Go Deep 20 Julie 2025

HOE OM DIE BESTE VOLGENDE HOOFSTUK VAN JOU LEWENSTORIE TE SKRYF!

Neville Goodchild

 

Dag 1: Jy bou wat jy lief het

Elke mens bou sy lewe verskillend. Sommige mense bou skeef en ander mense bou reg. Wat moet jy in jou lewe doen om reg te bou? Daar is ’n paar belangrike vrae wat jy vir jouself moet afvra in hierdie lewe: “Wat bou jy, hoekom bou jy dit, bou jy reg en wat moet jy doen om reg te bou?”.

Mense wat doelgedrewe en intensioneel is in hulle lewe, het altyd ’n Next wat voorlê. Dinge gebeur nie sommer maar net nie. ’n Volwasse persoon antwoord hierdie vraag van wat bou jy met jou lewe vir homself as volg:

You build what you love!

Hierdie bly ’n sentrale waarheid vir doelgedrewe mense wat intensioneel lewe:

What are you building? That which you love.

What did you build? That which you loved.

What will you build? You will build what you love.

Why did you build that? Because that is what you loved.

Daar is ‘n baie klein persentasie van dinge in hierdie lewe wat met jou gebeur, waaroor jy nie beheer het nie. As jy vra: “Hoe het ek hier beland?” is die antwoord meer dikwels: “Jy het daarheen geloop”...

Omdat jy bou wat jy lief het.

Hoe gesonder ons word en hoe meer verantwoordelikheid ons neem, hoe meer besef ons, hoe klein die persentasie van dinge waaroor jy nie beheer het nie, eintlik is. Hoe gesonder ons word en hoe meer ons na die waarheid toe neig, besef ons, dat selfs die goed wat met ons gebeur waaroor ons nie beheer het nie, gebruik kan word as boumateriaal om te bou wat ons lief het.

Dit wat met jou gebeur, is boumateriaal om mee te werk, sodat jy kan bou wat jy liefhet!

Lees:

Rom. 8:28

Rut 1

Mediteer:

  • Wat bou jy in jou lewe?
  • Wat is vir jou waardevol?
  • Stem jou aksies en woorde ooreen met dit wat vir jou belangrik is?
  • Wat is jou volgende, wat is jou next?

Bid:

Vader, ek wil met my lewe bou wat belangrik is en nie ’n lewe leef wat niksseggend is nie. Ek wil bou wat vir U belangrik is, want ek besef U gee waarde, vrede, liefde en lewe! Help my asseblief om my aksies en woorde te belyn met dit wat waarheid is, waardevol is, en vrug lewer. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek bou dit wat ek lief het!

Aanbidding:

The Proof of Your Love – For King & Country

Dag 2: Waaraan bou jy?

Met enige bouprojek, is daar dikwels oorblywende materiaal wat met gesonde bestuur aangewend kan word vir ’n volgende projek. So nie, kan hierdie materiaal in die pad wees. Dit kan ’n probleem word en die perseel sleg laat lyk. Nét so kan dinge wat in jou lewe gebeur waarvoor jy nie gevra het nie, soms in die pad kom of dalk jou reputasie beïnvloed. Maar met gesonde bestuur, kan hierdie aangewend word om dit te bou wat jy lief het.

’n Gesonde mens wat by Jesus uitkom, wat toelaat dat God inspreek, word bewus van die werking van die Heilige Gees en verklaar volgens die Woord dat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet en dien (Rom.8:28)....selfs in die klein persentasie van dinge wat gebeur wat jy nie kan beheer nie.

Ons het verskillende bouprojekte in ons lewens en die enigste manier waarop hierdie gaan realiseer, is deur te bou, te investeer, aandag te gee en by die planne, die basiese beginsels, te bly. Jy bou die hele tyd dit wat jy lief het. Jy het die vermoë om deel te neem in menswees, sodat jy kan bou wat jy lief het. Hierdie is motivering, die inspirasie vir jou: Bou wat jy lief het!

Met vandag se baie invloede word ons kinders verward met dit wat belangrik is en die moeite werd is om na te jaag. Dit is daarom baie belangrik dat ouers met hulle kinders ’n gesprek moet hê oor waaraan hulle bou, waarom hulle bou en waarmee hulle bou. Die Woord waarsku dat dit waarmee jy bou en waarop jy bou, getoets sal word (1Kor.3:10-15).

Ons is die heelyd besig met nat sement en stene en dit wat ons bou, sal met die verloop van tyd getoets word. Dit wat ons bou sal óf die toets van tyd deurstaan, of dit sal droog word, gebind wees en moeilik wees om reg te maak, omdat die skade reeds gedoen is. Dit is daarom dat ons moet nugter wees en twee keer moet dink voordat ons iets doen. Leer jou kinders om hulle self te vra en uit te maak waarmee hulle besig is en waaraan hulle bou. Wat is hulle prentjie en denke wanneer hulle besig is met akademie, sport of kultuur? Is daar iets wat hulle verstaan en beplan en in oog het? Is daar iewers waarheen hulle ten minste kan mik, al werk dinge nie noodwendig altyd uit soos ’n mens beplan nie? As ’n ouer het jy die vermoë om vir jou kind visie te gee, om te kies waarom hy/sy bou aan dit wat hy/sy lief het. Hierdie is nie net ’n belangrike gesprek vir ouers met kinders nie, maar ’n belangrike gesprek vir ons elkeen om onder die knie te kry vir die dag van môre. Ons moet verstaan waarom bou ons, waarheen ons oppad is, wat ons wil bereik, wat ons next is.

Wanneer die goeie boodskap van Jesus Christus, die beste nuus ooit, wat die wêreld kom red het en die enigste Een is wat jou vrymaak, gedeel word sonder doel, sonder rede, sonder visie en sonder ’n missie probeer beoefen word, word dit godsdiens. Dit is om iets voor te hou wat nie inhoud het nie, geen waarde nie. Dit word dan ’n vermorsende ritme, wat nêrens heen oppad is nie. As ons nie weet waarmee ons besig is of hoekom nie, dan word alles in ons lewe só, sonder doel en rigting.

Ek het nodig om te weet wat ek glo en wat ek sien in die toekoms. Waarom doen ek moeite, wat maak my wakker en waarvoor staan ek in die oggend op. Wat maak dat ek opstaan, opdaag en deelneem met passie en oortuiging? As ek nie hierdie vraag kan beantwoord nie, dan is ek besig om te verval in ’n tipe godsdiens, waar ek net doen wat almal doen, omdat ek dink dit is die regte ding om te doen. Ek het maar net hier beland…

You don’t score what you love, you don’t receive what you love. You build what you love. Building is hard work. Build it if you love it!

Dit is die lewe!

Lees:

Rom. 8:28

1Kor. 3:9-15

Mediteer:

  • Wat het jy lief en waaroor is jy passievol? Hoe werk jy daaraan?
  • Waarom doen jy sekere goed?
  • Waaraan bou jy nou?
  • Wat leef in jou gedagtes?
  • Volgens 1 Kor 3:9-15, wat is Paulus se boodskap en waarskuwing?

Bid:

Vader, dankie vir die fondasie van Jesus Christus wat U reeds vir my neergelê het. Help my asseblief om voort te bou op hierdie fondasie en om my doelwitte en pad vorentoe reg af te baken en die regte koers te hou. Ek wil op die regte manier voortbou en intensioneel lewe. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek neem in ag waaraan ek bou, en ek bou intensioneel!

Aanbidding:

Our God Reigns – Worship Together

Dag 3: Bepalende oomblik

Ons leer uit die kort storie van Rut, hoe God ’n noemenswaardige verandering in die rigting van Sy volk aanbring. In hierdie storie van Rut, sien ons hoe God Sy volk vestig as ‘n rolspeler wat tot vandag toe nog invloed uitoefen.

God se volk het ’n sukkelende, rigtinglose bestaan gevoer. Die omstandighede was wreed. Daar was hongersnood en Naomi het haar man verloor. In ’n kort tydperk daarna, het sy albei haar seuns ook verloor. Sy is op ’n hopelose plek en bitter. Die ergste wat kon gebeur het, het met Naomi gebeur. Sy sien geen toekoms meer vir haar of haar skoondogters nie. Sy kan nie vir hulle sorg nie, en daar is geen nageslag vir haar waarop sy, of hulle kan hoop nie. Naomi se lewe is in ’n toestand. Sy besluit om terug te keer na waar sy vandaan kom, en in ’n nugtere oomblik stuur sy haar skoondogters ook terug na waar hulle vandaan kom. Die een skoondogter gaan huilend na haar volk en gode toe terug.

Hierdie storie is ’n noemenswaardige storie, omdat dit ons kan help om die volgende deel van ons eie storie op ’n etiese, uitnemende manier te skryf. Dit kan ons opstel, om dit wat voorlê beter te doen as dit wat agter ons lê; om ons volgende hoofstuk beter te skryf as die vorige een. Hierdie storie leer ons dat dit nie net ons lewens is wat in sulke oomblikke verander nie, maar vir jare en geslagte later, die hele volk se toekoms verander.

Jy kan eienaarskap neem en besluit hoe dit gaan wees, want jy bou wat jy lief het. Die vraag is hoé?:

“Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die Here so aan my doen en so daaraan toedoen — net die dood sal skeiding maak tussen my en u. Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek” (Rut 1:16-18).

Hierdie was ’n defining moment in Rut se lewe. Dit was in hierdie oomblik van nou wat sy besluit het hoé sy vorentoe gaan, om die volgende hoofstuk beter te skryf as die vorige een.

Was jy al in ’n situasie waarin jy besef het dat jy in die moeilikheid is en nie die vermoë gehad het om vir jouself te sê dit is okay, môre gaan beter wees nie? ’n Situasie waarin jy gevoel het dit is die einde van die wêreld en jy is vasgevang daarin sonder uitkoms? Vandag as jy terugkyk, dan besef jy met ervaring en wysheid dat die lewe aangaan.

Die krisissituasie wat jy beleef, het nie nodig om vir altyd te wees nie. Die omstandighede wat jy beleef en die realiteite waarin jy wakker geword het, het nie nodig om permanent te wees nie, want jy is besig om te bou. Jy hét die vermoë om jou volgende, uitnemende storie te skryf. Jy het nie nodig om vasgevang te bly in jou omstandighede nie.

Lees:

Rut 1:1-18

Mediteer:

  • Kan jy aan ’n situasie in jou verlede dink waar jy hopeloos gevoel het, en dit vir jou gevoel het soos die einde van die wêreld? Het hierdie situasie so gebly? Wat het verander?
  • Wat maak Rut se storie so uitnemend?
  • Jy kan eienaarskap neem en besluit hoe dit gaan wees. Hoé doen jy dit?

Bid:

Vader, kom leer my hoé om ’n uitnemende storie te skryf wat in die toekoms getuig van U. Dankie dat my omstandighede nie bly soos wat dit is nie, en dat U vir my die vermoë gegee het om die nodige veranderinge aan te bring. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het nie nodig om vasgevang te bly in my omstandighede nie. Ek het die vermoë om my volgende, uitnemende storie te skryf!

Aanbidding:

My Lighthouse – Rend Collective

Dag 4: Hoe jy afsluit bepaal hoe jy begin

Hierdie bly ‘n keuse. Soms het jy nodig om die bladsy om te slaan en jy hét die vermoë om dit te doen. Jy het nie nodig om vasgevang te bly nie.

Maar hoé eindig jy ’n seisoen in jou lewe wat nie moet aangaan nie? Jy het nodig om te besluit hoe die laaste sin van jou huidige hoofstuk klink.

Naomi sê “Noem my Mara”, want sy is bitter (Rut 1:20). Sy het besluit sy het niks om te gee nie. God is nie aan haar kant nie en dit is nie die moeite werd nie. Sy stuur haar skoondogters weg en sê “los my uit”. Naomi besef nie hoe die volgende seisoen se begin, bepaal word deur hoe sy die vorige seisoen afsluit nie. ’n Mens besluit nie net om van ’n vorige seisoen af weg te stap of dit te stop nie. Dit is nie hoe die lewe en realiteite werk nie.

Daar is oomblikke wat jou lewe en mense om jou se lewens bitter lyk, waar die tipe besluite geneem kan word, wat die toekoms van nasies red. Dit is in sulke omstandighede wat ‘n mens besluite neem, wat alles kan verander. Niks kan egter verander as jy nie weet hoé om te verander nie.

Die laaste sin van jou vorige hoofstuk skep die interne, innerlike konteks van die volgende hoofstuk wat jy gaan skryf. – Dit bepaal die res van die boek!

Wanneer Rut hoor wat ’n neerslagtige skoonma wat bitter is vir haar sê, besluit sy om ’n hoofstuk in haar lewe op die regte manier af te sluit. Sy neem ’n uitsonderlike besluit wat die geskiedenis van haar eie lewe, haar familie en Israel se bestaan verander. Dit wat Rut 4000 jaar gelede besluit het, het my en jou lewe verander.

Mense wat slegte belewenisse het of slegte seisoene deurgaan, dink dikwels dat verandering die antwoord is; dat ’n ander adres, ’n ander verhouding of ’n ander werk die antwoord is. Tog, al bring hulle verandering aan, verander niks nie, omdat hulle dit wat hulle moes agterlaat saam met hulle in die volgende seisoen inneem. Sou jy besluit om te bedank en jy is treurig, vat jy jou treurigheid saam na die volgende seisoen. As jy bitter voel en skuif, neem jy jou bitterheid saam. Is jy kwaad wanneer jy bedank, neem jy jou kwaad saam.

Ons lewens word nie verander deur die plekke waarheen ons gaan nie... ons verander die plekke waarheen ons gaan, deur die lewe wat ons daarheen saamneem. Ons lewens verander wanneer dit wat ons saamneem, daardie nuwe plekke verander.

Rut leer ons ’n Bybelse beginsel. The way you exit is the way that you will enter. Die laaste sin van jou vorige hoofstuk, bepaal die eerste sin van jou volgende hoofstuk. Jy kan dit nie ignoreer nie.

As die laaste lyn van jou hoofstuk een van deursettingsvermoë, dankbaarheid, geloof en moed is, het jy die materiaal en die inhoud waarmee jy die beste hoofstuk van jou lewe kan begin skryf. Jy bou wat jy lief het. Jy wen of kry nie wat jy lief het nie. Jy is nie gelukkig met ’n bietjie voorspoed en beland dan waar jy gelukkig is nie. Jy bou wat jy lief het en werk daarvoor.

Lees:

Rut 1:1-22

Mediteer:

  • You build what you love. What do you love?
  • Wat is die laaste sin van jou vorige hoofstuk?
  • Hoé belyn jy jou huidige hoofstuk vir die volgende hoofstuk wat jy nog gaan skryf?

Bid:

Vader, ek gee my seisoen in U hande en vra dat U my help om met wysheid, deursettingsvermoë, vrede, liefde, genade, geloof, moed en passie hierdie hoofstuk klaar te maak, sodat die volgende deel van my storie die beste een sal wees. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek belyn my storie en die einde van my vorige hoofstuk, met God, want hoe ek klaar maak, bepaal my volgende hoofstuk en my hele storie. Ek doen dit reg en daarom verander ek die plekke waarheen ek gaan.

Aanbidding:

I Choose You – Jon Reddick

Dag 5: ’n Nuwe Hoofstuk

Sommige gelowiges leef soos Naomi. Daar is niks om te vertel nie, geen lewe, geen getuienis van dit wat die Here doen nie. Hulle omstandighede getuig nie van God se vingerafdruk nie. Daar is niks om te gee nie, nie vir mense wat God oor jou pad wou bring, ander gelowiges of kleingelowiges, familie, bure of mense in die omgewing waar jy funksioneer nie.

Baie subtiel en sagkuns sê jy: “Los my uit ek het niks vir jou nie, ek het nie ’n storie, nie ’n getuienis om te deel nie. Gaan maar terug na jou tipe mense, na jou afgode toe”. Jy druk mense terug in hulle ou waardes en wêreldsisteme in.  As jy God se lewe in jou lewe beleef, sal daar iets wees om te deel. Jy sal mense in die lewe intrek. Dit waaroor jy opgewonde is, leef in jou en word jou gesprek. Jy kan dit nie vir jouself hou nie.

Naomi gee die mees rasionele raad vir Rut, maar Rut bly nie waar sy is vir wat sy kan kry nie. Sy is nie onrealisties nie. Sy weet sy gaan nie iets kry nie, want sy is ’n Moabiet. Sy bly vir wat sy gaan gee. Rut skryf ‘n nuwe storie wat nie net haar eie lewe verander nie, maar die toekoms van Naomi, Israel en die hele wêreld.

Ons fokus is dikwels so verdraai, ons dink ons storie gaan net oor onsself. Ons dink ons godsdiens gaan alles net oor onsself. Dit is hoe jy slegte hoofstukke van jou lewe begin skryf. As jy op ’n plek bly omdat jy dink jy gaan iets daaruit kry, is jy nie besig om ’n nuwe, beter storie te skryf nie. Jy is dan besig om presies dieselfde hoofstuk, wat jy voorheen oorleef het, te skryf.

Rut het die wysheid om te weet, die lewe gaan nie oor my nie. Rut bly om ’n bydrae te maak in haar toekoms. Rut se eerste sin in haar nuwe storie begin so: “Ek is hier vir jou, moenie my dwing om jou te los nie. Dit is waarvoor ek hier is, waarvoor ek leef, waarvoor ek bestaan. Moenie my dwing om om te draai nie. Ek gaan waar jy gaan”.

Hierdie is hoe Rut se nuwe hoofstuk begin. Sy sal liewer haar skoonma volg en God dien as wat sy dít kry wat sy self graag wou gehad het en God nie ken nie. Rut leer ons hoe om God se Koninkryk beter te verstaan. Sy sê dit reg. Dit is skriftuurlik: “Soek allereers die Koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir jou gegee word” (Mat. 6:33).

Die mense wat God kies om die toekoms en uitkoms van die mensdom te beïnvloed, is hulle wat nie hulle self nie, maar ander se voordeel kies!

Baie mense soek God en dink dat dit opsioneel is om mense lief te hê. Mense is nie belangriker as God nie, maar jy kan nie sê dat jy God lief het, maar jy haat jou broer nie (1 Joh. 4:20). Dit is ’n Bybelse beginsel. Die wêreld leer God nie ken deur jou liefde vir God nie. Die wêreld leer God ken wanneer jy mense lief het. Om God te dien, beteken dat jy God se mense lief het. Jesus leer ons ook dat ’n man sy vrou moet lief hê soos Christus die kerk lief het.

Maak reg jou verhouding met mense, voordat jy reg wil wandel met God (Mat. 5:24). Dit is hoe jy ’n nuwe hoofstuk skryf en jou toekoms red. Dan vervul jy God se beginsels.

Die Goddelike beginsels wat Rut uitleef, verander die toekoms. Naomi kry krediet vir Rut se seun. Rut se aksies gee hoop vir haar skoonma, God se volk en ook vir my en jou. God draai alles wat onmoontlik gelyk het om. Uit haar is Obed gebore, uit wie se nageslag Dawid en later Jesus Christus gebore is.

Een vrou se laaste sin van ’n bitter hoofstuk, een vrou se eerste sin van ’n nuwe hoofstuk, red my en jou lewe, duisende jare later.

Lees:

Rut 1:16

Rut 4:13-22

Mat. 6:33

1 Joh. 4:20

1 Joh. 3:15

Mat. 5:24

Mediteer:

  • You build what you love. What are you building?
  • Hoe skryf jý ‘n nuwe storie?
  • Wat is jou eerste lyntjie van jou volgende hoofstuk?
  • Hoe het Jesus die kerk lief?

Bid:

Here, U is my God. Ek sal U dien met my hele lewe. Dit gaan nie oor my nie, maar oor U wil en U mense. Help my asseblief om op die regte dinge te fokus, om U liefde uit te leef; om strome van lewende water in my binneste uit te leef na almal om my, tot U eer.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies om mense om my lief te hê, om God te dien en ander se voordeel te soek!

Aanbidding:

For the One - Brian & Jenn Johnson