DIE VOORDEEL VAN TWYFEL
Neville Goodchild
Waarom beantwoord God soms nié ons gebede nie?
Dag 1: My gebed finaliseer omstandighede
Die wonder van intensionele gebed is dat ons sien dat God in ons omstandighede werk. Dit is die opdrag wat God vir ons gee, om oor alles en in alles te bid (Fil. 4:6), en om toe te laat dat God dit finaliseer.
Daar is egter tye waarin ons nie hierdie wonder beleef, soos wat ons hoop om dit te beleef nie. Soms is daar tye wat ons trauma beleef of moeilike omstandighede, wat nie verander nie. Of dit verander of gebeur nie soos wat ons dink dit moet nie. Dan wil ons in onvrede leef, want in ons menswees wil ons antwoorde hê. Ons vra die “hoekom” vraag.
Die “hoekom” vraag bring ons egter nooit by die regte antwoord uit nie. Die antwoord op “hoekom” sal nooit met ‘n “omdat” beantwoord word nie. Jesus gee ‘n “sodat” antwoord in Joh.9:3 en verduidelik aan Sy dissipels: “maar die werke van God moet in hom openbaar word”.
My vrede in omstandhede kom nie omdat dit verander nie, maar dit kom wanneer ek bid daaroor. Vrede kom nie wanneer God reageer nie. Dit is nie wanneer God dinge beantwoord en verander volgens my idee, wat my omstandighede gefinaliseer is nie. Dit is nie my werk om vir God voor te skryf wat om te doen nie. My werk is om oor alles te bid. Dit is my finaliteit. Vrede in omstandighede kom slegs deur my konneksie, my verhouding met God. Dit gebeur deur gebed. Nie deur hoe God besluit om my situasie te beredder nie.
Dink ’n bietjie oor hierdie uitgangspunt: Geen omstandigheid is gefinaliseer, voordat daaroor gebid is nie. Gebed finaliseer omstandighede. As my omstandighede gefinaliseer word op grond daarvan dat God optree, dan sal ek bly leef in onvrede en onsekerheid, buite verhouding met my Vader. Dit is nie waar God my wil hê nie. God wil my in Sy vrede hê. My kommunikasie met God, my gebed, finaliseer my omstandighede.
Die manier waarop ek my verhouding met God meet, is nie deur hoe baie Hy my gebede beantwoord nie, maar deur of ek in verhouding met Hom staan. Deur my kontak met Hom. Dit is deur gebed.
Wanneer ek lank genoeg tyd in gebed spandeer, sal ek God se wil begin verstaan en volgens Sy wil begin bid. Hoe langer ek getrou bly in gebed, hoe meer begin ek God se idee verstaan en in lyn met God se planne bid. Gebed is my finaliteit. Dit is waar ek my vrede kry.
Alles wat ons in gebed by God bekend maak, is reeds aan God bekend, en daar voorsien Hy op die regte tyd soos wat dit Sy wil is. As ons nie weet wat om te sê nie, kan ons bid, want die Heilige Gees wat weet wat om te bid, tree dan vir ons in en bid namens ons by Vader (Rom. 8:26-27), volgens God se wil en plan vir ons lewens.
Ons kan maklik twyfel wanneer ons na omstandighede kyk, maar ons opdrag is om te bid. Dit is ons geleentheid!
Lees:
Mediteer:
- Geen omstandigheid is gefinaliseer voordat daar oor dit gebid is nie.
- Ek glo nie dat God se voorsiening die finaliteit van omstandighede is nie.
- Ek glo nie God se genesing is die finaliteit van omstandighede nie.
- Ek glo nie dat God se oop deur waarvoor ek die Here vertrou, die finaliteit van omstandighede is nie.
- Wat finaliseer my omstandighede?
- Waaroor het ek nie vrede nie? Bid ek hieroor?
- Glo ek in die krag van gebed?
Bid:
Vader, U is God. Ek besef dat my gebede so dikwels selfgesentreerd is en nie gemik op U wil nie. Dat ek U wil meet aan my omstandighede en of U doen wat ek vra. Jammer Here. Ek wil in geloof en in vertroue al my omstandighede en dinge om my vir U gee en berus in U wil en in U vrede leef. Dankie dat ek kan weet, dat U nie 'n koue skouer vir my draai nie, dat U ore nie toe is vir my nie, juis omdat Jesus Christus alles gedoen het wat nodig was vir my om in verhouding met U te staan. Ek is vry om in U Teenwoordigheid te kom en met U te gesels oor alles. Leer my wat U wil is, in Jesus se Naam, Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Geen van my omstandighede is gefinaliseer, voordat ek nie daaroor gebid het nie.
Aanbidding:
God I Look to You – Jenn Johnson
Dag 2: Verhouding is vir God belangrik
Gebed is kragtig, maar dit kan verwarrend wees. God reageer op ons gebed, maar soms doen Hy nie. Gebed kan dinamies wees, maar gebed kan ook teleurstellend wees. Gebed lei ons na God se beste toe, maar gebed kan ons ook bitter laat.
Ons bid volgens Joh. 14:13-14 in die Naam van Jesus Christus. En ons gebede wat ons bid, word beantwoord. Maar die gebede wat onbeantwoord is, het ons ook in die Naam van Jesus gebid.
Glo ons dat God gebede beantwoord? Ja, maar soms is dit maar baie moeilik. Ons glo in die krag van gebed, maar wanneer ons gebede onbeantwoord bly, is dit moeilik.
Waarom beantwoord God nie altyd ons gebed nie?
Wanneer ons nie weet wat die rede is vir onbeantwoorde gebed nie, kom daar twyfel en ons begin vrae vra. ‘n Mens wonder of die rede waarom God nie reageer nie dalk ’n teken is dat jy nie eintlik ’n Christen is nie, of werklik gered is nie, of dat jou geloof te swak is, of dat daar dalk sonde is wat jy nog nie bely het nie, of miskien sonde in jou verlede, of miskien in jou ouers of grootouers se verlede. Die vrae wat ’n mens vra en die redes waarna jy soek wanneer jou gebede onbeantwoord bly, word onrealisties. Dit word soos die vraag van die dissipels in Joh. 9: “Is dit dalk sonde wat hy as ’n embrio gepleeg het?”....omdat hy blind gebore is en die rede sy eie sonde kan wees. Dit is ’n irrasionele vraag.
Hierdie week kyk ons na vier skriftuurlike redes waarom gebede nie so vinnig beantwoord word, of op die manier wat ons dink dit moet nie.
Die eerste rede vind ons in Markus 11:24-26: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry. En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie”.
Hierdie skrif is in verse ingedeel, maar al drie verse is saam as ’n eenheid aan ons gegee.
Dit is vir God belangrik dat ons in ons verhoudings herstel is. As jy dink God beantwoord nie jou gebede nie, moenie onteologiese aanklagtes gaan soek nie. Begin by hierdie Skrif en kyk na jou verhoudings. Is daar enige herstel nodig? In 1 Pet.3:7, wat vir ons elkeen (man en vrou) geld, sien ons wat ons gebede kan verhinder:
“Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is — sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1Pet.3:7).
God bevoordeel nooit net een party in ’n huwelik nie. Die vrou en die man is saam mede-erfgename van die genade. Wanneer ons mekaar nie eer nie, nie mekaar lief het nie, hoe wil ons God se seën verwag?
As ons ons verantwoordelikhede mis verstaan, kan ons gebede verhinder word.
Lees:
Mediteer:
- Is daar iemand wie ek nodig het om te vergewe? Wat keer my?
- Is daar iemand met wie ek moet regmaak? Wat keer my?
- God vergewe jou, maar Hy verklaar nie die sonde as reg wanneer Hy vergewe nie. Net so, beteken om te vergewe nie dat die persoon wat verkeerd opgetree het se optrede geregverdig is nie. Ons gee genade net soos God genade gee wanneer ons kies om te vergewe.
Bid:
Vader ek kies vandag om _____ te vergewe. Ek kies om te vergewe al voel ek tenagekom, al was dit só onregverdig. Vader, help my om reg te maak in my verhoudinge waar dit nodig is. Dit is U wil en ek wil graag volgens U wil leef. Gee my asseblief die krag en die deursettingsvermoë om die nodige te doen om herstel te bring daar waar dit stukkend is. Help my om U liefde en genade uit te deel, want U deel U liefde en genade uit aan my al verdien ek dit nie. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies om te vergewe, omdat God my sonde vergewe en nooit weer daaraan dink nie.
Aanbidding:
Don’t Stop Praying - Matthew West
Trust in God – Elevation Worship
Dag 3: Waarom bid ons?
In Matteus 23:5 lees ons van die Fariseërs wat hul gedenkseëls breed maak en die some van hul klere groot:
“En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot”. (Mat. 23:5)
Die gedenkseël waarvan hier gepraat word, is die klein swart leerboksie, wat dele van die geskrifte bevat. Dit is tradisioneel op die arm (naby die hart) en voorkop (net bo die oë) geplaas, as fisiese bewyse van geloof en herinnering aan die gebooie. Hierdie tipe boksies met versies in, is eintlik net ’n skyn van godsdiens, soos wit gepleisterde grafte.
“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is” (vers 27).
Nêrens kan ’n mens ’n plaasvervanger kry vir verhouding met God nie. Daar is geen ander manier om met God verhouding te bou as deur gebed nie. Daar is ook geen manier wat ons die Skrif buite konteks kan toepas, deur dit op ’n sistematiese of ritualistiese manier aan te wend nie. Ons kan nie God se wil koop nie. Dit help ook nie dat ons werke doen om deur mense gesien te word nie, dit bring nie verhouding met God nie.
Dit is nie moontlik om God se wil te ken, buite verhouding met Hom nie. Enige ander poging lei tot twyfel en verwarring en eindig op in die dood. Gebed bring ons in verhouding met ons Vader, en leer ons om Sy wil te ken.
“Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jak.4:2-3).
Die eerste beginsel wat ons hier lees, is dat ons begeer en nie het nie, omdat ons nie bid nie. Dit help nie dat jy deur aggressie, manipulasie en intimidasie jou gewig rondgooi om dinge te forseer of te bekom nie. Bid eerder oor dit wat jy nodig het.
Tweedens leer ons dat ons bid, maar nie ontvang nie, omdat ons net bid volgens ons eie selfsugtige motiewe. Die verkeerde motiewe lei tot misbruik, vir my eie voordeel. Hierdie is een van die redes waarom gebed onbeantwoord bly.
As ons iets nodig het, moet ons dit van die Here vra “en nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra” (1 Joh. 5:14).
Lees:
Mediteer:
- Is daar iets wat jy nodig het, waaroor jy nog nie gebid het nie? Wanneer is die regte tyd om te bid hieroor?
- Hoe kan jy volgens God se wil bid?
Bid:
Vader, ek is jammer dat ek so dikwels selfsugtig is in my gebede. Dat dit gaan oor myself, my motiewe, wat ek daaruit kan kry. Help my asseblief om U wil te leer ken. Leer my en lei my, ek soek U hart, U wil in elke omstandigheid, want ek weet dat U goed is, dat U die beste weet en dat U God is. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek bid omdat ek weet hoe afhanklik ek van God is. Ek vra met vrymoedigheid wat ek nodig het, terwyl ek Sy wil in elke omstandigheid soek.
Aanbidding:
Clean Heart – Bryan & Katie Torwalt
Dag 4: Gebrek aan geloof
Is jy al gekonfronteer met jou geloof? Dat God nie jou gebede beantwoord nie, omdat jy nie genoeg geloof het nie?
Ons sien in Markus 9:23 ’n man wat gekonfronteer word met sy geloof. Hy bring sy seun na Jesus toe vir genesing, en Jesus vra vir hom “glo jy?” - “En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo” (Mar. 9:23).
Jesus vra, het jy geloof? Dit is maklik vir ons om oor geloof te dink en te praat, maar dit is moeilik om geloof toe te pas.
God sê Hy kán die nodige doen, en Hy wíl dit doen, maar gló ek? Dit wys ons dat daar tog sekere omstandighede is waarin ek ’n bydrae het om te lewer. My geloof moet in plek wees. Want vir die wat glo, is alles moontlik.
“En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (v. 24).
Die pa sê hier ek het geloof, maar ek sukkel met ongeloof. So wat is dit dan nou? Het hy klein geloof of groot geloof? Min geloof of baie geloof? Die vraag wat ons dan wil vra, is hoeveel geloof moet ons dan nou hê?
Die pa het sy seun na Jesus toe gebring en toe hy sê Here help my in my ongeloof, toe genees Jesus sy seun.
Ons kan God nie sonder geloof nader nie. Ons moet ons geloof ten toon stel. Maar hierdie pa het ’n menslike oomblik en vra vir die nodige geloof. As ons na Heb. 11:6 kyk, sien ons ’n kerngedagte in hierdie skrif.
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).
- Om God te behaag, is ’n verhoudingskonsep
- Tot God gaan, is ’n verhoudingskonsep
- Dat Hy is, is ’n verhoudingskonsep
- Van die wat Hom soek, is ’n verhoudingskonsep
Dus, sien ons dat hierdie vers deurspek is van die verhoudingsbeginsel. Dit gaan vir God oor of ek in verhouding met Hom staan. God wíl, maar daar moet geloof wees.
Die aanklag waarmee ons sukkel, is hoe groot of klein ons geloof is, maar dit gaan nie oor hoe baie of hoe min geloof ek het nie. Dit gaan oor of ek Hom nader en vra vir hulp, vir die ongeloof waarmee ek sukkel. Dit is in die verhouding wat die deurbraak lê; om oop te maak en deursigtig voor God te wees oor my menslikheid.
God soek jou by Hom. Dit is die essensie van jou geloof. Dit is verhouding.
Lees:
Mediteer:
- Hoe lyk jou verhouding met God?
- Hoe kan jou verhouding met God verbeter?
- Is daar areas in my lewe wat ek sukkel om God in te nooi?
- Wat doen ek om genoeg geloof te hê?
Bid:
Vader, ek glo in U. Ek vra dat U my help waar my geloof te kort skiet. Help my asseblief om meer te glo. Versterk my geloof in hierdie area van my lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo in God se vermoë, en gee my ongeloof vir Hom!
Aanbidding:
Dag 5: God het ‘n beter idee
Hoekom beantwoord God nie altyd ons gebede nie?
Het jy ook al deurlopend en aanhoudend vir iets spesifieks gebid? Nagte deur spandeer en by die Here gepleit? Al jou hoop daarop geplaas en geweet dat dit is wat jy nodig het? En dit dan nie gekry nie....
Partykeer het God ‘n beter idee.
Kon jy al terugkyk en besef dat die Here van beter geweet het? As ek daardie tyd maar net geweet het wat ek nou weet! “Sjoe, dankie Here dat U van beter geweet het, in my kortsigtigheid!”
Miskien het ons goeie idees wanneer ons bid vir sekere sake, maar dit is nie Goddelike idees nie. Dit is waarom dit so belangrik is om die Here se wil in alles te soek.
Wat moet ons dan doen, hoekom bid ons dan? Net soos wat ek wil hê dat my kinders met vrymoedigheid vir my moet vra wat hulle benodig, wil God in verhouding met Hom hê dat ons Hom moet vra vir dit wat ons nodig het.
Dit is waarom 1 Johannes 5:14 ons posisie is:
“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil”.
Ons dink ons finaliteit lê daarin dat God doen wat ons vra, maar dit is egter nie waar ons finaliteit en uitkoms lê nie. Ons vrede lê in die feit dat God hoor wanneer ons vra. Wat ookal die uitkoms, God het gehoor en Hy sal dit laat uitwerk volgens Sy beste plan. Ons het Hom in die situasie ingenooi en daarom gee ons vir Hom plek in ons lewens om Sy Goddelike plan uit te voer:
“En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (v. 15).
Wat beteken dit? Dit beteken dat Hy hoor. Dit is waar ons finaliteit lê. Ons is bevry van die idee dat ons moet werk daarvoor of ‘n “name it, claim it and frame it” teologie hoef aan te hang. Ons vrede, ons finaliteit lê in die absolute oortuiging dat God hoor wanneer ons bid. Ons kwessie is nie meer die manier waarop God dit laat uitwerk nie. Ons weet wanneer ons bid, dat dit in God se hande is.
My verhouding met God hang nie af van hoeveel Hy my gebede beantwoord volgens my vasgestelde idees, of hoeveel mense genees word, of hoeveel veranderinge daar is wanneer ek bid oor sake vir myself of ander nie. Dit is die Here se saak. My posisie is ’n plek van krag en vrede dat wanneer ek bid, Hy hoor en Sy wil geskied.
Lees:
Mediteer:
- Waarom bid ons?
- Wat is vir God belangrik in ons gebede?
- Kan jy dink aan iets waarvoor jy die Here vertrou het, wat Hy vir jou gegee/gedoen het. Het jy die Here gedank hiervoor?
- Kan jy dink aan iets waarvoor jy die Here vertrou het, wat Hy nie gedoen het/vir jou gegee het nie. Kan jy die Here dank hiervoor?
Bid:
Vader, dankie dat ek met vrymoedigheid kan vra, want U hoor, as ek vra volgens U wil. Ek weet ook dat U nie vir my alles gee, net soos ek daarvoor vra nie, omdat U ’n ander plan het. Daar is tye, Here, wat ek dankbaar is, omdat U nie vir my gegee het wat ek gedink het die perfekte ding/plan sou wees nie. Here leer my om in vrede te staan, dat wanneer ek bid, dat U hoor, en dat dit my finaliteit is, maak nie saak van my omstandighede nie. U weet beter. Ek eer U daarvoor. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God will either give us what we ask, or give us what we would have asked, if we knew everything He knows! - Tim Keller
Aanbidding: