Go Deep 7 Augustus 2022

BRING DIE HOOP WEER TERUG

Neville Goodchild

Die hoop binne jou

 

hope 1

 

Dag 1: Hoop is goddelike gedagtes oor die toekoms

Isa. 26:3 (Amp) “You will keep in perfect and constant peace the one whose mind is steadfast [that is committed and focused on You - in both inclination and character], because He trusts and takes refuge in You [with hope and confident expectation].”

Craig Groeschel se boek “Winning the war in your mind” gaan daaroor dat die mens groei in die rigting van sy sterkste gedagtes. Die dinge waarop ons gedagtes fokus, sal ons optredes, die rigting waarin ons beweeg en ons groei bepaal. Baie keer is daardie gedagtes nie goddelik nie en fokus op finansiële welstand, werk, geld, seksuele oriëntasie, of sosiale belewenisse. Mense wonder dan waarom hulle nie vrede beleef nie en dikwels hopeloos word en lewe.

Dit is uit die bogenoemde skrif duidelik dat indien ons perfekte en konstante vrede wil beleef, ons gedagtes standvastig moet wees. Standvastige gedagtes is toegewy en gefokus op God se bedoeling en karakter, omdat ons op God vertrou en by Hom met hoop en afwagting skuil.

Hierdie toestand van perfekte en voortdurende vrede in alle omstandighede word deur die woord "Shalom" beskryf – wholeness in every aspect of my life”.

Ons kan slegs hoop hê wanneer ons gedagtes verbind word met God se karakter en geneigdheid: Dit is God se bedoeling en koningkryksplan vir elke mens. Ons moet ons vertroue op God plaas en vertrou dat ons in Christus Jesus 'n hoopvolle toekoms het.

Lees:

Isa. 26:3

Mediteer:

  • Dink jy dat jy met hoop vir die toekoms lewe, of is jy dalk moedeloos en op 'n plek van hopeloosheid?
  • Watter dinge maak jou hoopvol? Wat laat jou leef met hoop vir die toekoms?
  • Dink daaroor of jou hoop permanent is, of saam met omstandighede verander.
  • Waarop is jou gedagtes gefokus? Is dit gefokus op God, en veral op sy karakter (wie God is), asook sy bedoeling en goddelike plan vir jou?

Bid:

Vader, ek besef dat ek baie keer hopeloos lewe omdat ek my hoop in wêreldse uitkomste soek. Heilige Gees, kom leer my wat ware hoop is en help my om u bedoeling met my lewe te verstaan. Maak my gedagtes vas aan u gedagtes en breek alle leuens van die vyand af. Dankie vir redding en wedergeboorte. Dankie dat my hoop gevestig kan wees op die ewige en nie in wat ons nou hier beleef nie. Amen.

Spreek Lewe!

Ek kies om my hoop in U te vind. Ek verklaar dat U my enigste hoop vir ‘n hoopvolle toekoms is, ten spyte van wat ek sien.  

Aanbidding:

 Control (Somehow You Want Me) – Tenth Avenue North– (Lyrics)

 

hope 2

 

 

Dag 2: Hoop is 'n diep standvastige oortuiging

Die lewe is baie keer uitdagend en ons word daagliks met nuwe uitdagings en beproewinge gekonfronteer. Hoe ons hierdie uitdagings en beproewinge hanteer, hang baie af van hoe ons na die toekoms kyk. Het jy 'n hoopvolle uitkyk op die toekoms, omdat jy weet dat God jou toekoms in sy hande het?

Kinders van God wat hulle hoop in Hom plaas, het 'n diep standvastige oortuiging van wie God is en dat Hy hulle baie liefhet. Dit gee aan hulle 'n stewige anker in die lewe en dra hulle deur moeilike omstandighede. Dit gee hulle moed, omdat hulle glo dat God 'n uitkoms sal gee.

Hoop is nie dieselfde as positiewe denke nie. Om positiewe denke te handhaaf, verg inspanning en gedurige oortuiging van omstandighede wat jy graag sou wou hê moes bestaan. Dit put 'n mens uit en daar gaan 'n punt kom waar dit net te moeilik gaan raak en dit gaan jou in die steek laat. Jy gaan moed verloor en hopeloos raak. Positiewe denke fokus op die mens se eie vermoë om omstandighede te manipuleer en goeie uitkomste te soek. Dit is nie volhoubaar nie.

Hoop is gefokus op God wat nie deur aardse gebeure beheer en beïnvloed word nie. Hy is God, ongeag wat die omstandighede is. God se hart en plan vir ons verander nie omdat ons verkeerde besluite neem of omdat dinge anders is as wat ons gedink het dit gaan wees nie. God is vandag, môre en altyd dieselfde. Dit gee aan die mens wie se hoop in God gevestig is 'n selfversekerdheid en moed, omdat hy weet wie God is en wie hy in Christus Jesus is. Hoop is dus standvastig en gee standvastigheid. Daar is al bewys dat mense wat goddelike hoop het ook die moed en deursettingsvermoë het waarmee hulle omstandighede kan oorkom wat nie moontlik gelyk het nie.

As kinders van God het ons 'n fantastiese Helper in die Heilige Gees wat ons help om die waarheid van God op ons harte te skryf en in ons gedagtes te plaas. Miga praat uit sy persoonlike ervaring van sy hoop wat op God gevestig is. Dit gee aan hom 'n selfversekerde afwagting (confident expectation). Hy het 'n sterk verwagting dat God vir hom sal deurkom. Hy het 'n sekere wete omdat hy God ken en vorige ervarings en belewenisse met God gehad het.

Lees:

2 Cor.3:12

Mic.7:7

Mediteer:

  • Onderskei in jou eie lewe of jy met baie moeite probeer om positiewe denke te forseer op alles rondom jou ten einde 'n hoopvolle uitkyk te hê, of het jy 'n ware, diep, standvastige hoop en oortuiging omdat jy kind van God is en jou hoop op Hom plaas.
  • Bring tyd in die teenwoordigheid van God deur en laat toe dat die Heilige Gees jou gedagtes vernuwe met 'n vaste wete van wie God is, en wie jy in Christus Jesus as God se kind is.
  • Indien uitdagings hierdie week op jou pad kom, raak 'n bietjie stil en fokus op God die Vader. Visualiseer in jou gedagtes hoe God, die almagtige Skepper van die heelal, jou Pappa Vader, nie verander word deur die uitdaging nie en hoe Hy vir jou deur die Heilige Gees sal lei. Roep Hom aan en gee hierdie uitdaging vir Hom met 'n versekerde, standvastige hoop dat Hy jou sal antwoord en deur jou omstandighede sal dra.
  • Bid:

    Dankie God Almagtig en Abba Vader, dat ek u kind kan wees en in Christus Jesus deelgenoot kan wees van u Koninkryk en goddelike plan. U is Heilig. U is vandag, môre en altyd dieselfde. Vul my met u Heilige Gees en verander my denke. Help my om te weet dat ek in U meer as 'n oorwinnaar is. U is my vaste Rots en Veilige Vesting. My Hoop is in U alleen. Vergewe my vir my eie pogings en “ek wil self”. Vandag sal ek lewe met 'n standvastige, diepe oortuiging van U. Ek gee beheer oor. Help my om te volg waar U my lei. Amen.

    Bonus: Spreek Lewe!

    Die Here alleen is my hoop en vaste fondasie. Sy plan vir my is goed en sy liefde vir my kan nie beskryf word nie. Hy laat alles ten goede vir my meewerk omdat ek vir Hom lief is en sy kind is. Hy maak my geestesoë oop deur die Heilige Gees in my en openbaar sy grootheid, goedheid en almag in my. Ek sal nie dat die omstandighede my oorweldig nie, maar hoopvol lewe met my oë op Hom gevestig.

    Aanbidding:

    Lauren Diagle – Everything (Lyrics) You give me everything

 

hope 3

 

Dag 3: Ware hoop staan teenoor hopeloosheid en is sigbaar.

1 Pet. 3:15 “…wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrend die hoop wat in julle is,…” Dit is duidelik dat die ware hoop vir ander mense sigbaar is. Dit onderskei die Christen wat met hoop leef van diegene wat in hopeloosheid leef. Hierdie mense sal wil weet hoekom jy anders is en hoe hulle die hoop kan kry wat in jou leef en jou standvastig maak.

Josua en Kaleb was twee van die twaalf verspieders wat Moses uitgestuur het om Kanaan te gaan verspied, volgens Numerie 13 en 14. Die verspieders kom terug na 40 dae en die res van die volk sit in afwagting vir hulle terugvoer. Alles hang af van wat die verspieders gaan rapporteer. Sou hulle die Beloofde Land kan inneem of nie? Is dit 'n goeie en vrugbare land? Gaan hulle reis in die woestyn en tentbestaan nou tot 'n einde kom? Hulle sien twee verspieders wat 'n paal tussen hulle op hulle skouers dra en daaraan hang ‘n tros druiwe wat so groot is dat dit amper op die grond hang. Dit lyk hoopvol. Dit lyk of daar oorvloed is. Die terugvoer word gegee. Die land is voorwaar 'n land van melk en heuning. Daar is oorvloed van alles. Tien van die verspieders gee terugvoer oor die Enakiete wat in die land bewoon: Hulle is reuse en die verspieders sê dat hulself vir die reuse soos sprinkane lyk, so klein is hulle. In die verpieders se eie oë lyk hulself ook soos sprinkane in vergelyking met die Enakiete. Volgens hierdie tien sal die land beslis nie ingeneem kan word nie.

Josua en Kaleb, die ander twee verspieders, se terugvoer staan in direkte teenstelling met dié van die eerste tien. Hulle is vas oortuig daarvan dat God hulle na die Beloofde Land gelei het en en die land in hul hande sal gee. Daar is geen twyfel daaroor in hulle gemoed nie. God het sy volk daarheen gelei en vir hulle gesê dat Hy die land vir hulle sou gee, maar die volk glo dit nie. Die tien verspieders vrees die reuse en glo nie God se beloftes nie. Josua en Kaleb het die ware hoop wat op God en sy karakter gevestig is. Dit maak hulle anders en die volk is bang. Hulle wil nie eers daarvan hoor dat die land ingeneem moet word nie. Hulle sal eerder vir Josua en Kaleb doodmaak as om die land in besit te neem soos wat God gesê het. Ware hoop maak dat mense geleenthede sien en najaag, terwyl die hopelose mense altyd eers na 'n bietjie goeie nuus soek.

Mense met ware hoop fokus op God en 'n hoopvolle toekoms is Christus Jesus. Hierdie hoopvolle mense beweeg vorentoe na die hoopvolle toekoms. Hopelose mense sit in vrees en kan nie die toekoms sien nie. Hulle bly sit as te ware in hulle eie woestyn.

Lees:

1 Pet.3:15

Num. 13 and 14

Num. 14:24

Mediteer:

  • Hoe word jy deur die mense rondom jou gesien? Sien hulle dat jy hoopvol lewe met jou oë op die ewigheid, of sien hulle ‘n lewe wat net gefokus is op die hier en nou, vol moedeloosheid en vrees?
  • Bring jy hoop daar waar jy beweeg - rondom die braaivleisvuur, by jou werk of by enige ander plek waar jy 'n rol speel?
  • Nadat jy jou opinie gegee het, wat laat jy in mense se harte agter? Hoop of 'n vreesagtigheid?
  • Ons het die ewige hoop wat in Christus is, 'n hoopvolle toekoms ten spyte van wat ons daagliks om ons sien en beleef.
  • Hoe gaan jy verseker dat jy jou fokus na die ware hoop in Christus verskuif?

Bid:

Abba Vader, baie dankie dat ons die draers van ware hoop kan wees. Help my om eers my eie fokus na U en u koninkryk te  verskuif, en dan verder na dit wat U vir ons in die ewigheid voorberei het. Vader, daar is baie mense wat nie hierdie hoop het nie. Gebruik my om hierdie ewige ware hoop te bring na die mense met wie ek daagliks in aanraking kom. Vader, help my om altyd gereed te wees om te kan antwoord oor dit wat binne in my is en om my hoop na ander te kan oordra. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies vandag om hoopvol te lewe. Die ware hoop binne in my kan nie deur hierdie wêreld oorweldig word nie.

Aanbidding:

Aaron Shust - My hope is in You (Official Video) 

 

 

hope 5

 

 

Dag 4: Lewende hoop – dit is die nuwe wyn.

Die lewende hoop is die nuwe wyn wat ons die dag kry wanneer ons ons tot Jesus Christus bekeer en die evangelie as die waarheid aanneem. Hoe is dit dan dat die lewende hoop nie sigbaar is in almal se lewens nie? Partykeer het mense 'n onmoeting met die Here, hulle raak bewus van die waarheid en maak selfs 'n keuse, maar hulle gaan terug na hul lewe en die dinge wat hulle trek. In Lukas 5:39 staan: "En niemand wat ou wyn gedrink het wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is beter."

Daar moet iets gebeur wat sorg dat die lewende hoop behoue bly en nie verlore gaan nie. Die antwoord is wedergeboorte. Ons sien in 1 Pet.1:3 dat God in sy barmhartigheid vir ons die wedergeboorte geskenk het as 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. Ons moet wedergebore word om die kapasiteit te kry om die lewende hoop te behou. Die lewende hoop is die hoop op saligheid wat ons het en dit is tydloos. Die nuwe wynsak is wedergeboorte. Ons moet  tot bekering kom, die saligheid deur Jesus Christus ontvang, gedoop word, en die doping met die Heilige Gees ontvang.

Hopelose mense gee gou moed op en word maklik ontmoedig om hulle drome te leef, of om met hulle hele hart te soek na die beloftes van God vir hulle lewe.

Wanneer ons hierdie nuwe wyn het sal ons ook, soos Josua en Kaleb, met ons lewens verantwoording doen oor die lewende hoop wat in ons is. Ons sal vas staan in die hoop en verwagting, en ons sal ons beloftes in besit neem. Die woord sê dat daar 'n ander gees in Kaleb was – die Heilige Gees. Kaleb het op die ouderdom van 85 jaar sy belofte opgeëis en ingeneem, naamlik die bergland met die reuse Enakiete. Dit was die moeilikste gebied om in te neem en net mense soos Kaleb, wat die lewende hoop in hulle het, sou daarvoor kans sien.

Lees:

1Pet.1:3

Luk.5:37-39

Num.14

Mediteer:

Bid:

Dankie Vader vir die nuwe wyn. Dankie dat U in u groot genade vir my so lief is dat U vir my ewige redding bewerk deur u Seun, Jesus Christus en 'n lewende hoop op saligheid gee. Vader, ek verdien dit nie, U het my nie nodig nie, maar om u groot liefde ontwil soek U my. Ek staan verwonderd oor die grootheid van u liefdeswerk en herskepping van my as mens. Vader, ek vra dat U my sal help om altyd te kan verantwoording doen oor die hoop wat in my leef. Ek eer U en maak U groot, want U is wonderbaar. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Here, ek leef met die wete dat U reeds die werk gedoen het en dat U heers oor alle magte en dit reeds oorwin het. Daar is niks in hierdie lewe wat my van U kan skei nie. Ek leef met die lewende hoop op die ewige saligheid in u teenwoordigheid. Ek kies om 'n hoopvolle lewe te lei met my fokus op U.

Aanbidding:

Brook Ligertwood – Communion

hope 4

Dag 5: Lewende hoop en evangelisasie loop saam

'n Mens kan alleenlik tot bekering kom as die evangelie aan jou openbaar gemaak word en jy dit met 'n ontvanklike hart deur die Heilige Gees ontvang. Dit vul 'n mens dan met vreugde en blydskap as jy die genade en redding ontvang in Jesus Christus en opgeneem word in die familie van God. Jy besef die grootheid en die almag van God en van die wonderbare genade wat jy nie verdien het nie en wat jou deel is omdat God jou lief het. Jy kom in 'n plek waar jy in Christus volmaak voor God staan. Geregtigheid in Christus Jesus – Perfect, complete, lacking nothing. God herstel jou in Christus deur die werking van die Heilige Gees in jou gees, siel en liggaam. Jy is vry van sonde. Jy het die ewige hoop op saligheid van jou siel. Jy word die draer van geloof, hoop en liefde. Die ware hoop vul jou en jy ontvang die krag en leiding van die Heilige Gees.

Dit is net natuurlik om te kyk na waar jy was voor jy redding ontvang het en waar jy nou is. Nou word jy bewus van jou geliefdes wat nog nie hulle harte oopgemaak het vir die groot genade nie. Jy het 'n brandende begeerte binne jou om dit wat jy ontvang het – die lewende hoop aan hulle oor te dra. Jy begeer dat hulle, net soos jy, die wonder van redding en die ewige hoop sal ontvang. So begin jy getuig met jou lewe en met jou woorde oor die lewende hoop in jou en dra jy dit uit. Eers aan jou vriende en geliefdes en dan na die wêreld.

Dit is een van die grootste redes hoekom die vyand mense se hoop wil verdof en hulle fokus skuif. 'n Kind van God wat met die lewende hoop lewe, evangeliseer sy wêreld. Ons moet waak teen alles wat ons fokus steel, dinge wat ons gedagtes besig hou en waarmee ons hande en harte besig is. Is ons besig met die lewende hoop, of is ons besig om die vyand toe te laat om ons besig te hou met ander goed? Die wêreld smag na die Lewende Hoop. In Christus Jesus en deur die werking van die Heilige Gees is dit die natuurlike passie van die kinders van God om die Lewende Hoop na die wêreld te bring.

Lees:

1 Pet. 3:15

1 Pet. 1:3-9

Kol.1:3-6

Kol. 1:27-28

Jam. 1:2-4

Mediteer:

  • Raak 'n bietjie stil en sit iewers met jou oë toe. Bid dat die Heilige Gees jou sal help om die laaste paar dae weer in herrinnering te bring. Laat die Heilige Gees jou bewus maak van dit waarop jou aandag, tyd en energie gefokus was. Wees dan eerlik met jouself. Het jy toegelaat dat die vyand jou high-jack of het jy die lewende hoop wat deur die Heilige Gees in jou is in jou wêreld uitgeleef?
  • Laat die Heilige Gees aan jou openbaar waar geleenthede in hierdie dae by jou verbygegaan het, waar jy die lewende hoop kon uitleef en dit nie gedoen het nie. Hierdie is nie vir veroordeling nie, maar dit is die enigste manier om te oefen om altyd reg te wees en verantwoording te doen aan almal wat vra oor die lewende hoop wat hulle in jou sien. Die enigste manier is om aan te leer om sensitief te raak vir die stem van die Heilige Gees en om dan gehoorsaam te wees. Dit kom ongelukkig nie natuurlik nie. Aan die begin is dit ‘n natuurlike uitvloeiing van die oorweldige genade van die redding wat ons ontvang het. Die oorloop van die eerste dae begin weggaan en dan moet ons met die hulp van die Heilige Gees ingestel raak en oefen om die lewende hoop elke dag in alles wat ons doen uit te dra. Ons moet bely as ons ongehoorsaam was en so die konneksie en sensitiewiteit met die Heilige Gees behou.
  • As jy besef dat die vyand jou die afgelope tyd so besig gehou het, bely dit aan die Here en vra vir 'n nuwe sensitiwiteit vir die Heilige Gees en Goddelike leiding, om die lewende hoop te leef en om die regte woorde te hê om met sagmoedigheid en liefde verantwoording te doen oor die lewende hoop in jou.
  • Vra dat die Here jou geestesoë sal open en dat Hy jou sal wys wat Hy sien as Hy na die mensdom kyk. Luister na die liedjie “Mended” van vandag se aanbidding. Jy sal vind dat God sien nie wat ons sien nie. Ons sien in ons realiteit, maar God sien dit ná die herstel en volmaakte kruiswerk van Jesus Christus.

Bid:

Vader, ek is jammer dat ek nie die gedagtes wat nie van u afkomstig is gevange neem nie en dat ek die vyand geleentheid gee om my oneffektief en afwesig te maak. Jammer dat ek nie u stem hoor nie. Jammer dat ek so besig is met my eie dinge en dat ek die nood van hopeloosheid om my miskyk. Here, ek besef dat my wêreld u lewende hoop nodig het en dat U my wil gebruik om my wêreld bloot te stel daaraan. Open my geestesoë Vader. Maak my sensitief vir u Heilige Gees en laat my sien waar U besig is om te werk. Help my om altyd gereed te wees om by elke geleentheid verantwoording te doen oor die lewende hoop wat in my lewe. Dankie Vader dat u hoop gehad het vir my en my aangeneem het toe ek nie eers vir myself aanneemlik was nie. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die werk wat Jesus Christus aan die kruis gedoen het was volmaak en Hy het deur die kragtige werking van die Heilige Gees die oorwinning behaal. Hy heers oor hemel en aarde. Niks is hopeloos nie, want die werk is reeds gedoen. Ek het 'n ware, vaste en lewende hoop wat ek elke dag gaan uitleef met die kragtige werking en leiding van die Heilige Gees. Die Hoop van die wêreld het reeds gekom en sy naam is Jesus Christus.

Aanbidding:

Matthew West – Mended (Lyrics)