GENADEBEWUS!
Neville Goodchild
Bevry van sondebewustheid
Dag 1: Wegspringplek
Wanneer jy aan ‘n marathon deelneem is daar ‘n spesifieke beginpunt. Jy kan nie op ‘n ander plek inval, of met ‘n ander roete die marathon voltooi as die gegewe wegspringplek en roete tot die einde nie. So is dit ook met die nuwe lewe waarna die Woord verwys. Daar is geen ander roete tot ‘n nuwe lewe as deur bekering en wedergeboorte nie.
Ons as mens is in sonde gebore. Deur Adam se sonde het die hele mensdom in sonde veral. Jy het nie sondaar geword op grond van jou sondige dade nie. Jy is as sondaar gebore. Dit beteken jou identiteit is sonde. Niemand is sonder sonde nie.
Deur een man (Adam) het ons sondaars geword. Jesus Christus (een man) het die volle vereiste van die wet op sonde vir die hele mensdom betaal. Daarom word ons nie meer na ons sonde geken nie, maar na die heerlikheid van Jesus Christus!
Iemand vra: “Maar hoekom word ons dan nog as sondaars gebore, as Jesus klaar betaal het?” Goeie vraag. Ons kan nie die marathon op ‘n ander plek begin nie. Ons het nodig om by die begin te begin. Die Woord sê “Niemand kom na die Vader toe, behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Daarom het elkeen op aarde ‘n vrye wil om Jesus te kies as hul Verlosser en Saligmaker. Dit wil sê om te erken dat ek sondaar is en te aanvaar dat Jesus Christus God is, en vir my sonde gesterf het. Geloof om te glo dat God my vergewe het, aktiveer my geloofslewe. Dit is waar my pad met die Here begin.
Hiermee saam leer Jesus ons deur vir Nikodémus te antwoord: “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:5). Koninkryk hier, verwys nie na die hemel nie. Dit verwys na ‘n nuwe lewe op aarde. Nikodémus het hom reeds bekeer deur Jesus te erken as van God af, en daarom gaan hy hemel toe, maar hy het Jesus nog nie in gehoorsaamheid deur die doopwater gevolg nie.
Dit is deur bekering, doping en vervulling van die Heilige Gees, wat ek versoen word met God, ‘n nuwe identiteit kry in Jesus Christus, en God se Koninkryk op aarde begin sien!
Lees:
Rom.6:1-11
Mediteer:
- Aanvaar ek dat Jesus Christus vir my sonde gesterf het?
- Het ek Jesus al in gehoorsaamheid deur die doopwater gevolg? In die doopbad sterf ek saam met Jesus in Sy graf, en ek staan saam met Hom op in ‘n nuwe lewe.
- Kan ek getuig van wedergeboorte en ‘n Geesvervulde lewe? Indien nie, kontak die voltydse span.
Bid:
Jesus Christus, U is God. Ek is sondaar gebore en bely dat ek sondig is. Ek het U nodig en kan myself nie red nie. Ek kan nie ‘n nuwe lewe leef sonder U nie. Ek aanvaar U offer aan die kruis vir my sonde. U is mý God en U het ‘n werk afgehandel wat geen ander mens of iets in my lewe kan doen nie. Dankie daarvoor Jesus Christus, U is Here! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek glo dat God my vergewe het!
Aanbidding:
Dag 2: Die grootste geskenk
Jesus Christus kry dit reg om ons te vergewe vir ons sonde en ons te nooi na ‘n plek van genade. Hy kry dit reg omdat sonde nie die tema is nie. Jesus neem nie aanstoot oor ons sonde nie. Inteendeel, Hy het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar juis om die wêreld te red (Joh.12:47). Die Evangelie is ‘n eenvoudige boodskap en maklik om te verstaan. Die tema van die Evangelie is genade.
Ons elkeen se storie is uniek, maar nie so uniek dat dit buite die raamwerk van die kruis is nie. Jesus Christus het alle moontlike sonde en foute gedek en Hy het niks gemis nie. Hy sê dit is volbring, omdat die kruiswerk genoeg is en alles afgehandel het wat die wet vereis het. Daarom kan nie een van ons sê MAAR wanneer dit kom by bekering nie.
Voor jy vergifnis ontvang het, was jou identiteit sondaar. Alles wat jy doen, waaraan jy deelneem en van bewus is, is deel van jou identiteit en vloei uit jou identiteit. Jou identiteit was sondaar, maar is nou geregtigheid. Hierdie geregtigheid kan nie uit jouself kom nie. Dit is slegs deur bekering en wedergeboorte wat jou identiteit kan verander en jy die geregtigheid van God word. Jou identiteit verander wanneer jy ontdek dat God se liefde die faktor is. Daar is NIKS wat ons kan skei van die liefde van God nie (Rom.8:35-39). Aanvaar dit soos jy ‘n geskenk aanvaar. Genade is die geskenk!
God het ons vrygespreek deurdat ons in Jesus Christus glo en daarom is daar nou vrede tussen ons en God (Rom.5:1). Ons moet vasstaan in hierdie vryheid en nie toelaat dat iets of iemand ons weer onder ‘n slawejuk plaas nie (Gal.5:1).
Dit is juis ons gedagte-lyn van sondebewustheid wat moet transformeer na God se gedagte-lyn toe. Ons sukkel om te onderskei, omdat ons meer tyd spandeer aan opinies en “Google” inligting as aan Woord waarheid. God se genade is groter as ons foute. Daar is niks so groot soos hierdie geskenk van Genade nie.
Die afgehandelde werk van Jesus Christus is genoeg vir my en vir jou! Hy herstel ons in geregtigheid.
Lees:
Mediteer:
- Waarom is sonde nie die tema nie?
- Hoe of wanneer kruisig ‘n mens Jesus van voor af, of verklaar die kruiswerk as nietig?
- Werk Jesus se aanbod vir my?
- Aanvaar ek dit en het ek die vermoë om terug te keer na die eenvoud van die Evangelie?
- Wat beteken dit dat ek nou geregtig is?
Bid:
Vader, dankie vir U genade geskenk en dat ek genadebewus kan word, eerder as so sondebewus. U gee vir my ‘n nuwe identiteit, nuwe DNA en daarom het ek nie nodig om terug te keer na die verlede of vasgevang te wees in die strik van die wet nie. U het my vrygemaak deur Jesus. Halleluja Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Die kruis is genoeg vir my!
Aanbidding:
Your Grace is Enough – Matt Maher
Dag 3: Vlekkelose Bruid
Die vereiste van die wet is 100% vervul deur Jesus Christus en die loon is betaal (Gal.4). Ons is deur bekering en wedergeboorte, maar sukkel egter met die vraag “wat as ek weer sondig?”
Jesus vertel ‘n ongelooflike storie (Luk.15) as voorbeeld van hoe God oor ons as sondaars voel. Hierdie seun was reeds in die huis van sy vader maar het ‘n ander pad gekies. Toe hy nog ver was het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. Sy pa het nie eers toegelaat dat hy verduidelik nie. Hy het hom dadelik herstel. Nie as slaaf nie, maar as seun.
Ons sonde is nie ‘n bedreiging vir God nie. Hy spreek elkeen wat Jesus Christus as Sy Seun erken, vry van skuld. God verwyder ons sonde so ver soos die ooste van die weste en dink nooit weer daaraan nie. God bevry ons van sonde, maar Hy bevry Homself ook. Hy wil nie met ons sonde opgeskeep sit nie.
Daar is niks wat jou uit die liefde van God laat val nie. Dit is moontlik om uit die genade van God te beweeg wanneer jy ‘n ander pad kies, maar jy bly steeds in Sy liefde. Jy dra die gevolge van die verkeerde besluite wat jy neem, maar jy kan terugkom na ‘n liefdevolle Vader wat getrou bly, selfs in jou ontrouheid.
Die Ou Testament verwys nie na seunskap nie, maar vandat Jesus Christus vir ons gesterf het, het daar ‘n nuwe dispensasie aangebreek, en ons kan nou seunskap beleef. Ons is die bruid, en wanneer God na ons kyk, sien Hy Sy bruid, sonder vlek of rimpel (Kol.1:22).
Leef ‘n lewe van Genadebewustheid!
Lees:
Mediteer:
- Wat leer die storie van die verlore seun my van my eie storie van val/backslide? Hoe voel God oor my?
- Hoe sien God my noudat ek Jesus Christus aangeneem het en my laat doop het?
- Kan ek iets doen om God se liefde vir my te verander?
- Wat weerhou my daarvan om genadebewus te leef?
Bid:
Vader, U is ‘n God van genade, liefde en trou. Dankie dat ek nog nooit uit U liefde geval het nie, en dat U my herstel in U genade. Dankie dat U nie eers na my verskonings wil luister nie, maar my ontvang soos ‘n eregas in U huis. Ek het U lief. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God sien my sonder vlek of rimpel as Sy bruid!
Aanbidding:
Bride of Christ – WorshipMOB Nick Smith
Dag 4: Steengroef
“En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur” (Mat.27:51), en grafte het oopgegaan (v52). Toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het, het Hy alles volbring. Daar was ’n breekplek waarin alles gefinaliseer is. Dit beteken ook dat God alles in jou gefinaliseer het in hierdie breekplek. Alles wat nodig was om jou te vorm, is afgehandel aan die kruis op Golgota. Dit is soos in ‘n steengroef (quarry) waarin die klip reeds gevorm en geskaaf is. Dit is voldoende.
Dit is waarom 1 Konings 6:7 gesien word as ’n profesie:
En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie (1Kon.6:7).
Jesus het die klipwerk by Golgota klaar gedoen. In die steengroef is die rots reeds klaar gekap. Ons hoor nie meer die werk nie, want dit is klaar gedoen. Daar waar God met ons as lewende stene bou, hoor jy nie die gekap van hamers nie.
Wat gebeur as jy teruggaan na hierdie steengroef toe en te veel aanhou kap? Daar kom skade aan die klip en dit moet dan weggegooi word. Dit is hoe dit is as ons nie klaarkry met ons verlede nie, en aanhou kap daaraan totdat dit bars. Ons kan dan ook nie opdaag in ‘n nuwe lewe nie.
Daarom sê Petrus dat jy jouself moet aanbied as ’n lewende steen om opgebou te word:
“en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” 1 Pet.2:5.
Soos jy vervul is met God se Gees, is dit genoeg. Dit is volbring. Jy het nie nodig om ‘n MAAR by te sit nie.
Lees:
Mediteer:
- Aanvaar jy die afgehandelde werk van Jesus Christus aan die kruis vir jou?
- Glo jy dat daar nog iets is wat jy of God moet doen?
Bid:
Vader, dankie dat ek kan weet dat die kruiswerk genoeg is en dat ek nie nodig het om enige iets addisioneel te doen nie. Ek het ook nie nodig om in my verlede vas te haak nie. Ek kan vorentoe beweeg en met U Gees in my het ek alles wat ek nodig het vir hierdie lewe en om U Koninkryk te sien. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus het die volle prys betaal, dit is volbring!
Aanbidding:
He Has Done Great Things – Bethel Music, Brian Johnson
Dag 5: Waarom sukkel gelowiges nog?
Ons weet nou dat bekering en wedergeboorte die wegspringplek is. Dat ons nie op ‘n ander plek kan begin nie, en dat ons nie ‘n ander pad kan probeer neem nie. Daar is nie ander roetes nie. Die vraag is egter, as ek my bekeer het en wedergebore is, waarom is daar nog dinge waarmee ek sukkel, wat my wil bly terugneem na die ou lewe?
Dit is asof ons nie verstaan, dat noudat ons wedergebore is, ons núwe skepsels is nie. Ons het nou nuwe DNA (1Pet.2:23). Ons hemelse Pa het ons ongeregtigheid vervang met Sy geregtigheid. Ons het nodig om te besef dat ons nou lewende stene is wat gekap is uit die lewende hoeksteen. Daarom kan ons ons laat opbou tot ’n geestelike huis (1.Pet.2:4-5).
Dit waaraan ons nou moet aandag gee, is ons gedagtes. Die bekering wat ons nou nodig het, is nie die eerste bekering na God toe nie, ons behoort reeds aan Hom. Wat ons nou nodig het, is om ons denke te bekeer. Ons het God se perspektief nodig.
Daarom skryf Paulus: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol.3:2) en in Rom.12:2: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is”.
Dit is vir my só mooi geskryf in die Message vertaling:
“So here’s what I want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life—your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life—and place it before God as an offering. Embracing what God does for you is the best thing you can do for him. Don’t become so well-adjusted to your culture that you fit into it without even thinking. Instead, fix your attention on God. You’ll be changed from the inside out. Readily recognize what he wants from you, and quickly respond to it. Unlike the culture around you, always dragging you down to its level of immaturity, God brings the best out of you, develops well-formed maturity in you.”
Uit Wié is jy gebeitel? “LUISTER na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die Here soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is” (Jes.51:1).
Kyk na die gedagtes wat jy dink en maak dit herhaaldelik gehoorsaam aan Hom. Jy weet wanneer ’n gedagte nie van Hom af is nie, jy het nou die vermoë om te onderskei. Gee verkeerde onbelynde gedagtes onmiddelik vir Hom en jy sal sien hoe jy stelselmatig al hoe meer belyn word in jou gedagtes met Hom. Mediteer op die Woord en spandeer tyd in gebed. Bid in tale. Hierdie is tools om jou te help om jou gedagtes al hoe meer gevange te neem en gehoorsaam te maak aan Hom. Jy kan.
Lees:
Mediteer:
- Aanvaar ek dat ek die geregtigheid van God is?
- Hoe belyn ek prakties my gedagtes met Koninkryk-denke?
- BE because of what was done – we are not trying in order to become – We ARE, because of what was done.
Bid:
Vader dankie dat ek U gergetigheid is deur Jesus Christus. Ek kies om my gedagtes te begin belyn met U Koninkrykbeginsels. Wys my daarop wanneer ek sukkel en as daar spesifieke gedagtes is wat nie met U belyn is nie. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
We do not grow in completeness, we only grow in the knowledge of our completeness. In Christ we are complete!
Aanbidding: