Go Deep 10 Augustus 2025

Ontvang Kindskap

Neville Goodchild

 

Dag 1  Kinders van God – besef ons die voordeel?

Dit is so maklik om in ʼn ritme van geestelike gemak te verval. Ons gaan kerk toe, bid vinnig in die oggend, lees dalk gou ʼn stuk uit die Bybel om ons gewetens te sus, dalk vertel ons ʼn spesiale vriend of vriendin dat God darem maar goed is vir ons, ons kry dit reg om nie die taxi wat voor ons inry te vloek te nie en gee onsself ʼn klop op die skouer.

Ons is deel van die kerk omdat ons iewers in ons lewens gered is. Iewers het ons bekeer, is ons gedoop en het ons die gawes van die Heilige Gees ontvang. Jesus het hierdie verlossing vir ons voorberei en seker gemaak dat ons nie aan ʼn kruis hoef te hang nie, want Hy het dit namens ons gedoen. Vir ons.

Vir ons.

Die feit dat ons gered is, is eintlik net ʼn wegspringplek. Ons besef nie dat daar meer is nie. Nadat ons gered is, gaan ons Hemel toe. Geen twyfel. Maar daar is soveel meer wat God ons bied en ons mis uit op dit omdat ons ons omstandighede en ervarings blameer vir waar ons onsself bevind.

Baie van ons steek vas in die wegspringblokke van geloof. Ons kom nie by God uit nie, want ons verstaan nie hoe die verhouding werk nie.

Dit begin uit hoe ons die verhouding met ons God ervaar.

Hoe bid jy?

Ons het ʼn drie-enige God, maar ons moet die verhouding verstaan. Jesus se eerste en eintlike doel was om ons by die Vader uit te bring. Die Gees se doel is om ons handel en wandel te rig, rigtingwyser. Maar ons moet by ons Vader uit kom. Met Jesus se hulp.

Môre gaan ons die Drie-eenheid meer uitrafel. Kom ons dink vandag oor hoe ons bid. Waar is ons plek? Aan die Vader se voete? Hoe kry ek vrede met my lewe en dit wat met my gebeur? Hoe praat God meestal met my?

 

Lees

Joh. 3:16

Mediteer

Gered? Hoe lyk my verhouding met die Vader?

Gebed

Vader, ons weet dat ons gered is deur Jesus se kruisdood. En Sy opstanding. Ons besef dat die Gees ons lewens rig om U te eer in alles wat ons doen. Ons weet dat U ons Vader is. Ons wil ons verhouding met U uitbou, verbreed en verdiep. Leer ons asseblief , Here. Amen.

 

Spreek Lewe

Jesus het die pad voorberei vir toegang tot ons Vader. Ek kan direk met Hom praat.

Aanbid

Jesus Loves – Zach Williams

Dag 2  Weg en Waarheid

In Joh. 14:6 (die leesstuk vandag is die wonderlike Johannes 14) sê Jesus dat Hy die Weg en die Waarheid is, dat niemand by God uitkom behalwe deur Hom nie. Hy gaan voorts verder en verduidelik dat die Heilige Gees uitgestort sal word om ons hier op aarde te lei en begelei.

Jesus spel duidelike rolle uit. Hyself het gekom om die weg te baan vir ons na die Vader toe. Hierdie is belangrik. Die pad na ʼn verhouding met ons Vader is deur Jesus. Dit is hoekom Johannes altyd gesorg het dat hy digby (teenaan) Jesus sit (Joh. 13:23). Inteendeel, teenaan Sy bors lees ons. Johannes wil naby wees. Hy is uiteindelik ook die enigste een van die dissipels wat die kruisiging bywoon. Hier vra Jesus hom om na Maria om te sien. Duidelik was daar ʼn vertrouensverhouding tussen Jesus en Johannes, anders sou Jesus dit nie gedoen het nie. Johannes het sy geestelike identiteit verstaan; naby aan Jesus. In Johannes 14 gaan jy lees dat Jesus dan sê dat ons deur Hom (as gevolg van Hom) by die Vader uitkom. Dit is Sy hele doel op aarde. Om plek te maak vir ons by die Vader.

Die Gees het ʼn ander rol in ons lewe. In Romeine 8:14-17 staan:”  For those who are led by the Spirit of God are the children of God.  The Spirit you received does not make you slaves, so that you live in fear again; rather, the Spirit you received brought about your adoption to sonship. And by him we cry, “Abba ] Father.”   The Spirit himself testifies with our spirit that we are God’s children.   Now if we are children, then we are heirs—heirs of God and co-heirs with Christ, if indeed we share in his sufferings in order that we may also share in his glory.”

Die Gees se rol is om ons hier op aarde te lei en selfs namens ons getuienis te lewer dat ons God se kinders is.

Die konsep van ʼn drie-enige God is nie iets wat ons ooit heeltemal hier op aarde sal verstaan nie, maar dit is duidelik uit die Woord dat Jesus wil hê dat ons verhouding bou met die Vader. Die Gees begelei en getuig selfs dat ons die Vader se kinders is. Erfgename. Vir altyd.

So wanneer ons bid, bid ons tot die Vader. Die pad is oopgemaak. Ons is reeds verlos. Dit beteken nie dat ons spesifiek tot Jesus of die Gees kan of moet bid nie, daar is nie reëls nie. Die fokus is egter om by die Vader uit te kom, want ons is erfgename. Kinders. Ons hoef nie te wonder oor waar ons behoort nie.

Lees

Joh. 14

Mediteer

Hoe hoor ek God se stem?

Gebed

Vader God, ek wil in U binnekamer sit, naby aan U. Dankie, Jesus, dat U die pad vir ons oopgemaak het en dankie Heilige Gees dat U ons hier op aarde begelei. Groot is U naam, Vader, vir ewig en ewig. Amen.

 

Spreek Lewe

Daar is nie ʼn “No Entrance” bordjie by die Vader se troonkamer nie.

Aanbid

Laat U Wil – Riana Nel

Dag 3  Kind of Slagoffer?

Baie van ons worstel met die lewe en dit wat met ons gebeur. Dalk het ons êrens seergekry, dalk het ons vooropgestelde idees oor sekere dinge. Sommige van ons speel die blame game. Ons blameer ons opvoeding, ons grootword, ons skool, ons omstandighede ons gebreke vir die emosionele en fisiese toestande waarin onsself bevind. Ander van ons is altyd die slagoffer. Hoekom gaan dit goed met daardie mense, maar nie met my nie? Ek is dan meer in die kerk as hulle. Ons het ʼn identiteitskrisis, want ons besef nie die krag van ons kindskap nie.

Die tema van ons week is kindskap. God bied ons die geleentheid om elke aspek van ons lewe saam met Hom en deur Hom te beleef. Ons is deel van Sy DNA. Toe ons wedergebore is, is ons opgeneem in God se familie. Wedergeboorte is tog reeds dit; ʼn nuwe geboorte. I Petrus 1:23: “For you have been born again, not of perishable seed, but of imperishable, through [by] the living and enduring word of God” (NIV). Kan ons mekaar wakkerskud om hierdie te verstaan? Ek? God se kind? Regtig? Beteken dit ek kan aanspraak maak op Sy krag, Sy ondersteuning, Sy Almag, Sy vermoë om sleg in goed te verander? Natuurlik. Hy weet waarheen ons oppad is. Hy bring vrede. Shalom. Ons moet wegkom uit ons eie pad van verlede, afguns op ander, vooropgestelde idees, wettisisme, al hierdie goed wat ons net terughou en by die Vader se voete uitkom.

Wanneer ons vrede by die Vader het, is dit soveel makliker om besluite te neem, om rigting te kry met ons lewe.

So hoe doen ek dit? Ons primêre bron is die Woord. Die Bybel. Die Heilige Gees floreer in ʼn omgewing waar ons die Woord bestudeer. Hy sal nuwe dinge uit ou gedeeltes wat ons ken openbaar. Dit versterk ons identiteit. Waar die Woord begin eggo in ons chaos, begin ons sin maak van alles, verstaan ons ons belangrike rol in die Koninkryk en ervaar ons vrede. Lees om te leer, nie net om te lees nie. Lees met passie. Bid dat die Gees leiding sal neem wanneer ons lees.

Die bottom-line, wedergeborene, is dat ons vrygekoop is deur Jesus se bloed, dat ons die Gees ontvang het met ons wedergeboorte en dat ons nou erfgename is van God. Sy kinders. Lees vandag se leesstuk. Vandag se aanbidding is van Zach Williams van Harding tronk af. Selfs ouens wat in die tronk is, het toegang. Hoekom wil ons dan so sukkel?

Lees

Ef. 1:3-14

Mediteer

Lees ek genoeg en met genoeg intensie my Bybel?

Gebed

Vader, dankie dat ek ook U kind kan wees ten spyte van wat ek dink tekortkominge is. Dankie, Here. Dankie Heilige Gees dat U my lei en dankie Jesus dat U bereid was om vir my ook te sterf. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek het ʼn ID wat direk na God toe naspeurbaar is.

Aanbid

No longer a slave of fear – Zach Williams

Dag 4  Koffie-afspraak met Jesus

Baie van ons mis uit op die vrede (shalom) wat ons direk by God kan ervaar omdat ons ʼn weesgees openbaar. Kinders, seuns en dogters, wat sonder ʼn liefdevolle en teenwoordige pa groot word, sukkel baie keer om hul volle staanplek in die samelewing te maak. Ons lees dat statistieke wêreldwyd wys dat seuns wat in moeilike omstandighede en sonder ʼn pa wat omgee, moet probeer om ʼn bestaan te maak baie makliker in verkeerde lewenspatrone verval as ander. Ons het gister die karakter van ʼn weesgees beskryf. Dit het twee manifestasies, pyn of selfgeregtigheid. Ons het ook beklemtoon dat die Nuwe Testament en Jesus se kruisdood ʼn nuwe era ingelei het, waar ons direk toegang tot God het en dat Hy as’t ware ons Vader op geestelike vlak is. Jesus se broers en susters.

As ons vandag ʼn koffie kon drink saam met Jesus, wat sou Sy fokus wees? Op ons. Net op ons. Hy sou met ons oor ons gesels. Dieselfde geld vir die Vader. Ons is nie net Sy enigste doelstelling nie, ons is Sy wins, Sy hoogste prioriteit wat ten alle koste beskerm moet word. Wanneer die Vader dink, doen, herstel, versoen, vergewe, weer gaan haal, weer naderbring, weer versoen, weer vergewe, is Sy enigste fokus op ons. As ons Vader, ken Hy ons deur en deur. Die van ons wat kinders het sal iets daarvan verstaan. Soms kan die blote uitdrukking op ʼn kind se gesig al klaar vir ons sê wat uit sy of haar mond gaan kom. God weet baie meer as dit van ons en Hy ken ons baie beter as dit. Hy is die volmaakte Pa.

Ons grootste uitdaging is dat ons sukkel om te verstaan hoe groot God se getrouheid (faithfulness) is. Dis oukei. Kyk maar byvoorbeeld na Petrus se reis deur die Nuwe Testament, van ʼn ou wat gereeld foute maak en selfs vir Jesus verloën, tot iemand wat die eerste kerk help stig. Van weesgees tot kindwees.

Jeremia is nog ʼn voorbeeld. In vandag se leesstuk verval hy ook in selfbejammering soos baie van ons. Dit wil lyk of dié man ʼn klaery op meestersvlak bemeester het. Maar gaan lees hoe praat die Here direk met hom, om hom terug te bring, te help om te fokus op dit wat relevant is, wat toksies is vir hom. Wanneer ons hierdie tipe verhouding met die Here het, word ons Sy getuienis, Sy mondstuk.

Ons is gekies, aangeneem, geliefd, aanvaar, gered, vernuwe en geesvervuld. Glo dit en neem vrymoedigheid om jou kindskap op te neem. Die Vader roep ons met ʼn wysvinger wat “kom hier” sê. Wat stop ons?

Lees

Jer. 15:18-21

Mediteer

Wat is die Vader se intensie met my? As ek nie weet nie, hoe vind ek uit?

Gebed

Vader, dankie dat ons U prioriteit, intensiewe belangstelling en kindskap kan geniet en uitleef. Leer ons deur U Gees om dit te benut. Gee ons die vrymoedigheid om met U kontak te hou, maar meer nog, U mondstuk in hierdie wêreld te wees. In Jesus naam, Amen.

 Spreek Lewe

Ek is deel van Goddelike adelstand.

Aanbid

Who You say I am – Hillsong

Dag 5  Kindskap ten volle uitgeleef.

Daar is soveel voordele verbonde om ʼn verhouding met God direk te soek deur die Woord te bestudeer, na die Gees te luister, konstant by jou mense (lees gemeente, medegelowiges) uit te kom en om moeite te doen met gebed.

Ons is gekies, ons is aangeneem. (1 Petrus 2:9)

Ons is geliefd, gered, aanvaar, in die familie wat saak maak. (Ef. 1:5-6)

Ons is gered, vernuwe en Geesvervuld. Dit beteken dat ons leiding in elke oomblik van elke dag kan ervaar. (Joh. 16:13)

Daar is baie tekste in die Bybel wat bostaande bevestig, maar dalk moet jy jouself uitdaag om Efesiërs weer te bestudeer. Die tema is kindskap. In Efesiërs 2 verduidelik Paulus dat ons lewend gemaak is. Ons is saam met Jesus in die Hemel (vers 7). Efesiërs 4 handel oor hoe ons nou aanbeweeg van om kinders te wees, begin wandel en handel met gesag. Jy moet die hele hoofstuk lees met aandag dit is fantasties.

Vandag se leesstuk is uit Ef. 6. Ons kan effektief, met die wapenrusting wat ons kindskap vir ons bring standvastig staan in alles, maar alles. Ons kan positief reageer wat met ons gebeur, orals waar ons is, invloed uitoefen omdat ons God se kinders is.

Lees

Ef. 6:10-20

Mediteer

Is daar fasette van my lewe waar my verlede my kindskap en my optrede beïnvloed? Hoe sorteer ek dit uit?

Gebed

Vader, ons wil U wapenrusting ten volle opneem. Ons wil staan as U erfgename, standvastig wees, leiding neem, positief beïnvloed, Koninkryk bou. Lei ons deur U Gees om U Woord beter te verstaan, nader aan U te kom, sodat ons ten volle en totaal kind van God kan wees. In Jesus se naam. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek is goed genoeg. Niks meer van selfbejammering of weesgees vir my nie. Dankie, Here!

Aanbid

I know a name – Branden Lake, Cece Winans