Go Deep 27 Julie 2025

Wat gebeur wanneer die kerk bid?

Neville Goodchild

 

Dag 1  God se invloed is = groei

Vanoggend was die lofprysing in Lewende Woord Kerk dieprakende, sielsverukkende verheerliking van ons Here. Vir iemand wat uit ʼn konserwatiewe kerkomgewing kom is dit soms vreemd om net te aanbid, om net te laat gaan, om net oor te gee. Totdat ons iewers besef dat die Here op hierdie manier met ons wil kommunikeer. Vandag was spesiaal. Iets gebeur wanneer gelowiges saam aanbid. Hierdie twee skakels is voorbeeld daarvan:

I raise a Hallelujah

Great are you Lord

OnS het vandag spesiaal gebid vir die kinders wat ʼn nuwe kwartaal betree. Nuwe uitdagings, “challenges”, in ʼn wêreld wat nie soos hulle is of wil wees nie. Ons moet meer bid vir ons kinders, hulle het dit nodig.

Dink hieroor: Waar God is, is daar groei. ʼn Godlose omgewing kan nie groei nie. Ons weet uit die wetenskap dat die uitspansel bly groei. Teen die spoed van lig. God het nooit ophou skep nie. Hy bly betrokke. Dít is Sy intensie. As Hy in ons lewens is, groei ons geestelik.

In Johannes 8, vandag se leesstuk,  red Jesus ʼn vrou se lewe omdat Hy die kans gegee word om te praat. Ja, hulle wou Hom uitvang, daarom antwoord Hy. Hy red haar lewe net daar. Wanneer die Here praat is daar herlewing. Ons moet die Here vra om in ons lewens te praat. Deel daarvan is wanneer ons in diep lofprysing gaan en die Gees vra om inspraak in ons kwellings te gee.

Ek en jy. Ons, moet ons self oopmaak om die Here in ons lewe te laat praat, om seker te maak dat Hy iets in ons lewens kan sê. Wanneer Hy betrokke is in ons lewens (wêreld) is dit net die begin. Hier vanaf begin groei, want Hy laat niks toe om agteruit te gaan nie. God is groot, kom ons gebruik vandag om Hom te loof en eer in elke ding wat ons doen.

 

Lees

Joh. 8:1-11

Mediteer

Hoe kan ek die Here nader aan my daaglikse uitdagings bring?

Gebed

Here, dankie vir die geleentheid om in ʼn diep gees ervaring by ons kerk U lof te prys. Dankie, Heilige Gees, dat U moeite met elkeen van ons doen wanneer ons net oop is vir U insette. In Jesus naam, Amen.

 

Spreek Lewe

Ek het toegang, ek het Sy insig en visie tot my beskikking.

Aanbid

Desperate – Lauren Daigle

Dag 2  Jy en spanning, Deel 1

Ek voel ek gaan ontplof. Ek kan nie meer hiermee “deal” nie. Hy het sy kollega sommer voor die bors gegryp en gedreig. Sy skel hom sommer toe hy instap by die huis, nogal met ʼn bos blomme. Klink dit bekend? Hoe reageer jy wanneer dit voel of die mure rondom jou al nader trek en jou bors toe klamp? Of wanneer jy al Sondagaand weet dat jy Maandagoggend by die werk in die moeilikheid is?

Almal van ons verduur spanning op een of ander vlak in ons lewe. Die waarheid is dat spanning of stres ons nie neutraal laat nie, dit maak ons beter, of dit maak ons slegter af. Elke mens het ʼn stresdrempel. Wanneer ons nie ʼn spanningsvolle situasie hanteer nie, word daardie drempel laer en oor tyd word ons vermoë om enige vorm van spanning te hanteer feitlik ondraaglik. Dis wanneer die bom bars met die geringste ding wat gebeur. Dit ís menslik, maar dit ís hanteerbaar. Ons gaan die hele res van die week die Woord hierby uitbring. Hoe hanteer ek en jy spanning?

Vandag se leesstuk is Handelinge 12:1-5. Die agtergrond is dat Herodus, die Romeinse opperbevelvoerder in Jerusalem eers vir Jakobus, Johannes se broer laat vermoor. Hy sien dat die Jode daarvan hou want hierdie klomp Christene maak alles deurmekaar. Onthou, die Kerk is begin, duisende mense bekeer en verlaat die Joodse geloof. Aan die ander kant is die Romeine bang vir ʼn Joodse opstand, so wat Herodus doen is om die Joodse leiers se guns te probeer wen. Politiek. Klink dit bekend? Hy laat Petrus in hegtenis neem met die doel om hom na die Pasga tereg te stel. Petrus word deur sestien soldate opgepas, hy is in boeie. Uitkom, gaan hy nie.

Maar dan lees ons dat die gemeente bly bid. Hulle bid sonder om op te hou. Petrus is op die “hit list”, dit sal dinge in Jerusalem makliker maak as hy weg is.

Eers is Jesus doodgemaak (ons weet dat Hy opgestaan het, maar Herodus glo dit waarskynlik nie), toe Jakobus en nou is Petrus in die tronk. Die spanning in Jerusalem is op ʼn mespunt. Aan die een kant groei die “nuwe” kerk teen die spoed van wit lig, aan die ander kant word die leiers vervolg. Maar die gemeente bid.

Dit is die eerste stap wat Christene vandag kan neem om spanning te hanteer. Bid. Die gemeente kies om te bid. Dit is nie die normale aksie wat mense neem wanneer hulle onder druk is nie, maar dit is die regte een.

Ons natuurlike reaksie is nie om te bid wanneer ons spanning ervaar nie, gewoonlik reageer ons negatief. Gebed is egter die antwoord. Hierdie gemeente in Jerusalem bid met passie, vurig, die hele naweek lank.

Dis ʼn keuse. Stres? Bid. Bid vurig. Moenie ophou bid nie. In die volgende dae gaan ons die res van die legkaart invul, maar Stap Een is om te bid wanneer dit lyk of die mure om jou gaan inval, wanneer die druk jou bors laat toetrek. Bid. Bid met passie.

 

Lees

Handelinge 12:1-5 The Message

Mediteer

Hoe verander ek my reaksie op spanningsvolle situasies?

Gebed

Vader, ek is gewoond om instinktief te reageer op spanning en gewoonlik is dit op maniere wat myself of ander mense negatief beïnvloed. Leer my om die ander roete te volg. Ek weet dat U luister as ek bid, ek weet dat U teenwoordig is en ek weet dat U uitkoms sal gee, selfs al is dit nie wat ekself in gedagte gehad het nie. Here, gee my die uithouvermoë, die gewilligheid en die geloof om met intensie en vuur te bid. In Jesus naam, Amen.

 

Spreek Lewe

Van nou af gaan ek anders reageer op stres. “Watch this space.”

Aanbid

If I got Jesus – Ben Fuller

Dag 3  Ons kan by Petrus leer oor streshantering

Gister het ons beaam dat die realiteit van stresvolle omgewings of situasies is dat die persone wat dit deurgaan se fokus nie dadelik is om te bid nie. Ons sien toe in Handelinge hoe die gemeente met passie en vurigheid bid vir Petrus in die tronk.

Die realiteit van die lewe is dat ons nie kan kies wat met ons gebeur nie. Ja, soms is ons die oorsaak van ons eie trauma, maar baie meer gebeur dit dat ons die skrapnel van ander mense se optrede ontvang. Ons leef beslis in ʼn omgewing waar misdaad, besigheid, korrupsie om maar net ʼn paar te noem, baie vinnig ʼn gesin se lewens op hul koppe kan keer. Min gelowiges het die gewoonte aangeleer om te bid totdat God die uitweg gee. Bid is Stap Een. Daar is nog.

Vandag se leesstuk is Handelinge 12:6-11. Petrus se gedrag is vreemd vir iemand wat binnekort doodgemaak gaan word. Die man lê en slaap eerder. Rustig. Hy is vasgeketting, hy gaan vermoor word, maar hy slaap tussen die wagte. Hy het gekies wat hy gaan doen ten spyte van sy omstandighede. Hy glo dat God alles sal laat uitwerk.

Ons lees verder dat ʼn engel Petrus red en lei tot by Maria se huis. Die boeie val af, die tronkseldeure gaan oop en skielik is hy buite. Petrus het aanvanklik gedink hy droom. Meeste van ons sal waarskynlik so voel. Jy slaap lekker, jy wil nie wees waar jy is nie, maar jy het gekies om rustig te wees. Skielik is hier ʼn engel wat jou red en jy stap in die strate van Jerusalem. Iewers besef jy: hierdie is nie ʼn droom nie.

God verander Petrus se perspektief, want hy het vooraf geglo dat alles gaan uitwerk. Steeds is dit asof hy wakker skrik en besef dat sy geloof nie ʼn illusie is nie, God het hom uit hierdie dilemma gered.

Ons kan baie leer hieruit. Bid. Bid baie. Tweedens, kies om te glo dat God die pad saam met ons stap, selfs in ongelooflike slegte omstandighede. Eintlik moet ons ook wakker skrik. Ons geloof is “real”, dít moet ons storie word; dat God deel van ons lewens is.

 

Lees

Handelinge 12:6-11 The Message

Mediteer

Hoe leer ek myself om rustig te raak in stresvolle situasies?

Gebed

Vader, ek wil reageer op maniere wat meer gepas is by Jesus se lewe. Ek wil rustig wees in moeilike omstandighede, ek wil U eer in elke situasie waarin ek my bevind. Leer my, Here, leer my. Ek eer U heilige naam. Amen.

 

Spreek Lewe

Spanning en Angs, julle het my nie in julle kloue nie, ek het ʼn plan.

Aanbid

In Control – Hillsong

Dag 4 

Teen Dag 4 weet ons nou dat daar al twee goed is wat ons kan, nee, MOET besef en doen wanneer ons deur angs en stres oorval word. Bid en bid dadelik met deursettingsvermoë en onthou dat ons reaksie op wat gebeur ons eie keuse is.

Handelinge 12 is ʼn opskrywe van die gebeure toe Petrus in die tronk opgesluit is deur Herodus, want hy wil die Joodse leiers en sy base tevrede hou. ʼn Engel red hom en hy stap na Maria, moeder van Markus, se huis. Lees asseblief die hele storie uit die Afrikaanse 1953 vertaling in vandag se leesstuk ...

Daar is ʼn paar belangrike punte wat ons moet uitlig. Petrus ontsnap met die hulp van ʼn engel en klop aan Maria se deur. Aan die binnekant (vers 12) is die gemeente nog steeds besig om te bid vir hom.

ʼn Diensmeisie maak die deur oop toe sy die stem hoor wat sy ken. Petrus is hier! Sy is so bly hieroor dat sy nie die deur oopmaak nie, maar binnetoe hardloop om almal te vertel.

Niemand glo haar nie. Jy moet mal wees! Dit is seker sy engel.

Petrus bly klop en iemand kom van binne af om tóg oop te maak. Daar staan Petrus. Hulle het gedink hy is dood. Hy getuig van God se redding en vertrek weer, seker om weg te kruip vir Herodus.

Ons het gister beaam dat die realiteit van stresvolle omgewings of situasies is dat die persone wat dit deurgaan se fokus nie dadelik is om te bid nie. Ons sien to

Die belangrike les hier is dat iemand die moeite gedoen het om weer te gaan kyk. Hier is hulle: ons bid vir Petrus. Wanneer hy opdaag glo ons dit nie.

Maar tóg, iemand gaan kyk weer. Dit bring ons by Stap 3 van streshantering. Ons kan kies om weer te gaan kyk. Dit waarvoor ons ophou bid het, staan dalk net voor die deur vir ons om oop te maak. Die Engelse praat van “revisit”. Daar is dalk goed waarvoor ons lank terug gebid het en begin glo het dat dit nie gaan gebeur nie. Dit is belangrik om te weet dat God dalk nie dieselfde uitkoms as ons in gedagte het nie, Sy visie is almagtig terwyl ons kortsigtig is. Maar ons moenie ophou bid nie en dit is die moeite werd om die deur weer oop te maak.

 

Lees

Handelinge 12

Mediteer

Waarvoor het ek ophou bid en moet ek dalk net weer ʼn deur gaan oopmaak?

Gebed

Vader God, U maak deure oop waar mense nie glo dit is moontlik nie. Ons gaan dit onthou Here en maak op U Gees staat om ons konstant te herinner daaraan. U maak onmoontlik, moontlik. Ons prys U lof vir altyd en altyd en in elke omstandigheid, want ons besef dat U en nie ons nie, in beheer is. In die naam van die Here. Amen.

 

Spreek Lewe

Oukei, so ek mag weer vra. Dit is verlossende nuus!

Aanbid

God will work it out – Maverick City Music

Dag 5  Know your limits with God, then ignore them ...

Jammer vir die Engelse titel, maar die meeste van ons weet dat bostaande van ʼn Nike advertensie af kom en in Afrikaans gaan ons nie die konneksie maak nie. Natuurlik is daar limiete wat ons moet handhaaf in ons gesprekke met en oor God; ons sal nie laster nie, ons sal respek betoon, maar vir die res, kan ons vertrou, vra, groei, vra vir groei, vra vir ondersteuning, dankbaar wees, lofprysinge uitbasuin. Die lys is bitter lank.

Hierdie week het ons gefokus op Handelinge 12 se verhaling van Petrus se bonatuurlike ontsnapping uit die tronk. Kom ons dink weer hieroor. Herodus soek sy bloed onder politieke druk. Die gemeente doen wat hulle moet doen: bid. Petrus slaap rustig terwyl sestien wagte hom oppas. Hoekom? Hy het gekies hoe hy gaan reageer op die krisis in sy lewe. Die gemeente het ook gekies om te bid eerder as om gal te braak oor die vervolging (groot les vir baie van ons ...). ʼn Engel red Petrus. Eers dink hy dat hy droom, maar dan besef hy dat sy geloof “real” is. Hy is uit moeilike omstandighede gered. Eintlik onmoontlike omstandighede.

Daar is geen limiete in wat God kan doen nie en daar is geen limiete oor wat Hy sal doen vir Sy kinders nie. Petrus het hierna sy bydraes tot die Nuwe Testament gelewer. As hy nie gered was nie, het die wêreld dit gemis.

Om op te som. Dinge gebeur wanneer gemeentes bid sonder ophou. God kan jou help om jou perspektief te verander, dit gebeur met Petrus. Hy dink hy droom van verlossing, maar dan besef hy dat hy gered is. God is betrokke in sy (en ons) lewe.

Daar is ʼn laaste punt. As die kerk nie gekies het om te bid nie, het Petrus nie geskryf nie. Moet nooit ophou bid nie. Ons kan ons siening verander en weer gaan kyk waar God werk (Dag 4). Dit help ons om te verstaan dat God Sy hand op ons lewens het, Hy werk waar ons nie kan sien nie. Dit is tyd dat ons begin besef dat die Here nie limiete het nie, dat Hy ons limiete totaal ignoreer en ons help om dinge te doen wat ons nooit gedink het moontlik is nie. God het nie limits nie ...

Lees

Lukas 1:37

Mediteer

Onderskat ek dalk die krag van ons almagtige Vader?

Gebed

Here, ons wil U loof vir U liefde en onstuitbare liefde vir ons. Ons het geen besef hoe kragtig U werklik is nie, bring ons nader, Here, ons wil dit ervaar, aanvaar en deel met ander mense. Amen.

 Spreek Lewe

Ek kan my energielaaier in God se kragprop sit en werklik begin ervaar wat Hy vir my en die mense rondom my kan en wil doen.

Aanbid

Power – Elevation Worship