Go Deep 25 Mei 2025

Voordeel van die Twyfel

Neville Goodchild

 

Dag 1   Wanneer doodgewone mense goeie keuses maak 

Vanoggend se diens was so spesiaal. Ek wens jy kon daar wees as jy dit dalk gemis het. Skuins voor my staan ʼn oom met ʼn ligblou langmouhemp, hande uitgestrek tydens die lofprysing. Dis hande wat al gewerk het, sien ek. “I will sing of the Goodness of God”. ʼn Klein tjokkertjie van seker so twee of drie sit op sy pa se skouers ʼn ent vorentoe, een handjie uitgesteek in die lug. Hy dra ʼn kamoefleerbaadjie. Iets in my laat my dink dat hy hou van buite speel. Modder. Vuil wees. Ek dink God glimlag uit Sy troonkamer.

Ons doop. Jong kinders, maar ook ouer mense. Elkeen op sy eie reis met die Here. Belangrik. Die eerste stap, die babatreetjie in ʼn geloofsreis wat ewigheidsveranderend is.

Dit is maklik om te getuig dat God goed is wanneer dit goed gaan met ons. Dalk is dit ʼn groot oes, ʼn kind wat wonderbaarlik gesond word, ʼnbesigheidstransaksie wat jou gesin se toekoms radikaal verander. Dit is natuurlik goed om God te vereer wanneer goeie dinge met ons gebeur.

Maar eintlik is God nie net daar in goeie omstandighede nie en ons maak ʼn fout wanneer ons so dink (dis oukei). God is goed nieteenstaande die omstandighede. God definieer die omstandighede. Slegte omstandighede kan God ook openbaar as ʼn goeie God.

Hierdie skrywer onthou ʼn spesifieke dag (voor selfone) wat ʼn oproep inkom. Oom Nico vat Pa Kimberley hospitaal toe, hulle dink hy het ʼn hartaanval gehad. Die paniek. Die absolute chaos wat deur ʼn mens se brein skiet wanneer erge trauma inskop, is onverduidelikbaar, al het so baie van ons dit al ervaar. Daardie dag is ek op my knieë en al wat ek aan kan dink is om vir vrede in my hart te vra. En dit sak oor my soos ʼn kombers. Absolute, menslik-onverstaanbare vrede.

In dieselfde asem kom daar tye wanneer ʼn mens so twyfel oor of God vir ons lief is of meer nog, in beheer is. Die afsterwe van ʼn geliefde, ʼn motorongeluk, ʼn kind wat ernstig siek raak. Dis dán wanneer dit moeilik is om te sing oor die “goodness of God”. Dit is dan wanneer twyfel ons nog verder sleg laat voel. Want gelowiges mag nie twyfel nie. Mos. Ons voel skuldig, amper soos verraaiers, want die menslike leringe wat ons deurleef het druk ons gedagtes op die Ek-is-skuldig-pad.

God se gedagtes is glad nie daar nie. Kyk na vandag se leesstuk, waar Petrus begin twyfel wanneer hy op die water loop na Jesus toe. Hy begin sink en roep om hulp. Wat doen Jesus? Hy bestraf hom nie omdat hy begin twyfel nie, Jesus weet dat mens maar mens is. Jesus gaan dadelik en help Petrus na sy plek van veiligheid, die skip.

Ons gaan die res van die week kyk na hoe God se hart werk, die voorbeeld van Jesus wat nie veroordelend is nie, eerder vol sorg is. Hy is bekommerd oor ons, Hy wil sorg en Hy doen. Twyfel is menslik, God weet dit. Twyfel skep geleenthede vir groei. Ons gaan dieper delf die res van die week.

Lees

Math. 14:22-33

Mediteer

As dit dan oukei is om te twyfel in geloofsake, wat moet ek doen wanneer ek twyfel?

Mag ek praat daaroor?

Gebed

Vader, dankie dat u nie judge nie. Dankie dat U besorg is oor ons as mense, nie ons gedagtes nie. Dankie dat twyfeling ʼn geleentheid is om te leer en om nader aan U te kom. Ons loof U, Vader, ons wil U beter leer ken en ons weet ons kan dit net doen deur U Gees, die voorbeeld van Jesus en U onverstaanbare liefde. Amen.

 

Spreek Lewe

Twyfel is goed, solank ek dit verwoord en dit met ander deel wat my nie veroordeel nie.

Aanbid

No Doubt about it - We the Kingdom

Dag 2  Wanneer Christene begin sink

Die leesstuk van gister het gegaan oor Petrus wat begin twyfel terwyl hy op die water na Jesus toe loop. Die Petrus wat hier beskryf word is nog besig om te bou aan sy geloof. Later, met meer ervaring en ʼn dieper kennis van geloof doen hy wonderwerke, skryf hy oor geloof en is hy die stigter van die kerk. Maar hier, op die water met die wind van voor, begin hy twyfel en hy sink.

Hier is die sleutel van hierdie gebeure: Jesus word nie kwaad vir Petrus nie, inteendeel, Hy beweeg vinnig nader red hom en help hom om terug op die boot te kom. Jesus is daar toe Petrus begin twyfel. Ons moet dit onthou.

Dit is nie ongeestelik, onchristelik, of ʼn teken van beperkte geloof om te twyfel nie. Baie van ons kom uit geloofsoortuigings en ervarings, noem dit ons eie geloofshuis, wat maar vol krake is. Ons is oortuig dat ons nie mag praat oor goed wat ons nie verstaan nie, waaroor ons twyfel. Ons sal eerder stilbly, selfs onttrek van ons gemeente en die mense om ons, en toelaat dat die twyfel ons vasklou. As’t ware skep twyfel waaroor nie gepraat word nie, ʼn tronk vir ons gedagtes. In klasverband voel kinders dom as hulle vrae vra. Net so voel gelowiges skuldig as hulle worstel met iets wat hulle laat twyfel.

Hoekom is daar krake in ons konstruksie? Onthou dat ek en jy deur mense geleer en gelei in ons geloofsreis. Mense interpreteer verkeerd, ons is feilbaar. Mense het ons gehelp bou aan ons dit wat onsglo. Daarom sal daar foute wees.

Paulus het die grootste bydrae gelewer tot die Nuwe Testament. Tóg was hy die ou wat voorheen Christene vervolg en doodgemaak het. Maar hier is die belangrike stuk inligting. Paulus is nie deur mense beïnvloed nie, maar deur Jesus self. Lees vandag se dagstuk in verskillende vertalings. Dit is so wonderlik. Paulus se skrywes is nie soos ek en jy beïnvloed deur in watter gemeente ons grootgeword het nie, watter mense inspraak in ons lewens gehad het nie, dit is suiwer. Daarom kan ons dit wat hy leer, aangryp.

Lees

Gal. 1:10-16

Mediteer

Hoe verwerk ek die feit dat ek in my geloofsreis deur mense, nie Jesus nie, beïnvloed is?

Is dit ʼn probleem of verstaan die Here dit?

Gebed

Vader, vandag wil ons net dankie sê dat U die Bybel met sorg laat saam stel het. Dat U direk met manne soos Paulus geskakel het om seker te maak dat ons kan verstaan. Ons loof U almagtige naam. Amen.

 Spreek Lewe

Ek mag twyfel, maar meer nog, ek mag met my kerkmense daaroor praat.

Aanbid

Seed of faith- Charity Gayle

Dag 3  So, hoe beveg ons geloofstwyfeling?

Geloofstwyfeling is waarskynlik nie ʼn woord nie, maar dit beskryf iets wat ons almal iewers ervaar. Êrens in ons lewe word ons skielik gekonfronteer met iets wat ons laat twyfel aan God se goedheid, die feit dat hy altyd ons belange op die hart dra, siekte, sterftes, slegte goed.

Die eerste stap wanneer so iets gebeur, is om te besef dat twyfel menslik is en om die oorsprong van waar die twyfeling kom te ondersoek. Ons moet vrae vra en in gesprek tree met ons geestelike leiers om ons te help. Ons moet bid oor twyfel en die Here vra om in te tree vir ons. Die tweede ding wat gebeur is dat die Here dadelik en direk op ons fokus wanneer die water ons begin insluk soos met Petrus. Wanneer ons in gesprek tree kry ons die geleentheid om die goed waaroor ons twyfel uitmekaar te haal, te dekonstrueer. Die uiteindelike doel is om van rigting te verander indien nodig, boublokke te skuif.

Jesus verstaan geestelike groei, dekonstruksie en rekonstruksie. Dis hoekom Mat. 7:24-27 in die Woord (NIV) staan:”Whoever hears these words of Mine and does them, will be like a wise man who built his house on rock. The rain came down. The water came up. The wind blew and hit the house. The house did not fall because it was built on rock.  Whoever hears these words of Mine and does not do them, will be like a foolish man who built his house on sand.  The rain came down. The water came up. The wind blew and hit the house. The house fell and broke apart.”

Om bostaande te verstaan moet ons Jesus se gehoor hier van naderby ondersoek. Hy praat met Jode. Mense wat gevestig is in sekere geloofsoortuigings, mense wat van kindsbeen af die Bybel bestudeer, moeite doen om ʼn klomp geestelike wette te onderhou. Hierdie is nie mense wat nog nie van God gehoor het nie. Jesus moedig hulle aan om die plan te verander, te dekonstrueer en dan konstruksie op beter fondasies (Rots, Jesus) te bou.

Jesus is die Rots waarop ons kan bou. Joh. 14:13-18:”En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”

Hierdie is so duidelik. Jesus (God) bemoei Homself met ons tot ons voordeel. Ons mag twyfel. Ons mag Hom vra om in te tree, te herbou. Hy beloof dat Hy ons nie sal uitlaat of agterlaat nie. En die Gees is by ons nou. Wiek kan dan teen ons wees?

Lees

2 Petrus 1:2

Mediteer

Hoe gaan ek iemand benader wat hulle twyfel met my deel?

Gebed

Vader, dankie dat ons nuwe fondasies kan gooi, dankie dat U die geleentheid vir dialoog en verandering skep, dat ons veilig is om met menslike goed te deel. Dankie dat U uself so met ons bemoei. In die naam van Jesus,  Amen.

 Spreek Lewe

Twyfeling is nie ʼn doodloopstraat nie, dis ʼn nuwe begin.

Aanbid

I will fear no more – The Afters

Dag 4  Jesus, die perfekte voorbeeld van die Vader

Ons weet nou dat die Here intens betrokke is wanneer ons twyfel. Ons weet da tons gered is, ten spite van twyfel, dit staan op baie plekke in die Bybel, ook in Rom 10:9-10:” If you declare with your mouth, “Jesus is Lord,” and believe in your heart that God raised him from the dead, you will be saved.  For it is with your heart that you believe and are justified, and it is with your mouth that you profess your faith and are saved.”

Ons is gered, selfs al twyfel ons. En die werklik wonderlike eienskap van ons perfekte voorbeeld van die Vader, is dat Hy nie kwaad raak wanneer mense twyfel nie. U sal onthou waar Thomas sy vingers in Jesus se wonde wou druk. Jesus laat hom toe sonder om met hom te raas oor sy ongeloof. Petrus word een van die grootste kerkleiers in die geskiedenis, tóg verloën hy Jesus drie keer. Gaan lees bietjie hoe het Jesus hierdie situasie hanteer. Die woord DEERNIS sal by u opkom.

Jesus se teenwoordigheid op aarde was spesifiek, doelgerig, met intensie beplan. Hy was hier om as perfekte voorbeeld van die Vader se liefde vir ons te wees. Heb. 1:3.

Kyk hoe mooi is Jesus met Fillipus wanneer hy vrae oor geloof (en oor Jesus self het). Joh. 14:8-12. Hier sê Jesus baie duidelik dat hy die Vader is en die Vader is in Hom.

Jesus se werk op aarde was eerstens om ons sonde te kom dra, weg te vee vir altyd. Maar ook was Hy die perfekte voorbeeld van die Vader. Sy doel was ook om ons voor te stel aan die Vader. Onthou, in die Ou Testament was net hoëpriesters in die binnekamer toegelaat, gewone mense het nie direkte toegang tot God gehad nie. Jesus het alles kom verander. Ons het nou toegang tot die troonkamer van God.

Jesus se voorbeeld dien as ʼn belyning van ons karakter, ons identiteit en ons optrede. Rigtingwyser. Hoe doen Jesus sekere goed? Hoe sou Hy? Wat bedoel Hy?

Wanneer ons in tye van twyfel onthou van Jesus se voorbeeld, wanneer ons ons geloof hardop uitspreek, wanneer ons God vra om ons te help in ʼn slegte tyd; Hy sal altyd. Dit was die voorbeeld wat Jesus gewys het. Ons kan daarop vertrou.

Lees

Hebrews 1

Mediteer

Met wie van my geestelike leiers kan ek praat wanneer ek twyfel?

Vir wie kan ek ʼn geestelike leier wees wanneer hy of sy twyfel?

Gebed

Vader, dankie vir Jesus, vir die perfekte voorbeeld. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek het ʼn voorbeeld, ek het ʼn ondersteuningsnetwerk en ek ek weet nou dat twyfel normaal is, maar dit is ook ʼn springboard na ʼn plek waar ek nader aan die Here is.

Aanbid

The Jesus way – Phil Wickam

Dag 5  Die Here gebruik twyfel positief

Baie gelowiges dink dat twyfel ’n teken is van ongeloof en is skaam daaroor. Hulle hou dit vir hulleself omdat hulle bang is vir veroordeling. Daar is ʼn belangrike les in hierdie feit: hoe hanteer ons mense wat twyfel?

Die Bybel wys vir ons dat twyfel, wanneer dit reg hanteer word, ons verhouding met die Here versterk. Dis ʼn Godgegewe geleentheid!

In Markus 9:24 pleit ʼn pa dat Jesus sy kind help (uiteindelik lees ons dat Jesus ʼn bose gees uitdryf en bestraf): “Ek glo, ‘roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

Hoe wonderlik is dit nie. “Help my in my ongeloof.” Ons kan dit net so kopieer wanneer ons twyfel oor iets. Jesus se reaksie is deernis. Hy maak die seun gesond. Twyfel is nie die teenoorgestelde van geloof nie – dit kan ’n uitnodiging wees om God dieper te leer ken. Wanneer ons ons twyfel eerlik na God toe bring, sal Hy Homself aan ons openbaar.

Lees weer hoe Jesus met liefde handel toe Thomas vol twyfel is en Hy hom toelaat om sy vingers in Sy wonde te steek (Joh. 20:29): “ Then Jesus told him, “Because you have seen me, you have believed;  blessed are those who have not seen and yet have believed.”

Jesus eer mense wat opreg is in hul soeke na antwoorde. Hy ontmoet ons in ons twyfel, nie met veroordeling nie, maar met deernis.

Galasiërs 6 is vandag se leesstuk, maar lees hier die eerste drie verse uit The Message: “My spiritual brothers and sisters, if one of our faithful has fallen into a trap and is snared by sin, don’t stand idle and watch his demise. Gently restore him, being careful not to step into your own snare.  Shoulder each other’s burdens, and then you will live as the law of the Anointed teaches us.  Don’t take this opportunity to think you are better than those who slip because you aren’t; then you become the fool and deceive even yourself.  Examine your own works so that if you are proud, it will be because of your own accomplishments and not someone else’s.”

Hier lê soveel wysheid opgesluit. Ons moet mense wat twyfel met liefde ondersteun, nie met geestelike hoogmoed nie. Geestelike hoogmoed sit mense af, hulle ervaring is negatief. Wat is die beste manier om mense wat twyfel te ondersteun? Volg Jesus se voorbeeld. Hy was beskikbaar, bereikbaar, vol empatie. Jesus wys ons hoe die Vader se hart is oor mense. Ons mag en MOET ons twyfel na die Here bring. Ons mag en moet mense ondersteun wat twyfel. Dink aan al die potensiaal wat hulle het om ook ʼn rol in die Koninkryk te speel.

Lees

Gal. 6

Mediteer

Het jy al ooit ervaar dat twyfel jou gehelp het om God dieper te leer ken?

 Gebed

Here, U weet dat ons harte soms vol twyfel is. Dankie dat U nie ver weg is nie, maar dat U ons opsoek wanneer ons onseker is. Help ons om eerlik met ons vrae en onsekerhede voor U te wees. Laat ons U liefde en waarheid beleef, selfs in ons twyfel. In Jesus se Naam, Amen.

 Spreek Lewe

Ek weet nou hoe om mense wat twyfel te ondersteun. Deernis en liefde, nie geestelike hoogmoed nie.

Aanbid

God help me - Unspoken