Go Deep 23 March 2025

ʼn Nuwe Lewe

Vry van vrees vir veroordeling

Neville Goodchild

 

Dag 1  Die Probleemspesialis

Baie van ons raak verstring in die nette wat ons eie psige vir ons span, veral wanneer ons oë vasstaar aan ons eie probleme en onvermoë om moeilike situasies op te los. Ons raak geneig om te fokus op ons sondige verlede, die goed wat ons na soveel jare nog steeds onrustig maak wanneer ons daaraan dink, hoe sal die Here my ooit vergewe?

Dalk is dit die grootste fout wat ons as wedergebore Christene kan maak. Ongeloof. ʼn Verwagting dat ons ergste sondes nog steeds gestraf gaan word. Baie van ons het in kerke grootgeword waar ons geleer is dat die oordeel van ons Vader iewers in die toekoms vir ons wag; ʼn nare geleentheid wat lê en soos ʼn wolf wat wegkruip in die bosse vir ons.

Party van ons voel amper spesiaal oor die “groot” sondes wat ons al gepleeg het – die Here sal dít nooit vergewe nie. Amper of sonde, ons sonde, spesiaal is, ʼn medalje.

Van niks.

Presies niks.

Hier is ʼn openbaring. God het die mag, die wil, die liefde en die vermoë om ons lewensrigting radikaal te verander. Hy spesialiseer in die onmoontlike, die onverstaanbare, die vermoë om chaos om te keer in die positiewe. Ons skandes en skades kwalifiseer ons vir wonderwerke, dis waarvoor God wag. Dis waar Hy Sy genade ten beste ten toon stel, waar ons normale mense, met so baie foute radikaal verander sodat ons vir ander ʼn voorbeeld kan wees.

In Kolossense 2 word dit so duidelik uitgebeeld. Ek en jy, ons, kinders van die Here, die Almagtige Vader, se sondes is vir ewig weggewas, dit bestaan nie. Ons is vlekvry. Dis tyd om so te leef.

Lees

Kol. 2

Mediteer

Wat is daardie een of twee goed wat jy nog steeds glo dat God nie sal vergewe nie?

Wat is die pad vorentoe in terme van hierdie gedagtes?

Gebed

Vader, U spesialiseer daarin om ons probleme op te los, dit wat onmoontlik lyk moontlik te maak. Dankie dat U Uself met ons bemoei, selfs al voel ons so besmet dat ons kop sê dat ons niks verdien nie. Laat U naam geheilig word. Amen.

 

Spreek Lewe

Ons Skepper spesialiseer in dit wat onmoontlik lyk.

Aanbid

If I got Jesus – Ben Fuller

 

Dag 2  ʼn Nuwe Verwysingsraamwerk

Daar is baie mense wat die Here aangeneem het, hul sondes bely het, wedergebore is, maar hulle ervaar nie die nuwe lewe wat God verniet vir ons gegee het nie. Die rede hiervoor is dat ons nog steeds wil vasklou aan veroordelingsgedagtes, ons voel selfs dat ons nie goed genoeg is in God se oë om hierdie genade te ontvang nie.

Wanneer ons gebore word, het ons nog nie die Gees ontvang nie. Ons het “savvy”, ons weet dalk hoe om ons pad hier op aarde te bestuur sodat ons ons families en eie lewens kan verbeter. Ons vleeslike geboorte maak ons op aarde effektief, maar hieroor staan ons geestelike geboorte, wanneer ons die Gees ontvang tydens ons wedergeboorte. Ons kan in hierdie nuwe posisie, die verwysingsraamwerk wat vir ons geskep is, nou begin om geestelik te groei en te begin floreer in die geeswêreld.

ʼn Nuwe lewe in Christus is ʼn deurbraak waar die krag van die Here vir ons ʼn nuwe verwysingsraamwerk skep waar ons nie met vleeslike wysheid handel nie, maar met die hulp van die Gees nuut dink. In 1 Korintiërs 2:13 (NIV) staan:” This is what we speak, not in words taught us by human wisdom but in words taught by the Spirit, explaining spiritual realities with Spirit-taught words.” Die Gees leer ons om volwasse gelowiges te word, al wat ons moet doen is om te oefen om in geloof te wandel, om die Gees se leiding te volg. Deur dit te doen werk ons aan ons toekoms wanneer ons eendag in die Hemel is. Ons werk nie aan ons redding nie, dit is klaar verseker op ʼn kruis op Golgota.

In my Nuwe Lewe, kry ek twee goed by God. Ek kry die Ewige Lewe. Dit is gegewe. Ek kry ook ʼn nuwe identiteit van God. My toekoms is sekuur. My nuwe identiteit kyk na my reputasie nie, dit laat ons deelneem aan ʼn vrye, nuwe goddelike geestesrealiteit.  

Om soos die tieners te praat:”Ons kan maar chill oor ons verlede, dis verby. Ons nuwe identiteit is werklik nuut, sonder voorwaardes, ons kan  nou ernstig en toenemend kragtiger en kragtiger deelneem aan en in die nuwe verwysingsraamwerk wat vir ons gegee is.

Lees

Heb. 11

Mediteer

Wat kan ek effektief doen om  meer en meer in hierdie Nuwe Lewe te leef?

Gebed

Vader, dankie vir die nuwe identiteit in U en die wete dat ons die Ewige Lewe sal ingaan. Dankie dat ons deur U Gees die regte besluite kan maak en effektiewe volwasse gelowiges kan raak. Laat U naam geheilig word. Amen.

 

Spreek Lewe

Ons is nuutgebore, afgewas en reg vir nuwe avonture saam met die Gees.

Aanbid

God really loves us – Crowder, Dante Bowe

Dag 3  Oë op die Here

Jesus het na die wêreld gekom met ʼn spesifieke doel – om te dien, om Homself op te gee om vir ons sondes te sterwe en om die Kerk te begin deur sy apostels te gebruik. Die Kerk moet die wêreld ingaan en die evangelie versprei en verkondig. Elk van die twaalf apostels was deur Jesus persoonlik uitverkies om hom te volg.

Twee van hierdie apostels verraai Jesus op die einde. Een, Judas, se geldgierigheid dryf hom om Jesus te verraai vir 30 silwerstukke (Matt. 26:14-16). Die ander, Petrus, verloën Hom drie maal, ten spyte van sy vroeëre dapper woorde dat hy sou veg vir Jesus (Matt. 26:69-75).

Twee manne. Albei het hulle dae saam met Jesus spandeer, wonderwerke ervaar en self ook wonderwerke gedoen (Markus 6). Een van hulle, Petrus, verloën Jesus, maar ons lees dat hy Jesus se woorde onthou nadat die haan kraai en dat hy uitgegaan het en bitterlik geween het.

Intussen het Judas ook skuldig gevoel en probeer om die silwer terug te gee. Hy was egter onsuksesvol en ons lees dat hy selfmoord pleeg.

Jesus besoek sy dissipels verskeie kere en ons sien dat Hy Petrus totaal en al vergewe het, Petrus speel later jare ʼn baie groot rol om die Kerk te vestig. Hoe is dit dan?

Petrus vra en ontvang genade. Sy sondes is in elk geval skoongewas op die kruis. Judas het sy rug op Jesus gedraai. As hy maar net ook genade sou vra en nie selfmoord pleeg nie, sou hy dieselfde vergifnis ontvang het.

Liewe lesers, ons maak soms die fout om so bekommerd te wees of ons hemel toe gaan of nie, so asof God dit sal terugvat nadat Hy dit vir ons gegee het. Dit is bloot nie waar nie. God is nie nukkerig nie. Hy verander nie sy standpunt elke dag nie. Hy is konstant lief vir ons en Hy het ons belowe dat ons gered is as ons wedergebore is. Ons het die Ewige Lewe en ons het ʼn nuwe identiteit in Christus.

 Lees

Psalm 32

Mediteer

As ek meer tyd in God se teenwoordigheid spandeer, verstaan ek ook meer van die genade wat ek ontvang het en die liefde wat hy vir my het.

Gebed

Vader, Dankie dat U nie U rug op ons draai wanneer ons struikel nie. Ons aanbid U Heilige Naam en ons is dankbaar dat ons ons identiteit in U kan vind. Amen.

 Spreek Lewe

Ek gaan Hemel toe, dit is ʼn gegewe.

Aanbid

Home  – Chris Tomlin

Dag 4  Die Nuwe Lewe onder die Genade

Baie van ons het al in ʼn geselskap gesit waar daar woelige kleuters of moeilike tieners is en dan agter ons hande vir ons eggenote gesê:”As hulle mý kinders was ...” Ek is dankbaar dat God nie so na ons kyk nie, want ons oordeel maklik.

Romeine 8 is so ʼn verskriklike seën vir almal van ons. In verse 1 en 2 staan:”DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”

Daar staan dit! As ons wedergebore is, is daar geen veroordeling nie, want die Gees is in ons en ons is vry. Dit is die genade wat die nuwe lewe in Christus ons bring.

Daar is leringe wat graag vernietiging verkondig. Oordeel wat gaan val op die dag wat die Here terugkeer aarde toe. Dit boesem vrees in. Ons weet natuurlik nie wanneer daardie dag gaan wees nie, maar ons kan vir seker wees dat dit nie ʼn hoogtepunt op ons Vader se kalender is nie. Hoekom sal dit? Hy is nie ʼn Oordeelsgod nie, Hy het ons innig lief en daar is geen rede hoekom Hy Homself sal verlekker in veroordeling nie.

Romeine 8:38-39 bevestig bostaande (NIV):”  For I am convinced that neither death nor life, neither angels nor demons, neither the present nor the future, nor any powers,  neither height nor depth, nor anything else in all creation, will be able to separate us from the love of God that is in Christ Jesus our Lord.”

Niks kan ons skei van die liefde van ons Vader nie, niks nie.

Lees

Rom. 8

Mediteer

Is daar iemand in jou sfeer wat jy dalk geneig is om vinnig te oordeel?

Is dit nie tyd om die Here in die prentjie te bring nie?

Gebed

Vader, ons wil nie ander mense oordeel nie, terselfdertyd is ons so dankbaar dat ons verlos is deur Jesus se bloed aan die kruis. Ons wil gebruik maak van ons nuwe identiteit wat U vir ons gegee het en ons wil dieper en dieper in verhouding met U staan. Dankie vir die Gees wat ons lei en beskerm. In Jesus naam. Amen.

 

Spreek Lewe

Ons het toegang tot die Skepper deur Jesus se opoffering.

Aanbid

Love of God – Brandon Lake, Phil Wickham

 

Dag 5 Vrede

2 Korintiërs 5:14-17 is baie duidelik oor wat met ons gebeur wanneer ons ons hart vir die Here gee. Jesus het gesterf vir ons sondes, ons is nie meer in die vlees (ons ou lewe) nie, maar is nuutgemaak en kan op die Gees staat maak om ons te lei. God het alles vir ons gedoen wat ons nie self kon doen nie, daarom het ons vrede.

Sommige van ons ouer lesers, veral die manne, sal dalk nog onthou van die dae wat ons op skool was en die hoof jou oor die interkom roep nadat jy iets aangevang het wat jy nie moes nie. Daardie lang stap na sy kantoor terwyl jy weet dat hier nou ʼn ordentlike straf op pad is, heel waarskynlik ʼn pynlike een. Die gedagtes woer deur jou brein, hoe kan ek hier uitkom? Sweet op jou voorkop, jou hart wat spring in jou bors.

Straf is nie lekker nie. Hoe dankbaar kan ons wees dat God nie ingestel is op straf nie, maar op ons redding en ʼn verhouding met ons.

1 Johannes 4:13-18 (NIV):”  This is how we know that we live in him and he in us: He has given us of his Spirit. And we have seen and testify that the Father has sent his Son to be the Savior of the world.  If anyone acknowledges that Jesus is the Son of God, God lives in them and they in God.  And so we know and rely on the love God has for us. God  is love. Whoever lives in love lives in God, and God in them. 1 This is how love is made complete among us so that we will have confidence on the day of judgment: In this world we are like Jesus.  There is no fear in love. But perfect love drives out fear, because fear has to do with punishment. The one who fears is not made perfect in love.”

Die laaste vers is so belangrik vir hierdie week se tema. Ons kan uitsien na die wederkoms sonder vrees, want daar is nie vir ons ʼn straf wat lê en wag nie.

ʼn Laaste gedagte: Ons het die Heilige Gees ontvang. Die Gees sal krap aan ons harte as ons op ʼn slegte plek is. En krap en krap. Nie om te veroordeel nie, uit liefde om ons nader te trek na waar ons hoort. Die troonkamer van God. Dis waar ons hoort.

Lees

1 Joh. 4

Mediteer

Hoe leef ek hierdie wete dat ek gered is en nie oordeel sal ontvang nie uit in my alledaagse lewe?

Gebed

Vader, dankie dat U nie uit is om te straf nie, dat U net liefde vir ons het. Help ons om aan ander ook liefde te betoon, tot U eer. In Jesus naam. Amen..

 Spreek Lewe

Ek is vry in God.

Aanbid

Freedom -  Jesus Culture