Go Deep 19 Januarie 2025

Die Spilpunt van My Geestelike Bestaan

Neville Goodchild

 

Dag 1   Die Bron van ons Lewensmomentum

Vandag is die eerste Go Deep gesprek van 2025. Hier  is iets spesiaal, iets uniek, nie neus-in-die-lug nie, plat op die aarde, vir mense van oraloor. Dit is belangrik. God is orals en Hy trek nie sy neus op vir mense nie. Inteendeel, Hy roep ons die heel tyd.

Ons sing. Rondom my staan mense in verskillende maniere van aanbidding. ʼn Groot man in ʼn kort broek staan so skuins van my, hande omhoog, sy lyf rol met die ritme van die lied. Hy bid. Links van my staan ʼn jong vrou in ʼn blomrok, sy ken al die woorde, haar oë is toe, haar hande heuphoog in aanbidding. Sy bid. Regs van my staan ʼn man van seker amper sestig. Sy hande is stewig vasgeklem op die stoel voor hom. Sy oë is toe. Hy bid. Dit voel vir my soos kerk. Geen voorskrifte nie, almal is welkom.

“God You reign, forever and ever ...”

Hierdie week se boodskap gaan oor hoe om ons lewens in die regte kragpunt te druk sodat ons Sy stem kan hoor en Sy boodskap uit kan dra.

Wanneer daar ʼn aardbewing is, gebeur daar fisiese verskuiwings diep onder die aarde. Dit het invloed oor groot areas, maar iewers is daar ʼn episentrum, waar die energie gekonsentreerd is. Dit bars uit en verander die omgewing dramaties. Híér is die uitbarsting van energie absoluut gekonsentreerd, gefokus.

Maar wat van as ek en jy in ons geestelike lewe in die episentrum van God se krag kan ontplof en ʼn impak maak? Hoe kan ons die Koning se energie loslaat in ons invloedsfeer? God se invloed is nie oppervlakkig nie, soos ʼn aardbewing, dieper as wat ons sintuie kan waarneem, is daar momentumverskuiwende energie waarin ons ons “charger” kan druk om gelaai te word vir Sy koninkryk.

Die geheim is om God se stem te hoor en dit te volg. In Johannes 10 praat Jesus oor presies dit. Skape hoor die stem van hulle wagter, hulle luister en bly veilig as gevolg daarvan. Die volgende vier dae se skrywes gaan poog om meer hiervan te ontbloot. Moet dit nie mis nie en onthou, jy kan altyd Lewende Woord Bloemfontein kontak as jy hulp nodig het. 0608354778. Bel, moenie op jou eie vermoëns staatmaak nie, jy het ʼn Skepper wat met jou praat, ons moet leer om Sy stem te hoor.

Lees

Johannes 10

Mediteer

God praat die heeltyd met ons,hoor jy Hom?

Gebed

Vader, dankie dat U onophoudelik met my praat. Help my om te hoor, help my te leef tot u eer, sodat meer en meer mense U sal opsoek. In Jesus se naam, Amen.

Spreek Lewe

Ek is oop om Sy stem te hoor.

Aanbidding

Voice of God -Dante Bowe

Dag 2   ʼn Skip moet gestuur word

Voel jy dalk soos iemand wat in ʼn see van geleenthede ronddryf sonder rigting en suksesse? Die produk van jou omstandighede? Dalk voel jy asof jy iewers vasgesteek het waar jy nie hoort nie, ʼn plek wat jou uiters benoud maak, maar jy voel vasgepen en onder permanente druk. ʼn Skip wat iewers sonder ʼn skipper op die oseaan ronddobber.

Die punt is, liewe leser, is dat ʼn skip iemand nodig het wat hom of haar stuur in ʼn spesifieke rigting. ʼn Woordbeginsel gaan soek die Here in daardie plek waar jy voel jy onsuksesvoel is, vra Hom om jou te stuur en om jou te leer om nee te sê vir goed wat nie in jou of jou gesin se geestesbelang is nie. Ons wêreld het soveel opsies en ons word daardeur gebombardeer; juis daarom is dit so nodig dat God aan die stuur van ons lewensboot is. In daardie plek waar jy nie wil wees nie, gaan God jou begin gebruik en gaan jy deurbrake kry.

In The Message word Joh. 10:1-6 so vertaal:” “Let me set this before you as plainly as I can. If a person climbs over or through the fence of a sheep pen instead of going through the gate, you know he’s up to no good—a sheep rustler! The shepherd walks right up to the gate. The gatekeeper opens the gate to him and the sheep recognize his voice. He calls his own sheep by name and leads them out. When he gets them all out, he leads them and they follow because they are familiar with his voice. They won’t follow a stranger’s voice but will scatter because they aren’t used to the sound of it.”

Skape luister na die stem van hulle wagter, want hulle ken die stem. Hoe kan ek en jy die stem van die Here hoor as ons nie Sy stem ken nie? Dit is hoekom ons hom moet soek in elke aspek van ons lewe. Soos die episenter op die oppervlak van die aarde die gevolg van ʼn massiewe aarbewing wat vol energie diep onder die aarde is, is daar beweging in ons lewens van God wat dieper is as wat ons kan sien of hoor of voel wanneer ons Sy stem begin soek en daarvoor luister.

Die meganika van christenskap is presies soos wat in die bostaande teks geskryf is. Die Here (ons Herder) roep. Ons luister en Hy lei ons. God kies nie om stil te wees of in afsondering Homself eenkant weg te hou van ons nie, God praat. Sonder ophou, roep Hy ons.

Soek God se stem in jou lewe. Hoe klink Sy stem? Soos lewe. Hoe hoor ek Hom? Deur die ander stemme wat nie tot jou voordeel is nie, stil te maak. ʼn Lewe vol vrug impakteer ander lewens positief tot voordeel van die Koninkryk. Ons hoor God wanneer ons stil raak, wanneer ons Hom vra om ons te lei, wanneer ons deelneem aan ons kerk se aktiwiteite. Dit is die regte plek om Sy stem te soek en te hoor.

Lees

Joh. 8:47

Mediteer

Wat kan jy NOU los sodat jy God se stem beter kan hoor?

Gebed

Vader God, dankie dat U ons nie uitlos nie, ek wil U stem die heeltyd hoor, ek wil tap by die energie van die Episentrum van U lewensveranderende energie, ek wil U verteenwoordiger wees waar ook al ek my nou bevind. Help my om die vrugte van U Gees te dra. In Jesus se naam, Amen.

Spreek Lewe

Ek weet waar om Sy stem te soek.

Aanbidding

That’s who I praise – Brandon Lake

Dag 3   Waar staan ek met God?

Dink gou aan iemand met wie jy ʼn uitstekende verhouding het. Wat is die hoofrede daarvoor? Sekerlik is daar vertroue en liefde en deernis. Maar sou dit waar wees dat die basis van ʼn goeie verhouding kommunikasie is. Jy weet waar jy met die ander persoon staan en is veilig daarmee.

Waar staan ek met God? As ek onseker is, beteken dit dat ek my kommunikasie moet opskerp en die Here gaan soek in die stilte, maar ook in die plekke waar soos ʼn failure voel. Mense wat onveilig voel in hul verhouding met die Here voel dat hulle op eiers moet loop rondom hulle “godsdiens” Sulke mense verval in rituele en reëls en verdoemenis van ander omdat hulle onseker is oor hulle posisie met God. Sulke mense sê ook goed van God wat bloot onwaar is. Hulle glo dalk dat hulle God verteenwoordig, maar hulle doen nie.

ʼn Sprekende voorbeeld daarvan is die debatte wat losgebreek het op sosiale media oor die brande in Los Angeles. Hoeveel memes en boodskappe het nie gesê dat die mense van Hollywood gestraf word oor hul sondige leefstyle nie. Mense wat dit verkondig vergeet dat Jesus op die kruis vir ons almal gesterf het, dat God Homself op Jesus gewreek het sodat ons kan leef. Ons moet mooi dink oor wat ons sê van die Here.

In Lukas 7 (vandag se leesstuk) is daar ʼn keer wat Petrus skoon sy mond verbypraat net nadat Elia en Moses aan hulle verskyn het. ʼn Paar dae daarna weier die mense van Samaria om verblyf vir Jesus voor te berei. Daaroor wil Johannes vuur af bid uit die hemel soos Elia destyds, maar in die Bybel staan daar duidelik dat Jesus hom sterk aangemaan het daaroor (“rebuked”). Ek wil jou uitdaag om die stuk regdeur te lees, jy gaan Jesus se mooi hart sien. Hy veroordeel nie, Hy slaan nie sambok nie, Hy het lief en Hy gee om. As jy vandag onseker is oor jou verhouding met ons drie-enige God is dit vir seker tyd om stil te raak en Hom te vra om met jou te praat, om jou hart sag en ontvanklik te maak sodat jy kan hoor. Hy sal jou lei na waters waar rus is. Toe die Samaritane nie vir Hom blyplek gee nie, het Jesus aanbeweeg na ʼn volgende dorp. Jesus soek ʼn geleentheid om kontak te maak, maar hulle het dit verbeur. Moet asseblief nie ʼn geleentheid om kontak met die Vader te hê verbeur nie. Ons het ʼn direkte skakel na God, ons hoef nie ʼn afspraak te maak en te hoor Hy kan ons eers volgende maand die sewentiende om 17h00 sien nie. NOU. Doen dit nou.  

Lees

Lukas 7

Mediteer

Weet jy waar jy met jou verhouding met God staan?

Moet jy dalk nou dadelik met Hom kontak maak?

Gebed

Vader God, dankie dat U alomteenwoordig en beskikbaar is. Ons hoef nie afsprake te maak om U te sien of hoor nie. U genade is onbegryplik groot, al verstaan ons dit nie, is ons dankbaar daarvoor. Ons bid vandag vir mense wat nie naby aan U leef nie, maak hulle ontvanklik Here, help ons om deur ons leefwyse en voorbeeld mensmagnete kan word wat die Vader wat ons ken ook wil leer ken. In Jesus se naam, Amen.

Spreek Lewe

My afspraak met God is nou, elke dag, net wanneer ek Hom wil hoor.

Aanbidding

Let me hear Your voice – Francesca LaRosa

Dag 4   Wanneer gelowiges luister

In Markus 7:31-37 word die gebeure van ʼn dowe man vertel wat deur Jesus genees word. Hier is ʼn paar belangrike goed om uit te lig. Die dowe man kon nie ordentlik kommunikeer nie, want nadat Jesus hom eenkant vat en genees, kan hy hoor en die band op sy tong is los gemaak sodat hy “reg kon praat.”

Jesus het duidelik, kragtig en met outoriteit hierdie man genees met een woord:”Éffata.” Gaan oop.

Daar is nog iets wat belangrik is. Jesus vat die man weg uit die skare sodat daar nie ander stemme en afleidings is nie, ʼn plek waar hy kan luister. Dan genees Hy hom. Jesus se stem gee lewe.

Ons moet ook stil plekke opsoek om met God te kommunikeer en veral te luister. Maar dit stop nie daar nie. Ons moet ook praat.

In Numeri 13 en 14 lees ons dat Moses twaalf spioene uitstuur om Kanaän te verken. Onder hulle is Josua en Kaleb. Die manne sien baie dinge, reuse, maar ook druiwetrosse wat so swaar is dat twee mans dit met ʼn paal oor hul skouers moet dra. Na veertig dae kom hulle terug en tien van die spioene wys die vrugte, maar dan begin hulle vertel dat die land hoofsaaklik deur reuse bewoon word, dat dit onmoontlik is om dit te oorwin. Net Josua en Kaleb stem nie saam nie. Jy kan daardie verse in vandag se leesstuk kry.

Hier is die ding. Al die Israeliete weet dat God die Beloofde Land aan hulle belowe it. Het Hy hulle nie beveilig teen die plae in Egipte nie? Het Hy nie die Rooisee vir hulle oopgekloof om deur te gaan nie? Het Hy hulle nie die heeltyd beskerm nie? Ten spyte hiervan kies die Israeliete om eerstens nie God se belofte te “hoor nie” en tweedens kies hulle om nie sy leiding te volg nie. Die gevolg is natuurlik dat net Josua en Kaleb uit daardie groep die Beloofde land eventueel binnegaan.

Wat is die les hier? Josua en Kaleb het reg gehoor. Hulle wys na die vrug (as simbool van God se belofte), nie die reus nie. As gevolg van hierdie twee manne se geloof beleef die volk na baie jare die Beloofde Land nog steeds. Iemand het geluister en gekies om te praat, baie het as gevolg daarvan voordeel geniet.

Om te praat bring transformasie, momentum en dit lewer vrugte wat blywend is. Vind die stilte om te hoor wat God vir ons wil sê. Praat wanneer jy moet. Mense sal ons volg as ons eie lewens lyk soos beweging. God is die episentrum van beweging en vooruitgang. Dis waar ons begin en eindig. Met God se invloed kan ons ook met outoriteit praat en die waarheid verkondig, ons kan ook wys na die vrug eerder as na die reuse. Daar is ʼn Beloofde Land vir elkeen van ons. Lees die verse in Romeine en Efesiërs hier onder. Ons is deel van God se plan.

 

Lees

Numeri 14:6-10

Rom. 8:28

Ef. 2:10

Mediteer

Lyk my lewe soos beweging of het ek stagneer?

Gebed

Here, vandag vra ons U om ons te laat hoor, maar ook om ons gewillig te maak om te praat, om reg te praat, nie halwe waarhede nie. Here ons wil in verhouding met U wees. Dankie Jesus, dat U die weg na nie Vader is. Amen.

Spreek Lewe

Daar is ʼn Beloofde Land vir my ook. Ek is deel van God se plan.

Aanbidding

You keep Your promises – Charity Gale

Dag 5   Die voordele wat skape het

Johannes 10:27 sê dat hulle wie God se stem hoor, behoort aan Hom en hulle ken hom as hulle Herder (NIV):”My sheep listen to my voice; I know them, and they follow me.” Dit is so belangrik dat ons seker maak om Sy stem te hoor en dit is glad nie ingewikkeld nie. As jy nog nie wedergebore is nie, bely dat jy Jesus as jou Saligmaker wil aanneem, laat jou doop en ontvang daardeur die Heilige Gees. As jy reeds wedergebore is, vra die Gees om jou ontvanklik vir Sy stem te maak, om jou te lei in elke aspek van jou lewe.

Skaaptroppe in God se kraal hoor Sy stem, hulle weet waar hulle behoort en hulle het Iemand om na op te sien wat leiding gee. Daar is nog voordele aan skaapwees ...

Soms dwaal ons af, raak weg in die duisternis of verdwaal in die mallemeule waarin afleidings ons aftrek. In Lukas 15 vertel Jesus dat ʼn herder altyd sy skaap sal gaan soek. Hy sal 99 skape by mekaar los om die een afgedwaalde een te soek. Die Herder hou nie op soek na ons nie. Dit is die eerste punt. God se stem is nie sag nie, Hy hou ook nooit op om te roep nie. Ons moet luister. Die tweede punt is dat die herder so bly is wanneer hy sy verlore skaap vind dat hy sy vriende roep om te kom kyk. God se vreugde ken geen einde wanneer Hy ons terug in die kraal het nie. Dit is God se karakter.

Nog ʼn voordeel van skaapwees is dat die herder sy skape beskerm. Ek hou so van die deel van Psalm 23 wat sê:”Al gaan ek deur ʼn dal van doodskaduwee, ek sal nie vrees nie.” Dawid kon net só vreesloos wees omdat hy geweet het dat hy die volle beskerming van die Goeie Herder geniet. Daar is baie sulke voorbeelde van gewone mense wat ongelooflike dapperheid ten toon gestel het in die Bybel, Josef, Daniël, Paulus om net ʼn paar te noem. Ons is nooit alleen nie, selfs in tye van teleurstelling, verlies, of enige ander probleme. Die Goeie Herder is altyd daar, ons moet net sorg dat ons nie afdwaal tot waar ons nie Sy stem kan hoor nie.

 

Lees

Lukas 15:1-7

Mediteer

In watter omstandighede hoor ek nie die Herder se stem nie?

Gebed

Goeie Herder, dankie dat ek in die kraal saam met ander gelowiges kan wees, dat ek veilig is en dat ek U stam kan hoor en bloot volg. Amen.

Spreek Lewe

Ek hóór die Herder se stem.

Aanbidding

Still waters – Leanna Crawford