Go Deep 07 Julie 2024

Sag en Lig

De Villiers Nel

 

Dag 1: Tevrede (Easy to Please)

Ek het ook soos talle ander groot geword met die idee dat God kwaai is en dat dit moeilik is om Hom tevrede te stel. Hy is perfek en daarom verwag Hy dat ek ook perfek moet wees. Ons siening van God beïnvloed ons dade en ons besluite. Wanneer jy dink dat jy die regte dinge en klomp dinge moet doen om Hom te behaag, dan raak jy hard aan die werk om Sy liefde te verdien. Jy word diensbaar, maar die rede waarom jy diensbaar is, is om God se aandag te wen en te wys dat jy Sy liefde en redding werd is. Jy dink hoe harder jy vir Hom werk, hoe meer hoor Hy jou en hoe meer seën verdien jy.

Jesus self is diensbaar, maar Sy missie van diensbaarheid is anders as as myne wanneer ek werk om God se aandag te probeer kry.

Ek het altyd gewonder hoekom Jesus so kwaai optree en raas met van die mense. As ons mooi lees, sien ons dat Jesus streng was met die Fariseërs, omdat hulle so aan die wet vasgehou het, hul harte verhard het teenoor God se genade en met veroordeling geleef het.

Jesus nooi ons nader. Hy vra nie of ons dit verdien nie. Hy nooi juis dié wat nie goed genoeg is nie; dit nie verdien nie.

“Kom na My, almal wat moeg en swaar gelaai is, en Ek sal julle verlig. Neem my juk op, en leer van my, dat Ek stil is, en Ek is vredevol, en in My hart sal julle ‘n rusplek vir julle siele vind. Want My juk is aangenaam en My las is maklik” (Mat.11:28-30 Siriese vertaling).

Wat glo ek van God se genade oor my lewe? Wat glo ek van toegang tot Hom? Wat beteken hierdie rus waarin Hy my nooi?

Die wet vereis dat ek klomp dinge moet doen om iets te verdien. God se genade praat egter van dit wat Jesus Christus reeds vir my gedoen het, nog voordat ek iets kon doen. God is nie knorrig of moeilik nie. Hy is nie ‘n harde God nie. Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy nooi my in Sy liefde in!

Lees:

Mat.11:28-30

Mediteer:

  • Wat kan ek doen om God se liefde te verdien?
  • Hoe voel God oor my?
  • Glo ek in God se onvoorwaardelike liefde vir my? Verklaar my woorde en aksies dit?

Bid:

Vader, dankie vir U oneindige liefde en genade wat ek nie kan verdien nie. Jammer dat ek dit so verkeerd gehad het en nie die volle impak van Jesus se dade verstaan het nie. Dankie dat U tevrede is met my en dat dit die waarheid is, nie op grond van my werke nie, maar op grond van Jesus Christus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het nie nodig om God se guns te wen nie. Deur Jesus Christus het ek God se liefde!

Aanbidding:

I Am Your Beloved – Jonathan Davis Helser, Melissa Helser

Dag 2: Die swaar, verkeerde juk

Wanneer jy bak, suurdeeg by jou mengsel gooi en dit aan hitte blootstel, dan aktiveer jy die suurdeeg. Die suurdeeg deurtrek die hele baksel. Sonder dat jy dit sien of agterkom, werk die suurdeeg en die oorspronklike produk verander in iets heeltemal anders. Die Jode was baie bekend met hierdie proses en hul mag op ‘n sekere tyd van die jaar net ongesuurde brood geëet het. Daarom gebruik Jesus suurdeeg as voorbeeld in Mat.16:6: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van die Sadduseërs”.

Met die bevestiging van hul amp het die Fariseërs ‘n eed afgelê wat sê “ek neem die juk van die wet op my skouers”. Hul het ook gesorg dat hierdie juk verkondig word en dat almal deeglik bewus was hiervan en die las saamgedra het. Die suurdeeg van die Fariseërs is die juk van die wet. Daarom gebruik Jesus dieselfde woorde as in die eed van die Fariseërs (Mat.11:29) om te verduidelik dat Sy juk anders is: “Neem my juk op julle en leer van My...my juk is sag en my las is lig”.

Wat gebeur wanneer jy die wet met die goeie boodskap van liefde en genade meng? Net ‘n bietjie daarvan verander die evangelie heeltemal en maak dit wat dit nié is nie (soos suurdeeg). Die wet maak dat ons sukkel om toegang tot God te kry, want ons glo nie ons mag toegang hê nie. Die wet is so swaar dat ons gebuk gaan onder die las en nie kan regop staan om God in die oë te kyk nie.

Ons kan nie beide dra nie. Ons moet kies. Ons dra óf die sagte juk en ligte las van Jesus, óf die swaar juk van die wet. Daarom moet ons die las afgooi wat die wet stel en ontvang wat Jesus vir ons vrylik gee.

Gooi af die wet, en ontdek wie God regtig is!

Lees:

Mat.16:6

Mat.11:28-30

Mediteer:

  • Net ‘n klein bietjie suurdeeg is genoeg om alles te verander.
  • In die Nuwe Testament is dit die Fariseërs wat sondaars uitwys. Jesus noem niemand sondaar nie. Hy verwys na mense as verlore.
  • Fariseërs is ‘n amp van die verlede, maar die juk van die wet (die suurdeeg) hou vandag steeds net soveel gevaar in.
  • Dit is in moeilike omstandighede wat ons dikwels na die wet gryp eerder as na die ware evangelie.
  • Is daar oomblikke in my lewe wat ek genade en wet meng?
  • Maak ek dit vir ander moeilik om toegang tot God te hê omdat ek die wet as middelaar toepas?
  • “To help the gospel is to lose the gospel” – Martin Luther
  • Ons kan eers weet wie God regtig is as ons vry is van die juk van die wet.

Bid:

Vader, dankie dat ek deur Jesus Christus nie meer onder die wet staan nie, maar onder U genade. Ek kies om die las van die wet af te gooi, want U het die wet reeds met U liefde vervang. Help my om te sien waar my idees nog wetties is en dit my verhouding met U en ander belemmer. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo nie in ‘n evangelie waarin ek Jesus Christus moet aanvul nie!

Aanbidding:

Dear God – Cory Asbury

Dag 3: Jesus is sagmoedigheid

In die Woord lees ons gedeeltes oor die hart. Ons moet verstaan dat dit oor meer gaan as net ons emosies. Dit gaan oor wie ons is. Jou denke, jou gevoelens, jou wil, die rede waarom jy doen wat jy doen, dus jou besluitneming ook. Dit gaan oor jou identiteit.

Jesus openbaar deel van Sy identiteit aan ons wanneer Hy sê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart”. Jesus het hierdie woorde baie spesifiek gekies: “I am gentle (meek) and humble (lowly) in heart”. Jesus is nie iemand wat ‘n swakkeling, ‘n verstoteling is nie. Jesus is nie so sag dat Hy niks kan hanteer nie. Inteendeel, Hy word die ergste gemartel en dra daarná nog ‘n boom op sy rug by ‘n berg op. Hy skree en skel nie terwyl Hy deurboor word nie. Hy praat met Sy Vader. Hy seën. Hy is iemand wat met geduld en sonder wraak, in moeilike omstandighede sterk staan. Hy is kalm en rustig, hy is nie trigger-happy nie. Hy het die voluit van God in Hom. Hy is God, maar steeds kies Hy om vir ons te openbaar dat hy saggeaard en nederig is. Hy is nie self bejammerend nie en word ook nie maklik uitgelok nie. Hy is ook nie streng en veeleisend nie (die wet is so). Hy wys ook nie dat Hy verhewe en kragtig is nie, maar Hy doen moeite dat verlore mense hul waarde ontdek. Hy is toeganklik. Dit is wie Hy is. Hy het tyd vir jou.

Die wet kan ons nie toegang tot God gee nie. Net Jesus kan.

“[Jesus’s] heart for gentle embrace is never outmatched by our sins and insecurities and doubts and anxieties and failures. For gentle lowliness is not one way Jesus occasionally acts toward others. Gentleness is who He is. It is His heart. He can’t ‘un-gentle’ Himself toward His own any more than you or I can change our eye colour.” – Dane Ortlund

Lees:

Mat.11:28-30

Mediteer:

  • Watter wanopvattings het ek oor Jesus se karakter as gevolg van wettiese lering?
  • Watter wanopvattings het ek oor Christenskap as gevolg van wettiese lering?
  • “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie...” Jes.42:3; Mat.12:20

Bid:

Here U is ‘n ongelooflike Here, sagmoedig en nederig van hart. Dankie dat U my nie met ‘n ysterhand regeer nie, maar my toelaat om te wees wie U my gemaak het om te wees. U leer my wie U is, en wie ek is omdat ek ontdek wie U is. Heilig is U Here!

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus U is waardig om aanbid te word. U is heilig en verdien al my lof en eer!

Aanbidding:

Gentle and Humble in Heart – Central Vineyard Church

Holy Forever (Live) – Bethel Music

Dag 4: Toegang tot rus

“Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here” (Jes.55:7-8).

Ons het nie nodig om weg te kruip as gevolg van ons verkeerdhede nie. Ons kan ons sonde bely, God vergewe ons. Dan kan ons aan beweeg. Ons het nie nodig om op die plek van ons eerste bekering vas te haak nie. Die verlore seun bly nie buite en bly jammer sê vir sy pa nie. Hy bely sy skuld en ontvang dan die vergifnis en gaan in sy vader se huis in. Wanneer God ons vergewe kan ons die skuldgevoel afgooi en voluit in Sy teenwoordigheid begin leef.

Die wet help ons nie om ontslae te raak van sonde nie, maar maak ons juis bewus van sonde. Die juk van die wet belas ons en bring meer en harder werk en laat ons altyd weer honger en dors en soekend. Ons is nooit versadig of tevrede onder die wet nie. Die vereistes van die wet is hoog, die kostes is hoog en dit loop uit op niks. Elkeen wat aan hierdie verkeerde juk en swaar las dra moet haastig wees om nader te kom en God se vergifnis en rus ontvang.

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; Ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk” (Jes.55:1).

Wanneer Jesus sê “kom” is dit nie ‘n plek waarheen jy gaan nie, maar Hy sê met ‘n dringendheid dat ons in verhouding met Hom moet kom. Jesus nooi ons in ‘n verhouding in met Hom waar ons rus kry:

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mat.11:28-29).

Die rus wat Jesus gee is ‘n verkwikking, om los te breek van die wet en in Sy vrede te kom ten spyte van dit wat om jou aangaan. Dit is nie ‘n plek waarheen ons uitgenooi word om op te hou besig wees nie, maar eerder om in verhouding met Jesus te staan, sodat ons die energie en bemoediging kan kry om ons lewens voluit te leef!

Lees:

Mat.11:28-30

Jes.55:1-3

Jes.55:7-8

Mediteer:

  • ‘n Mens kan nie rus ervaar as jy nog onder die wet is nie. Gooi af die las van die wet!
  • As God goed is en in verhouding met my wil staan, wat hou my weg van Hom af? Wat hou my weg daarvan om Sy uitnodiging te aanvaar?
  • Hoe kan ek God se rus ontvang?

Bid:

Vader dankie dat ek in U rus kan inkom waar U my verkwik, sodat ek kan vlieg met arendsvlerke en kan hardloop en nie moeg word nie. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek staan in verhouding met Jesus Christus, versoen met God deur Jesus Christus en daarom leef ek in Sy rus!

Aanbidding:

Rest – Kari Jobe

Dag 5: Werk vasgebind aan Christus

‘n Juk word gebruik om trekdiere saam in te span, sodat ‘n veld geploeg, of ‘n swaar las getrek kan word. Jesus gebruik die juk as metafoor dat ons saam met Hom aan Sy juk moet trek. Dit beteken dat ons saam met Hom ingespan word en nie alleen aan ‘n juk trek nie, maar een waarin Hy reeds is.

Onder die juk van die wet werk ‘n mens hard om God se liefde en aandag te wen, maar onder die juk saam Jesus Christus staan ons in hierdie wete dat ons reeds Sy liefde en aandag het. Ons het nie nodig om vir die Here se goedkeuring te werk en sy hart te probeer wen nie. Hy nooi ons na Hom toe, om by Sy tafel te kom aansit. Hy nooi ons om ons harte vas te bind aan Hom, sodat ons in Sy nabyheid kan begin leef. Ons kan rustig vanuit Sy hart werk.

Wanneer ons die juk saam met Jesus trek leer ken ons God hartklop en word ons belyn met Hom. Ons hart word ook sagmoedig en nederig soos wat Hy is.

Om in eenheid met Jesus Christus te leef is die enigste manier om God se wil uit te leef. Aanvaar Jesus Christus se uitnodiging en kom na Hom toe. Aanvaar Sy juk en leer ken Hom vir wie Hy is!

“Only as we drink down the kindness of the heart of Christ will we leave in our wake, everywhere we go, the aroma of heaven, and die one day, having startled the world with glimpses of a divine kindness too great to be boxed in by what we deserve.” – Dane Ortlund

Lees:

Mat.11:28-30

Mediteer:

  • Onder die juk van die wet, werk ek hard om God se aandag te kry, en ek mis die punt.
  • Onder die juk van Christus werk ek saam met God met die wete dat ek reeds al Sy aandag en liefde geniet.
  • Die juk van die wet laai my te swaar om te leef soos dit God behaag.
  • Die juk van Jesus Christus maak my vry om te leef soos dit God behaag.
  • Is ek onder die juk van Christus of onder die juk van die wet?

Bid:

Jesus dankie dat U reeds ‘n juk het wat lig is en dat ek myself aan U kan vasbind om in U sagte juk te kom. U stap in elke omstandigheid saam met my en lei my sodat ek in die vryheid van U Gees kan leef. Dankie dat ek nou die wettisisme kan afgooi wat probeer om my te bind. Ek kies om U te volg en by U tafel aan te sit. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef in Jesus Christus en daarom is ek nie meer gebind aan die wet nie.

Aanbidding:

The Table – Chris Tomlin

I Am Your Beloved & Running Home – Jonathan Davis Helser, Melissa Helser