GEHOOR DIE SPILPUNT VAN GELOOF #3
Neville Goodchild
Die Heilige Gees verkondig God

Dag 1: Wedergeboorte en geestelike groei volg op gehoor
Dit is noodsaaklik, on-onderhandelbaar, dat ‘n mens die waarheid (die evangelie) moet hoor, voordat mens tot bekering kan kom en wedergeboorte kan beleef. Die wete dat ek gered is, is die begin van geloof. Rom.10:17 – ‘Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Ek het gehoor en nou glo ek. Ek vertrou dat Jesus is my bron van verlossing. In verhouding gaan ek na Jesus en bely my sonde. Dit is ‘n verhouding wat veilig is, want Jesus het vir my die prys betaal en ek kan met respek vrymoedig na die Here gaan. Ek kan verlossing ontvang en in verhouding kan ek geestelik groei. Ek kan die sonde oorwin in genade en aanvaarding.
Pastoor Neville (Goodchild) deel hoe die Woord van die Here na hom toe gekom het op sleutel oomblikke en verhoed het dat hy dit mis wat die Here vir hom bedoel het. Hy het as 16 jarige gesukkel om te praat en het homself in musiek uit gedruk. Hy het die skool verlaat en het sy ouers oortuig dat hy na ‘n tegniese skool moet gaan, omdat hy dit nie sal maak in die gewone skool nie. Hy het op daardie stadium ‘n bybeltjie gekry by iemand en die boodskap dat hy moet bid en luister wat die Here vir hom wil sê oor sy toekoms. Hy het die Bybel gevat en gebid dat die Here hom moet wys wat hy moet doen. Luke 21:15 (NASB1995) ‘…for I myself will give you utterance and wisdom which none of your opponents will be able to resist or refute.’ Wat hy gehoor het was nie die leuen van die vyand nie, maar die waarheid wat God gespreek het. God het bonatuurlik voorsien vir sy eerste jaar se teologiese studies en in sy derde jaar doen sy besigheid so goed dat hy sy studies los en op sy besigheid fokus. Hy kry toe ‘n geleentheid om na die herlewing in Brownsville, Amerika te gaan. Die profetiese woord wat hy daardie aand ontvang is dat hy nie veronderstel is om in Amerika te wees nie. Hy is veronderstel om in Johannesburg te wees, besig om sy teologiese studies te voltooi. Die Here het verskeie kere met hom gepraat en hom teruggeroep na Sy oorspronklike plan. Deur die woord te hoor is sy lewe gerig volgens God se wil en dit het hom gered.
LEES:
Mediteer:
- Dink jy dat Vader net met sekere kinders van Hom so praat of glo jy dat Vader ook so met jou kan en wil praat?
- God stel so intens in jou belang dat Hy uit Sy pad sal gaan om met jou te praat en dit baie duidelik.
- In Hand 10:34 sê Petrus dat hy verstaan nou dat God niemand voortrek nie ,maar almal gelyk behandel. Dit is ook belangrik vir my en jou om dit te HOOR en dit te glo. Dan kan ons ook begin glo dat as God so met een van Sy kinders praat, Hy ook so met my wil praat.
Bid:
Dankie Vader dat U al U kinders dieselfde hanteer en dat U ook met my wil praat en elke dag reg is om my te praat. Vader help my om stil te raak en om te luister. Help my om U stem te leer ken en om U duidelik te hoor.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek lewe volgens Vader se plan vir my lewe omdat ek Sy stem HOOR.
Aanbidding:
Zach Williams – Heart of God (Official Lyric Video)

Dag 2: Wat gebeur as jy die Heilige Gees HOOR?
Ons hoef net te dink aan kommunikasie in die huwelik en dan sal ons begryp dat partykeer hoor jy, partykeer hoor jy half en partykeer hoor jy glad nie. Die goed wat veroorsaak dat ons nie hoor nie is gewoonlik dat ons besig is met iets anders en ons ingesteldheid is nie by die ander persoon nie. Ons mis baie keer die nie-verbale kommunikasie en dit veroorsaak seer en misverstande. Ons prioriteite verskil partykeer en dit wat vir ons maat baie belangrik is, is nie vir ons so belangrik nie. Dan is dit moeiliker om regtig ons maat te hoor.
Dieselfde gebeur wanneer die Heilige Gees met ons praat. God het gekies om ons geloof te stimuleer met gehoor. Ons moet aktief deelneem aan die proses om reg te kan hoor. Wanneer ons reg is om te hoor en ons prioriteite belyn is met God se wil, resoneer die woord wat ons ontvang met ons gees, siel en liggaam. Dit is soos ‘n viool wat ingestel word. Wanneer die viool se snare reg ingestel is en mens druk op middel C op ‘n klavier, resoneer die klank van die klavier met die tweede snaar van die viool en daar is beweging. Ja, wanneer die viool reg ingestel is, is daar ‘n sigbare bevestiging en manifistasie wanneer die klank van die klavier met die viool resoneer.
Dit is wat gebeur as ons waarlik hoor wat God vir ons sê deur die Heilige Gees. Daar is ‘n resonansie van die Woord met die episentrum van ons bestaan. Daar is ‘n roering, ‘n beweging en dit veroorsaak ‘n verandering en groei in ons lewe. Om te hoor is nie iets wat net gebeur nie, dit is ‘n ingesteldheid en dit word gebôre uit ‘n begeerte om regtig te hoor by die Here. Die stem van die Here klink soos lewe, soos liefde. Daar is vrede en orde waar ons God se stem hoor. Dit is ‘n plek van genade, verstaan, vergewe, oorsien, weer begin, stop en help.
Ons kan duidelik sien waar die stem van God nie gehoor word nie. Joh. 10:1-10 sien ons dat daar is chaos waar die stem van die herder nie gehoor word nie. Die skape word gesteel. Vir ons sal dit beteken dat ons word gelei na die verkeerde plek. Daar word van ons gesteel en verwoesting word gesaai. God se plan word vernietig en ons word weggelei van God se uitkomste. Ons mis ons bestemming en word verward en moedeloos gelaat. Dit beteken nie dat God nie gepraat het nie, want Hy kies om altyd met ons te praat en ons te lei. Dit beteken dat ons nie ingestel was om reg te hoor nie.
Lees:
Mediteer:
- Sou jy sê jy luister intensioneel na Vader, ek bedoel jy maak tyd om regtig stil te raak en te luister?
- Vra jy Vader vir spesifieke inligting of wysheid oor spesifieke situasies, m.a.w. vra jy Hom om met jou te praat bv. oor ‘n sekere situasie waar daar ‘n oplossing moet kom of besluit jy klaar wat die oplossing is en vra God dan om dit te doen?
- Die kuns is om stil te raak, Vader te vra, wat het Hy te sê oor die situasie, te wag , stil te bly en te hoor wat sê Hy?
Bid:
Vader ek loof en prys U vir U manier van werk met U kinders. Dankie dat U praat. Vader help my om my manier van met U kommunikeer te verander. Help my om meer stil te bly, om nie net altyd my lysie na U toe te bring nie , maar om werklik stil te kan raak en om te luister. Vader leer my om die Herder te stem te leer en te onderskei. Ek vra dit in Jesus naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies om my lewe te laat lei deur die stem van my Vader.
Aanbidding:
Matt Maher – Lord I Need You (Official Lyric Video)

Dag 3: HOOR – GELOOF – GEHOORSAAMHEID - AKSIE
God die Vader het in Sy groot liefde nie net vir ons die geskrewe woord (Die Bybel) – Logos – gegee nie, maar ook Sy openbarings woord – Rhema. Mens kan die Bybel lees, maar sonder die Heilige Gees wat dit vir mens lewend maak, kan jy nie die woord wat jy nou nodig het en wat nou aan jou geopenbaar moet word ontvang nie. Sodra ons Rhema woord begin ontvang deur die Heilige Gees, begin mense om anders te lewe. Daarom het ons wedergeboorte en die inwonende Heilige Gees nodig om die Woord vir nou te ontvang. Dit is ‘n woord wat ons allokeer vir God (set apart) en dit praat van roeping (calling).
'And they bring unto him one that was deaf, and had an impediment in his speech; and they beseech him to put his hand upon him. And he took him aside from the multitude, and put his fingers into his ears, and he spit, and touched his tongue; and looking up to heaven, he sighed, and saith unto him, Ephphatha, that is, Be opened. And straightway his ears were opened, and the string of his tongue was loosed, and he spake plain. ' Mark 7:32-35, KJV
In die gedeelte waar Jesus die doof-stom man in Dekapolis genees het, sien ons die volgende:
Hoor – Die doof-stom man se vriende hoor van Jesus en die wonderwerke wat Hy doen. Hulle neem hulle doof-stom vriend na Jesus toe om hom te genees.
‘Set apart’ – Jesus vat die man eenkant toe. Dit spreek van roeping en posisionering om in ‘n spesiale verhouding met God te staan. Jesus neem hom eenkant om van God genesing en roeping te ontvang.
Aksie – Jesus voer ‘n aksie uit deur Sy vingers in die man se ore te sit en te spuug en die man se tong aan te raak.
Wonderwerk – Die wonderwerk wat gebeur is nie net dat die man se gehoor reg kom nie, maar ook sy spraak. Die woorde wat gebruik word om die toestand van die man se tong te beskryf voor die wonderwerk te beskryf, dui daarop dat sy tong vas was met ‘n tou. Die Griekse woord ‘Desmon’ – ‘a band; ligament; shackles that binds prisoners.’ Die kettings val af. Waar die woord in aksie is word die gevangenis vry gelaat.
Wanneer ons geestelik doof is en nie hoor wat God deur die Heilige Gees vir ons sê nie, sal ons ook verkeerd praat. Ons sal goed praat wat nie van God af kom nie en wat nie klink soos lewe nie. Ons sal praat soos iemand wat nog met kettings vas is. Ons woorde sal nie soos lewe klink nie en dit sal frustreer in die Gees.
Geloof – Wanneer ons die stem van die Heilige Gees begin hoor, gebeur daar iets in ons gees wat ons bemagtig. Ons kan in geloof wandel, omdat ons ‘n vaste oortuiging het.
Joh. 6:12 sê Jesus dat Hy nog baie het om met Sy dissipels te deel, maar dat hulle dit nie nou kan dra nie. Hierdie stelling gaan nie oor tyd nie, maar oor kapasiteit. Die kapasiteit om die nuwe wyn – Rhema woord – te ontvang en dat die woord uitgaan en doen waarvoor dit uitgestuur is. Ons moet eers voorberei word om die nuwe wyn te ontvang, want jy kan nie nuwe wyn in ou wynsakke gooi nie, want dan skeur die wynsak en die wyn en die wynsak gaan verlôre. Ons kan vernietig word deur die regte woord as ons nie reg is om dit te ontvang nie. Dan sal dit ons en die nuwe woord vernietig. Ons word nuwe mense tydens wedergeboorte as ons die Heilige Gees ontvang wat Rhema woord aan ons kan openbaar. Ons kan nie in ons ou natuurlike mens die dinge van God verstaan en toepas nie, want God moet ons harte kom verander en die Heilige Gees moet ons lei in alle waarheid.
Lees:
Mediteer
- Laat jy gereeld toe dat Vader jou eenkant toe vat om met jou te praat, persoonlik in stilte?
- In die fisiese is dit so dat as iemand doof is, word sy spraak ook aangeraak. Net so in die gees is dit waar dat as jy geestelik doof is vir Vader se stem sal dit wat uit jou mond kom ook belemmer wees met negatiwiteit, dood en wêreldse uitinge.
Bid:
Vader ek bely dat ek baie keer so besig is dat ek nie toelaat dat U my eenkant toe kan vat om met my te praat nie. Heilige Gees wil U my stil maak en eenkant toe lei dat ek in ‘n intieme gesprek met Vader kan tree. Vader praat met my sodat my woorde daarvolgens gerig sal wees.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek hoor my Vader se stem en daarom kan ek my lewe rig volgens Sy waarhede.
Aanbidding:
Charity Gayle - Live at Free Chapel

Dag 4: Die Heilige Gees openbaar die volle waarheid aan ons
'Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. ' JOHANNES 16:13-15 (Afr. 33/55 vert)
Jesus beloof hier aan die dissipels dat die Heilige Gees gaan kom en die Heilige Gees gaan hulle lei in die volle waarheid wat van God af kom. Dan sê Jesus ‘n baie belangrike ding. Die goed wat die Heilige Gees van sal praat sal dui op toekomstige dinge. Dit is wonderlik om te weet dat die Heilige Gees ons sal lei in die volle waarheid en dit is dieselfde asof God self met ons praat. Dit verheerlik God dat die Heilige Gees alles wat God vir ons wil gee aan ons verkondig en openbaar.
As ons egter mooi dink dan besef ons dat ons wel die Heilige Gees het, maar soms nog ‘n baie skewe beeld van die waarheid het. Iewers loop iets met ander woorde skeef. God se gedeelte is perfek. Die boodskap word suiwer aan ons verkondig. Waar is die fout dan? Die fout is by ons wat die boodskap moet ontvang. Ons moet die boodskap hoor en reg hoor. Daar is verskeie redes hoekom ons nie reg hoor nie. Ons interpreteer die woord wat ons ontvang deur die Heilige Gees aan die hand van ons ervarings, agtergrond, vrese, hoop, verwagtings en die leuens wat ons glo.
In kort is dit God se wil om die Waarheid aan ons te openbaar deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Die Heilige Gees gee dit aan ons en verheerlik God deur die Waarheid aan ons te verkondig. Die Heilige Gees spreek oor toekomstige dinge wat gaan gebeur. Ons ontvang die Waarheid van God deur die Heilige Gees deur dit te hoor. Sodra ons begin om reg te hoor is dit soos ‘n spilpunt. Die spilpunt is die middelpunt van alle gebeurtenisse. Alles wat in die reikwydte van die spilpunt is ontvang dit wat ons van God ontvang het en dit lewe en groei. Dit is dieselfde met die Woord van God wat in ons lewens realiseer. Oral waar ons gaan en invloed het veroorsaak dit lewe en groei. Dit verheerlik God.
Lees:
Mediteer:
- Raak stil en luister. Vra Vader wat wil Hy vir jou gee en of sê oor 2025?
- Ons kan maklik verkeerd hoor as ons nie die sagte stem van die Heilge Gees hoor nie en nie weet hoe Sy stem klink nie.
- Ken jy die Heilige Gees se stem?
- Indien nie wil ek voorstel dat jy meer tyd neem om stil te raak en vir Vader spesifieke vra te vra en om dan te luister, wat beleef jy, watse prentjies kry jy. Toets dit aan die Woord en met mede gelowiges. Leer so Vader se stem ken.
Bid:
Vader wat wil U vir my sê oor 2025?
Raak nou stil en luister.
Bonus: Spreek Lewe
Al die goedheid en guns sal my en my gesin volg deur die hele 2025.
Aanbidding:
Kori Jobe – Speak to me - Live

Dag 5: Ontvang wat God reeds vir jou gegee het
'Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.’ Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.’ Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.' 1 Kor. 2:9-16 Afr. 33/53
Ons het in die vorige dagstukkie gesien dat ons ontvang dit wat die Here vir ons het deur gehoor, maar hier gaan Paulus bietjie verder en dit is duidelik dat dit wat God vir ons het, is ‘n openbaring van Homself. Ons kan dit egter nie ontvang of interpreteer, sonder die Heilige Gees wat ons by wedergeboorte ontvang het nie. Die geestelike dinge, die dinge van God, maak glad nie sin vir die ‘wêreld’ nie. Met ‘wêreld’ word verwys na almal wat nog nie wedergeboorte ontvang het nie en nog nie die Heilige Gees ontvang het nie. In ‘n ander gedeelte staan daar dat ons is in die wêreld, maar ons is nie van die wêreld nie. Met wedergeboorte word die ‘nuwe wynsak’ voorberei. Ons gees word lewendig en die Heilige Gees kom woon in ons. Die Heilige Gees ondersoek sonder ophou die dieptes van God en openbaar dit elke dag aan ons. Ons kan dit hoor en verstaan, omdat die Heilige Gees dit in ons gees openbaar vir ons.
Om gered te word is dus die begin van ‘n geestelike reis, ‘n avontuur om die dieptes van God te ontdek en saam met God te wandel. God gee vir ons die allerbeste in Sy perfekte liefde.
Die hartseer ding is dat God gee dit aan alle mense, maar baie ontvang dit nie. Hulle hoor die evangelie van verlossing, maar neem dit nie aan nie. Selfs geredde mense, wat die Heilige Gees ontvang het, laat nie toe dat hulle wynsak vervang word nie en kan nie die nuwe wyn ontvang nie.
Dit is soos iemand wat baie graag iets wil doen, maar om dit te kan doen, het die persoon ‘n sekere gereedskap nodig wat baie duur is. Vir jare en jare kan die persoon nie doen wat hy graag wil doen nie, omdat hy nie die gereedskap het nie en dit ook nie kan bekostig nie. Eendag pak die persoon sy werkkamer reg en ontdek dat hy het die gereedskap al baie jare terug gekoop en gebêre in sy werkkamer. Hy het nog nooit eers die gereedskap oopgemaak nie. Hy het dit al die jare gehad, maar kon nie die werk doen waarvoor daardie gereedskap daar is nie, want hy het nie geweet dat hy reeds die gereedskap het nie. Nou dat hy wel ontdek het dat hy die gereedskap het, moet hy die gereedskap oopmaak en die gebruikersaanwysings bestudeer. Hy moet dat tyd uitsit en alles kry wat hy nodig het en dan kan hy die gereedskap gebruik. Dan eers kan hy die voordeel beleef van dit wat hy reeds het.
Die boodskap van groot blydskap, die evangelie en die Heilige Gees, is reeds elke persoon op aarde s’n. Ons het die Heilige Gees ontvang sodat ons kan begryp wat God in Sy groot genade vir ons geskenk het. Hy het Sy enigegebôre Seun, Jesus Christus, gegee sodat elkeen wat verlore is gered kan word, omdat Jesus die sonde en die straf van die sonde op Homself geneem het. Die ‘wêreld’ kan nie begryp wat ons ontvang het nie. Hulle voel nogsteeds verlôre en moedeloos, skaam en skuldig, maar God het reeds alles gegee wat hulle nodig het. Hy het meer gegee as dit. Hy gee Homself deur die Heilige Gees.
In Ed Delph se boek Redefining Rhema onderskei die skrywer as volg tussen Logos en Rhema woord. Logos is “God has said”. Rhema is “God sê nou en dit is noodsaaklik”. Rhema is ‘n geloof geskape woord van God vir ‘n persoon en die toepassing van die Logos woord.
Lees:
Mediteer:
- Weet jy wat God vir jou geskenk het en beleef jy hoe die inwonende Heilige Gees van God die Here se woord vir jou oopbreek en aan jou openbaar, hoe dit lewendig word deur die Heilige Gees?
- Bid daaroor en beleef die wonderlike openbaring van die Woord en van God deur die Heilige Gees.
- Raak stil en word net bewus van die omvang van dit wat God vir ons gegee het. Maak seker dat jy dit nie op die rak sit en dit vergeet nie, maar pak dit uit en geniet die volheid daarvan.
Bid:
Vader ek kan net dankie sê dat ek uit U hand uit Jesus Christus en die Heilige Gees ontvang het. Direk het ek U ontvang en dit is meer as genoeg vir elke dag, elke uitdaging, elke beproewing en tot groot vreugde en ongekende vrede vir my as mens. Ek verheerlik net U Naam bo elke naam. Daar is niemand soos U nie. Elke goeie gawe het ek uit U hand ontvang, en my beker loop oor. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
In Christus en deur die Heilige Gees ontvang ek alles wat God vir my het in dankbaarheid en groot vreugde. U is al wat ek nodig het.
Aanbidding:
More Than Enough – JPCC Worship (Official music video)

Dag 5 ʼn Feësmaal vir almal; by Jesus
Hierdie skrywer was Sondagoggend so intens en diep geraak deur die afsluitingsgebed van Neville Goodchild dat hy voel om dele daarvan hier neer te pen vir dié van ons wat dalk sukkel om ons gedagtes mooi te bewoord. Dit is ʼn gebed wat ons hardop kan lees en vir die Here vra om dit te seën. Natuurlik het ons almal nie dieselfde vermoëns nie, dankie tog daarvoor, die Here hoor ons, selfs al sukkel ons om woorde agter mekaar te sit, Hy ken ons gedagtes en dit is meer as genoeg. Die punt is, sit aan by die tafel, want ons is genooi om daar te wees.
Neville:“Here, ons eer U dat ons by U tafel kan kom sit en nie uit rituele of godsdiens nie, maar omdat U ons persoonlik genooi het. U gaan haal ons in ons toestand, in ons vervallenheid, in ons ellende, in ons hopeloosheid, in ons idees oor God en maniere om God te verstaan en Hom heeltemal te mis. U bring ons naby aan die tafel sodat ons kan getuig dat wanneer ons ons oë oopmaak na die Nagmaal, is ons omring met liefde, bedien met krag, voorsien in alles wat ons nodig het en versoen op die hoogste vlak met ons Vader. Ons het lewe in oorvloed ontvang, want ons het aan die tafel kom sit. Here, leer ons om so dikwels as wat ons saam is, U Nagmaal te hou en ons ewige insluiting met Jesus Christus te vier.”
In hierdie mooi gebed word die storie aangehaal van Dawid wat tydens sy koningskap versoenend optree teenoor een van Saul se kleinkinders. ʼn Gestremde man. Kind van Jonathan. Hierdie man kry toegang tot Dawid se etenstafel, hy kry sy pa se eiendom terug, net omdat Dawid ʼn hart van vergewingsgesindheid gehad het. Onthou jy hou Saul hom vervolg en probeer doodmaak het op verskeie geleenthede? Hierdie aanhaling is simboliek vir wat Jesus later kom doen het. Vergewe. Opbou. Heropbou. Herstel. In liefde.
Ons het toegang tot die tafel. Kom ons gebruik die geleenthede met ons gesinne, vriendekringe en ons sit aan by die Vader. Wanneer ons wegstap is ons geseënd sodat ons moed het vir die toekoms, vorentoe kyk, uitsien, want Jesus het die verlede uitgevee en ons hoef nie die heeltyd oor ons skouer terug te kyk na die verlede nie. Jesus het alles verander. Prys die Here.
Lees
Mediteer
Met wie in jou onmiddellike omgewing is dit nodig om mee brood te breek?
Gebed
Vader, ons is stil aan U tafel. Laat U naam geheilig word. Amen.
Spreek Lewe
Ons het toegang tot die Skepper deur Jesus se opoffering en die uitnodiging om te kom aansit.
Aanbid
The Table – Jonathan Traylor