Go Deep 30 March 2025

NUWE LEWE

Neville Goodchild

Evangelie = baie goeie nuus!

Dag 1: Die Wet is volbring

‘n Dooie boom se tyd is verby.  Dit maak nie saak wat mens doen nie, die boom sal nie weer lewe en vrugte dra nie.

Die vyeboom en Moses  word in die woord gebruik as ‘n voorstelling van die Wet.

Ons sien op drie geleenthede waar die vyevoom genoem word.

  • Jesus en sy dissipels het by die vyeboom verby geloop en Jesus wou vye van die vyeboom pluk. Dit was egter nie die seisoen van vye nie en daar was geen vye aan die boom nie. Die boom het wel groen blare aan gehad, maar geen vrugte nie. Vyebome is ook sensitiewe bome wat reg gesnoei moet word om vrug te dra en die oes word maklik deur die weer beïnvloed. Die hout van die vyeboom is ook sag en kan nie vir vuurmaak gebruik word nie. Jesus het die vyeboom vervloek en die volgende dag toe hulle daar verbygaan was die boom dood. Jesus het die boodskap oorgedra dat net soos die vyeboom lyk die Wet ook baie belowend, maar die Wet kan die mens net skuldig kry en kan nie die mens red nie.
  • Saggeus het in die vyeboom geklim om vir Jesus te kan sien toe hy verby kom. Hy wil Jesus sien vanuit die “Wet”. Dit is nie moontlik om Jesus te sien vanuit die Wet nie, want Jesus het gekom om te red en die Wet kan ons nie red nie. Hy sien vir Saggeus en Hy sê vir hom dat hy moet vinnig uit die boom klim. Hy moet wegkom van die Wet af, sodat hy redding kan ontvang.
  • Nataniel het na Jesus gekom. Jesus het toe vir hom gesê dat hy hom die vorige dag onder die vyeboom gesien het toe hulle daar verby gegaan het. Jesus sê dan dat Nataniel was ‘n Jood sonder bedrog. Dadelik verwys dit na werke vir redding en die vyeboom verwys na die Wet.

Wanneer die woord na Moses as die Wet verwys, is dit nie na die persoon Moses wat verwys word nie, maar na die sisteem van die Wet. Moses stel die sisteem voor wat nie kan red nie en van werke wat nie kan red nie. In Egipte was die Israeliete slawe en het God deur Moses vir die Farao gesê: ‘Laat my mense gaan.’ In die nuwe testament kom Jesus en volbring die volle verwagting van die Wet, Hy is sonder sonde en betaal die volmaakte prys. Die Wet is volbring en daarom is dit soos ‘n kontrak wat volbring is. Dit het verby gegaan en het geen waarde meer nie. Die tugmeester is afgedank, want hy het nie meer ‘n werk nie.

Ons moet dus verstaan dat alhoewel ons in sonde gebôre is, ons met wedergeboorte uit onverganklike saad gebôre word in Jesus Christus. Ons word nou gerig deur Jesus Christus wat ons vrygekoop het van die Wet deur die volkome, volmaakte prys te betaal en die volle vereiste van die Wet na te kom. Ons is dus nou vry van die Wet.

LEES:

Spr. 5:21

Joh. 1:43-49

Luk. 19:1-9

Mark. 11:13-21

Mediteer:

  • Verstaan jy die volle implikasie van die feit dat Jesus die wet vervul het?
  • Dink jy jy sou jouself kon kry op ‘n plek van geregtigheid deur jou eie werke of om die wet volmaak te onderhou?
  • Jesus was sonder sonde en het die wet volkome onderhou, dit is hoekom Hy dan die volmaakte offer kon wees. Ek en jy hoef nie meer uit ons eie werke volmaak te probeer word nie. Jesus het dit vir ons gedoen.

Bid: 

Vader ek loof U vir die werk wat U in Jesus kom afhandel het. Help my om die volheid van Jesus se werk te begryp. Help my om nooit weer terug te gaan na my eie pogings om goed genoeg te probeer wees om gered te word nie. Help my om vry te kom van die Wet deur Jesus se genade werk te aanvaar. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

God is die gewer van lewe van die begin af. Hy alleen kan ook ons die ewige lewe gee deur genade.

Aanbidding:

Melanie Walman – To Know You (Lyric Video)

Dag 2: God se liefde bring ‘n kragtige transformasie

Noag en Moses se stories verkondig die evangelie, die boodskap van redding. Noag het die mense wat oorgebly het en die diere met die ark uit die vloed gered en Moses het die volk gered deur die volk te lei deur die Rooisee.

By Noag en die ark verwys die pik wat om die ark gesmeer is om dit dig te maak, na die bloed van Christus. Die ark wys na Christus en vertel die boodskap dat die wat in Christus is, gered word. Die water waardeur die ark gegaan het verwys na die doopwater waardeur ons gaan na bekering. Die water is ‘n watergraf waar die ou mens sterf en die nuwe in Christus Jesus nou lewe. (Rom. 6:4) Nadat Noag die duif uitgestuur het, het dit teruggekom met ‘n olyf takkie. Olyf is ‘n teken van genade. Ons het genade ontvang al is ons nie eens deel van God se volk nie. Ons is ingeënt op die olyftak. Die olyfolie word gebruik om:

  • lewe te preserveer,
  • in lampies om lig te gee en
  • is die hoofbestandeel van salwingsolie.

Die boodskap van die evangelie is dat ons deur God se liefde verlos word en kragtig gered word uit ons verlorenheid. Ons word vrygemaak van ons sondelas. Die oomblik wat ons God se liefde gesien het, dit aangeneem het en oorgegee het, geglo het daarin, kom ons tot redding. Ons beleef dat God se volmaakte liefde wat ons gered het van ewige dood is die beste nuus wat enige mens ooit kan ontvang. Dit dryf alle vrees uit en dan spesifiek die vrees vir die oordeelsdag. Ons wat in Christus is het volkome vrymoedigheid omdat daar nou geen veroordeling is vir die wat in Christus is nie. (Rom 8:1)

Lees:

Rom. 6:4

Rom. 8:1

Gen. 5:32

Eks. 14:13-31

 Mediteer:

  • Raak gou bietjie stil en dink aan wat is die beste nuus wat jy nog ooit gehoor het in jou lewe?
  • Die woord “evangelie” in Grieks is “euangelion”. Dit beteken letterlik “goeie nuus”.
  • Die beste nuus wat enige mens ooit kan hoor in sy lewe is dat hy/sy vrygespreek is van die straf wat hy/sy moes kry vir hulle sonde. Die evangelie is dat jy vrygespreek is van jou verlede, jou sonde in totaliteit. Glo dit.

Bid:

Vader ek loof en prys U vir die beste nuus ooit, dat ek nie meer skuldig staan voor U nie, dat ek vrygespreek is, dat alle aanklagte teen my aan die kruis vasgespyker is. Halleluja. Vader help my om dit nooit te vergeet nie, maak dit vas diep binne my en kom herrinner my gedurig aan hierdie goeie nuus deur U Gees. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is nou vry van veroordeling en kan oordeelsdag met vrymoedigheid tegemoet gaan.

Aanbidding:

Don Francisco – Topic – Cause and Effect

Dag 3: Onverganklike saad

'As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. ' (1 Petrus 1:22-23) Afr. 53

Die nuwe het begin en die oue het verbygegaan. Die verganklike, tydelike word vervang met die onverganklike en ewige. In Lukas 9 lees ons dat Jesus en sy dissipels Petrus, Johannes en Jakobus hoog opgeklim het met die berg om te gaan bid. Daar het Jesus anders begin lyk, verheerlikte aangesig, en sy klere was skitterend wit. Daar was twee manne wat met Jesus op die berg gesels het. Dit was Moses en Elia. Moses is in die Woord die voorstelling van die Wet en Elia van die profete. Toe Petrus bykom en hy aanskou Jesus, Moses en Elia saam, was hy baie opgewonde. Hy stel toe voor dat hulle drie hutte op die berg bou, een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. Dit is so tipies mens om te wil vashou aan dit wat goed was, maar dit is verby. ‘n Wolk het hulle oordek en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingegaan het. Vers 35 ‘maar daar kom ‘n stem uit die wolk wat sê: dit is my geliefde Seun; luister na Hom! Abba Vader bevestig hier dat daar is nou ‘n nuwe, onverganklike bedeling wat deur Sy Seun ingelei word.

Ons word dus in Christus Jesus weergebôre uit onverganklike saad en bekom die ewige lewe in Jesus Christus. God die Vader bevestig dat Jesus Sy Seun is en dat Hy die een is vir wie ons moet volg. Ons moet nie probeer om vas te hou aan dit wat verby is nie, maar glo en wandel in die ewige goeie nuus. Ons kan nie vashou aan die onderhouding van die wet vir vryspraak en glo dat ons deur genade deur die kruiswerk van Jesus Christus gered is nie. Dit is nie die suiwer evangelie nie. In die woord word daarna verwys as die vermenging van saad. Die Jode mag nie twee verskillende sade op een land plant nie. Hulle mag nie die saad vermeng nie. Die implikasie vir ons is dat ons kan nie aan die ou en die nuwe bedeling vashou nie. Daar is nou net een waarheid – ‘dit is My geliefde Seun; luister na Hom!’

Lees:

Luk. 9:29-36

1 Pet. 1:22-23

Mediteer

  • Raak stil en laat jou gedagtes gaan oor jou eie stand. Waar staan jy? Vermeng jy ook nog soms die saad, die twee bedelings, een van genade en die ander een van werke?
  • Jou stand is ‘n keuse, word oortuig van Vader se absolute liefde en onwankelbare oortuiging in Sy hart oor jou. Glo dit en kies om jou hele lewe oor te gee aan Sy genade. Gee jou eie pogings en selfgeregtigheid op, ruil dit in vir Sy genade.

Bid: 

Vader vergewe my waar ek so maklik nog die saad vermeng en uitbeweeg uit U genade en weer self onder die oordeel gaan staan van selfveroordeling. Help my deur U Gees om daagliks my stand vas te maak en te kies, om elke dag net te leef in U genade. Dankie Vader dat U werk volmaak was en dat Jesus nou die enigste een is waarvoor ons moet luister.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is ek is weergebore uit onverganklike saad.

Aanbidding:

Brooke Ligtertwood – Honey in the Rock ft. Brandon Lake (Live Video)

Dag 4: Die Evangelie maak vry

'EK dank God, wat ek van my voorouers af in 'n rein gewete dien, wanneer ek onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink, terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap vervul kan word, en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat — daarvan is ek oortuig — ook in jou is. ' II TIMÓTHEÜS 1:3-5

Paulus het Christene vervolg met ‘n passie en hulle doodgemaak, omdat hulle anders as hy geglo het. Hy het by een so vervolging en steniging gesien hoe Stefanus, ‘n vurige dissipel van Jesus, gesterf het met ‘n gesig wat verlig was van heerlikheid. Stefanus se laaste woorde was dat God die mense moet vergewe wat dit aan hom doen.

Nou wonder mens hoe kan Paulus die uitlating maak dat hy van sy voorouers af God met ‘n rein gewete gedien het. Ons kan dit nie begryp nie, maar die wonder van die evangelie is juis dit. Die Evangelie is die ‘baie’ goeie nuus – dat die Evangelie ons kwalifiseer, vry maak, alle veroordeling wegvat.

Enige teologie wat die kinders van God onder veroordeling bring en hou, is ‘n minderwaardige teologie.

1 Joh. 1:9 sê dat wanneer ons sondig moet ons berou hê, na God gaan, ons sondes bely en dan sal ons vergifnis vir ons sonde ontvang. Paulus het met alles in hom nog altyd gepoog om God te dien, maar nou het hy redding ontvang en verstaan hy die evangelie. Hy is waarlik vry in Christus Jesus. Hy weet dat hy nou met ‘n skoon gewete en sonder enige veroordeling in God se liefde kan glo en vertrou. Dit dui op geestelike volwassenheid as iemand ‘n skoon gewete voor God kan handhaaf en met vrymoedigheid na God kan gaan. So persoon handhaaf die vrede van God in hulle lewe. So persoon kan aanbid sonder veroordeling en besluite neem sonder bekommernis.

Lees:

2 Tim. 1:3-5

1 Joh. 1:9

Hand. 7:55-60

Mediteer:

  • Kan jy ook soos Paulus getuig dat jy voor Vader kan staan met ‘n skoon gewete, dat daar niks is wat tussen jou en Vader staan nie?
  • Paulus kon voor Vader staan met ‘n absolute skoon gewete van sy eie sonde en van alle sondes wat deur sy voorouers gepleeg was.
  • Wanneer ons wedergeboorte beleef word ons vrygespreek op grond van die volmaakte kruiswerk van Jesus Christus van alle sonde en ongeregtigheid, alles, insluitende ons voorgeslagte se sonde.

Bid:

Dankie Vader dat ek met absolute vrymoedigheid na U kan gaan omdat ek vrygespreek is van alle sonde en ongregtighede. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Ek is skoon, vrygespreek en het die nuwe lewe wat Vader vir my gee in Jesus. 

Aanbidding:

Who You Say I Am – Hillsong Worship

Dag 5: Wakker jou gawes aan

'Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. ' II TIMÓTHEÜS 1:6-7

Wakker die genadegawes aan. Dit is so moeilik vir ons om in die genadegawes te vloei en konstant op ‘n plek te wees wat God deur ons Sy genadegawes kan laat manifisteer om die wêreld te wen. Een van die redes is vrees vir veroordeling en die ander is vrees van mislukking. So kom baie gelowiges tot bekering en wedergeboorte, maar het nie persoonlike ondervinding van die ‘Nuwe Lewe’ nie.

Vrees vir veroordeling is onoorkombaar as ons nie in Christus Jesus lewe en die Heilige Gees ontvang het nie. Die Gees wat God vir ons gegee het is nie ‘n gees van vreesagtigheid nie. ‘n Gees van krag en liefde en selfbeheersing.

Dit is die volmaakte liefde van God wat ons red. Indien ons sukkel om hierdie volmaakte liefde te ontvang, sal ons aanhou vrees.

Die genadegawes is deur die Heilige Gees beskikbaar in ons lewe om die liggaam van Christus te dien. Daarin is die ‘Nuwe Lewe’. Elke dag in afhanklikheid van God, deur die werking van die Heilige Gees, in God se liefde, kan God deur ons die bruid seën met ons genadegawes.

Lees:              

2 Tim. 1:3-5

Mediteer:

  • Die Engelse vertaling praat van “a sound mind” waar die Afrikaans praat van selfbeheersing.
  • Kan jy getuig daarvan dat jy so oortuig is van Vader se volmaakte liefde, dat alle vrees vir veroordeling, vrees vir oordeelsdag en vrees daarvoor dat Vader nie sal deurkom in jou situasie nie, heeltemaal weg is en dat jy in die volmaakte vrede van Vader lewe?
  • Het jy al die genadegawes ontvang deur die doping met die Heilige Gees en volhard jy om in afhanklikheid aan God dit elke dag uit te leef en die liggaam van Christus te dien? As dit intimiderend klink praat met jou selleier of ‘n leier by die kerk en vind meer uit van die genadegawes. Dit is ‘n wonderlike belewenis van God se liefde vir jou en ander. Moet dit nie mis omdat jy dit nie verstaan nie.
  • Slegs as ek absoluut oortuig is van Vader se onvoorwaardelike liefde kan ek in vrede en in vrymoedigheid lewe.

Bid:

Vader dankie vir U groot liefde. Dankie dat U my en die liggaam van Christus seën met die Heilige Gees gawes. Dit is ‘n wonderlike manier om mekaar met U liefde te bedien. Hernu die vuur binne my en maak my opnuut sensitief vir U Heilige Gees in my, sodat ek in krag, liefde en met nugtere denke U liggaam kan dien en self bedien kan word. Dryf alle vrees uit en gee my genoeg geloof om te funksioneer in die genadegawes, al voel ek bang. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is opgewonde om opnuut deur die Heilige Gees geïnspireer en gelei, die genadegawes uit te leef.

Aanbidding:

Fall Afresh – Josh Baldwin | Moment