Go Deep 23 Junie 2024

Om die kwaad te oorwin…

Neville Goodchild

OORWIN KWAAD MET GOED

 

Dag 1: Dit was nie toeval nie, nie “luck” nie.

Toevallig…:

  • Het ons vyf minute later gery, anders sou ons ook in daardie ongeluk gewees het.
  • Was die paramedisie dadelik op die toneel, anders sou hy dit moontlik nie gemaak het nie.
  • Was dit net mooi die item wat ek nodig gehad het, wat hulle in voorraad gehad het.
  • Het dit net betyds gereën en het ons ‘n wen oes gehad.

So baie goed word daagliks aan toeval of geluk (‘luck’) toegeskryf.

As kinders van God weet ons egter die waarheid, dat elke goeie gawe wat ons op die aarde ontvang, is ‘n geskenk uit die hand van die Vader in die hemel. Jak.1:17 “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

Daarom is elke situasie, goed of sleg, ‘n geleentheid om God te verheerlik. Dit gaan nooit om die situasie nie, maar om God wat regeer en wat alles ten goede laat meewerk vir die een wat Hom liefhet en tot voordeel van die liggaam van Christus.

Die wêreld kan praat van geluk en toeval, maar ons wat weet wat die waarheid is, moet waarheid spreek en leef en God eer vir die goeie wat Hy in ons lewens en deur ons lewens doen.

LEES:

Jak. 1:17

Mediteer:

  • Raak vir ‘n paar sekondes net stil en dink aan jou eie lewe. Hoeveel keer was jy al kwaad of geirriteerd oor jou gesin wat laat was of oor iets wat gebeur het en jy het iets gemis of jy was net te laat vir die afsny tyd?
  • Sê jy ook soms iets soos; “Nee wat, ons ‘luck’ was uit vandag.”
  • Wat wil jy kies om te glo, dat jou lewe op ‘luck’ gebasseer is of dat jou lewe absoluut in Vader se hande is?

Bid: 

Dankie Vader dat my lewe nie aan ‘luck’ hoef uitgelewer te wees nie, maar dat ek kan weet en ‘n vaste vertroue het, dat my lewe is veilig in U hande en dat U my die heeltyd in u oog het. Ek gee nou weer my lewe ten volle oor in U hand en vra dat U my lewe sal rig en lei volgens dit wat U weet die beste is vir my en U koninkryk. Amen.

Spreek Lewe!

Vader laat alles ten goede meewerk vir my wat Hom liefhet, ook die foute en verkeerde paaie wat ek neem.

Aanbidding:

Where Can I Go – Psalms 139 – Ellie Holcomb

Dag 2: Begeer God met alles en in alles

Dit is opvallend dat die frekwensie van die “goeie gawes” wat ons van God ontvang (Jak. 1:17) eksponensieel toeneem, hoe meer ons tyd in God se teenwoordigheid deurbring en Hom soek en vind.

Hoe meer ons God begeer, hoe meer sal God gebeur en hoe meer sal dit duidelik word dat God regeer.

Soveel keer mis ons hoe God goed voorberei in ons lewe, partykeer oor lang tydperke, om by ‘n goeie uitkoms uit te kom. Ons is besig om te spartel en beangs rond te kyk. Ons fokus op die huidige, tydelike en soms waardelose realiteite wat ons nou sien en beleef. God wat alles weet en alles sien is onveranderlik lief vir Sy kinders en besig om te werk of ons dit besef of nie. Hy werk om alles ten goede mee te laat werk vir die wat Hom liefhet.

Fokus op God en soek Hom elke dag meer, om elke dag meer en meer openbarings van God en Sy hart vir hierdie wêreld te beleef. Dit moet vir ons ‘n stryd om lewe en dood wees, dan sal ons by die hart van God uitkom. Hierdie wêreld en al die mense op die aarde is vir God belangrik en Hy kies om elkeen van ons te gebruik in Sy plan om elke mens te bereik en te red.

Lees:

Jak. 1:17

Heb. 12:4

Mediteer:

  • Wat is die fokus van my lewe? Waarmee is jou gedagtes, jou drome, jou planne of dit waaroor jy opgewonde raak besig?
  • Kan jy sê dat Vader en Sy koninkryk jou grootste fokuspunt is en dat jy baie keer in jou gedagtes besig is met Vader se koninkryk en dat jy planne maak en dink oor hoe kan jy vandag deelneem aan die uitbreiding of opbouing van Sy koninkryk?
  • Is mense wat verlore gaan op jou gedagtes?
  • Begeer jy God met alles en om Hom in alles en almal te sien?

Bid:

Vader ek kom bely voor U vandag dat ek soveel keer so maklik hierdie wêreld en sy begeerlikhede my fokuspunt maak, dat ek soveel keer al my energie spandeer aan die nou en die tydelike. Vader help my om vry te kom van ‘n aardse uitkyk en help my om my fokus te skuif na dit wat ewig is, na U en U koninkryk. Kom skep in my ‘n alles oortreffende begeerte na U. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

In U en deur U is alles wat ek nodig het.

Aanbidding:

More of You - Julius Magan

Dag 3: Lewe na die Gees en nie na die vlees nie

In ‘n vreemde land is ‘n mens verlore op meer as een manier. Eerstens verstaan jy nie die taal nie, maar dan is daar ook kultuur verskille en godsdienstige wette. Jy kan jouself baie vinnig, heel onskuldig in die moeilikheid bevind, en dit as gevolg van onkunde. Dit is dus wys om saam met ‘n toergids of ‘n groep te beweeg wat bekend is met die omgewing en leefstyl.

Net so het ons in ons geestelike lewe ook ‘n gids nodig. Dit is die Heilige Gees. Dit is belangrik om te besef dat God is gees en ons kan nie die dinge van die gees oordeel uit die vlees nie. Ons het die Heilige Gees van God nodig om ons te lei. Die Heilige Gees openbaar God se hart aan ons. Dit is nie iets wat ons rasionele denke kan probeer uitredeneer nie. Ons sal nooit in die regte verhouding met God kan staan en openbaring van God kan kry, uit die vlees nie.

God soek mense wat Hom in gees en waarheid aanbid. Sodra ons God aanneem, lê ons die vlees neer en neem in Christus Jesus die Heilige Gees op. Ons het die Gees en daarom weet ons alle dinge. Die Heilige Gees is ons primêre verwysing as wedergebôre kinders van God. In die Gees is ons deurgans bewus van God wat oral besig is om te werk en ons beleef dat God regeer. Ons kan getuig van belewenisse van God se goedheid en ons verheerlik God en eer Hom vir sy goedheid.

Die vleesmens mis die openbaring van God in elke dag se gebeure en wanneer slegte goed gebeur is die vleesmens se eerste reaksie twyfel en ongegronde agterdog oor God se motiewe en aksies.

Ons wat uit die gees gebôre is, leef in die wêreld, maar is nie van die wêreld nie. Ons het ‘n vaste oortuiging van wie God is en dat Sy hart liefde, goedheid en guns vir ons het. Die Woord sê dat God is ons hemelse vader. As aardse vaders weet om goeie goed vir hulle kinders te gee, hoeveel te meer nie ons hemelse Vader nie. Ons weet dat ons op hierdie aarde gebrokenheid sal sien en beleef, maar die Heilige Gees sal ons krag en wysheid gee om alles te oorkom. God weet dat Hy ons toegerus het met alles wat ons nodig het om op hiedie aarde ‘n betekenisvolle en dankbare lewe te kan lei tot Sy eer. Ons het die Heilige Gees nodig. As ons probeer om uit die vlees te leef is ons soos ‘n verdwaalde toeris in ‘n vreemde land.

Lees:

Jer. 29:11

Hand. 1:8-14

Joh.17:16-26

Matt. 7:11

Mediteer

  • Raak stil vir ‘n oomblik en besin oor boonste gedeelte, lewe jy deur die Gees of lewe jy deur die vlees?
  • Kan jy getuig van ‘n lewe waar jy weet en jy die vrug kan sien dat jy deur die Gees gelei word?
  • Wie is jou gids op ‘n daaglikse basis, is dit jyself met jou eie insigte, jou eie begeertes en wil of is jy sensitief vir die Heilige Gees se stem en leiding?

Bid: 

Dankie Vader vir U Gees wat in my woon en graag met my U hart en wysheid deel. Vader help my asb om sensitief te wes vir U Gees se stem en leiding. Vader ek lê nou weer my eie wil en eie vlees begeertes en oortuigings neer en gee myself nou weer ten volle oor aan U Gees se leiding. Heilige Gees praat asb met my en lei my. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kan die volle openbaring van God se wil vir my lewe kry deur die Gees van God wat in my woon.

Aanbidding:

Speak to me | Bethany Music | Official Music Video

Dag 4: Nooi God in elke situasie in

Al het ons wedergeboorte ontvang en die Heilige Gees woon in ons, gaan ons lewens nie outomaties getuig van die goedheid van God nie. God se goedheid gaan nie sommer net manifisteer, wonderwerke gebeur en die verlore siele trek na die koningkryk van God nie. Nee. Romeine 12 verduidelik mooi vir ons dat ons ‘n keuse moet maak om ons liggaam te gee as ‘n lewende offer. Ons moet die Heilige Gees wat in ons woon, elke dag toelaat om God, deur ons, aan ons wêreld te openbaar.

John Eldridge het gesê dat wanneer hy in enige situasie inloop wat die potensiaal het om verkeerd te loop, dan bid hy tot die Vader en nooi Hom in daardie situasie in. Hy weet dan dat dit nie saak maak of die uitkoms lyk na ‘n wins of verlies nie, want omdat dit in God se hande is, sal dit op die einde bewys dat God is goed; God oorwin die kwaad; God is in beheer en God regeer.

Die doel is om die kwaad te oorwin deur die goeie. Daarom is dit nodig dat ons  goeie ambassadeurs van die Koningkryk van God  op aarde sal wees. Al manier wat ons dit kan regkry is om in die Gees te leef (Rom. 12), God te begeer in ons lewens, God in te nooi in elke situasie en dit vir Hom te gee en ‘n vaste vertroue te hê dat die goeie, volmaakte, welgevallige wil van God, in elke uitkoms sal wees.

Dit is dus belangrik om intensioneel te lewe. Weet dat dit ‘n aktiewe stryd is tussen goed en kwaad, lig en duisternis. Laat jou lewe getuig van God se almag, goedheid en liefde, deur die Heilige Gees wat deur jou werk.

Lees:

Rom. 12

Mediteer:

  • Het jy al ‘n aktiewe besluit geneem om nie meer in die vlees te lewe nie maar om daagliks oor te gee aan die Gees en volgens Sy karakter, stem en leidinge te leef?
  • Indien nie, neem nou ‘n besluit en sê dit vir Vader.
  • Dink vir ‘n oomblik aan jou gemiddelde dag. Hoeveel verskillende situasies is daar in een dag waar jy met mense te doen het? Partykeer ‘n ontspanne gesprek, die volgende oomblik ‘n konfronteerende situasie. Die een situasie of interaksie na die ander. Die vraag is, hoe lyk jou ambassadeurskap vir die koninkryk in jou gemiddelde dag?
  • Dink daaroor na of jou lewe deel is van die lig(goeie) wat die donkerte(kwaad) oorwin?
  • Voorstel: Neem paar minute elke oggend en gee jou dag intensioneel oor aan Vader en gee jouself as heilige offer sodat Hy jou kan gebruik vir daardie dag. Vra ook die Heilige Gees om jou sensitief te maak in elke situasie sodat jy kalm en rustig kan wees, sodat jy ‘n goeie ambassadeur vir God se koninkryk kan wees.

Bid:

Vader ek gee vanoggend my lewe aan U as ‘n lewende en heilige offer om deur U gebruik te word as ambassadeur vir U koninkryk. Heilige Gees kom maak my sensitief deur die hele dag vir U stem. Help my om daar waar ek is in elke situasie, ook daar waar dit my onkant vang in ‘n konfronterende situasie, dat ek sensitief sal wees vir U Gees se stem. Herrinner my in elke oomblik dat ek deel is van U lig wat die duisternis moet oorwin deur die goeie.

Bonus: Spreek Lewe!

Duisternis kan nooit lig verdryf nie, maar lig sal altyd duisternis verdryf.

Aanbidding:

Casting Crowns – All Because of Mercy (Lyric Video)

Dag 5: Oorwin kwaad met goed

Rom. 12:21 "Do not let yourself be overcome by evil, but overcome (master) evil by doing good.”

Rom. 12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Ons moet begryp dat kwaad “evil” is elke gedagte, persoon, optrede en situasie wat ons keer om in God se volmaakte wil in te beweeg of wat ons uit God se volmaakte wil laat uit beweeg. Dit veroorsaak skeiding tussen ons en God. Die vyand wil ons stil maak. Hy wil ons drome steel. Hy wil graag hê dat ons ons doel op aarde moet mis en vir ewig verlore moet wees.

Ons moet opstaan teen die kwaad. Die doel van God se goedheid was nooit om te sê, “Ek is die geseënde van die Here.” nie, maar die plan is om die kwaad te oorwin met die goeie.

Dit is God se wil dat almal wat op aarde is Sy kinders moet wees, in verhouding met Hom wees en vir ewig gered moet wees, dat almal Hom moet aanneem as verlosser en saligmaker en gered moet word. Alles wat gebeur, word deur hierdie sentrale begeerte en belang gedryf.

Therefor let our mission be to “populate heaven” and “plunder hell”, Heb. 2:10.

Lees:                

Rom. 12:2 and 21

Heb. 2:10

Mediteer:

  • Jesus het die volkome prys betaal soda tons nie net die ewige lewe kan beërwe nie maar ook da tons deur die heilige Gees ook nou reeds die kwaad(evil) of duisternis kan oorwin.
  • Hoe sal ons kwaad of duisternis rondom ons oorwin? Deur die goeie te doen, genade en liefde te leef en om lig te wees daar waar ons duisternis kry.
  • Dit beteken prakties iets soos; om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, om genade te toon selfs daar waar dit onverdiend is, om iemand met respek  te hanteer, om  jammer te sê, om ‘n aggresiewe houding met vriendelikheid te nader, om die minste te wees, om die vrug van die Gees te hê, om ‘n sondaar aan Jesus voor te stel ens.

Bid:

Vader help my om ‘n ligdraer te wees, om vrede en genade te versprei, om deur my lewe die duisternis terug te druk. Help my asb om daagliks U waardes en beginsels uit te leef sodat U koninkryk beginsels deur my lewe die koninkryk beginsels van Satan kan terug druk en oorwin. Ek kies vandag weer om deel te wees van U koninkryk en om aktief deel te neem aan U plan om deur die goeie die kwaad te oorwin.

Bonus: Spreek Lewe!

Die kwaad en duisternis het geen ander keuse as om die knie te buig voor die goeie en die lig nie.

Aanbidding:

Casting Crowns - Nobody (Official Lyric Video) ft. Matthew West