NUWE LEWE
Neville Goodchild
Vry van sondebewustheid!
Dag 1: Oorgang van vlees na gees
Voor bekering is die mens se gees dood en leef die mens in die vlees. Die mens wat in die vlees leef is onder die Wet. Onder die Wet is die mens altyd skuldig en moet sy kop in skaamte laat sak. Daar is altyd straf vir sonde onder die Wet en dit word oorgedra van geslag tot geslag. In die vlees is die mens dus bewus van sonde en van straf. Die mens wat nog nie beleef het wat dit is om genade te ontvang en vry gespreek te word van sonde en die straf van sonde nie, leef met ‘n sondebesuwtheid. So ‘n persoon sukkel om ander en homself te vergewe en verwag straf en ook dat ander gestraf sal word vir hulle dade.
By bekering en wedergeboorte word die geesmens lewendig deur die Heilige Gees wat in ons kom woon. Die mens gaan dus oor vanaf ‘n lewe in die vlees, na ‘n lewe in die gees.Titus 3:4-7 verduidelik dat ons nou regverdig is deur genade in Christus Jesus. Jesus se bloed is genoeg om my te red. Daar bestaan nie ‘n enkele iets wat in my verlede of hede kon gebeur het, wat kan maak dat ek nie gered kan word nie. Niks kan maak dat ek uit God se genade hoef te val nie.
Ons verstand moet vernuwe word en ons moet leer om in die gees te lewe en nie in die vlees nie. Ons natuurlike vleeslike reaksie is om terug te gaan na die Wet, skuld, skaamte en onvrymoedigheid. Veral as mens tot bekering gekom het en wedergebôre is en die stryd en laste in die natuurlike lewe bly nog voortgaan, bevraagteken die mens of daar werklik iets gebeur het en of dit nie dalk net hulle verbeelding was nie. Wanneer ons egter gered is moet ons aan die Woord vashou en toelaat dat die Heilige Gees ons lei, want nou moet ons alles na die gees oordeel en nie meer na die vlees nie. Baie Christene sukkel hiermee en haak hier vas in hulle geestelike groei.
LEES:
Mediteer:
- Sukkel jy soms om te glo dat jy gered is en dat jy volkome vry is in Christus Jesus?
- Glo jy dat jou geesmens deur die Heilige Gees lewendig gemaak is en dat jy gered is van die ewige dood (vleesmens) tot die ewige lewe (geesmens)?
- Bid Titus 3:4-7 as ‘n belydenis hardop met jou naam in, sodat jy hierdie waarheid kan vasmaak in jou gees, siel en liggaam.
Bid:
Dankie Vader en my Verlosser dat U goedertierenheid en U liefde tot my verskyn het — nie op grond van die werke van geregtigheid wat ek gedoen het nie, maar na U barmhartigheid het U my gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat U ryklik uitgestort het op my deur Jesus Christus, my Verlosser; sodat ek, geregverdig deur U genade, ‘n erfgenaam kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe. 'Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek is gered op grond van die liefde en goedertierenheid van God en leef nie meer in die vlees nie, maar in die gees.
Aanbidding:
Spirit Lead Me: Oceans – Stephen McWhirter
Zach Williams: By His Wounds – Song Session

Dag 2: Sondebewustheid = Identiteitdiefstal
In Christus is ons geregtig voor God. In Christus het ons gesterf en is die prys vir ons sonde reeds betaal. Ons het reeds met ons lewe betaal. Ons kan nie weer die prys betaal nie, want die volmaakte offer was gebring en was reeds aanvaar.
Die feit dat ons bewus is van ons sonde en onsself op grond daarvan diskwalifiseer, is identiteitdiefstal. Ons vergeet wie ons is in Christus en glo ‘n leuen. Ons beoordeel onsself en ander dan na die vlees en nie na die gees nie. Die vlees werk teen die gees. Die vlees vra: ‘Maar wat as….?’ Wat as ek gedoop is en dan weer sondig? Wat as ek vashaak in my sonde en dit nie kan oorkom nie?
Sodra die waarheid ons fokus word in Christus Jesus deur die Heilige Gees, besef ons dat dit is ‘n afgehandelde werk. Jesus Christus is volkome God en was volkome mens. Hy het ‘n volmaakte werk aan die kruis gedoen en daar kan niks bygesit word of weggevat word nie. Wie ons was voor ons redding is nie meer die kwessie nie. Dit gaan nou oor wie ons in Christus Jesus is en oor ons gees potensiaal. Ons kan dan eers werklik verstaan wat beteken Jesus Christus se kruisdood en opstanding werklik. Ons word deel van iets soveel groter as onsself. God se genade is elke dag nuut. God se liefde dring nie net ons optrede nie, maar ook ons denke.
Lees:
Mediteer:
- Maak jou oë toe en sien jouself voor Vader staan. Hoe lyk die prentjie? Kan jy met vrymoedigheid voor Hom staan of is jou kop gesak in skaamte en onvrymoedigheid?
- Vra nou vir Vader om in hierdie prentjie met jou te deel die waarheid van wie jy in Christus is.
- Lees weer boonste oordenking en maak dit vas in jou oortuiging.
Bid:
Vader ek loof en prys U dat ek nie meer voor U te verskyn met ‘n skaamte oor my vorige sonde en my verlede nie, dankie dat ek U kind is en dat ek in perfekte verhouding met U kan staan as die geregtigheid van Vader. Vader help my om nie in die verwronge identiteit as sondaar sal sal bly nie maar dat ek my ware identiteit in Jesus sal besef en daarin sal staan.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is die geregtigheid van God!!!!!
Aanbidding:
Hier is ek (Official Lyric Video) – Oasis Gemeente

Dag 3: MY IDENTITEIT BEPAAL MY POSISIE
Toe die verlore seun teruggegaan het na sy vader, het hy homself geplaas op ‘n plek waar hy gehoop het dat sy vader hom as ‘n slaaf/dienskneg sal inneem. Sy idee van homself was sover verwyder van die werklikheid dat hy homself nie weer in die posisie van ‘n seun in sy pa se huis kon sien nie. Die verhouding was so vertroebel en in sy gedagte was dit onherstelbaar geskend. In werklikheid het sy vader vir hom gewag om terug huis toe te kom. Sy vader het uitgekyk vir hom, sodat hy hom kan terugbring in sy huis in en hom kan herstel in sy posisie. Sy vader het na hom verlang en daarna gesmag om hom terug te hê as sy geliefde seun. Die seun wou nog in sy gebroke identiteit vir sy vader vra om hom asseblief in te neem as ‘n slaaf of ‘n dienskneg, maar sy vader het dit nie eers gehoor nie. Hy was so opgewonde om hierdie seun van hom wat weg was terug te hê in die huis. Hy begin onmiddelik om opdragte te gee aan sy slawe en om sy seun te herstel in sy posisie. Hy hanteer sy seun volgens sy seun se regte identiteit en nie die identiteit van skuld en skaamte, van minderwaardigheid wat sy seun aangeneem het nie. In sy vader se oë en gedagtes was die seun reeds herstel en was die verlede verby. Hy laat die slaaf vir hom ‘n ring bring om aan sy vinger te sit (gesag), ‘n nuwe kleed aantrek (leierskap) en skoene aan sy voete. Die vader posisioneer die seun in sy huis op die plek om in ‘n nuwe, herstelde verhouding met die vader te woon en saam met die vader te heers. (Luk. 15:17-24)
Die volk van God was bestem om gered te word uit slawerny in Egipte en om na die beloofde land te gaan, dit in te neem en daar te heers. Hulle het nie hulle regte identiteit as volk van God ingeneem nie. Hulle het geleef met ‘n identiteit van slawerny. Hulle het verlang na die tydelike verligting om van die Egiptenare se oorskot, afskeep vleis te eet. Hulle kon nie sien wie hulle is en die plan wat God vir hulle het nie. Hulle het vir hulleself soos sprinkane gelyk in hulle oë en aangeneem dat hulle in die oë van die Midianiete ook soos sprinkane lyk. God het voor hulle uitgegaan en vir hulle ‘n pad gemaak. Hy wou hulle God en Redder wees en vir hulle die beloofde land gee, maar omdat hulle ‘n minderwaardige siening van hulleself gehad het en nie vir God kon vertrou nie, het hulle in die woestyn omgekom. Hulle karkasse het in die woestyn agtergebly. ‘n Hele geslag het in die woestyn gesterf en die volgende geslag, wat nie vasgevang was in die slawe mentaliteit nie, wat nie in Egipte grootgeword het nie, wat God kon vertrou vir hulle toekoms, hulle het die beloofde land ingeneem.
Toe Dawid vir Mefiboset, Saul se kleinkind, na die paleis laat kom om hom te herstel in sy posisie en te sorg dat hy tot sy dood versorg is, het Mefiboset na homself verwys as ‘n dooie hond. Hy het vir Dawid gevra wat hy met hom, Mefiboset, uit te waai het, want hy het homself gesien soos ‘n dooie hond. Hy het homself dus gesien as minderwaardig, sonder enige doel en van die laagste posisie. Dawid wou eer bewys aan sy vriend Jonathan en die vorige koning Saul en hulle nageslag seën. Mefiboset se bene was verlam weens ‘n ongeluk toe hy baie klein was. Weereens is die werklike posisie en God se siening van Mefiboset wêrelde verwyder van die gebroke en stukkende beeld wat Mefiboset van homself het. (2 Sam. 9:1-13)
Dit kan so maklik gebeur dat ‘n mens met die verkeerde siening van wie jy is en wat jou posisie is, die toekoms en die plan wat God het om jou te seën, kan mis.
Lees:
Mediteer
- Hoe sien jy jouself voor Vader?
- Sien jy jouself nog in jou ou identiteit van sondaar, skuldig of skaam?
- Weet jy wat is jou identiteit in Christus?
- Begin om gereeld vir Vader te vra om aan jou, jou ware identiteit in Christus te openbaar.
Bid:
Vader ek bely voor U dat ek so maklik terugval in my denke na my ou identiteit van vuil, seer en skuldig. Dankie Vader dat ek die nuwe identiteit van seun/dogter en die geregtigheid van God kan aanneem en daarin wandel. Help my Vader om werklik te verstaan wie ek in Christus is.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is die vrygekoopde, skoongewasde, geregtigheid en regverdige van Vader.
Aanbidding:
Rachael Lampa – Perfectly Loved (Official Lyric Video) featuring TOBYMAC

Dag 4: Wat doen God met sonde?
Onder die Wet was daar geen sonde wat ongestraf gelaat is nie. God bepaal egter dat daar ‘n ander en beter dispensasie gaan wees. In Psalm 31:1-2 is daar reeds ‘n profesie dat daar iemand anders gaan wees wat die sonde van die mense gaan dra. Ons weet dat hierdie profesie vooruitgewys het na Jesus Christus wat dit vir ons doen wat Hom aangeneem het as Verlosser en Saligmaker. Ons het in Christus Jesus gesterf vir ons sonde en die prys is volkome betaal. God het finaal met sonde en dood afgereken en ons het ‘n keuse om dit ons s’n te maak of nie.
Wat doen God in hierdie nuwe dispensasie met sonde?
- Hy vergewe ons sonde en dink nooit weer daaraan nie. Jer. 31:34 en Heb. 10:16-18
- Hy vergewe en verwyder ons sonde van ons. Ps. 103:12
- Hy vergewe en doen weg daarmee. Heb. 9:26
- Hy vergewe en werp dit in die dieptes van die see. Miga 7:21
Sodra ons oortuig word deur die Heilige Gees van sonde wat skeiding wil maak tussen ons en God, moet ons opregte berou daaroor hê, na die Vader gaan en dit bely en om vergifnis vra. Ons moet dat wegdraai van daardie sonde af en die regte pad volg(bekeer). Dit is dan ook belangrik dat ons sal glo dat God ons wel vergewe het en dit aanvaar as afgehandel. God beskou ons as sy kinders en niks wat ons doen maak dat Hy anders na ons sal kyk nie. Ons moet dus sorg dat daar nooit iets is wat ‘n skeidsmuur tussen ons en God veroorsaak nie. God doen moeite om dit duidelik te maak dat sonde wat afgehandel is, is ver van ons af verwyder en dat Hy nie dit weer opsoek en gaan haal nie. Dit is belangrik dat ons dit ook nie doen nie.
Lees:
Mediteer:
- Is jy oortuig dat God werklik jou sondes vergewe het, dat Hy dit totaal uitgewis het?
- Wat maak dat jy nie in die totale vergifnis van Vader kan glo nie?
- Maak jou oë toe en sien die kruis. Kyk en sien Jesus aan die kruis. Kyk en sien hoe Vader al die straf wat jy moes kry vir jou sonde op Jesus plaas en dat Vader Sy wraak wat op jou moes afkom op Jesus uithaal. Besef dit, aanvaar dit, glo dit en sien hoe Vader jou sonde wegwas op grond van die feit dat jou straf afgehandel is, weggevat is.
- Vergewe nou jouself op grond van die feit dat God jou vergewe het. Moenie weer terug gaan en weer gaan aanmeld vir straf wat reeds uitgedien is nie.
Bid:
Dankie Vader dat U my skoongewas het en totaal vergewe het vir elke sonde wat ek ooit gedoen het. Dankie Vader dat U nooit weer my sonde ophaal en teen my hou nie. Help my om myself ook te vergewe, sodat ek met vrymoedigheid na U kan gaan. Amen.
Bonus: Spreek Lewe
Ek is skoon, vrygespreek en het die nuwe lewe wat Vader vir my gee in Jesus.
Aanbidding:
Way Maker| Jesus Image| Steffany Gretzinger| John Wilds

Dag 5: Alles wat nodig is om in oorwinning te leef
Die Here het vir ons alles gegee wat ons nodig het om in oorwinning te leef. Dit was nog altyd Sy plan dat ons vry van sonde en skuld, heeltemal gesond, voluit in Sy teenwoordigheid sal leef. PD le Roux noem drie goed wat gelowiges help om in oorwinning te leef:
- Glo in God se onvoorwaardelike vergifnis.
- Vergewe jouself en ander mense.
- Noem jouself wat God jou noem.
Hierdie drie goed klink verskriklik maklik, maar as mens kyk hoe gelowiges vandag hiermee sukkel, is dit glad nie so maklik nie. Dit is belangrik vir kinders van die Here wat in oorwinning wil leef om te besef dat hulle die geregtigheid van God is in Christus Jesus en om dan met die leiding van die Heilige Gees hierdie drie goed uit te leef.
Lees:
Mediteer:
- Dink oor hierdie drie goed wat jy kan doen om in oorwinning te leef.
- As jy reeds in oorwinning leef, oorweeg hoe hierdie drie goed ‘n rol speel om jou op so plek in jou lewe en in jou verhouding met God te bring.
- Indien jy nie daar is nie, ondersoek watter van die drie goed ontbreek en laat die Heilige Gees jou bedien met wysheid oor hoe jy hierdie drie goed in jou lewe kan laat manifisteer.
Bid:
Vader ek kan net dankie sê vir alles wat ek uit U hand, in Jesus Christus en die Heilige Gees ontvang het. Dankie dat U ‘n lewe van oorwinning in Christus Jesus vir my gee. Help my deur die Heilige Gees om dit wat U vir my gee in ontvangs te neem. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
In Christus en deur die Heilige Gees ontvang ek alles wat God vir my het, in dankbaarheid en groot vreugde. U is alles wat ek nodig het. Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur God wat red en my krag gee.
Aanbidding: