie opgewonde en het Thomas vertel: “Ons het Jesus gesien. Jy het dit gemis. Dit was wonderlik om Jesus te sien.”

Thomas het geweet dat Jesus dood was. Hy sou geweet het van die graf wat leeg was, maar dit was hoogs onwaarskynlik dat Jesus kon leef. Thomas het getwyfel. Hy het aan hulle gesê dat hy slegs sal glo as hy dit met sy eie oë gesien het en sy vingers in die wonde van sy hande gesteek het, en sy hand in die wond in Jesus se sy gesit het.

As ons onsself in Thomas se skoene plaas sou baie mense dieselfde twyfel gehad het as Thomas. As gevolg van persoonlikheid sou baie dit nooit hardop eers genoem het dat hulle twyfel nie.

Thomas het nie as gevolg van sy twyfel afvallig geword en besluit dit is nou die einde van die pad saam met Jesus nie. Hy het nie sy goed gevat en terug gegaan na sy vorige lewe nie. Ag dae later toe Jesus weer aan hulle verskyn het, was Thomas saam met die ander dissipels.

Ek dink dat die belangrikste deel is om te verstaan dat Thomas se twyfel was nie vir Jesus ‘n probleem nie. Dit is so wonderlik dat Jesus ‘n punt daarvan maak om weer aan die dissipels te verskyn en dan is die eerste ding wat Hy doen is om vir Thomas te roep. Jesus sê vir hom kom sit jou vingers hier in die wonde van my hande en kom sit jou hand hier in die wond in my sy. Jesus wys vir Thomas dat dit werklik Hy is en dat Hy opgestaan het.

Baie van ons, wat nie self daar was nie en wat sou twyfel, kan so dankbaar wees vir Thomas. Hierdie spesifieke stukkie geskiedenis versterk baie van ons se geloof.

Nadat Jesus weg was van hulle af het Thomas die evangelie gevat na India. Hy het daar baie sendingsreise gedoen en ‘n bediening gehad om die evangelie te verkondig aan die heidene. Hy het daar ‘n martelaars dood gesterf vir sy geloof, in Chennai en sy liggaam is neergelê in Mylapore. Volgens oorlewering was hy deurboor met spiese terwyl hy besig was om te bid.

Dit is nou die man wat ons “ongelowige Thomas” noem. Hier sien ons duidelik die ‘voordeel van die twyfel’. ‘n Hele land ontvang die evangelie, omdat Jesus Christus vir Thomas kom ontmoet op sy plek van twyfel. Die twyfel het toe verander in onwrikbare geloof en ‘n besonderse manmoedigheid. As nagedagtenis aan sy bediening word hy gevier as die baie geliefde apostel, St. Thomas, deur die kerk in India.

Lees:

Joh. 20

Mediteer:

  • Wat maak jou twyfel met jou? Waar laat dit jou beland in jou vrymoedigheid teenoor Vader? Laat dit jou dalk by selfveroordeling?
  • Wat maak jy met jou twyfel? Probeer jy dit “wegsteek vir Vader” of dalk net ignoreer?
  • Wat het Thomas met sy twyfel gemaak?
  • Wat het Jesus met Thomas se twyfel gemaak?
  • Hoe kan jy jy jou hantering van twyfel aanpas om so die voordeel van die twyfel te beleef?

Bid:

Dankie Vader dat my twyfel nie vir U ‘n bedreiging is nie. Dankie Vader dat U ons net soos vir Thomas kom ontmoet in ons twyfel en ons kom oortuig van die waarheid. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

My twyfel diskwalifiseer my nie maar skep eerder die geleentheid  vir God om my twyfel te verander in onwankelbare geloof.

Aanbidding:

Philippa Hanna – You’re Still God (Official Live Video)

Dag 5: Leef met volle oortuiging

'Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan. Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe. 'JOHANNES 11:7-8,16

Jesus was kort voor hierdie gesprek in Judèa en die dissipels het geweet dat daar ‘n lasbrief uit was vir Jesus, om Hom in hegtenis te neem. Die Fariseërs en wetsgeleerdes wou Jesus laat vang en stenig. Verskeie kere het hulle al probeer om Jesus te laat vang en doodmaak, sonder sukses. Hier wil Jesus na Judèa gaan en dit terwyl daar verseker ‘n aanslag op Sy lewe sal wees. Sy dissipels is nie te vinde daarvoor nie. Hulle besef dat dit lewensgevaarlik sou wees, nie net vir Jesus nie, maar ook vir elkeen van hulle.

Jesus sê dan vir hulle dat Lazarus is dood en Hy, wat Jesus is, het aspris nie daarheen gegaan toe Lazarus siek was nie, want Hy wou sy dissipels iets wys wat hulle geloof sou versterk. (Hier sien ons weer dat Jesus altyd daarmee bemoeid is om ons op te bou en ons geloof te versterk.)

'En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe. ' JOHANNES 11:16

Hierdie stelling van Thomas, (‘gives us a glimpse’) gee ons ‘n kykie na wie hy werklik was. ‘Ongelowige’ Thomas, soos ons hom leerken het, staan in skrille kontras teen die persoon wat die bogenoemde stelling gemaak het. In ons gedagtes het ons ‘n prentjie gevorm van ‘n bleek, skeptiese, foutsoekerige man wat moedeloos en sonder geloof is.

Thomas wat volle begrip gehad het vir die situasie - dat hulle almal heel moontlik gevange geneem gaan word en dat party van hulle moontlik doodgemaak sal word, roep die ander dissipels bymekaar. “Kom ouens! Skut op en kry julle goed. Laat ons dadelik saam met Jesus gaan. Ek weet ons gaan moontlik sterwe, maar laat ons nie mis dit wat Jesus vir ons bedoel het nie.”

Ons sien iets anders van Thomas hier. Thomas is iemand wat sterk na vore kom waar hulle lewensgevaar in die gesig staar. Hy het volle vertroue in Jesus wat hom lei en in wie hy glo. Thomas leef vanuit ‘n sterk, persoonlike oortuiging van God. Ook uit sy latere lewe sien ons dat Thomas voluit aanhou om aan God vas te hou, deur sy sendingsreise in India tot sy martelaars dood vir sy geloof in Jesus. Thomas was iemand wat dit waarin hy glo, vasgemaak het en dan onwrikbaar daarin gewandel het.

Hy het dus nie ‘n twyfelagtige geaardheid gehad wat net in alles getwyfel het, omdat hy kon nie. Hy wou sekerheid hê, sy fondasie stewig lê, sodat hy met oorgawe uit sy geloofsoortuiging kon leef en standvastig kon wees in sy geloof.

Ons sien dus hier dat die voordeel van die twyfel is daarin, dat ons ons geloofsfondasies versterk, sodat ons onwankelbaar in ons geloof kan wandel.

Lees:              

Joh. 11

Mediteer:

  • Het jy al vasgemaak wat jy glo van Jesus, God die Vader en die Heilige Gees, oor die vergifnis van sonde en van redding?
  • Is jou geloof standvastig, sodat jy nie elke keer wonder wat jy in ‘n situasie gaan doen wat gehoorsaamheid aan God van jou gaan vereis nie? Dat jy ook soos Thomas kan sê: “Kom ouens laat ons saam met Jesus gaan sterf.”
  • Wat hou jou terug wanneer jy uit jou gemaksone geruk word en Jesus gehoorsaamheid van jou verwag teen ‘n prys?
  • Gaan na Jesus daarmee en maak die waarheid vas in die geloof, sodat jy uit ‘n vaste geloofsoortuiging voluit kan lewe vir die Here.

Bid:

Dankie Vader vir dit wat ons kan leer uit Thomas se lewe. Dankie dat ons kan weet dat U ons nie verwerp omdat ons soms twyfel oor goed nie, maar dat U ons in Christus Jesus persoonlik kom ontmoet om ons geloof te kan verserk. Gee my ‘n vaste geloofsoortuiging dat ek sonder enige twyfel in gehoorsaamheid tot U kan leef. Maak U waarheid vas in my hart. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus wys my wat ek nodig het om nie te twyfel nie en uit ‘n volle geloofsoortuiging, voluit vir God kan lewe.

Aanbidding:

Consumed By Fire – Walk with Jesus (Official Lyric Video)