NET VIR ’n OOMBLIK
Eugene du Randt
Ons oorwinning in Jesus is baie groter as die tydelike beproewinge waardeur ons gaan.

Dag 1: Vaste hoop en vertroue
Ons elkeen gaan deur beproewinge en situasies waarin ons somtyds voel dat ander mense dit nie sal verstaan nie en nie werklik kán weet waardeur ons gaan nie. Jy luister na iemand se situasie en wil graag sê, of jy sê wel, “maar hoor mý storie...”
Jesus het gereeld by gebroke mense tyd bestee – mense wat deur omstandighede afgetakel was. Dit is waar sy hart was. Dit is waar sy roeping was en steeds is – by die gebrokenes van hart, die wat verslae is van gees (Ps.34:19). Hy het tyd bestee by die sondaars en dié wat hulself gesien het as kenners van die skrifte, maar Hom nie herken het of wou ken nie.
Die verskil tussen godsdiens en 'n verhouding met die Here is vandag steeds ’n uitdaging vir talle Christene. Ons wil presies weet hoe om reg te leef en dinge te verstaan en reg te doen, soveel so dat ons dikwels vir God in ’n boksie probeer plaas. Wat ons Vader egter van ons verlang, is ’n intieme verhouding met Hom, eerstens deur Jesus Christus sodat ons direkte toegang tot Vader kán kry. Hy wil graag hê dat ons Hom moet vertrou en ons hoop in Hom moet plaas. Daarmee saam gee Hy vir ons ’n belofte dat Hy ons sal herstel, sterk en standvastig maak in Hom. Die krisisse en beproewinge van hierdie lewe duur net ’n kort rukkie, tydelik en vir ’n oomblik, en ons moet weet dat ons ín hierdie wêreld is, maar nie van hierdie wêreld nie. Ná hierdie kort rukkie van lyding wag daar die heerlikheid van Christus op ons (1 Pet.5:10). Dit is ’n belofte van volmaaktheid, gevestig, versterk en in heerlikheid in Hom!
Lees:
Mediteer:
- Wanneer ons Jesus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker, maak Hy ons vry van hierdie wêreld se dinge. Daar is egter ’n geweldige stryd tussen ons vlees en gees. Daarom is dit so belangrik dat ons ons vlees neerlê, deur Jesus in gehoorsaamheid deur die doopwater te volg en die doping van die Heilige Gees te ontvang. Wanneer ons Jesus aangeneem het en God se Gees ontvang het, kan ons ’n intieme verhouding met God die Vader hê, net soos Jesus met God in 'n verhouding staan. Ons word deel van die Drie-eenheid. Deur Jesus Christus is dit moontlik. Het jy al jou hart vir Jesus gegee, jou vlees neergelê en God se Gees ontvang?
- Een van die maniere om intiem met God te verkeer, is om jou af te sonder en in aanbidding voor Hom te kom. Die woorde wat jy gebruik en of jy kan bid of nie, is nie vir God ter sprake nie. Hy sien jou hart, Hy ken jou hart en dit is jou hart waarna Hy verlang. Hy wil jou uitskud van jouself en wil Homself, sy heerlikheid, sy volmaaktheid in jou deponeer. Al wat Hy vra, is dat jy kom soos jy is: in opregtheid voor Hom. Laat alle uitdagings en onmoontlike situasies in sy veilige en betroubare hande. Wat het jy om te verloor?
Bid:
Jesus, U is met Heerlikheid gekroon waar U in hemelse plekke regeer. Vader, U het my ook geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus. Ek plaas my hoop en vertroue in U en is opgewonde oor wat U vir my beoog en omdat u beloftes oor my waar is. Dankie vir u oneindige liefde en genade, u barmhartigheid, lankmoedigheid en trou. U is heilig, U is waardig om aanbid te word.
Bonus: Spreek Lewe!
My vaste hoop en vertroue lê in U, Jesus Christus. Ek sien oorwinning oral waar ek gaan, ten spyte van uitdagings. U is my fondament.
Aanbidding:

Dag 2: Fokus op die Here
Saulus was ’n man wat wet en orde gehandhaaf het. Hy het sy werk vir die regering met doelgerigtheid uitgevoer. Hy het geglo in wat hy doen en dat hy reg laat geskied. Dit was sy missie om te sorg dat die Christene van daardie tyd, wat ’n bedreiging vir die regering inhou, vervolg word. Hy het die kerk vervolg en hom uitstekend van sy taak gekwyt. Dit wil sê, tot daardie een fatale dag. Dit was die dag waarop Saulus op die pad na Damaskus ’n ontmoeting met Jesus Christus self gehad het. Daar, in die middel van sy missie, verskyn Jesus aan Saulus. Saulus word verander deur hierdie ontmoeting met Jesus en word ’n nuwe mens. Selfs sy naam verander. Paulus het na sy bekering ’n nuwe, ander uitkyk op die lewe. Sy fokus is nie meer die dinge van voorheen nie, maar dit wat Koninkryk is. Hy word ’n man wat totaal uitgeskud was van homself en tot nuwe geboorte deur Jesus gekom het.
Wanneer Jesus jou ontmoet, raak jy ontslae van jouself. Alles wat voorheen nie goddelik was nie, word vervang. Jy word dag na dag vernuwe. Jou verharde hart word sag, jou fokus verander.
Paulus het so ’n kragtige bediening uitgeleef dat hy telkemale gestenig is en vir dood agtergelaat is. Hy het elke keer opgestaan deur die Gees van God wat kragtig in hom aktief was. Paulus weet waarvan hy praat wanneer hy sê:
“Therefore we do not lose heart. Even though our outward man is perishing, yet the inward man is being renewed day by day. For our light affliction, which is but for a moment, is working for us a far more exceeding and eternal weight of glory, while we do not look at the things which are seen, but at the things which are not seen. For the things which are seen are temporary, but the things which are not seen are eternal.” (2Cor.4:16-18 NKJV)
Paulus is gestenig, vervolg, toegesluit in kettings, hy was ongewild, hy het geweet wat dit is om honger te wees. Hoeveel keer kon hy sê dit is klaar, daar’s nie meer hoop nie? Die aanslae was geweldig, maar hierdie moeilike beproewinge was net vir ’n oomblik en dit was lig! Hy getuig eerder in sy brief aan die gemeente in Filippi, terwyl hy as gevangene deur die Romeine aangehou word dat hierdie beproewinge lig en tydelik is, en dat die vrede van God oor jou hart en gedagtes sal kom (jou sinne bewaar) wanneer jy alles aan Hom oorlaat en toevertrou (Fil. 4:7).
“You will keep in perfect and constant peace the one whose mind is steadfast [that is, committed and focused on You – in both inclination and character (Is. 26:3 AMP)
Paulus het deur die moeilikste van omstandighede gegaan, maar sy fokus was op Jesus. Daarom kon Hy God se wil uitvoer, gelei deur die Heilige Gees en sy roeping uitleef. Ons kan by Paulus leer en vashou aan die beloftes van God wat sê dat Hy ons in perfekte vrede (Shalom) hou op sy pad wat vir ons ’n gewig van glorie inhou, vir ewig, wanneer ons gedagtes gefokus bly op Hom!
Lees:
Ps. 40:2-3
Mediteer:
- Daar is iets daarin om my fokus te verskuif na die Here. Dit het te doen met my wil en gedagtes; om gedagtes vas te vang en gehoorsaam te maak aan Hom. Om my aandag te vestig op dit wat Hy sê en wat vir Hom belangrik is, eerder as om na my omstandighede te kyk en hoe dit lyk. Dan is daar ’n belofte en 'n werklikheid van perfekte vrede te midde hierdie omstandighede. Talle kan getuig hiervan: perfekte vrede te midde van die storms. Hoe is dit moontlik?
- Paulus sê dat wanneer hy in ’n taal bid, dan bid sy gees, maar sy verstand is onvrugbaar (1 Kor. 14:14-15), dus sal hy met sy verstand ook bid en met sy verstand ook die Here lofprys en aanbid. Hoe verskuif jy jou fokus na die Here?
- Ons is so dikwels ongeduldig en wil nou dadelik verandering sien en beleef. Ons wil nie God se tydsberekening in ag neem nie en wil werskaf om die veranderinge self te bewerk. God se tydsberekening is perfek. Daarom sê Hy, wees stil en weet Ek is die Here (Ps. 46:11). Hy sê ook dat Hy vir sy geliefdes in hulle slaap gee wat hul benodig (Ps.127:2). Waarvoor vertrou jy die Here?
- Het jy dit al vir Hom gegee en vir Hom gevra om sy perspektief vir jou te openbaar? Waar lê jou fokus?
- Sien jy jou laste as lig en tydelik? Hoe vergelyk jou laste met dié van Paulus?
- Paulus en Silas is in kettings geboei in die tronk. Hulle is ongemaklik, mishandel, honger, vuil en vol sere. Met hul gedagtes gerig op Jesus is hulle in diepe aanbidding, onder elke omstandigheid, sonder ophou, nie net omdat hulle so voel of nie so voel nie. (Until God opens a door, I will praise Him in the hallway). Al voel jy nie so nie, worship die Here in jou omstandigheid. Yeshua (my Beloved is the most Beautiful) – Jesus Image
Bid:
Here, ek kies vandag om my wil en denke aan U te onderwerp. Ek was so hardkoppig gewees en het gedink ek weet van beter. Jammer dat ek dit oor alles maak behalwe oor U. Vandag laat ek toe dat U my kom was van myself, my eie ek, my planne en my verstaan, en ek nooi U om my vol te maak van u Gees, u wil, u waarheid en u liefde. My fokus verskuif nou na U, en my hart behoort aan U. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
My fokus is op U en daarom lewe ek in u perfekte vrede ten spyte van omstandighede wat soos storms lyk en voel. Hierdie gevoel is oombliklik en U vervang dit met u perfekte vrede.
Aanbidding:
God Really Loves Us – Crowder, Dante Bowe
Yeshua (my Beloved is the most Beautiful) – Jesus Image
Dag 3: Wat kan ek leer?
I know how to get along and live humbly [in difficult times], and I also know how to enjoy abundance and live in prosperity. In any and every circumstance I have learned the secret [of facing life], whether well-fed or going hungry, whether having an abundance or being in need. I can do all things [which He has called me to do] through Him Who strengthens and empowers me [to fulfill His purpose—I am self-sufficient in Christ’s sufficiency; I am ready for anything and equal to anything through Him who infuses me with inner strength and confident peace.] (Phil.4:12-13 AMP)
Paulus het baie dinge ervaar en in Fil.4:12-13 sê hy dat hy weet wat dit beteken om honger te wees, om oorvloed te hê, om blydskap te hê, om goeie tye en slegte tye te beleef. Ons weet dat hy dikwels vir dood agtergelaat is. Ons kan baie by Paulus leer. Hy noem dat dit belangrik is om uit elke situasie iets te leer, of jy ’n tekort beleef en of jy in oorvloed leef. Hierdie het hy geleer: Daar is sommige dinge wat hy miskien kan doen....
Nee, dit is nie wat hy sê nie. Hy sê, “Ek kan alles doen, ek is tot alles in staat, deur Hom wat my krag gee.” Alles wat die Here my gee om te doen, kan ek doen omdat ek dit uit sy krag doen.
Wanneer ek my lewe oorgee aan Jesus, leef ek nie meer vir myself en in myself nie, maar die Here verander my perspektief om duidelikheid te kry oor my roeping, om hierdie roeping uit te leef, en om in elke situasie te oorwin en te leer wat ek moet. Elke situasie is besig om my te vorm om meer gelyk te word aan Hom.
Paulus het na sy beproewinge gekyk en dit vir homself uitgeklaar. Hierdie dinge is net tydelik, want daar is ’n ewigheid in Christus Jesus en daardie ewigheid het reeds begin!
“Consider it nothing but joy, my brothers and sisters, whenever you fall into various trials. Be assured that the testing of your faith [through experience] produces endurance [leading to spiritual maturity, and inner peace]. And let endurance have its perfect result and do a thorough work, so that you may be perfect and completely developed [in your faith], lacking in nothing.” (James 1:2-4 AMP)
Lees:
Mediteer:
- Paulus is onder ’n hoop klippe agtergelaat. Jou probleme laat jou dalk dieselfde voel; asof jy onder ’n hoop klippe lê. Hoe sien jy jou probleme en uitdagings? Kan jy die geleenthede raaksien?
- Wat leer die Here jou oor jou huidige omstandighede en wat kan jy getuig daaroor?
Bid:
Here, dankie dat ek by U kan leer in elke situasie en dat U my ook help om die geleentheid raak te sien. Dankie, dat U in elke omstandigheid in beheer is en my help om te groei tot geestelike volwassenheid. U Gees lei my en leer my in u waarheid. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God is vir my, wie kan teen my wees! (Rom.8:31)
Aanbidding:
Dancing On The Waves – We The Kingdom

Dag 4: Om ander te help
Hoeveel keer het dit al met jou gebeur dat jy ‘toevallig’ met iemand gesels, of besig is met jou normale roetine en iemand kom oor jou pad wat hulp nodig het? Het jy ’n getuienis van wat die Here ‘toevallig’ in daardie persoon se lewe kom doen het en waarvan jy deel was?
“Jy moenie bang wees dat dit skielik sleg sal gaan met jou nie. Wanneer die stormwinde begin waai oor die mense wat verkeerd doen, dan moet jy nie bang wees dat hulle ook oor jou sal waai nie. Want die Here sal by jou wees, Hy sal keer dat jou voet nie vassit in 'n vangstrik nie. As jy dadelik kan help, dan moet jy dit doen. Jy moenie sê, “Gaan eers terug en kom môre weer, dan sal ek jou help” nie. Spr. 3:25-26,28 (ABA)
Miskien kan jy nie dadelik aan so ’n oomblik dink nie. Wat van ’n vriend of vriendin? ’n Oomblik waarin iemand iets of dalk ’n gesprek nodig gehad het en jy was op die regte oomblik daar. Jy kon waarde toevoeg. Ons het die voorreg om te lewe. Dit waardeur jy gaan, is nie net vir jouself nie. Die Here gebruik jou omstandighede sodat jy ander mense kan help wat deur krisis- situasies gaan. Die Here wil hê dat jou lewe ’n verskil moet maak!
Lees:
Mediteer:
- Watter verskil kan jy met jou lewe maak, sodat ander mense Jesus Christus kan sien? Hoe moet jou fokus verskuif om Jesus te leef?
- Ons dien ’n God wat red en help en daarom kan ek ander mense help en ondersteun. Kyk na die geloofshelde (volgens Heb.11). Hy help die wat in Hom glo en Hom vertrou. God is nie ’n aannemer van persoon nie. As Hy my help, sal Hy jou ook help. As Hy jou help, sal Hy my ook help.
- Die Here maak ons wyser en sterker sodat ons ander mense kan help. Het jy die Here al gevra om iemand oor jou pad te stuur wie jy kan help?
Bid:
Here, U het my eerste lief. U giet u liefde mildelik oor my uit. Ek kan getuig dat U nog altyd daar was en getrou was in my lewe. Omdat U vir my perspektief gee, kan U my ook gebruik om andere te help. Ek is bereid Here. Wys my hoe en waar en wanneer, sodat u Naam verheerlik kan word en U die eer kan kry, deur my lewe. Help my om U so te verteenwoordig, dat ander mense U waarlik sal sien en leer ken. In Jesus se Naam.
Bonus: Spreek Lewe!
Wanneer mense my hulp benodig en ek kan help, help ek dadelik in liefde.
Aanbidding:
Perfectly Loved – Rachael Lampa ft TobyMac

Dag 5: God is vir my, met my, by my
Daniël se vriende is in ’n penarie. Die koning eis dat hulle voor hom kniel, maar hulle kan nie. Hulle buig slégs voor die Allerheiligste! Dan word hul lewens geëis op grond van hul oortuiging en hulel word in die brandende vuuroond gegooi. Dit was vir hierdie drie manne van God belangriker om God te behaag en te doen wat Hy beveel.
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” Jes.41:10 AFR53
Wat gebeur? Die koning verstaan nie wat aangaan nie, want drie mans is in die vuuroond gegooi. Hy sien egter vier en hulle is almal ongedeerd. Hoe kan dit wees? Dit is ’n groot getuienis van God se goedheid en trou. Hy laat geregtigheid geskied en beskerm dié wat Hom eerste plaas en bo enige iemand anders dien.
“Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.” Ps.34:20 AFR53
Jy beleef dalk ’n uitdaging of verskeie uitdagings in jou lewe. Die Here is met jou! By die Here is daar uitkoms, jy is nie alleen nie, maar Hy gee jou krag in elke situasie. Bly jy net gevestig op die rots.
Die goeie werk wat die Here in jou lewe begin het, sal Hy tot aan die einde deurvoer. Paulus sê in Christus is selfs die dood ’n wins, dit sal hom nie kelder nie.
Die Here sê dat sy beloftes oor jou lewe ja en amen is! (2Kor.1:20)
Lees:
Mediteer:
- Watter van God se beloftes oor jou lewe is waar?
- Wat beteken dit dat God se beloftes vir jou "Ja" is?
- Wat is jou antwoord, jou reaksie teenoor hierdie beloftes?
Bid:
Here, u beloftes oor my lewe is waar. U is waaragtig goed en getrou. Ek besef dit is wantroue en ongeloof wat my so dikwels kelder. Ek behoort nou aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. Elke belofte van U is waar en ek sê Amen op u woorde. Dankie, vir die blydskap (u blydskap) wat U in my uitgiet. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Met U loop ek ’n bende storm en met my God spring ek oor ’n muur! (Ps.18:30)
Aanbidding: