Geestelike Groei
Neville Goodchild
D
Dag 1 Die Bron van Inspirasie, Groei en Liefde
Ons staan vandag in aanbidding en sing lofliedere tot God. Iets wat opval is so skuins regs van waar ek staan. ʼn Pa en sy seun. Beide dra ʼn bril. Die seun lyk soos ʼn vingerafdruk van sy pa. Hy is waarskynlik vyf en twintig jaar of meer jonger as sy pa, maar daar is geen twyfel dat hulle ʼn verbinding het nie. Daar is geen twyfel dat hulle geneties gebind is nie. ʼn Pa en sy seun. Die liefde vir mekaar is onmiskenbaar.
Ons sing:”It’s all about You.”
Hier is die ding wat baie van ons nie besef nie. Die Here sê:”It’s all about you, son, daughter child.” Hoe wonderlik is dit nie! Hy is die middelpunt van ons hoop, doel, waarde en toekoms. Hy sien wat ons soms sukkel om te glo. Hy glo in ons sukses. Hy is die Bron van ons inspirasie. In 1 Johannes 4:19 (NIV) staan daar:” We love because he first loved us.”
Ons vermoë om lief te hê kom van ons Vader af. Wanneer ons meer en meer soos Hy begin lyk, Sy afdruk, ʼn duplikaat, ʼn kind wat soos die Vader lyk, meer en meer, elke dag, in optrede, veral wannneer dinge dinge taai raak, dit is dan wanneer God ons gebruik. Wanneer ons buigsaam is, is wanneer ons in taai tye besef dat God ons ons beskerm. Die Engelse sê:” He’s got my back,”wanneer hulle beskryf dat iemand hulle probeer beskerm.
God probeer nie, Hy doen, Hy belowe nie net nie. Ons is klaar beskerm, vry, geliefd, mense wat geïnspireerd is om Sy liefde te beeld, Sy vergifnis uit te leef. Hy glo in ons toekoms, Hy delete ons verlede. Hy verheug Homself in ons hede. Math. 3:17.
Hierdie woorde van inspirasie is die woorde wat Jesus hoor nog voordat Hy enige wonderwerke verrig. Jy is My Seun, Ek is lief vir jou, Ek is tevrede. Dieselfde geld vir ons. Ons is Sy Bruid. Sy geliefde kind en Hy het ʼn welbehae in ons. Hy is opgewonde oor ons toekoms en Hy weet wat in ons steek. Maar om die Here se plan te volg, moet ons streef om geestelik te groei.
As jou lewe soos ‘n dor landskap voel, wéét dat God die reën sal stuur om jou landskap groen te maak. Lees saam met ons die res van die week en kom kry jou kunsmis vir ʼn toekoms wat anders lyk as jou verlede.
Lees
Mediteer
Watter deel van jou geestelike lewe kort water?
Gebed
Here, Here, U staan oor al ons uitdagings, U kyk neer daarop met die wete dat U glad nie daardeur ontspoor word nie, dat ons deur U krag enigiets wat in ons pad staan, kan oorwin. Amen
Spreek Lewe
My fokus is op geestelike groei.
Aanbidding
THat’s who I praise – Brandon Lake

Dag 2 Geestelike Groei in Lewensstorms
Ons is soms geneig om geestelike groei te assosieer met feel-good ervarings en hoewel sulke tye nie groei uitsluit nie, is dit reeds wanneer dit sleg gaan en ons met God se hulp triomfeer dat ons werklik bydra tot die Koninkryk se groei en in lyn kom met God se plan vir ons.
Habbakuk 3:17-19 (NKJV):” Though the fig tree may not blossom, Nor fruit be on the vines; Though the labor of the olive may fail, And the fields yield no food; Though the flock may be cut off from the fold, And there be no herd in the stalls— Yet I will rejoice in the Lord, I will joy in the God of my salvation. ]The Lord God is my strength; He will make my feet like deer’s feet, And He will make me walk on my high hills. To the Chief Musician. With my stringed instruments.
Habbakuk skets in die eerste vers ʼn donker prent, ʼn omgewing van swaarkry, spanning en verlies. Dan kom hy op pragtige wyse en sê dat hy altyd sal jubel oor die Here, dat God hom selfs in daardie slegte tye sal laat triomfeer. Hierdie is ʼn pragtige voorbeeld van iemand wat besef wat geestelike volwassenheid is en dat ʼn mens groei en triomf ervaar in die “hoë kranse” waar dit baie gevaarlik is.
In Romeine 6:35-38 is dit baie duidelik dat niks ons van die liefde van God kan skei nie. Sy verbond met ons is waar en ewigdurend want dit is opgerig deur die eenmalige storting van Jesus se bloed aan die kruis. Ons moet hierdie onthou en besef dat God ons in ongunstige omstandighede wil gebruik. Dit help ons ook om veerkragtig (resilient) te word, net soos sederbome wat in die hoë bergtoppe van Libanon groei en sterk hout oplewer (lees gerus hoe Salomo hierdie hout opkoop in 1 Konings 5). Hierdie hout is sterk omdat die bome aan wind en weer blootgestel is, anders as die sagte hout wat in die middel van ʼn plantasie voorkom waar daar baie beskutting is. God wil hê ons moet geestelik groei in ons moeilike omstandighede, nie gemaksones nie. Vandag se leesstuk gaan oor die storie van die slawe wat moes woeker met die talente van hul meester. Dié wat gewaag het om die risiko te neem en te woeker in die chaos, het heerskappy oor stede gekry. Dieselfde geld vir ons. Wanneer ons geestelik woeker in omgewings waar daar risiko vir verlies is, beloon die Here ons met heerskappy.
Kom ons raak prakties. Wat kan ek doen om geestelik te groei in omstandighede waar dit voel asof die stormwinde my gaan meesleur? Eerstens kan ons vashou aan die Woord soos wat in die vorige paragrawe geskryf en aangehaal is. Die waarheid van die Woord sal ons regop hou en die storm sal verbygaan, maar God se teenwoordigheid sal vir altyd by jou wees.
Geestelike groei is iets wat God doen vir ons, nie andersom nie. Hy soek net ons deelname. Die eerste plek van deelname is om die Woord te bestudeer en soos Dawid in Psalm 1 begin om jou los te maak van onsinnige goed wat jou tyd mors. Sodat ons ook soos bome by ʼn waterstroom geplant sal wees.
As ons nou weer na Habakuk kyk, kan ons met sekerheid sê dat sy kennis van God oorweldigende vertroue in God skep en dat die vertroue in God tot vreugde (joy) lei, selfs in moeilike omstandighede.
Om geestelik te groei beteken dat ons meer en meer by God se radiostasie ingeskakel is. Om ingeskakel te wees moet ons die Woord gebruik en lees. Die vaardigheid om vreugde in enige situasie te kan hê is ʼn teken van geestelike volwassenheid. Ons kan enigiets met vreugde tegemoet gaan of ontbeer, want vreugde word bonatuurlik deur die Gees binne in ons geskep.
Lees
Mediteer
Spandeer jy genoeg tyd met die Woord?
Gebed
Here, seën my, sodat ek in U paaie kan wandel en nie in die kring van die spotters tyd sal mors nie. Lei my sodat ek my ook soos Dawid elke dag myself in U Woord sal verlustig, dit dag en nag sal oordink, sodat my lewe soos 'n boom kan wees wat by waterstrome geplant is, wat vrug dra in alle seisoene. Mag ek U bo alles soek, en my toevlug en hoop in U alleen vind. In die naam van Jesus, bid ek tot U. Amen.
Spreek Lewe
Woordaangedrewe geestelike groei is my fokus.
Aanbidding
Your Word– Hillsong

Dag 3 Bid sonder ophou
Dit maak nie saak wat die omstandighede is nie, bly bid. Om gereeld te bid, in alle omstandighede, is die tweede aksie wat gelowiges neem om geestelike groei intensioneel te bevorder.
1 Tessalonisense 5:16-18 word verskiklik mooi in The Message vertaal en sluit so goed aan by Dag 2 se gedeeltes:” Be cheerful no matter what; pray all the time; thank God no matter what happens. This is the way God wants you who belong to Christ Jesus to live.”
Dieselfde teks in die New International Version word pragtig vers vir vers opgedeel en gewys :” Rejoice always, 17 pray continually, 18 give thanks in all circumstances; for this is God’s will for you in Christ Jesus.
Hier is ʼn paar maklik verstaanbare stukke kennis wat Paulus hier oordra. Eerstens, wees altyd jubelend (rejoice) en vrolik, al is die omstandighede nie voordelig vir jou nie. Tweedens, moenie ophou bid nie, bid aanhoudend. Sê dankie in alle omstandighede. Hier moet ons verstaan dat dit nie die dankie sê vir iets voordelig wat in ons lewens gebeur nie, ja, ons moet daarvoor ook dankie sê. Maar hier is iets dieper. Leef in dankbaarheid in alle omstandighede. Dit beteken dat ons selfs in omstandighede waar daar pyn of verlies is. Ons kan dit doen, want ons vreugde lê nie in ons omstandighede nie, dit lê in God. Omstandighede verander gou, God verander nooit nie.
Waarlike gebed is nie net die skietgebede wat ons opskiet voor ʼn eksamen nie. Ons benader elke deel van ons lewe, alles, uit gebed. Die Here wys ons wat ons nie self kan sien nie. Partykeer is dit nodig dat die Here ons uit frustrasies, pyn, skande moet red. Bid sonder om op te hou. Bid gereeld. Bid.
Gebed is egter ook ʼn opdrag, dit is die wil van God. Die laaste frase in die teks van 1 Tessalonisense 5 hierbo : “... for this is God’s will for you in Christ Jesus.”
Daar is waarde opgesluit wanneer ons alles wat ons aandag kan aftrek en op God fokus in gebed. Mattheus 6:6:'But when you pray, go away by yourself, all alone, and shut the door behind you and pray to your Father secretly, and your Father, who knows your secrets, will reward you."
Ons is soms geneig om geestelike groei te assosieer met feel-good ervarings en hoewel sulke tye nie groei uitsluit nie, is dit reeds wanneer dit sleg gaan en ons met God se hulp triomfeer dat ons werklik bydra tot die Koninkryk se groei en in lyn kom met God se plan vir ons. Deur die Woord te bestudeer en sonder ophou te bid, begin ons geestelik groei want die Gees help ons daarmee.
Lees
Mediteer
Spandeer jy genoeg tyd met God?
Gebed
Here, Ek kom voor U met ʼn hart wat jubel, vol vreugde oor U goedheid. Help my om U in alle omstandighede te vind, te weet dat U in beheer is, sodat ek kan vertrou dat U my sal help. Daarom sal ek bly wees, Here. Leer my om te bid sonder om op te hou, om naby U te leef in elke aksie en gedagte, want dit is wat U vir my wil hê. Gee my die krag om selfs in slegte omstandighede. Dankie dat U nie deel is van die omstandighede nie, maar heers daaroor. Dit gee my vrede, Vader. Dankie vir U oneindige liefde en vir die hoop wat U gee elke dag van my lewe. In Jesus se naam, Amen.
Spreek Lewe
Ek belyn my lewe met Woord en Gebed.
Aanbidding
God help me– Unspoken

Dag 4 Gelowiges wat bymekaar uitkom
Hebreërs 10:24-25 spoor ons aan om mekaar aan te spoor tot goeie dade en na mekaar om te sien. Ons kan dit net doen as ons bymekaar uitkom. Fellowship. Samehorigheid. Broederskap.
Samekomste help ons om geestelik te groei. Dit is die derde van drie maklike stappe om geestelik te groei. Lees die Woord. Bid gereeld en baie. Woon byeenkomste van die kerk by. Lewende Woord Bloemfontein het ʼn bepaalde ritme. Sondagoggend; kerkdiens. Woensdagaand; Bybelstudie. Sondag. Woensdag. Sondag. Woensdag. Tussenin is daar nog opbouende samekomste waar ons geestelik groei, soos byvoorbeeld die Manne-aande en bid-oggende, Woordskool waar spesifieke temas in diepte bespreek word, Senior Bediening op Woensdagoggende, jong ongetroudes op Woensdagaande, om ʼn paar te noem. Dit is gereeld. Dit is impakvol. Dit is absoluut awesome (as ek dan nou ʼn jeugterm mag gebruik). As u ʼn nuut is by die kerk wil ek jou uitnooi na die volgende funksie vroeg in 2025 waar nuwe lede meer kan leer oor ons kerk se geskiedenis. Jy sal bly wees dat jy moeite gedoen het, glo my.
Terug by Lewende Woord se ritme. Sondagoggende ontvang ons lering. Ja, daar is ook tyd vir saamgesels voor en na die diens, maar die fokus is op lering. Woensdagaande bedien klein groepe mekaar met wysheid, insig en hope liefde.
Dit is so belangrik dat ons in plekke kom waar ons geestelik gestimuleer word. Christene is nie eilande nie. Ons kan ons nie onttrek van ander nie, inteendeel, ons moet werk daarnatoe om mensmagnete te word, wat deur ons optrede, liefde, vreugde ten spyte van wat om ons aangaan, mense sal nader trek na die Brandende Ewige Vlam, God ons Vader.
Daar wag ʼn nuwe lewe vir ons, selfs al hier op aarde. Lees môre saam en sien wat die bedoeling is.
Lees
Mediteer
Spandeer jy genoeg tyd met ander Christene?
Gebed
Vader, dankie vir ander Christene. Vir fellowship. Dankie dat U nie onbereikbaar is nie, inteendeel, U bemoei Uself met ons deur U Gees, U Woord en die samesyn met ander wat in U glo. Ons sal U loof, Here, ten spyte van wat rondom ons aangaan. In Jesus se naam, Amen.
Spreek Lewe
Ek belyn my lewe met Woord en Gebed en die ritme van fellowship.
Aanbidding
Worthy is the Lamb– Julian Goedhart

Dag 5 Doelbewuste Lewensbeplanning
Baie mense het finansiële beplanners en hulle is vir seker nodig. Maar hoeveel van ons het lewensbeplanningstrategieë? Ons strategie (doel) moet vloei uit ons geestelike groei en lei tot selfs groter groei met die hulp van die Heilige Gees.
2 Petrus 1 is vandag se leesstuk. Dit kan jou lewe verander as jy dit nie ken nie.
As jy jouself nog ʼn guns wil doen, lees ʼn bietjie die boek van Deuteronium ook. Die Israeliete dwaal in die woestyn rond nadat hulle uit Egipte gevlug het, eintlik in sirkels totdat God vir Moses beveel om noord te trek (Deut. 2). Ons lees ook daar dat Moses nie die Beloofde Land inneem nie, vanweë sy hardkoppigheid. Ons weet Moses is Hemel toe, maar hy het nie die Beloofde Land hier op aarde ervaar nie. Hy het hier op aarde alles gemis wat God hom belowe het. Die gruwels van Egipte is agter hom, God het hulle verlos daaruit, maar die belofte het hy gemis.
In 2 Petrus word dieselfde beginsels aan hedendaagse gelowiges gestel. Daar is ʼn streslose, hemelse ervaring vir ons selfs hier op aarde beskikbaar. Ons kan dit mis en nog steeds Hemel toe gaan, ons is klaar vrygespreek. As ons hier op aarde al moeite begin doen om geestelik te groei; Woord, Gebed, Samehorigheid met ander gelowiges, dan kan ons al hier begin om te ervaar wat God se beloftes inhou vir ons. Want Hy wil ons bless. Watter vader sou nie sy kinders wou bless nie, hoeveel te meer ons Vader?
Kom ons hou om om sirkels in die woestyne van ons lewe te loop en kry die Ware Noord. Die rigting wat Godgegewe is. Ons moet net deelneem, God sal die groei veroorsaak; Woord, Gebed, Ander mense.
Wanneer jy 2 Petrus lees gaan jy sien dat die stappe van geestelike groei anders verduidelik word, met dieselfde sentrale beginsel. (Nota: hoe wonderlik is dit nie dat daar verskillende skrywers in die Bybel is nie?). Geloof (vaste oortuiging) gevolg deur deugsaamheid (werke en waardes wat by geloof pas), dan kennis en insig (ons kry dit deur Woord, gebed en samekoms). Hierna kom lydsaamheid oftewel deursettingsvermoë. Groeiende Christene doen nie net Bybelstudie in Januarie nie.
Hierna kom drie stellings wat verreikend vir jou en my is. Godsvrug – God se wil vir my lewe. Broederliefde – God se wil vir ons wat saam aanbid se lewens. Naasteliefde – God se wil vir die wat nie (nog nie) in ons sirkels beweeg nie.
Met ander woorde, ons groei geestelik wanneer ons vrugte ander mense se lewens direk beïnvloed.
Ons kan dus deur hierdie beginsels met deursetting volg en hier op aarde vir ander wys hoe die Beloofde Land lyk en dit selfs ervaar.
Lees
Mediteer
Hoe lyk jou geestelike groei? Is jy ʼn Januariesoldaat of druk jy deur?
Gebed
Vader, dankie vir die Woord. Dankie dat ons toegang tot U het deur gebed. Leer ons om gereeld stil te raak om U te ervaar. Dankie vir ander gelowiges wat ons opbeur en inspireer. Leer my om nou ander mense deur my dade, woorde en optredes te inspireer om ook by U aan te sluit. In Jesus se naam, Amen.
Spreek Lewe
Ek is op ʼn pad van ongelooflike groei in die Vader.
Aanbidding
How Great Thou Art – Garret and Kate