Één ding is noodsaaklik
De Villiers Nel
Dag 1 Wanneer Jesus op ʼn mooi manier leer (soos wat Hy altyd doen)
Ons lewens is gejaagd. Hoe sê die kinders? “Face it, Ma en Pa, dinge kook.” Ons hou onsself dikwels besig met die dagtake wat ons tyd opneem, goed en waardig laat voel, maar is dit waar ons moet wees?
In Lukas 10:38-42 sien ons presies so ʼn voorbeeld. Dit word in die Living Bible as volg beskryf: “As Jesus and the disciples continued on their way to Jerusalem[a] they came to a village where a woman named Martha welcomed them into her home. Her sister Mary sat on the floor, listening to Jesus as he talked. But Martha was the jittery type and was worrying over the big dinner she was preparing.
She came to Jesus and said, “Sir, doesn’t it seem unfair to you that my sister just sits here while I do all the work? Tell her to come and help me. But the Lord said to her, “Martha, dear friend you are so upset over all these details! There is really only one thing worth being concerned about. Mary has discovered it—and I won’t take it away from her!”
Martha doen eintlik alles wat van haar verwag word. Sy is besig om seker te maak dat die maaltyd vir Jesus perfek is. Almal moet kos kry en dit moet lekker wees. Daar is niks fout met hierdie houding van haar nie, maar sy mis uit op iets wat baie van ons doen, die genot van tyd spandeer met die Here.
Soms fokus ons op die goed wat ons weet van ons verwag word, goeie goed en aksies, soos Maria in die teks hierbo. Wat kan tog beter wees as om die eetmaal vir Jesus reg te kry?
Jesus is baie duidelik daaroor. Dankie vir jou moeite, Martha, maar dis beter vir ons altwee om tyd saam te spandeer.
Jesus wil vir Martha laat verstaan dat dit beter is om ʼn deelnemer as ʼn toeskouer te wees. Dis goed om seker te maak dat almal kos het om fees te vier, maar dis beter om tyd te spandeer met Hom.
Ons hou onsself dikwels besig met goeie aksies, maar ons kom nie by Hom uit nie. Stem jy saam?
Lees
Mediteer
Wie is ek? Toeskouer of deelnemer?
Gebed
Here, U is al wat ons nodig het. U gee en gee en gee, help ons om te verstaan dat ons Maria in plaas van Martha moet wees. In die naam van Jesus. Amen.
Spreek Lewe
Ek is 'n deelnemer, nie 'n toeskouer nie.
Aanbid
Running back to You - Seph

Dag 2 Verhouding Impliseer Intimiteit
Almal van ons het al iewers gevoel dat ʼn verhouding met ʼn vriend of vriendin versleg sonder dat iemand iets verkeerd gedoen het. Dalk raak ons so besig met ons werk dat ons nie tyd maak om daardie persoon te bel nie. So skep ons afstand en oor tyd dryf ons al verder weg van mekaar. Dieselfde geld vir ons verhouding met die Here. Let wel, die Here gaan nooit weg nie, Hy skep nie afstand nie. Inteendeel, Hy wil teenwoordig wees in alles wat ons doen.
Dit is duidelik uit Lukas 10 dat Jesus ʼn verhouding met ons hoër ag as die goed wat ons doen. Die een ding wat noodsaaklik is, volgens Jesus se woorde aan Martha, is om tyd by Hom te spandeer. Dis nie boksie-aftiek-tyd nie, dis verhouding. Verhouding impliseer intimiteit. Wanneer ons in ʼn goeie verhouding met iemand staan, het ons die vrymoedigheid om ons diepste wense en gedagtes te deel met daardie persoon. Dit is presies wat ʼn intieme verhouding met die Here impliseer. Ons mag maar kwesbaar wees wanneer ons tyd met die Here spandeer.
Dit gebeur so dikwels dat ons maar net deur die “motions” gaan met ons stiltetyd, ons lofprysing, kerkbywoning en al die ander aktiwiteite waar ons betrokke is in plaas van om God aktief te soek wanneer ons dit doen. Om God te soek is nie iets wat jy een keer doen nie, dis eintlik die strewe om naby Hom te bly en Sy hart na te jaag. Dit beteken om ʼn bewustheid van God se teenwoordigheid te kweek en dit meer en meer te ervaar in ons daaglikse lewe, in alles wat ons doen. Dit is wanneer daar geleenthede opduik om Sy Koninkryk verder uit te bou, iemand te vertroos of bemoedig, ʼn voorbeeld te wees vir ander in ʼn moeilike situasie of om sommer net die persoon te wees wat mense soos magnete aantrek omdat hulle die Here in hom of haar sien.
Wanneer ons verhouding met die Here sterk is, leef ons met die wete dat niks of niemand ons wêreld kan omkeer nie.
Psalm 46 se eerste verse in The Message is pragtig:” God is a safe place to hide, ready to help when we need him. We stand fearless at the cliff-edge of doom, courageous in seastorm and earthquake, Before the rush and roar of oceans, the tremors that shift mountains.”
Lees
Mediteer
Watter dissiplines kan ek NOU inbou in my lewe sodat ek Hom daagliks kan soek?
Gebed
Here, ons soek na U teenwoordigheid, help ons om die regte verhoudingsbesluite te neem sodat ons ook soos Maria by U voete kan sit. In die naam van Jesus. Amen.
Spreek Lewe
Daar is altyd tyd om met die Here te spandeer.
Aanbid
The more I seek You – Kari Jobe

Dag 3 Ware aanbidding en lofprysing
Om God te aanbid en Sy lof te besing is nie net ʼn kerkoefening nie, dit geld ook ons binnekamers. Dit is veral in ons privaatoomblikke waar ons totaal kwesbaar kan wees, vergeet van verwerping en enige skaamte. As ons fokus op Jesus is, val hierdie goed weg.
ʼn Baie goeie voorbeeld van waar iemand die Here ten volle aanbid sonder om terug te hou is Psalm 63. Ons gaan dit so ʼn bietjie ontleed met die regte agtergrond. Terloops, is dit nie wonderlik hoe ʼn leraar se agtergrondkennis ʼn stuk in die Bybel inkleur nie? Dis een van die hoofredes hoekom dit so belangrik is om getrou kerk toe te gaan. Konteks.
Dit is ʼn Psalm van Dawid, vermoedelik toe hy in die woestyn wegkruip vir sy seun, Absolom, wat ʼn rebellie teen hom gelei het. So, hier is Dawid in die woestyn. Dit is sekerlik moeilik om water en kos te kry. Warm in die dag, koud in die nag. Sy veiligheid is die hele tyd ʼn kommernis. Emosioneel moet hy uitgemergel wees. Sy eie seun probeer hom dood maak.
Psalms word gesing. Dit het ʼn melodie. Dawid skryf dus ʼn gedig en toonset dit. In die woestyn. Tydens ʼn baie moeilike tyd in sy lewe. En hy is dors vir God se teenwoordigheid, nie water nie:
Psalm 63:2-3 (Afr 1953):”o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in 'n dor en uitgedroogde land, sonder water. Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien.”
In die Living Bible staan dit so:” O God, my God! How I search for you! How I thirst for you in this parched and weary land where there is no water. How I long to find you! How I wish I could go into your sanctuary to see your strength and glory,”
Die woord “soek” (of “search”) beteken om vroeg op te staan en deeglik te soek. Wanneer ʼn mens in die woestyn is moet jy vroeg opstaan om kos en water te kry voordat die son jou begin kap. Dawid se wese is dors vir die Here. Hy soek God van vroeg af. Intimiteit met God is soos om ʼn oase in die woestyn te ontdek.
Dawid se voorbeeld is pragtig vir ons wat ʼn persoonlike verhouding met die Here wil nastreef. Hy vergeet van sy omstandighede en fokus op die Here, want hy weet uit ervaring dat God hom gaan seën met alles wat hy nodig het. Hy het nie verniet al deur baie diep waters in sy lewe gegaan nie.
Lees
Mediteer
Is ek regtig dors vir tyd met die Here?
Gebed
Here, ons dors na U teenwoordigheid, soos Dawid, soek ons U van vroeg af in die oggend. Verkwik ons siel, Vader, laat ons tyd spandeer in U heilige teenwoordigheid. In Jesus naam. Amen.
Spreek Lewe
Die Here laat my nooit dors wees nie, ek moet net vra.
Aanbid
After Your Heart – Paul and Hannah McClure

Dag 4 My lippe moet U prys
Psalm 63:3-8:” Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien. Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef. Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. Want U was 'n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel. My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my.”
O, wat ʼn digter en kind van die Here was Dawid nie. Meer belangrik, hy was waarlik lief vir die Here en hy het geweet dat die Here “sy rug het.”
Dawid sit nie hier op die balkon in sy paleis en skryf oor hoe wonderlik die Here is nie. Dit is mos maklik om te erken dat die Here goed is vir ons wanneer dit goed gaan, wanneer die besigheid ooploop en kinders gelukkig is.
Nee, dit gaan swaar met Dawid. Hierdie is ʼn Psalm wat ons leer dat intimiteit met die Vader nie afhang van die omstandighede nie en ook nie daardeur definieer word nie. Dawid het al ʼn lang pad met God geloop, so hy is selfversekerd dat God se liefde beter as die lewe self is. Hy weet waar sy heil lê, in goeie en slegte tye.
Daar is meer. Die absolute smagting na God in hierdie verse is nie van iemand wat vreemd is vir God nie, dit is iemand wat ʼn diep verhouding het en weet dat hy op God kan vertrou. Is dit nie waarna ek en jy moet streef nie?
Want niks kan ons van die liefde van God skei nie.
Lees
Mediteer
As niks my van God se liefde kan skei nie, hoekom talm ek soms om my verhouding met hom te versterk?
Gebed
Vader God, ons smag na U soos Dawid in die woestyn. Ons dank U dat niks ons van U liefde kan skei nie en dat ons met selfvertroue kan bid, in goeie en slegte omstandighede. In Jesus naam. Amen.
Spreek Lewe
Ek is nie meer dors nie, ek weet hoe om my Vader op te soek.
Aanbid
I speak Jesus – Natalie Grant

Dag 5 Want U troue liefde is beter as die lewe
Eintlik moet ons net die opskrif van vandag hier plaas en net niks verder sê nie. U troue liefde is beter as die lewe ...
Maar die Psalms is so vol waarde met dinge wat ons kan leer. Psalm 46:10:” He says, “Be still, and know that I am God; I will be exalted among the nations, I will be exalted in the earth.”
Word stil. Weet God is in beheer. In alle omstandighede.
Dawid kry dit mooi reg in die woestyn (Psalm 63) omdat hy al ʼn lang pad met die Here stap en baie ervarings gehad, sommige goed, ander sleg.
As jong man het hy Goliat verslaan met ʼn slingervel. Hy het lank gevlug vir Saul, dertien jaar weggekruip in die woestyn. Hy het moord gepleeg omdat hy ʼn ander man se vrou begeer het. Hy het baie oorloë gewen omdat God in beheer was. Dawid weet dit uit ervaring. Hy weet dat God vergeef, dat God liefhet en dat God nooit opgee op iemand nie. Hy weet dit uit ervaring omdat hy ʼn verhouding met God gebou het van kindsbeen af.
Ek en jy is dalk nie soos Dawid nie. Ons begin dalk eers in ons dertigs, veertigs, selfs tagtigs of negentigs om ʼn verhouding met die Here te bou. Dit maak nie saak nie. Ons hoef nie supersterre soos Dawid te wees nie, God soek net ons harte, ons wil, en ons teenwoordigheid. En Hy is altyd daar. Al wat ons hoef te doen is om Hom te nader in gebed, stil te raak, en Hom in nooi in ons hart.
Lees
Mediteer
Wat is my volgende stap?
Gebed
Here, ek is dalk nie so lank al in kontak met U soos Dawid was nie, ek het nie sy ervaring nie, ek het ook nie sy lewe geleef nie, net myne. Wil U my help om soos hy met selfvertroue te loof en prys en uit my dop uit kom. In Jesus naam. Amen.
Spreek Lewe
Die Here is my Herder.
Aanbid
Psalm 23– Phil Wickham