FINDING PURPOSE
Neville Goodchild
Jou oortuigings oor jouself bepaal jou deelname in verhoudings, lewensvreugde en beïnvloed jou grootste besluite
Dag 1: Intussen
Het jy al Woord gekry oor jou lewe? Is dit Woord waaraan jy vashou om in vervulling te kom of beleef jy daagliks hierdie Woord in vervulling? Het jy al vergeet wat die Woord oor jou lewe is? Het jy nog nie probeer uitvind nie? God het jou gemaak vir ‘n spesifieke en unieke doel. Dit is belangrik om uit te vind wat hierdie doel is.
Soms wag ons vir hierdie profetiese woord wat ons gekry het om in vervulling te kom, en die wag tydperk en twyfel kan ‘n mens lam lê. Gaan hierdie Woord realiseer? Is dit werklik ‘n Woord vir my?
Die aksies wat jy dan neem, die gesprekke en gedagtes waarby jy jou skaar, dit waarmee jy jou intussen besig hou is belangrik. Dit waarop jy fokus, bepaal jou lewe. Terwyl jy wag kan jy maklik vasval en stagneer oor dit wat in die toekoms lê en wag.
Jy het nodig om vas te hou aan die Woord wat die Here oor jou gespreek het, terwyl jy intussen besig bly met die regte dinge. God Self eer hierdie Woord en daarom moet jy dit diep huldig. God sê dat Hy Sy Woord en Sy Naam bo alle dinge verheerlik (Ps.138:2). Die Woord wat God oor jou lewe gespreek het, wil Hy graag in vervulling bring. Dit bly jou keuse of jy jou lewe by Sy Woord wil skaar en sien hoe Sy goeie en getroue wil vir jou lewe in vervulling kom. Wat is jou antwoord op Sy roepstem vandag?
Lees:
Mediteer:
- Hoekom sal God wat jou geskape het, jou skape sonder ‘n doel?
- As jy nie weet wat die Woord oor jou lewe is nie, of vergeet daarvan sal jy die pad byster raak. Wat kan jy doen om hierdie doel vir jou lewe uit te vind?
- Hoe kan jy seker maak dat God se Woord realiseer in jou lewe?
- Wat beteken Joh.10:10 vir jou?
- Eerder as om bekommerd te wees oor eendag, wat kan ek nou doen?
Bid:
Here, kom gee vir my roeping en help my om dit vas te maak oor my lewe. Kom breek vir my oop wat ek nie verstaan oor die roeping wat U vir my het nie. Ek kies vandag dat ek U wil vir my lewe wil soek en in vervulling wil sien. Help my asseblief om in die tussentyd besig te wees met die regte dinge, om los te kom van die dinge wat vashou en nie vas te val in die dinge van eendag nie. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Wanneer God se wil vir my lewe realiseer, word Sy Naam verheerlik!
Aanbidding:
Dag 2: Eendag vs Vandag
Ons gesels oor ons doel in die Here en hoe God daaroor dink. Hoe dink God oor Sy Woord? Hy ag dit hoog bo alles. Hy sê Self: “so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes.55:11). Dus is dit in God se belang om seker te maak dat Sy Woord realiseer. Sy Woord kan nie faal nie, kan nie teleurstel nie. Dit is daarom vir ons belangrik om uit te vind wat die unieke Woord oor ons lewens is en daaraan vas te hou.
Die lewe kan vir ‘n mens ‘n paar draaiballe gooi. As ons net vaskyk in die moeilike dinge en alles wat ons dink, doen en praat gaan daaroor, dan verval ons in ‘n lewe wat God nie vir ons in oog gehad het nie en kan ons ons doel mis. Waarop of waarin is ons hoop dan? As God ons in liefde geskape het vir Sy volmaakte wil en doel, en soveel opgeoffer het vir ons, sal Hy ons dan net los en laat vergaan? Is Hy dan nie ‘n God op wie se beloftes ons kan staatmaak nie?
God is betrokke in die hier en die nou van ons elke dag. Hy het ‘n unieke doel vir ons elkeen vir nou. Hy verklaar aan Jeremia “...I am [actively] watching over My word to fulfill it” (Jer.1:12). Dit bly in God se karakter om te doen wat Hy sê. Hy is getrou aan Homself en aan ons en is nie ‘n dubbelhartige God nie. Hy het reeds Sy Seun geoffer, sodat ons kan leef!
God het vir ons beloftes vir die toekoms en ons weet God is in die toekoms, maar God is ook in vandag. Wanneer ons fokus te veel is op destiny, op die “eendag”, dan mis ons die oomblik van vandag.
Hy wil betrokke raak met Sy Woord, met Sy vingerafdruk op jou lewe. Daar is dinge wat vandag aandag benodig. Ons verhoudings is in vandag. Ons het nie nodig dat ons bekommernis oor eendag so ‘n las word, dat dit van vandag steel nie. God is getrou oor Sy Woord. Hy sal sorg dat dit in vervulling kom. Vandag is hier om te geniet en in oorvloed te leef. Wanneer ons in oorvloed leef, word God verheerlik in en deur ons lewens.
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh.10:10).
Lees:
Mediteer:
- Vandag, meer spesifiek nou op hierdie oomblik wat jy lees, is God se wil en Woord oor jou lewe. Jy is nie toevallig hier nie. God het ‘n baie unieke doel met jou. Hy het hierdie lewe aan jou geskenk om te leef!
- Wat verstaan jy uit Heb. 3 v7 en v15 oor vandag?
- As jy jou bekeer het en Jesus se vergifnis van jou sondes en genade vir jou aanvaar, dan is jou saak met God reg. Jou destiny is by God in die ewige lewe. Jy het dit reeds. Jy is uitverkies. Hoe leef jy intussen tot en met daardie dag?
- God is bo tyd. Hy het tyd vir ons geskape, sodat ons perspektief kan hê in vandag. Hy self kan nie gebind word aan tyd nie. Hoe gebruik jy hierdie tyd?
Bid:
Here, U is in vandag, selfs wanneer ek dit nie besef nie. Ek wil graag my fokus hou by U wil vir my lewe en spesifiek ook vir vandag. Dankie dat ek kan weet dat hier en nou nie toevallig is nie, maar dat U vir my ‘n doel het om uit te leef en dit is nou. Ek maak staat op U Woord wat vir my rigting gee. Help my asseblief om my fokus reg ingestel te hou sodat ek nie die oomblik mis nie. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
“Jy kan nie jou doel opmaak nie, maar jy kan dit af bid” – Robert Morris
Aanbidding:
Here With You – Hillsong Worship
Dag 3: Roeping en Uitverkiesing
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet.1:10-11).
Wat is die verskil tussen roeping en verkiesing?
Is jy uitverkies? Ons as mense is uitverkies om saam met God in die hiernamaals vir ewig te regeer. Jesus Christus het gesterf vir die hele mensdom. God het almal uitverkies om altyd saam met Hom te wees, naby aan Hom, maar nie almal sê “Ja” nie. Hy het my gekies en Hy het jou gekies. Jy moet net “Ja” sê vir Hom. Hy het jou al lankal gekies. Om gekies te wees beteken dat ons ja gesê het vir Sy roepstem en die voorreg het om deel te word van Sy binnekring. Ons is nader aan Hom en sal eendag vir altyd saam, naby Hom wees. Hy wag reeds vir ons in eendag.
Jou roeping is uniek en handskoen-pas vir jou lewe ontwerp. Dit is God se wil vir jou lewe op aarde en jy het die vermoë as mens om hierdie roeping te vind (en te verstaan), te volg en te vervul. Wanneer jy hierdie roeping in jou lewe vind, beleef jy ‘n diep oortuiging daaroor en jy begin om jou besluite en aksies daarvolgens te belyn. Vervulling in jou lewe lê opgesluit in die roeping waarvoor die Here jou gemaak het. Jou roeping is nie iets wat jy uitdink nie. Dit is ‘n lewensdoel wat die Here vir jou gee en waarvoor jy instem en ook af bid. God het vir jou ‘n vrye wil gegee en daarom het jy ‘n keuse.
“IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Pet.1:3).
Hierdie vers beaam dat ons alles in hierdie oomblik ontvang het om ‘n sinvolle bydrae te kan maak in die mense om ons se lewens. Wat is jou antwoord?
Lees:
Mediteer:
- Die Here gebruik jou kragtig in die omstandighede waar jy is. Jy het nie noodwendig nodig om uit jou omstandighede geneem te word, om jou roeping uit te leef nie. Daar waar jy is, is die Here teenwoordig, en is Hy betrokke.
- Jou roeping is vir hier op aarde; jou uitverkiesing is vir eendag in die hemel.
- Beleef jy God in vandag?
- Wat keer jou om jou roeping uit te leef?
Bid:
Vader vandag vra ek dat U my roeping hier op aarde sal openbaar, sodat ek dit kan nastreef en vervul. Ek vertrou dat ek U stem sal hoor, en duidelikheid sal kry hieroor. Dankie dat ek kan weet dat U reeds vir my wag in die lewe hierna, en dat ek in Christus nou kan fokus op vandag. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het die vermoë om my roeping te vind, te volg en vervul in Hom!
Aanbidding:
Dag 4: Hoekom
Is dit belangrik om te weet wat jou roeping is en daarin te wandel?
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet.1:10-11).
Waarom struikel ons? Omdat ons nie ons roeping en uitverkiesing vasgemaak het nie. Ons het ‘n waarborg dat as ons dit vasmaak, ons nie sal struikel nie.
“For this reason, beloved ones, be eager to confirm and validate that God has invited you to salvation and claimed you as his own. If you do these things, you will never stumble. As a result, the kingdom’s gates will open wide to you as God choreographs your triumphant entrance into the eternal kingdom of our Lord and Savior, Jesus the Messiah” (2 Pet.1:10-11 PT).
Wanneer jy jou roeping vasmaak, wees verseker dat die deure van die Koninkryk vir jou wawyd oop is. Jy word ryklik in oorgawe geseën om uit die Here te ontvang wat jy nou reeds benodig! (Mat.16:19) Wanneer jy God se wil en roete vir jou lewe kies, beleef jy die seën van die Here op jou roete.
Ons moet ons roeping en verkiesing vasmaak, sodat ons standvastig sal wees en nie heen en weer geslinger word nie (Jak.1:6).
“Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Pet.1:16);
Sodat ons kan klaarmaak met dinge wat misleidend is, op die oog af goed en reg lyk, maar nie Koninkryk gefokus is nie.
Sodat ons verandering in mense se lewens kan sien en ons en almal om ons se lewens kan begin sin maak, doel geopenbaar word en keuses gemaak word volgens God se wil.
Is jy gereed om ‘n lewe van vervulling te leef?
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan ek my uitverkiesing vasmaak?
- Hoe kan ek my roeping vasmaak?
- Dit is net Hy wat vir ons identiteit kan gee en ons kwalifiseer!
Bid:
Here, ek word stil en vra dat U asseblief my roeping aan my sal openbaar sodat ek dit kan verstaan. Ek wil graag standvastig wees in U, sien hoe ander se lewens begin sin maak (ook my eie), nie mislei word deur die wêreld nie, en beleef dat ek vrye toegang het tot wat nodig is uit U Hand. Ek plaas vandag my vertroue in U, dat U vir my sal openbaar wat U wil vir my lewe is. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek vind God se Wil vir my lewe uit (my roeping), en ek begin leef daarvolgens, sodat ek standvastig kan wees en my lewe kan sin maak.
Aanbidding:
Dag 5: Hoe?
Kan ons ons roeping en verkiesing vasmaak? Hang dit ook van ons af?
Ja!
IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug (2 Pet.1:3).
Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. (V8-V9)
Jesus was die Enigste seun van God, maar nadat Hy gesterf het en opgestaan het uit die dood, het Hy die Eersgeborene geword. Dus is Hy die eerste van baie broers en susters. In ‘n huis waar daar oudste broers is, is dit algemeen vir die jonger broers en susters om hulself in hul oudste broer raak te sien. Dit is die voordeel wat ons het met Jesus as ons ouer broer. Ons sien in Hom wie ons is. Om kennis op te doen van Hom, doen ons ook kennis van onsself op.
Jesus is die perfekte afbeelding van Vader God (Heb.1:1-3). As jul My ken, ken jul My Vader (Joh.14:7). Wanneer ons kennis opdoen van Jesus Christus, en in geloof kom in Hom, dan aktiveer Hy groei in ons lewens. Hy aktiveer ons geloof, en Hy groei ons. Ons moet Hom net voor oë bly hou. Soos ons na Hom kyk, begin ons onsself raaksien soos in ‘n spieël. Ons begin ons ware refleksie sien, soos wat Hy ons geskape het.
Vir ons wat tot geloof gekom het in Hom, Hom gevolg het deur die doop waters en die Heilige Gees ontvang het, is daar nou ‘n nuwe Geesvervulde lewe wat wag. Ons stel onsself oop om gelei te word deur die Heilige Gees en ons handhaaf die nodige Geestelike dissiplines. Soos Paulus aan Timoteus verduidelik: “Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms” (1 Tim.4:8).
Dit is net Hy wat vir ons hoop, stabiliteit en kontinuïteit gee. Hy wil vir ons ‘n droom gee en ons help om dit te vervul op ‘n Goddelike wyse.
Kom ons begin opreg soek na Sy wil en doel vir ons lewens!
Lees:
Mediteer:
- Jesus Christus is die grootste en kosbaarste belofte wat God aan ons geskenk het. Hy het dit reeds vir ons gegee. Hoe kan ons ‘n broer/suster van Jesus word?
- Om te groei in die Gees, waar moet ons begin? (2 Pet.1:5-7)
- Hoekom is dinge van die Gees dwaasheid vir die vlees?
- Hoe kan ons die Gees ontvang, sodat ons ons roeping kan vind?
- Hoe kan ons ons roeping en verkiesing vasmaak?
Bid:
Here ek het U leiding nodig om kennis van U op te doen. Gee vir my die nodige geloof en passie, sodat ek die openbaring kan kry wat U vir my wil gee. Kom bedien my met U Self. Ek wil die roeping wat U vir my het vind, uitleef en vervul. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jy kan nie jou lewensdoel uitdink nie. Dit word deur God gegee. Jy het die Gees nodig om hierdie roeping te vind, verstaan en te vervul! Waar lê jou bydrae? Deur geloof, die kennis van Jesus Christus te soek en jou roeping en verkiesing vas te maak.
Aanbidding: