Go Deep 6 July 2025

Die Ander “Verlore” Seun

De Villiers Nel

 

Dag 1  Uit die koue

Vanoggend was Bloemfontein koud. Groot dele van ons stad was sonder elektrisiteit. Op pad kerk toe lyk dit triestig, koud, vaal, alleen. Dis asof selfs die gewone straatbewoners wat ons gewoond is om te sien, besluit het om langer weg te bly uit die koue. Dis ʼn koue plek as jy van buite af inkyk.

Hierdie skrywer stop by Lewende Woord Kerk en lag dadelik saam met die twee manne wat parkering reguleer oor hulle naamborde. Dan groet hy ‘n spul mense by die deur, druk deur die span wat die lofprysing gaan aanbied om by ʼn stoel te kom. Hulle babbel so  vol opgewondenheid dat ʼn mens nie kan help om uit te sien na wat sal volg nie.

Uit die koue, binne-in ʼn warm ontvangs. Uit verlate strate tot binne ʼn kerk vol mense wat ʼn mens verwelkom. Kerk is vir seker nie ʼn gebou nie, dis mense. Hulle is lief vir die Here, hulle harte is warm en baie belangrik, ʼn mens voel nie of iemand op jou neerkyk nie.

De Villiers lei vanoggend se diens. Hy kondig onder andere aan dat mense van reg oor die wêreld aanlyn kan inskakel. Dit sou verkeerd wees as hierdie skrywer nie sy ervaring van twee weke gelede deel nie ...

Phoenix, Arizona. Nege uur tydsverskil. Dit beteken dat voorsang in Bloemfontein wat 09h00 begin in die kerk 12h00 “die vorige aand” in Arizona afskop. As ʼn mens jet lag het en jy is alleen in ʼn hotelbed is daar min goed wat so lekker is as om in te skakel om die warmte van ons kerk te ervaar. Ek kon juig en huil en saam sing sonder dat iemand vir my kyk. (Hierdie is ʼn baie belangrike raakpunt vir hierdie week se lering en ek hoop u kom ontdek elke dag wat Lewende Woord beplan het.)

Vanoggend hou ons Nagmaal. Vandag se leesstuk gaan baie agtergrond gee, maar die hoofpunt is dat ons saam met die Vader aansit by die tafel. Ons deel in Jesus se lewe, Sy opoffering, Sy oorwinning (so belangrik). Ons eet ʼn ander tipe manna as wat die Israeliete in die woestyn gekry het, hierdie manna gee direkte toegang. Ons deel aan Christus se lewe, Sy kruisiging en Sy opstanding. Sy oorwinning is ook jou en myne. Dit is wat Nagmaal beteken.

Wat so lekker is van vryheid na Jesus se opoffering, is dat ons nie hoef te wag vir ʼn kerk om Nagmaal te organiseer nie. God is altyd gereed om tyd met ons te spandeer. Daar is nie ʼn hoë-priester wat eers ʼn klomp rituele deur te gaan nie – ek en jy het direkte toegang. Vinniger as ʼn foontoepassing (app), inteendeel, ons toegang het nie sekuriteitstoepassings, geheime wagwoorde of enige tegnologie nodig nie. Die Wagwoord is Jesus. Maklik. Ongekompliseerd. Jesus. Hy is wat Johannes 6 van praat.

 

Lees

Joh. 6:30-35

Mediteer

Hoe “oop” is ek om met God aan tafel te sit?

Gebed

Vader, ons het die voorreg gehad om vanoggend as ʼn gemeente aan U tafel te sit. Dankie dat U nie eksklusief is nie, dat die tafel altyd gedek is en dat ons na U toe kan kom sonder geskenke of offerandes. U is altyd beskikbaar. Ons wil dit meer en meer gebruik tot U eer en om U koninkryk uit te brei. Amen.

 

Spreek Lewe

Toegang! Ek het toegang tot die Vader. Aan Sy tafel, soos families behoort te doen.

Aanbid

Homesick for Heaven – Phil Wickham

Dag 2  Die ouer broer

In Lukas 15 lees ons dat Jesus die gelykenis van die verlore seun vertel. Ons ken almal die storie. Een seun roep sy erfporsie op, verlaat sy vader se huis en gaan mors alles uit op wêreldse dinge. Hy moet uiteindelik varke oppas om aan die lewe te bly en besluit dan om terug na sy vader te gaan en vergifnis te vra. Sy vader vergewe hom dadelik en beveel dat daar fees gevier moet word en dat ʼn vetgemaakte kalf geslag moet word daarvoor.

Lukas15:20-24:”En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.”

Natuurlik is dit ʼn mooi storie van vergifnis en dit is gewoonlik die deel waarop ons fokus wanneer ons dit lees. God is goed, Hy vergewe graag, Hy vat ons terug wanneer ons afdwaal en wil terugkeer na Sy tafel toe. Hy kry ons innig jammer as ons swaarkry en Sy arms is oop om ons te ontvang.

Daar is egter nog ʼn seun, die een wat tuis gebly het wat hierdie week ons aandag verdien en wat Jesus baie spesifiek oor praat in hierdie gelykenis. Hierdie seun het die reëls gevolg, by sy vader gebly, hard gewerk, alles gedoen wat hy geglo het van hom verwag word. ʼn Mens kan se dat hy dit gedoen het om sy pa se liefde te probeer verdien met sy optrede, veral as ons onthou dat Jesus hier in gelykenisse met onder andere die Fariseërs praat wat hulle geloof om wettisisme gebou het.

Hierdie seun word briesend kwaad wanneer hy hoor van die feesvieringe en sy pa se blydskap om die jonger broer terug te hê. Sy optrede en woorde dui daarop dat hy diep afgunstig is en selfs verwerp voel. In sy hart is ook verlore, ver verwyder van sy vader. Hy sou tog elke dag sy vader se hartseer oor die ander broer ervaar? Die pyn van verlies sien, so hoekom is hy nie saam bly om sy broer terug te sien nie? Hy voel duidelik dat hy sy vader se liefde verdien het en is nou diep afgunstig op sy broer. Hy is ook verlore want hy het alles, hy is in sy vader se teenwoordigheid, maar hy sien dit nie raak nie.

Hierdie onnatuurlike optrede van die ouer broer is tipies wat baie van ons ook doen. Ons dink dat ons alles eers reg moet doen voordat ons God se liefde kan verdien en ons sien nie raak dat ons alreeds in Sy teenwoordigheid is nie.

 Lees

Psalm 16:5-8

Mediteer

Besef ek dat ek ʼn erfgenaam van God is wat nou alreeds Sy teenwoordigheid kan geniet?

Gebed

Vandag kan ons net dankie sê, Here, dat U altyd beskikbaar is en dat ons nie U liefde te probeer verdien nie, ons het dit reeds deur Jesus se offer ontvang. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek is goed genoeg vir God.

Aanbid

Been so good -  Elevation Worship

Dag 3  Verskillende seuns; dieselfde liefde

Ons verdiep tans ons kennis van die gelykenis van die verlore seun(s). Nouwen skryf dat om weg te loop van die huis af, is wanneer die waarheid van God se liefde ontken of vergeet word. Dit is wat die jonger seun gedoen het; bloot vergeet dat sy pa hom liefhet en eerder gefokus op ʼn partytjielewe. Terloops, dink jy nie dat sosiale media in baie gevalle jongmense uitlok om ʼn partytjielewe te lei nie? Ons is soos die jonger seun elke keer wat ons liefde soek waar ons dit nie kan kry nie. Die liefde, die erkenning, die vreugde is by God. Tuis. In Sy huis, tussen Sy mense, deel van die kerk.

Ons is soos die ouer seun as ons liefde en erkenning probeer verdien of wen. Dit maak soms dat ons meerderwaardig of neerbuigend kan voorkom. Ons laat dalk mense wat terugkom na die kerk (veld waar hulle varke opgepas het) minderwaardig voel omdat hulle nie alles kan doen soos wat ons doen nie. En wanneer dit met hulle goed gaan is ons sommer afgehaal of selfs kwaad soos die oudste seun. Ek doen alles reg, maar die kalf word nie vir my geslag nie.

Vir die van ons wat tans soos een van die seuns voel of optree is daar regtig ʼn oplossing. Kyk mooi wat gebeur wanneer die vader die jongste seun sien aankom. “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.” Hy gaan uit na sy seun toe, die seun kom nie na hom toe nie. Inteendeel, die vader hardloop na sy seun en omhels sy stink lyf en soen hom hartlik. Hoe wonderlik.

Die vader doen dieselfde moeite vir die ouer seun toe hy nie wil ingaan om saam fees te vier nie. Vers 28:” Sy vader gaan toe uit en smeek hom.” En in vers 31:” Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.”

Daar is twee vorms van die woord “seun” in die Grieks. Wanneer die vader hier met sy oudste seun praat, gebruik hy die woord “teknon.” Hierdie woord is emosioneel sagter en word gebruik deur die vader om sy liefde vir die seun te bevestig en dat sy seun dieselfde stand as hyself het. Die vader gaan voort deur te sê dat hy en sy ouer seun gesamentlike eienaarskap het van al die bates. Weereens sien ons in hierdie teks van die liefde van die vader vir hierdie seun.

Wat beteken dit dan vir ons wanneer ons om een of ander rede verwyderd voel van God, hetsy omdat ons toegegee het aan die wêreld of omdat ons glo ons kan ons erfporsie verdien deur net die roetines te volg? Die Vader kom soek ons, Hy hardloop uit, Hy omhels ons, Hy reël ʼn fees vir ons, Hy verseker ons van Sy liefde en ons eienaarskap. In albei gevalle in hierdie gelykenis kom die vader uit na sy seuns. Hy sit nie iewers en brom en wag vir hulle nie, dis ʼn aktiewe vader wat sy liefde met sy seuns wil deel. Dit is presies wat God doen met ons. Presies.

Vandag se leesgedeelte is ook ʼn ou bekende vir die meeste van ons, maar in hierdie konteks is dit verdere bevestiging van God se liefde. Die skakel gee verskillende vertalings, lees dit gerus.

 

Lees

Joh. 3:16

Mediteer

Vader hardloop na ons toe, Hy is aktief op soek na ons om na sy tafel toe te kom.

Gebed

Vader God, U is ongelooflik. Dankie dat U aktief soek na ons, dat U ons tegemoetkom, selfs wanneer ons skaam is oor ons optrede en dalk nie voel dat ons voor U hoort nie. Dankie dat U nie omgee om sondaarlywe te omhels in liefde nie. Amen.

 

Spreek Lewe

My verlede maak nie saak nie.

Aanbid

No one ever cared for me like Jesus -Steffany Gretzinger

Dag 4  Geen ou koeie, maar wel oop yskaste

Die van u wat kinders het, sal weet dat hulle sommer lekker tuis is in hulle eie huise. Hulle krap in die yskas wanneer hulle honger is, hulle weet waar Ma die biltong weggesteek het en hulle roof Pa se sjokolade uit sy gholfsak. Dis soos dit moet wees ook.

Tyd met die Here moet ook so wees. Dis soms so lekker om rond te kyk wanneer ons sing. Jy sien mense wat ʼn diepe konneksie met God maak deur die musiek, hande wat uitstrek tot Sy eer en uit dankbaarheid, gesigte wat straal. Blydskap. Vir sommige is hierdie diep emosionele tye ook waar ons net so ongelooflik bly is dat ons hier op geland het. Soms sien jy iemand wat ʼn traan wegvee, dis ook goed. Ons het toegang tot die Here sonder dat ons dit verdien het en sonder dat Hy ou koeie uit die sloot haal om ons so skuldig te laat voel dat ons nie gemaklik voel om tot Hom te nader nie. Ons sit ook nie met boekies om af te merk van wat ons alles reg gedoen het die afgelope week nie. ʼn Mens voel tuis by Lewende Woord en dit is so belangrik dat ons ander ook moet laat tuisvoel.

As ons net een gedagte oor die ouer seun in Lukas 15 kan haal wat ons lewens onomkeerlik sal verander, is dit dat God liewer vir ons is as die dinge wat ons vir Hom kan doen. Ons is tuis by God. Ons hoort hier, want Hy het ons gekies en Sy Seun het die deure van die troonkamer vir altyd oopgemaak.

Wanneer ons tuis is in Sy liefde en dit verstaan kan ons begin dien sonder om iets te verwag. Ons sien dan ander mense as broers en susters, nie sondaars nie. Ons help skep ʼn tuiskomplek vir almal wat soek na die Vader.

 

Lees

Rom. 15:1-7

Mediteer

Voel jy tuis in die huis van die Here? Wat kan ons doen om ander ook tuis te laat voel?

Gebed

Vader dankie dat ons die spreekwoordelike yskas kan oopmaak en krap vir iets om te eet omdat ons tuis is by U. Dankie dat ons nie skaam hoef te wees oor ons verlede nie en dankie dat U liewer vir ons is as dit wat ons vir U kan doen. Amen.

 

Spreek Lewe

God loves me. He really loves me.

Aanbid

The more I seek you – Jessie Harris

Dag 5  ʼn Pa wat nie sondes oproep nie

Lukas 15:28-32 uit The Message klink so:” The older brother stomped off in an angry sulk and refused to join in. His father came out and tried to talk to him, but he wouldn’t listen. The son said, ‘Look how many years I’ve stayed here serving you, never giving you one moment of grief, but have you ever thrown a party for me and my friends? Then this son of yours who has thrown away your money on whores shows up and you go all out with a feast!’

31-32 “His father said, ‘Son, you don’t understand. You’re with me all the time, and everything that is mine is yours—but this is a wonderful time, and we had to celebrate. This brother of yours was dead, and he’s alive! He was lost, and he’s found!’”

Hierdie ouer seun is regtig kwaad. Hy praat nie van “my broer” nie, maar van “jou seun”. Hy het hom afgeskryf. Hy is waarskynlik ook kwaad vir hom omdat hy hulle vader so diep seergemaak het. En dan doen hy wat so baie van ons doen: hy wys sy broer se sonde uit. “Kyk wat het hy gedoen, Pa. En jy gooi ʼn partytjie.”

Jesus praat hier met die Fariseërs deur die gelykenis, maar ook met elkeen van ons. In hierdie gelykenis is dit nie die vader wat op die verlore seun se sondes wys of konsentreer nie. Sy fokus is op die feit dat sy seun terug is in sy huis.

Kan ek en jy nie onderneem om eerstens te onthou dat ons Vader nie op ons sondes fokus nie, maar op ons redding. Kan ons tweedens hierdie as ʼn voorbeeld gebruik oor hoe om teenoor ander mense op te tree? Sommige mense is nog besig met hulle reis terug na die Here toe, ons kan hulle ondersteun in gebed en met liefde. Dis die Vader se voorbeeld vir ons.

ʼn Laaste punt uit die gelykenis van die verlore seun is dat die pa na die oudste seun luister, maar nie die feesmaal stop nie. Hy verduidelik baie mooi dat hy die verlore seun terug verwelkom en dit sal vier. Kom ons vier fees nou, altwee seuns is tuis. God is by ons in die huis.

 

Lees

Lukas 15:32-33 (The Living Bible)

Mediteer

Vir wie moet ek nou plek maak aan die tafel sonder op hom of haar neer te sien?

Gebed

Vader, vandag vra ons in nederigheid om ons te lei om soos U te fokus op ander mense, dat ons plek aan die tafel sal maak vir mense wat nie soos ons is of lyk nie. In die naam van Jesus. Amen.

 

Spreek Lewe

Daar is altyd nog plek aan die tafel by die Here

Aanbid

Made for Heaven - Cain