Oorwin die Kwaad met Goed
Neville Goodchild
Dag 1 Toevallig versus die Realiteit van God se Goedheid
In ons kerk klink die woorde op:”This is amazing grace, This is unfailing love, That You will take my place, That you will bear my cross ...”
Ons besef dit nie altyd nie, maar wanneer ons wedergebore is, het ons ewigheidswaarde. Daar is ʼn ewigheidsrolprent vir elkeen van ons beplan, lank nog voordat ons gebore is. Dit is nie ʼn riller wat bangmaak nie, nee, dit is vol van goeie goed wat God vir ons beplan het. God is so ernstig oor ons dat Hy Sy seun laat kom het om ons kruis ook op te neem.
Hierdie erns van God oor ons, maak dat Hy soms goeie goed met ons laat gebeur om ons aandag te hervestig op ons roeping. Hy doen dit nie om in ons goeie boekies te kom nie, Hy hoef nie, Sy plan is baie meer omvattend as om ʼn sleepwa op die langpad agter ʼn bakkie veilig te hou sonder om om te slaan. Wanneer ons gered is, besef ons wanneer God goeie goed met ons laat gebeur en ons is dankbaar daaroor, maar wat van vóór ons gered was? Daar het tog ook goeie goed met ons gebeur? Juis. God was nog altyd goed. In die verlede het ons dit dalk ʼn toevallige geluk genoem, maar nou besef ons dat dit nog die heeltyd God was wat ons aandag soek. Die bron van goedheid het nie van posisie verander nie, ons Rots was nog altyd goed en sal altyd goed wees. Lees hoe mooi word dit in Jakobus 1:16-18 gestel.
Niks van God se goedheid het verander nie, nee, dit is ons ingesteldheid wat verander het toe ons wedergebore is. Nou probeer ons om deur ons lewens Sy koninkryk en Sy invloed uit te brei onder dié wat Hom nog nie ken nie.
Lees
Mediteer
- Laat God goeie dinge met my gebeur bloot omdat ek so oulik is, of is daar ʼn dieper rede?
Gebed
Vader, U goedheid en guns is ewigheidskuns. Dankie dat ek deel is van u meesterplan. Amen
Spreek Lewe
Jesus het vir my gesterf, vir my ...
Aanbidding
Honestly, we just need Jesus - Terrian

Dag 2 Minimum deelname versus geesgerigte doelgerigtheid
In die New Living Translation klink Romeine 12:1-2 so: “And so, dear brothers and sisters, I plead with you to give your bodies to God because of all he has done for you. Let them be a living and holy sacrifice—the kind he will find acceptable. This is truly the way to worship him. Don’t copy the behavior and customs of this world, but let God transform you into a new person by changing the way you think. Then you will learn to know God’s will for you, which is good and pleasing and perfect.”
Ons weet dat ons gered is, want ons is wedergebore. Minimum deelname sou beteken dat ons dan maar kerk toe gaan Sondae, hier en daar iets goeds probeer doen en soort van aan ploeter met ons alledaagse bestaan. Paulus vra egter meer van ons. Offer julle liggame, sê hy. Hy probeer ons oorreed dat daar baie meer aan ʼn verhouding met God is as om net gered te wees. Wanneer ons met die nuwe insig en ingesteldheid leef dat enige oomblik of situasie ʼn kans is om dapperheid te toon en waar daar boosheid is dit teë te staan in Sy naam, begin ons doelgerig groei en bydra tot Sy koninkryk. Wanneer ons dit wat “evil” is oorweldig met die goeie, transformeer God ons in nuwe mense wat al meer en meer in lyn kom met die plan wat Hy met ons lewens het.
Die feit dat ons lewendige offers is, beteken dat ons geplaas is om reg te maak wat stukkend is, op te tree wanneer ander stil bly, nie soos die wêreld te wees nie. Dit kort natuurlik moed en deursettingsvermoë, maar die uiteinde is ‘n doelgerigte lewe wat loop in Sy plan.
Lees
Mediteer
- Waar in jou persoonlike lewe kan jy ʼn offer wees van God se goedheid?
Gebed
Vader, gee ons die krag en selfvertroue om die slegte te oorwin met die goeie in U naam. Laat ons lewens U bly maak, Here, gee ons die insig en denke om nader en nader aan ons roeping te kom. Amen
Spreek Lewe
Ek hoef nie bang te wees om goed te doen nie. Hy staan agter my.
Aanbidding
Together- Chris Tomlin

Dag 3 Josef, die toonbeeld van deursettingsgeloof
Josef se storie word in Genesis 37 tot 50 vertel, u kan dit gerus weer lees. Josef se verhaal is ʼn fantastiese voorbeeld van iemand wat verstaan het dat hy op aarde is om doelgerig met God se werk voort te gaan, ten spyte van sy omstandighede.
ʼn Baie slegte ding gebeur met ʼn jong Josef wanneer sy broers hom verkoop aan slawehandelaars. Dink jou in; watter trauma moes hy deurgaan, hoeveel keer sou hy nie vrees vir sy lewe nie, hoeveel keer sou mense hom nie verneder het nie, Josef die slaaf. Met tyd kom hy in die guns van Farao en later verkry hy beheer oor die berging van al die koring in Egipte om ʼn hongersnood teen te staan. Die einste broers wat hom verkoop het, buig voor hom wanneer hulle koring wil kom koop. Josef gebruik nie die oomblik om wraak te neem of selfs neerhalend op te tree nie. Nee, Josef het die geestelike insig om te besef dat alles wat met hom gebeur het, deel van sy roeping is. In Genesis 45:8-9 is hy aan die woord:”So it was not you who sent me here, but God. He has made me a father to Pharaoh, and ruler of all his house, and of all the land of Egypt. Hurry and go to my father. Say to him, ‘Your son Joseph says to you, “God has made me ruler of all Egypt. Come to me, and do not wait.”
Deursettingsgeloof. Josef se tipe van geloof. Selfs wanneer dit met hom sleg gegaan het, was hy deurentyd gerig op God.
Lees
Mediteer
- Is jou geloof so sterk soos Josef sʼn en as dit nie is nie, wat kan jy nou doen om ook deursettingsgeloof te toon?
Gebed
Vader, dankie dat U al vanuit die tye van Genesis Uself intens deelmaak van ons wat in U glo, selfs al besef ons dit nie altyd nie. Help ons om ten alle tye te besef dat dit wat met ons gebeur omgeswaai kan word om in U plan te pas. Dankie vir U uitsonderlike genade. Amen
Spreek Lewe
Ek het toegang tot God om ook deursettingsgeloof te toon.
Aanbidding
Do it Again – Chris Brown and Brandon Lake

Dag 4 Dit sneeu; goeie dag om ʼn leeu dood te maak
In die 1953 vertaling van die Bybel in Afrikaans lees ons in 2 Samuel 23 van ʼn klomp manne wat ʼn groot rol gespeel het om Israel te vestig. Een van hulle, Benája, die seun van Jójada, beweeg half onder die radar, maar sy naam verskyn in baie plekke in die ou testament.
“... 'n sterk man, groot van daad, uit Kábseël; hy het die twee groot helde van Moab verslaan; en hy het afgegaan en 'n leeu binne-in 'n kuil doodgeslaan op 'n sneeudag. Hy het ook 'n Egiptenaar verslaan, 'n mooi man; en in die hand van die Egiptenaar was 'n spies; maar hy het na hom afgegaan met 'n stok en die spies uit die hand van die Egiptenaar geruk en hom met sy eie spies doodgesteek.”
Dit klink na ʼn man wat in daardie tye nie nonsens gevat het nie, maar as ons in die perspektief van Romeine 15:4 kyk, sien ons dat niks in die Bybel bloot toevallig is nie.
“For everything that was written in the past was written to teach us, so that through the endurance taught in the Scriptures and the encouragement they provide we might have hope.”
Hier is baie simboliek in hierdie hoofstuk opgesluit wat ons nie alles sal verstaan nie, maar ons weet dat niks wat in die Woord voorkom toevallig is nie. Kom ons fokus op die leeu in die sneeu. Die tyd is beslis nie reg vir ons held om met ʼn leeu te gaan baklei nie. Dit sneeu. Beweging is stadig. Die leeu is in sy lêplek, bekend met die omstandighede, maar ten spyte daarvan maak Benája die leeu in sy veilige omgewing dood.
Miskien vorm hierdie Ou Testamentiese boodskap ʼn konneksie met 1 Petrus 5:8. Benája maak die leeu dood in omstandighede wat uiters ongunstig vir sy lewe is. Ons almal het 'n leeu of twee wat 'n bietjie in die sneeu besoek moet word.
Ons is nie hier om maar swakkelinge te wees wat lofprysings sing en net daar is vir die lekker goed nie. Ons verdere sprong is om standpunt in te neem teen dit wat teen ons beginsels skreeu. Almal van ons het leeus in ons lewens, siekte, finansies, verhoudings. Kom ons ruk die swaard uit die hand van die vyand en gebruik dit om hom te oorwin. Net soos Benája.
Lees
Mediteer
- Hoe lyk die leeu wat jy moet oorwin vir Jesus?
Gebed
Vader, U het alles so fyn beplan, help ons om dit raak te sien, te eer en om die dapperheid te hê wat dit volbring. Amen
Spreek Lewe
Ek is ʼn Nuwe Testament Hero, niks kan my stop nie.
Aanbidding
Hero – Seph Schlueter

Dag 5 Jy is geliefd
In Romeine 8:28-30 sien ons dat God werk sodat “alles ons te goede uitwerk”. Sy doel vir ons (verse 29-30) is om ons lewens meer en meer te rig om soos Sy Seun (na die beeld van Jesus) op te tree. Dit maak dat ons eendag in die Hemel mede-erfgename saam met Jesus sal wees, Hy die “eersgeborene van baie”.
Almal van ons wil iewers behoort, liefhê of in ʼn omgewing beweeg waar ander ons lief het. In ons geesteslewe kan ons met gerustheid beweeg omdat ons wedergebore is. In die spreektaal as iemand vir jou sê “I’ve got your back, buddy,” bedoel dit dat jy vorentoe kan kyk, niks sal jou van agter aanval nie, ondersteuning. Die bekende woorde in Romeine 8:31 wat sê dat as God vir ons is, niemand teen ons kan wees nie verduidelik baie mooi dat God ons “rug het”.
Daar is baie waarhede in Romeine 8 opgesluit. God is aan ons kant. Hy het ten doel dat alles wat in ons lewens gebeur ten goede uitwerk, met ander woorde, alles wat gebeur is deel van die Meester se plan vir ons en Sy Koninkryk. Daarom kan ons met meer oortuiging en vrymoedigheid weerstand bied teen die vyand en alles wat boos is. Hoekom? God is in ons hoek, aan ons kant, vir ewig en ewig en Hy ag ons genoeg om ons na die beeld van Jesus te skape. Dit gee ons die gesag om ons geloof met dapperheid te beoefen. Ons hoef nie net met die kwaad in ons omgewing te oorleef nie, ons kan dit konfronteer en weerstaan, want ons is Sy kinders.
Lees
Mediteer
- In watter aspek van my lewe kan ek meer dapper wees?
Gebed
Vader, dankie dat U genoeg omgee, dat U doelgerig ons aandag trek sodat ons in U meesterplan kan beweeg. Oorlaai ons met dapperheid om U koninkryk te volbring en dit wat verkeerd is, boos is, met oorgawe kan weerstaan. Amen
Spreek Lewe
God is in my kant van die kryt, ek is in ʼn wenspan.
Aanbidding
On my side – Kim Walker-Smith