Go Deep 22 Junie 2025

DIE VOORDEEL VAN DIE TWYFEL

Neville Goodchild

Gee God die voordeel van die twyfel!

 

Dag 1: Twyfel wat werk

God is nie ongemaklik met ons twyfel nie. Ons het nodig om met vrymoedigheid met die Here te praat oor ons twyfel.

Ons sien dit is wat Jesus met Petrus doen. Die geleentheid wat Jesus vir Petrus gee, bou sy geloof. Johannes die doper het gesukkel met twyfel. Hy was radikaal, en het selfs vir Jesus gedoop. Later toe Johannes in die tronk sit, vra hy deur sy dissipels of Jesus die ware Messias is. Jesus het moeite gedoen om Johannes te antwoord. Hy doen moeite om aan Thomas te verskyn. Ons sien Jesus het Sy dissipels lief tot die einde toe.

Jesus versterk ons geloof te midde van ons twyfel:

  1. Solank jy nie weet wat agter jou twyfel skuil nie, sal jy die voordeel van jou twyfel nie beleef nie: God gaan deel met dit wat agter ons twyfel skuil. Ons het nie nodig om bang te wees daarvoor nie, maar ons het nodig om dit te ondersoek.
  2. Daar is ’n manier om met twyfel te werk wat jou geloof sal opbou en versterk: As jy weet hoe om met jou twyfel te werk, sal jy sterker word in jou verhouding met die Here.
  3. Jesus leer ons dat geloof selfs sterker gebou kan word as voorheen deur konstruksie, dekonstruksie en rekonstruksie: Jy het die Here in jou lewe beleef in die konstruksie fase. Dit was die opbou van jou geloof soos jy groot geword het. Jesus leer dat jy jou geloof soms moet dekonstrukteer en kyk na dit waaruit jou geloof opgemaak is. Dit is die dinge wat jy begin glo het deur die konstruksiefase, maar dekonstruksie is om te kyk na elke element en om dan te bepaal watter van hierdie elemente is ware geloof, en watter elemente moet verder aan gebou word of afgebreek word om oor gebou te word. Dit is dan wat ons herkonstrueer. Jesus neem Petrus deur hierdie proses, sodat Petrus kon doen waarvoor hy geroep is, en God se wil in sy lewe vervul kon word. Twyfel diskwalifiseer jou nie, dit is maar net ’n skakelaar wat aangaan om jou te help groei na die volgende fase. Jesus klim saam met Petrus terug in die skuit en gaan in die boot saam tot by die anderkant. Wat belangrik is, is dat ons saam met Jesus, sterker aan die anderkant uitkom.
  4. Die teenwoordigheid van lyding bewys nie die afwesigheid van liefde nie: Liefde en lyding kan saam reis en versoen word in verhoudings. Slegte goed gebeur met goeie mense, en goeie goed gebeur met slegte mense. Jou omstandighede en dit wat gebeur, kan nie God definieer nie. Niks wat gebeur, definieer God nie. God is goed en was goed en ons omstandighede bepaal nie of God goed is nie. Dit is nie ’n bewys van God se karakter nie.
  5. Ons twyfel omdat God nie altyd ons gebede beantwoord nie: Dit beteken nie ons word verwerp, of kwalifiseer nie, of God stap nie ’n pad met ons nie. Maar ons kan vrede beleef te midde van onbeantwoorde gebede. Dít is ons posisie as gelowiges. Ons is standvastig en in vrede met God, maak nie saak hoe God reageer of nie reageer op ons gebede nie. Hoe God antwoord, skuif nie ons posisie in God nie. Onbeantwoorde gebed skuif nie ons geloof of standvastigheid in die Here nie. Die finaliteit in elke omstandigheid is nie die uitkoms nie. Ons finaliteit lê in ons geloof in God en daarom finaliseer gebed oor enige iets ons omstandigheid. Hoe ons heers oor ons omstandighede is deur die Naam van Jesus Christus te spreek oor ons omstandighede en in die wete dat God ons gebede hoor.

Om te deel met ons twyfel het ons ook nodig om vir God die voordeel van die twyfel te gee. Dit is geloof. Hierdie week kyk ons na ’n paar aspekte om in ag te neem.

Lees:

Mar.11:24-26

1 Joh.5:14

Jak.4:2-3

Mediteer:

  • Wat skuil agter jou twyfel?
  • Hoe werk jy met jou twyfel?
  • Het jy al die elemente van jou geloof uitmekaar gehaal en herbou? Het jy vrae wat onbeantwoord is wat jy met ’n Geestelike leier moet bespreek of oor moet bid?
  • Hoekom kan jy nie God se karakter bepaal, deur na jou omstandighede te kyk nie?
  • Wat is jou posisie in terme van gebed?

Bid:

Vader, dankie dat my twyfel nie vir U ’n probleem is nie, maar ’n geleentheid, waarin ek kan groei om my roeping in hierdie lewe uit te leef. Ek bring al die aspekte van my geloof vir U, en laat U toe om aan my te kom bou, sodat my geloof sterker as ooit kan wees. In Jesus se Naam, Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek deel met my twyfel in verhouding met God en ander Geestelike leiers, om die voordeel daarvan te kry en te groei in my standvastigheid en geloof in die Here!

Aanbidding:

Faith in You – Tae Meek

Dag 2: Jy leef uit jou oortuiging

Wanneer jou kinders onsekerheid beleef, maak jy seker dat jy aandag aan hulle gee. Jy bou sekuriteit en verhouding. Jy verkleineer hulle nie as hulle twyfel beleef nie, maar is geduldig en doen moeite.

Twfyel maak ons juis sekuur in ons perfekte verhouding met Vader. Twyfel diskwalifiseer ons nie. Die uitnodiging is ook juis om vir God die voordeel van die twyfel te gee, omdat Hy ons sterker fondasies gee, en sodat Sy wil kan geskied, selfs in ons onseker tye.

Petrus, Thomas en Johannes (om maar net ’n paar te noem) het seisoene van twyfel beleef, maar in vrede in die Here gesterf. Ons sien dat Dawid pertinente twyfel in die psalms neerpen. God het hom nogtans oor Israel aangestel en op sy sterfbed aan hom ’n belofte gemaak om sy nageslag te seën (Ps.89:4-5; 36-38). Dus, leer ons meer van God se karakter, in hulle seisoene van twyfel.

Wanneer ’n vriend/vriendin nie opdaag vir ’n afspraak nie, of laat is, word jou reaksie bepaal deur wie hierdie persoon is en deur wie jy reeds vooraf bepaal het hulle is. Jou reaksie word nie bepaal deur die onmiddellike omstandigheid nie. Jy sal dalk bel, of whatsapp of jou vererg, afhangend van die persoon met wie jy te doen het, en dit wat jy al lankal bepaal het hoe hulle karakter is, wie jy glo daardie persoon is. As jy bepaal het dat die laat wees ’n omstandigheid buite jou vriend/vriendin se beheer is, sal jy tog rustig wag totdat hul opdaag. Jy sal hulle die voordeel van die twyfel gee.

Ons sien hierdie tipe reaksie by Job. Job verloor alles, maar hy reageer nie op grond van die huidige omstandighede nie. Hy het lankal al besluit wie God is. Dit is ’n uitgemaakte saak vir Job. Daarom gee Job vir God die voordeel van die twyfel. “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit” (Job 13:15).

Job sê, al lyk dit of God my doodmaak, sal ek tog Sy aangesig soek, tog hoop ek op Hom.

“MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë — en geen vreemde nie — sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste” (Job 19:25-27).

Job sê hier, dat as die stof gaan lê het, sal hy met sy eie oë sien dat God bly staan. Hy prys die Here God te midde van sy smart. Dit is Job se keuse. Hy kies om te glo, want hy weet Wie sy Verlosser is.

Job leer ons, dat wanneer jy wag vir jou vriend/vriendin wat nie opdaag nie, beoordeel jy volgens jou oortuiging van daardie karakter. Job het lankal reeds besluit sy Verlosser leef! Selfs nadat die stof gaan lê, sal Hy bly staan.

Hierdie is ’n geweldige sterk oortuiging oor die karakter van God en dit red Job in sy omstandighede.

Lees:

Job. 13:15

Job 19:25-27

Mediteer:

  • Het jy al vir jouself uitgemaak wie God is en wat Sy karakter is?
  • Die kragtigste ding wat ons as gelowiges kan doen in die middel van ons trauma, teleurstelling of verlies, is om die Here te loof en prys. Daar is niks kragtiger om te doen of te sê as ’n gelowige nie.

Bid:

Vader, U is goed en U is God. My omstandighede bepaal nie U goedheid nie. Selfs wanneer ek dinge nie sien of verstaan nie, U is God en ek vertrou U. Ek sal U sien, wanneer die stof gaan lê. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se Karakter is standvastig en betroubaar. Hy verander nie.

Aanbidding:

I Will Carry You – Rion & Sarah van Vuuren

Dag 3: Besluit en berus

Job sê dat hy lankal al uitgemaak het dat hy op God kan vertrou as sy Heiland, sy Verlosser, sy Here. Omdat hy dit reeds besluit het, kon hy God die voordeel van die twyfel gee toe alles uitmekaar val. Hy het voor die tyd besluit wat hy oor God glo en wie God is.

Ons kyk dikwels na Job se storie en dink dat dit die deel van die lewe is waar God "ja" gesê het, dat die vyand maar kan roof. Dit is juis wanneer hierdie moeilike deel, die slegte goed gebeur, wat die vraag is of jy dán eers vir God definieer en probeer uitmaak wie God behoort te wees. Definieer jy God op grond van jou omstandighede?

Wanneer jy enige vriendskap definieer volgens omstandighede, kan so ’n verhouding nie floreer nie. Wat nog te sê van ’n lewenslange toewyding aan jou Verlosser? Jy het nodig om voor die tyd vir jouself uit te maak oor God se Karakter.

Job se vrae en God se vrae op Job se vrae, met geen antwoorde nie, herinner ons ook aan Maria se stelling toe Jesus laat opdaag (Joh.11:32). Toe Maria en Marta vir Jesus ’n boodskap stuur oor hul broer wat siek is, het Hy getalm en Maria kon dit nie verstaan nie. Sy was teleurgesteld. Toe Jesus eventueel opdaag, antwoord Hy Maria nie op haar hoekom vraag nie. Sy moet wag, net soos Job moes wag.

Ons moet dikwels aanvaar dat daar baie, goeie, slim vrae is, waarvoor ons nie antwoorde kry nie. Die ‘hoekom’ vrae word nie beantwoord nie, maar God daag op in die situasie. Job word herstel en Lasarus kom uit die graf uit.

God hoef nie antwoorde te gee as Hy Self die antwoord is nie!

Lees:

Job. 13:15

Job 19:25-27

Joh.11:32

Heb.11:1

Mediteer:

  • Kan ek besluit om vir God die voordeel van die twyfel te gee, ten spyte daarvan dat ek nie antwoorde het, of dat ek dink Hy is laat nie?
  • Sien ek kans om te wag op Hom en Hom te sien opdaag?
  • Wat is die twee maniere tot dusver hoe ek God die voordeel van die twyfel kan gee?
    • Bepaal vooraf wie is God vir jou: God is my Redder en my Verlosser. Hy sal bly staan as die stof gaan lê. My oë sal Hom self sien hier op aarde, Sy heerlikheid aanskou. Die feit dat Hy laat is, beteken niks.
    • Hou op soek vir antwoorde: Wees gereed vir wat God wil doen in jou huis. God daag graag Self op in omstandighede. Net soos jou huwelik nie geskoei is op vrae wat beantwoord word nie, so is jou verhouding met God nie geskoei op jou vrae en Sy antwoorde nie. Elke opregte diep, verdelende Geestelike vraag waarmee jy worstel, is opsoek na ’n bevestiging van liefde.
  • Wat is geloof? Dit is om voortdurend vir God die voordeel van die twyfel te gee. Dit is nie gegrond op of ek sien waarvoor ek gebid het óf dat God my gehoor het nie. Geloof is om vas te hou in die afwesigheid van manifestasies (Heb.11:1).  

Bid:

Vader, U is my Here, my Redder, nie op grond van my omstandighede nie, maar op grond van wie U is. U ís. U is nooit te laat nie. U het ook nie nodig om vir my al die antwoorde te gee, sodat ek in U kan glo en op U vertrou en wag nie. U is my antwoord. U liefde bedek alles en is vir my genoeg in elke omstandigheid. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek gee God die voordeel van die twyfel omdat ek weet Hy is God!

Aanbidding:

My Lighthouse – Rend Collective

Dag 4: Populêre opsies

Ons het in hierdie reeks gesien dat daar baie is wat ons in ag kan of moet neem wanneer ons in twyfel verkeer. Ons het egter nog nie gesels oor hoe ons reageer wanneer die ergste gebeur nie.

Habakuk is in ’n stryd: “Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! — maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin” (Hab.1:2-3).

Wat doen ons wanneer ons in ’n situasie beland wat op ’n nuwe vlak is? Waar die omstandighede jou toekoms bedreig, jou gesondheid bedreig, jou nageslag bedreig, en alles onseker laat lyk? Wat gebeur wanneer jy nie meer weet hoe om te verstaan wat nou besig is om te gebeur nie? Habakuk is op ’n plek waar God sê dat Hy die volk gaan uitwis. Dit is hier waar Habakuk begin kla oor die onregverdigheid en dat die omstandighede te erg is. Habakuk het vrae wat hy vra.

Wat maak ons as ons op hierdie plek beland en hoe gee ons God die voordeel van die twyfel?

Daar is twee populêre maniere waarop mense reageer.

Mense kom op ’n plek waar hulle sê dat hierdie nie meer sin maak nie en ook nie meer werk nie. Jy’s teleurgesteld en kwaad. Jy is kwaad vir God en besluit om nie verder te gaan nie. Jy hou nie van dit wat jy sien nie en dit skreeu teen alles wat jy gehoor het. Jy sien niks van die goeie dinge waaroor daar gepreek word in jou eie lewe nie. Jy het probeer en gedink dit gaan vir jou werk, maar nou het jy ander belewenisse en besluit om weg te stap. Jy verloën jou geloof en jou aksies volg. Jy hou op kerk toe gaan, sel toe gaan, jy hou op Bybel lees en begin eerder besig raak met ander dinge. Jy ignoreer die geestelike instellings in jou lewe. Dit is ’n populêre opsie. Ongeloof draai sy rug op God se Koninkryk, op die hoop van die Verlosser. Jy stap weg en verloor jou geloof.

Jy het vrae en jy en die Here weet daar is nog uitstaande vrae, maar jy het nog steeds nie antwoorde nie. Jy besluit om die pad tog verder te stap en die “Christianise” ding te doen. Jy onderdruk jou vrae en besluit ten spyte van jou groot onsekerheid om maar te smile, saam te sing en miskien selfs hande te klap tydens aanbidding, maar net omdat almal dit doen. Jy weet jy het vrae, maar jy maak of dit nie belangrik is nie. Jy verloën jou vrae. Jy besluit jy gaan net maak of daar nie vrae is nie, en jy gaan nie verder deelneem nie. Jy onderdruk jou passie, jou aanbidding, jou gebed en besluit om ook nie jouself aan te bied nie. Jy gaan nie ’n opsie wees om die Koninkryk van die Here uit te brei en ander te vertel van jou getuienis van die Here nie.

Dit is die twee opsies volgens hierdie wêreld. Jy lê óf jou geloof neer, óf jy lê jou vrae neer.

As jy twyfel in die kerk, hou aan kom. As jy twyfel in Jesus, hou aan om Hom te soek, hou aan bid. As jy twyfel in die Bybel, hou aan lees. Hou net aan, moenie ophou nie! As jy vrae het, hou aan soek!

Lees:

Hab.1:2-3

Mediteer:

  • Is daar sekere situasies waar jy oorweldig voel?
  • Is daar sekere beloftes of drome wat jy al besluit het om te verloën of prys te gee as gevolg van jou moeilike omstandighede?
  • Het jy al op ’n plek gekom waar jy een of albei van hierdie twee bogenoemde opsies oorweeg of geneem het?
  • Met die opsies wat jy uitgeoefen het, ervaar jy die vrede van die Here? Hoekom sê jy so?
  • Hoe kan jy God se vrede in jou omstandighede kry?

Bid:

Vader, ek besef dat om van my geloof af weg te stap of om my vrae te onderdruk, nie een die regte opsie vir my lewe is nie. Dit is nie U wil nie, omdat dit nie die beste opsies vir my lewe is nie. Dit is nie oorvloed lewe in U nie. Wanneer ek in die ergste krisis is, wil ek ingedagte hou wie U waarlik is. Ek wil U die voordeel van die twyfel gee in elke opsig. Vader, kom breek vir my die dieper waarheid en geleentheid oop, sodat ek sterker in verhouding met U kan staan. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies om nie my vrae te onderdruk of weg te stap van my geloof in God nie. Ek kies om God die voordeel van die twyfel te gee!

Aanbidding:

Don’t Stop Praying - Matthew West

Dag 5: Die derde opsie

In ’n stoeigeveg is dit nodig om die grepe reg te verstaan. Dit is nodig om die een wat jy wil wen, naby jou te hou. Jy moet jou opponent met elke greep omhels, sodat jy hom kan vaspen. Selfs in die finale poging het jy nodig om met al jou gewig daardie individu vas te hou.

Dit is wat God vir ons deur Habakuk sê. Daar is ’n derde opsie om te werk met twyfel en om God die voordeel van die twyfel te gee.

In hierdie verhouding stoei ons soms, en ons aanvaar dat ons mekaar moet omhels (embrace). Wanneer ons met moeilike goed stoei, kies ons om te habakuk. Net soos Habakuk geleer het dat om die pad met God te stap, beteken nie dat ons die antwoorde het nie, maar dit beteken dat ons beide stoei en omhels. Dit is wat hierdie gebroke lewe vra, sodat ons aan die ander kant kan uitkom. As jy na Jakob kyk, sien jy dat hy met God gestoei het (Gen.32:25) en geleer het om God te habakuk. Jakob het diep vrae gehad en het geloop met 40 jaar se seer. Hy het daar weggestap met ’n mank jeup en geseënd, omdat hy God gestoei en omhels het, en God begin verstaan het.

Nadat Job alles verloor het, met God gestoei het, maar gekies het om God te beoordeel op grond van Sy karakter en nie Job se omstandighede nie, sê hy:

“Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job 42:5).

Om te habakuk beteken om te stoei, maar te omhels. En ek kan nie stoei en omhels sonder om God te sien nie.

Maria en Job het lank gewag vir ’n antwoord, gestoei met dit wat konfronterend en verdelend is, vir God gekonfronteer met wat Hy sê, en die antwoord was dat God opgedaag het.

Die derde opsie is om te sê: "Here U weet alles en ek kies om U te habakuk".

Habakkuk: "to wrestle or to embrace". The prophet Habakkuk is known for wrestling with difficult questions about God's justice, ultimately finding faith through the process.

Eintlik beteken die direkte vertaling ”To wrestle AND to embrace”.

Habakuk word God se opsie vir gelowiges wat sê “ek gaan nie die populêre opsies toepas op my geloof nie. Ek gaan nie wegloop nie en ook nie my vrae onderdruk en ignoreer nie. Ek wil deursigtig wees en ek het vrae”. Dit is waarom Habakuk die beste opsie is vir ’n gelowige wat sê “ek verstaan nie, ek kies om hier te wees en ek weet Wie God is en gaan vir Hom die voordeel van die twyfel gee. Dit is wáár, ek stoei, maar ek kies om Hom te omhels!”.

Lees:

Job 42:5

Mediteer:

  • Wat doen jy met jou vrae wat jy kies om nie te onderdruk nie?
  • Hoe omhels jy God in die stoei?

Bid:

Vader my gestoei en my pyn is baie diep. Dankie dat U vir my ’n omgewing gee waarin ek U kan stoei sowel as omhels. Ek omhels U met alles wat in my is en lê my vrae voor U neer. Ek vertrou dat U sal opdaag en U Self vir my sal openbaar. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek weet Wie God is en gee Hom die voordeel van die twyfel. Ek stoei, maar ek kies om Hom in hierdie stoei te omhels!

Aanbidding:

Praise You In This Storm