PINKSTER IN MY LEWE
De Villiers Nel
Is Pinkster toepaslik op my beroep en my gesin?
Dag 1: God praat met Sy volk
In Eksodus 19:16-19 lees ons van 'n groot geskiedkundige oomblik waarin God met sy mense praat. Hy het in rookwolke en vuur op die berg Sinai verskyn en met Moses gepraat. Op hierdie dag het God gesê dat Hy graag met Moses wou praat in die teenwoordigheid van die volk, sodat hulle vertroue in hom kon kry. Die volk mag egter net tot by die voet van die berg gekom het en nie te na aan die berg nie. God het met Moses gepraat en die volk kon Hom hoor. “Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ’n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord” (V.18). Tydens hierdie tyd waarin God afgekom het na die berg Sinai toe om met Sy volk te praat, het Hy vir hulle identiteit gegee. Hy het vir hulle riglyne gegee, wat toepaslik is in elke area van hul lewens. Hierdie wet het hul gewys hoe om reg en regverdig te leef. Toe hulle God se stem hoor, was hulle nooit weer dieselfde nie.
Daar is feesgevier oor hierdie groot gebeurtenis, wat (soos in Num.28:16-25) bekend geword het as Shavuot of soos in die Grieks Pentekoste. In ons vertaling is dit bekend as paasfees. Hierdie was presies vyftig jaar nadat die Israeliete uit Egipteland gered is.
Hierdie fees en die wette wat gegee is op hierdie ongelooflike dag, was egter ’n skaduwee van dit wat later sou kom. Dit was ’n profesie van die werk wat God deur Sy Seun en deur Sy Gees kom doen.
Lees:
Mediteer:
- Hoe is Eksodus 19 'n skaduwee van dit wat sou kom?
- Hoe is Eksodus 19 'n profesie van die Heilige Gees?
Bid:
Vader, U is Almagtig en U is God. U is heilig en waardig. U is groot bo alles. U het afgekom om U Self aan U volk te openbaar en om met ’n hoorbare stem U self bekend te maak asook U dienaar wie U gekies het as leier. Vader, kom openbaar in hierdie tyd wie U is in my lewe en die doel van U Gees in my en mense rondom my. Skep in my ’n sekerheid van U krag in my en U wil vir my lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God praat met Sy geliefdes.
Aanbidding:
Dag 2: Dinamiet
God het op die berg met Sy volk gepraat. In Handelinge 2 lees ons dat God nie meer in ’n vuur op die berg brand nie, maar in hierdie dae brand Hy in die harte van gelowiges. Ons lees van tonge soos vuur bo hulle koppe.
Identiteit: God se wette (die Torah), het die Jode se identiteit bevestig, maar in vandag se dae is dit die Heilige Gees wat ons identiteit in God vasmaak. Hy noem ons nou kinders van God en ons kan sê “Abba”, wat beteken Vader (Gal. 4:6). Wie ons nou is, en wat ons nou doen, is deur God se Gees wat binne ons woon. Dit wat met God se volk gebeur het, waar hulle Sy stem kon hoor en Sy lering kon ontvang, gebeur vandag binne ons elkeen se harte.
God se wil: Die Jode het nodig gehad om nie net gered te word nie, maar ook om te leer wat God se wil is, hoe hulle moes lewe. Net so red God ons nie net van ons sondes nie, maar Hy bevestig Sy wil binne ons deur Sy Gees.
Prakties: Soos die wet goed was vir elke aspek van die Jood se lewe, so is die Heilige Gees God se stem binne ons, vir elke aspek van ons lewens, elke dag. God se Gees is nie net vir belangrike of uitverkose mense nie, maar elkeen wat Jesus aangeneem het, vir elke gelowige. Die doping van die Heilige Gees is beskikbaar vir elkeen wat Hom ontvang.
Krag: Die wet het vir die Jode geleer hoe om te leef, maar die Heilige Gees bemagtig ons met Sy krag om voluit te leef. Handelinge 1:8 beskryf die krag wat ons ontvang wanneer ons die Heilige Gees ontvang. Hierdie woord in Grieks is dunamis wat beteken ’n dinamiese vaardigheid om te verander. God vervul ons met Sy Gees, sodat ons Sy wil dinamies kan uitleef! Hierdie krag is nie net vir wonderwerke soos genesing, profesie en praat in tale nie, maar dit is vir ons elke dag se bestaan. Die uitsorting van die Heilige Gees is nie net vir die werking van die Gees binne die kerk nie, maar ook binne ons huis, werk en sosiale omgewing. God se Gees bemagtig ons met krag in elke area van ons lewens. Hy lei ons binne en buite in elke opsig.
Ons moet nie die krag van God se Gees in ons alle daagse lewe onderskat nie.
Lees:
Mediteer:
- Volg ons "Pinkster in jou huis" videos op Facebook of Youtube
- Video1: Pinkster in jou huis - Dag 1
- Video2: Pinkster in jou huis - Dag 2
- Beleef ek God se Gees is binne my? Ryk uit na ons kerkkantoor indien jy behoefte het vir bediening.
- In watter area/s van my lewe het ek nodig om Heilige Gees te betrek?
Bid:
Here, dankie dat U in vandag se dag U Gees binne my uitstort. Dat U sê dat U klop en as ek oopmaak sal U binne kom. Ek nooi U nou om in my te kom woon. Ek aanvaar U werk aan die kruis Jesus, sodat ek in vryheid in U Gees kan leef. Here, kom wees deel in elke area van my lewe en help my om te onthou om U te betrek, voordat ek my eie planne maak en bekommernisse dra. Dat U in elke oomblik deel is van my en vir my die krag gee wat ek nodig het om my lewe voluit te leef. U is prakties en dinamies en U help my om prakties en dinamies te wees. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God se krag is dinamies binne my en help my om my lewe voluit te leef!
Aanbidding:
Holy Spirit – Kari Jobe ft. Cody Carnes
Dag 3: God se Gees maak ons bekwaam
“Verder het die Here met Moses gespreek en gesê: Kyk, Ek het Besáleël die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk, om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper, en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk” (Eks. 31:1-5).
Besáleël was die eerste man wat in die geskiedenis opgeteken is dat hy vervul is met God se Gees. Hy was die een wat die Tabernakel, God se tuiste gebou het. Hy het ook vir die binnekant gesorg, die altaar, tafels en menorah. Dit was die Ark van Getuienis waar God se Teenwoordigheid kom rus het. Só het Besáleël sy roeping uitgeleef. Hy het gedoen wat God se wil was vir sy lewe, gevul met die Gees van God.
Hierdie roeping wat Besáleël uitgeleef het, was ’n skaduwee, ‘n profesie van dit wat ons in vandag se tyd Koninkryk noem. Besáleël het deur God se Gees dit reggekry, om God se Koninkryk, en vesting te bou. Dit was sonder groot opvoerings, ‘n mikrofoon of uitspattige saamdrom. Hy het die wil van God uitgeleef deur te doen wat die Here vir hom gegee het om te doen, en soos wat God se Gees hom gelei het om in uitnemendheid te doen.
Ons het elkeen ’n roeping en dit is hier en dit is nou. Ons het die Gees van God ontvang om Sy Koninkryk te bou. Dit is Hy wat ons bekwaam maak vir elke taak en ons het nodig om die taak wat Hy vir ons gee te eer en daarmee te woeker!
Lees:
Mediteer:
- Watter take/beroep/verhoudings het die Here vir my gegee vir nou?
- Vertrou ek dat Sy Gees my die krag gee vir elkeen van hierdie?
- Watter take/beroep/verhoudings moet ek die Here vra om my mee te help?
- Video3: Pinkster in jou huis - Dag 3
Bid:
Vader, dankie vir U Gees wat my toerus, my bekwaam maak vir hierdie lewe, dat U my die nodige krag gee vir vandag om take aan te pak, my beroep in uitnemendheid te kan doen en goeie Goddelike verhoudings te bou. Help my asseblief in die areas waar ek U nog nie beleef nie. Ek gee hierdie areas van my lewe nou oor aan U. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek doen met toewyding wat my hande vind om te doen (Pred. 9:10), want met God se Gees is ek besig om Koninkryk te bou!
Aanbidding:
Dag 4: Bekwaam
Net soos Besáleël, het jy ’n God-gegewe misie om uit te leef in hierdie wêreld. Maak nie saak wat jou verlede is nie, as jy gevul is met God se Gees, bemagtig Hy jou om Sy Koninkryk te bou. Jy bou Koninkryk waar jy is, of dit in die klaskamer, spreekkamer, kantoor of buite is, jy het ’n roeping daar waar jy is. Jy staan in diens van Jesus Christus in die beroep waarin jy is. Jy het nie nodig om in ’n voltydse kerklike posisie te staan nie, want die Gees gee vir jou wat nodig is, in elke oomblik. Jy het nie nodig om goed te kan praat nie, as jy liefde kan gee, Jesus kan gee, kan jy lewens verander.
Een van die dinge wat ons sien wat die Heilige Gees gee (Eks. 31:3) is wysheid. Dit is volgens die Hebreeuse definisie, praktiese vaardigheid en kundigheid. Dit is vaardigheid in vakmanskap, leierskap en besluitneming.
Die Heilige Gees gee ook verstand. Dit is ’n diep insig om kennis en informasie reg te interpreteer en kreatief toe te pas. Dit is om te verstaan wat om met die inligting te doen. God is kreatief en Sy Gees bemagtig jou om insig te hê en kreatief te wees. Elke keer wat jy iets aanpak en in uitnemendheid doen, met wysheid en verstand, gee jy eer aan die Here.
Wat nog méér gewig in jou lewe dra, is jou posisie in jou gesin en in jou familie. Daar waar jy in verhoudings staan, het God se vermoë soveel krag. Jesus gee vir ons ’n lewe in oorvloed in ons verhoudings, en dit is deur God se Gees wat ons verhoudings floreer, ons ’n verskil maak en Koninkryk bou!
Lees:
Mediteer:
- Wat vertrou jy gee Heilige Gees vir jou in jou huidige omstandighede? Het jy al spesifiek hiervoor gebid?
- Kan jy getuig van waar die Heilige Gees jou wysheid of kennis gegee het vir spesifieke situasies wat jy moes hanteer?
- Dink aan areas of uitdagings wat voor jou lê en vra vir wysheid en kennis om hierdie te hanteer.
- Video4: Pinkster in jou huis - Dag 4
Bid:
Vader, dankie dat U vir my wysheid gee, sonder voorbehoud en dat U Gees kragtig is om vir my kennis te gee wat my bekwaam maak in my werk en in my verhoudinge, sodat ek my roeping kan uitleef. Ek vra dat U asseblief in hierdie moeilike situasie vir my sal lei en help, sodat ek in dit U Koninkryk sal bly uitleef en bou. In Jesus se Naam, Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
God se Gees gee my kennis en wysheid en maak my bekwaam om my roeping uit te leef!
Aanbidding:
Your Spirit – Tasha Cobbs Leonard
Dag 5: Skeppende Gees
Ons sien dat die Gees van God kennis gee. Hierdie is ’n goeie begrip van God se wil. Besáleël het geweet dat dit wat hy bou vir God belangrik is. Hy het gebou op die manier waarin God hom gelei het en het die nodige kennis gehad om dit te doen (Eks. 31:3).
God se Gees maak ons bekwaam vir allerhande werk (v. 5). Besáleël het elke vaardigheid wat nodig was vir sy beroep, ontvang. Dit het ’n spesifieke doel gedien in God se Koninkryk. Hy kon hierdie vaardigheid onmiddellik, kreatief uitleef.
Om planne te maak, is Geestelik. Om kreatief te wees, is Geestelik. Die Gees van God is kreatief (Gen.1:1-2; Eks.31:4). Hy is kunstig, vindingryk, uitmuntend! Die Gees van God bou. Dit bou verhoudings, dit bou families op en dit verander die wêreld.
Ons sien in die stories van spesifieke individue, hoe God se Gees hul elkeen presies gegee het wat nodig was vir hul roeping. Moses kon profeteer, Josua kon lei, Otniël kon ’n regter en kryger wees, Simson het krag gehad en Dawid het musiek gemaak, gedigte geskryf, oorloë gewen en as koning regeer. (Josua was 80 toe hy die bergland inneem!)
Wat nodig was, het die Here deur Sy Gees moontlik gemaak.
Daar waar jy vandag is, het jy ’n roeping. Die Here gee deur Sy Gees vir jou die vermoë om hierdie roeping briljant uit te leef. Hy gee vir jou dinamiese krag, om orde te skep uit chaos.
Jy het ’n posisie, iets wat die Gees binne jou aanspoor en wat soos ’n vuur binne jou brand. Wat vat dit van jou om gehoorsaam te wees aan God se Gees?
Lees:
Mediteer:
- Waarom is om te sê “Kom ons sien waarnatoe die Gees lei”, dalk minder geestelik as wat ons dink?
- Wanneer laas was jy kreatief, het jy vindingryke planne beraam of met wysheid jou alledaagse situasie terug na die drawing board geneem?
- Blus jy die vuur van die Gees wat binne jou brand uit vrees? (1Thes.5:19)
- Hoe sal dit lyk as ons almal die Heilige Gees se vuur uitleef?
- Wat sal verander in jou gesin as jy God se Gees begin uitleef?
- Wat sal jy eerste in jou beroep aanpak as jy Geesvervuld leef?
- Hoe lyk dit wanneer jy met geesdrif vir die Here werk? (Kol. 3:23)
- Video5: Pinkster in jou huis - Dag 5
Bid:
Vader, laat U Gees vlam vat binne my en ek U stem duidelik hoor vir dit wat ek moet doen. Gee vir my U dinamiese krag om my roeping uit te leef vandag. Ek vra vir U wysheid, verstand, kennis, bekwaamheid en kreatiwiteit in my verhoudings en beroep. Ek wil in die roeping leef wat U vir my in oog het. Ek wil nie net wag vir U Gees om my te stir nie Here, ek wil opstaan en doen wat ek kan, tot U eer.
Bonus: Spreek Lewe!
Alles wat ek doen, doen ek met geesdrif vir die Here en ek onderdruk nie die Gees nie, want Hy maak my bekwaam!
Aanbidding: