Go Deep 24 November 2024

Geestelike Groei 3

Neville Goodchild

WEES SEKER DAT JY GERED IS

 

Dag 1: Geestelike groei volg op wedergeboorte

Baie mense haak van by die begin van hul geestelike reis. Hulle kom nie verder as: Ek is gered. Ek dink ek is gered. Ek het Jesus aangeneem en ek gaan kerk toe. Ek lees partykeer my Bybel en bid. Wanneer hulle ‘n vir versoeking val en sondig dan twyfel hul opnuut of hulle gered is en of hulle doop werklik was. God wil hê dat ons sekerheid moet hê oor ons redding daarom moet ons weet dat die tema was nooit gewees of ons gered is nie. Die aanvanklike tema was dat ons tot bekering moet kom, ons laat doop en die Heilige Gees moet ontvang. Daarna kom ons by die volgende tema van geestelike groei.

God die Vader het vir ons ‘n feesmaal voorberei in sy huis. Die wat vashaak by of hulle gered is of nie, staan by die voorhekkie. Hulle het ‘n slawe mentaliteit en kan nie by die feesmaal ingaan nie, want hulle is nie seker oor hulle redding nie. Dit is soos die verlore seun wie se vader hom ontmoet het en terwyl die seun nog wou verduidelik en om verskoning vra, het sy vader reeds gesê hulle moet sy skoene bring, vir hom ‘n kleed kom omsit en ‘n ring aan sy vinger sit. Hy herstel hom dadelik in sy posisie as kind en wil hê hy moet dadelik ontslae raak van sy slaaf mentaliteit. Hy moet sy posisie inneem as seun en saam met die vader fees vier en aansit by die feesmaal wat voorberei is. Daar is meer as om net tot bekering te kom en om hemel toe te gaan en dit is God se bedoeling vir elke kind van Hom dat hulle meer sal beleef.

' Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God. ' I JOHANNES 5:13 (Afr.53)

LEES:

1 Joh. 5:13

Mediteer:

  • Het jy die vrymoedigheid om by Vader in te gaan en te gaan aansit by Sy tafel waar daar intieme verhouding is of is jy baie keer onseker of jy welkom is by Vader?
  • Raak stil vir oomblik en dink oor wat die rede is vir jou onvrymoedigheid?
  • Kan jy getuig van wedergeboorte of redding waarvan jy absoluut seker is en geen twyfel in het nie?
  • Indien jy hieroor wil praat met iemand kan jy vrymoedigheid neem en die “Pastor on call” nommer bel. 060 835 4778.

Bid: 

Dankie Vader vir die ongelooflike voorreg wat ons het om U kinders te wees en 100% sekerheid daaroor tê kan hê. Dankie Vader dat ek met absolute vrymoedigheid na U toe kan gaan ten spyte van my foute en tekortkominge. Vader help my om hierdie waarheid deur hierdie week finaal vas te maak.

BONUS: SPREEK LEWE!

Ek neem nou my posisie van seun/dogter in en besluit nou om vanuit hierdie posisie na Vader toe te gaan.

Aanbidding:

Juanita du Plessis - Koningskind (Official Lyric Video)

Dudley Mans – Ek pleit die bloed van Jesus

 

Dag 2: Groei – Moet anders lyk na die tyd as wat ons voor die tyd gelyk het

Ons hoof skrifgedeelte vir hierdie reeks is Hab. 3:17-19. 'Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die Here , ek sal juig in die God van my heil. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.' HAB.3.17-19 (Afr. 53)

Vers 17 beeld ‘n baie somber prentjie uit. Indien hierdie rapport van omstandighede aan ‘n boer of besigheidsman voorgehou word, sal hulle verseker vir jou sê dat jy diep in die moeilikheid is en dalk alles sal verloor. Hoe wonderlik dat vers 18 met die woord ‘nogtans’ begin. Die inhoud van vers 17 en 18 strook glad nie met mekaar nie. Met die insette van vers 17 verwag ons dat die skrywer hier ‘n treurlied sal sing wat pas by die prentjie wat geskets word. Die skrywer het egter al deur moeilike tye gekom en het al geleer dat die Skepper van die heelal nie beperk word deur omstandighede nie. Hy weet dat omstandighede is baie keer so sleg net voordat God die geleentheid gebruik om die slegte omstandighede om te swaai. Die skrywer weet dat hy ‘n goeie God aanbid, daarom skryf hy: ‘nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God van my heil.

Die skrywer weet dat sy krag kom van die Here en die Here maak dat sy treë vorentoe, seker is en laat hom veilig die hoogtes uit gaan.

Ons sien dat die skrywer het deur moeilike tye gekom en nou is hy anders en kan hy moeilike omstandighede anders hanteer. Hy kan juig al lyk die omstandighede skrikwekkend sleg. Hy het geleer dat hy op God kan vertrou en dat die uitkoms beter dal wees as wat hy ooit kon dink of droom. Wanneer ons dus deur moeilike tye en omstandighede gaan en voel asof ons net net dit maak, kan ons vas glo dat iets goed vir ons in gedagte het en dat die uitkoms veilig in God se hande is, omdat Sy hart teenoor ons goed is. Ons moet die Here vra dat Hy ons sal help dat ons nooit na sulke moeilike omstandighede dieselfde sal wees as voor die tyd nie. Ons moet in sulke tye meer tyd in die Woord, gebed en God se teenwoordigheid deurbring. Ons moet aan die einde van sulke tye ‘n getuienis hê.

Lees:

Hab. 3:17-19

Mediteer:

  • Wat is jou normale reaksie in moeilike omstandighede, hoe reageer jy teenoor God?
  • Dink jy dit is moontlik om soos Habakuk te reageer as jy deur werklik moeilike omstandighede gaan?
  • Hoe dink jy kan jy groei tot op die plek waar Habakuk is om selfs in baie moeilike omstandighede steeds God te kan loof en prys en nog steeds op hom te kan vertrou?
  • Glo jy dat God elke ding waardeur jy gaan kan gebruik om jou te laat groei na hoër hoogtes in jou verhouding met God en in jou geloof?

Bid:

Vader dit is glad nie lekker om deur slegte omstandighede te gaan nie en baie keer voel ons of ons aan die einde van ons kragte gekom het, maar dankie dat ons ‘n vaste oortuiging en vertroue kan hê dat U ons nooit sal alleen los nie en dat U elke omstandigheid gebruik en dit ten goede laat meewerk vir ons , maar ook vir U koninkryk. Vader help my om na elke slegte ervaring anders te wees as voor die tyd, meer volwasse en met ‘n karakter wat gegroei het. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Vader laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het!

Aanbidding:

Leanna Crawford – Truth I’m standing on (Official Lyric Video)

Dag 3: Geestelike groei

Die bevryding van die die Israeliete uit Egipte kan gesien word as ‘n metafoor van ons redding uit sonde en die proses van wedergeboorte.

Eerstens was die bloed van die lam aan die deurkosyne gesmeer van die Israeliete se huise en die eersgeborenes van die Isrealiete was gespaar, want die doodsengel het by die huise verby beweeg waar daar bloed aan die kosyne was. Die bloed het dus tussen hulle en fisiese dood gestaan. Jesus Christus het Sy bloed aan die kruis vir ons gestort. Ons wat Jesus Christus as Redder aanvaar, wend die bloed van Christus (die volmaakte Lam) aan vir ons sonde en ons gees word lewend en die Heilige Gees kom woon in ons gees. Ons word dus van geestelike dood gered.

Tweedens kom die Isrealiete voor die Rooisee en die Farao kom van die ander kant aan met sy leërmagte. Die Here maak toe vir hulle die Rooi See oop sodat hulle daardeur kan trek. Dit is simbolies van die waterdoop. Die Woord sê dat ons moet na al die nasies gaan en die goeie nuus aan hulle vertel. Ons moet hulle dissipels van Jesus maak en doop in die naam van die Vader en van die Seun (Jesus Christus) en van die Heilige Gees. Hierdie doop is die waterdoop.

Derdens word die Israeliete in die woestyn gelei deur die wolkkolom in die dag en deur die vuurkolom in die nag. Dit is ‘n voorstelling van die Heilige Gees. Wanneer ons gedoop word met die Heilige Gees, lei die Heilige Gees ons in alle waarheid.

Dit is as gevolg van die proses wat die Israeliete God se volk geword het en bekend gestaan het as God se volk.

Wanneer ons onseker is oor enige van die drie stappe kan dit ons geestelike groei kelder. Dit kanselleer nie ons redding nie, maar maak dat ons bly vashaak by die plek waar ons sekerheid kort.

1 Joh. 5:6 ‘Dit is Hy wat deur die water en bloed gekom het, Jesus die Christus, nie deur die water alleen nie; maar deur die water en die bloed, en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die Waarheid.

BLOED – WATER – GEES

Gees, siel en liggaam word ons gered, sodat ons kan weet dat ons kinders van God is.

Lees:

1 Joh. 5:6-10

Eks. 14

Mediteer

  • Kan jy ook getuig dat jy vir ‘n tweede keer gebôre is, nie in die vlees nie, maar in die gees?
  • Het jy al die hele proses van wedergeboorte deurgemaak nl; Bekering(redding), Doop na redding en dan die doop in die Heilige Gees?
  • Hoe beleef jy jou vrymoedigheid om in verhouding met Vader te staan en dink jy jou vlak van vrymoedigheid kan gekoppel word aan jou absolute verstane en sekerheid oor weergeboorte?
  • Indien jy enige vrae oor bg. het maak asb kontak met iemand van die voltydse personeel deur die “Pastor on Call” nr te skakel. 060 835 4778

 Bid: 

Dankie Vader vir redding, vir die doop en vir die vervulling met U Gees. Vader help my om die volheid en die volle implikasie van dit te verstaan en wat dit beteken vir my vrymoedigheid teenoor U. Vader help my om nooit in hierdie basiese afgehandelde werk en realiteit te twyfel nie en help my om met absolute vrymoedigheid te fokus op U en my geestelike groei. Dankie Vader dat my verhouding met U nie bepaal word deur omstandighede nie.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek weet verseker dat ek gered is en wedergebôre is, daarom kan ek in God se liefde geestelik groei deur die werking van die Heilige Gees in my lewe.

Aanbidding:

Phil Wickham – Living Hope (Official Music Video)

Dag 4: Parakletos

'For there are three that bear record in heaven, the Father, the Word, and the Holy Ghost: and these three are one. And there are three that bear witness in earth, the Spirit, and the water, and the blood: and these three agree in one. ' (KJV) 1 John 5:7-8

Ons het gesien dat op die aarde getuig die Gees, die bloed en die water vir ons oor ons redding. In vers 8 sien ons dat in die hemel getuig die Vader, die Woord (Jesus Christus) en die Heilige Gees dat Jesus die Christus is. Dit is so wonderlik dat die Heilige Gees in die hemel en op die aarde vir ons getuig. Die Heilige Gees is ons advokaat. Parakletos – die Heilige Gees verdedig ons as Sy eiendom. Die Heilige Gees getuig die waarheid oor ons. Waarom sal die Vader na enige iemand anders se woorde en opinie rakende ons luister, terwyl Hy weet die Heilige Gees praat die Waarheid. Ons glo baie keer die leuens van die vyand, maar God glo net die Waarheid wat die Heilige Gees getuig. In Christus Jesus getuig die Heilige Gees dat ons geregtig is voor God deur die bloed van Jesus Christus, die Heilige Gees werking en die doop.

Ons is Jesus se kroon en die Heilige Gees se kliënt. Ons het ‘n wonderlike regspan en met Christus en die Heilige Gees is ons geregtige kinders van God. Om hierdie rede kan ons vootgaan en ‘n verhouding met God hê. Ons kan voluit leef uit ‘n wete dat ons redding vas is en dat ons waarlik kinders van God is. Dit gee ons ‘n gerustheid in ons hart en bring ons in die plek van God se vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ons kan oorvloedig leef en sal verseker geestelik groei, wanneer ons hierdie ons eie maak.

Lees:

1 Joh. 5:6-8

Mediteer:

  • Het jy al ooit hierdie prentjie voor jou gesien wat hier bo geskryf is nl. dat die Heilige Gees soos in ‘n hofsaal staan soos ‘n advokaat wat jou saak voor Vader verdedig? Selah-raak stil en dink hieroor.
  • Miskien kan jy sê; “maar ek is skuldig, ek weet dit, Vader weet dit en almal weet dit.”
  • Feit: Die Heilige Gees weet dit ook, maar Hy weet die volle waarheid, dat Jesus reeds Sy bloed gestort het vir jou skuld en dat jou skuld reeds betaal is en dit is hierdie ongelooflike bewysstuk wat Hy die heeltyd voor Vader lê. My kliënt is onskuldig want daar is reeds vir sy skuld betaal.
  • Neem ‘n oomblik en maak seker jy laat die Heilige Gees toe om hierdie waarheid diep in jou wese te laat insink, want dit is net vanuit hierdie posisie wat jy kan groei.

Bid:

Dankie Heilige Gees dat U sonder om te twyfel my saak voor Vader verdedig, omdat U reeds die uitspraak ken. Dankie Heilige Gees dat ek op enige stadium van my bestaan as kind van God met vrymoedigheid na Vader kan gaan, sonder om veroordeel te word. Vader help my asb om hierdie waarheid diep vas te maak vanwaar ek met vryheid en vrymoedigheid kan groei in my verhouding met U. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Vader en Jesus en die Heilige Gees getuig saam, dat ek ‘n kind van Vader is, vas en verseker.

Aanbidding:

Firm Foundation (He won’t) – Cody Canes (Official Lyric Video)

Dag 5: Geestelike groei is die feesmaal saam met God in die binnevertrek

Dit is vir ouers ‘n riem onder die hart om te sien hoe hulle kinders groot word en groei in hulle menswees, volwassenheid, karakter en wese. Elke stappie van groei is ‘n rede om fees te vier. Die eerste tree, die eerste woord, skoene vasmaak, leer lees en skryf, leer swem, leer fiets ry, leer kar bestuur, leer dans. Daar is goed wat maklik en natuurlik kom en ander wat net sukkel. Op die einde vier ons elke eerste en beter en beste.

Hoeveel te meer fier ons Hemelse Vader, wat ons elkeen spesiaal en uniek geskape het, ons nie. Elkeen het Hy met sorg en liefde in die moederskoot saamgeweef. Hierdie een gee Ek ‘n sagte sterk hart wat baie liefde kan gee en kan staande bly. Hierdie een gee ek baie goeie organisasie vermoë en die vermoë om die groot projekte aan te pak. Hierdie een gee ek die talent om te kan sing en mense se harte aan te raak.

God is bemoeid met ons geestelike groei. Dit is vir Hom baie belangrik. Hy wag met opgewondenheid dat ons die trappe van bekering, doop en die doping met die Heilige Gees, uitklim en by die binnevertrek ingaan na die feesmaal. Geestelike groei begin wanneer ons oortuig is in die afgehandelde werk van ons wedergeboorte. Hy wil saam met ons feesvier oor ons geestelike reis en groei. Hy weet dat solank ons die feesmaal bywoon en in God se teenwoordigheid bly, sal ons in staat wees om veilig te loop in hoë risiko omstandighede, want Hy is by ons. Ons sal nie vashaak by ons laaste ontmoeting met die Here nie, want ons sal besef dat Hy het meer vir ons. Waar God is, is daar altyd meer, beter, groter.

Laat dit vir ons so wees soos in Hab. 3:19 (Ampc.) ‘The Lord God is my strength [my personal bravery, and my invincible army]; He makes my feet like hinds’ feet and will make me to walk [not to stand still in terror, but to walk] and make [spiritual] progress upon my high places [of trouble, suffering or responsibility]! For the chief musician; with my stringed instruments.’

Lees:              

Hab. 3:17-19

1 Joh. 5:6-15

Rom. 6:4

Gal. 5:4

Mediteer:

  • Is jy gereed om verby jou aanvanklike bekering en selfs doop en doping met die Heilige Gees te beweeg en in te gaan na die plek waar Vader jou nooi, om saam met Hom aan te sit en ‘n feesmaal te geniet?
  • Het jy al die die waarheid ontdek dat selfs as kind van God ons steeds soms tye van “trouble, suffering and responsibility” beleef?
  • Hoe reageer jy teenoor Vader wanneer jy sulke tye beleef?
  • Kan jy die kopskuif maak met hulp van die Heilige Gees om oortuig te wees daarvan dat jy steeds by Vader kan aansit vir ‘n feesmaal ten spyte van wat jou omstandighede ook al kan wees en dit met vrymoedigheid?

Bid:

Vader help my asb om verby te beweeg by die punt waar ek net tevrede is met die oortuiging dat ek Hemel toe gaan, maar dat ek U sal soek en met vrymoedigheid nader na U toe sal kom. Vader help my om dit diep vas te maak dat U nie die een is wat “trouble en suffering” oor ons pad bring nie, maar dat U die Almagtige Liefdevolle Vader is wat deur en in elke omstandigheid by ons is en dat U ons sal help om selfs deur ons tye van “trouble, suffering and responsibility” te groei, tot op die plek waar u ons wil hê en kan gebruik. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Alles, ja alles werk ten goede mee vir die wat U lief het, ja self ons “trouble, suffering and responsibilities”

Aanbidding:

Oase Gemeente – Tafel in die woestyn (Official music video)