Go Deep 2 Februarie 2025

Versterk deur Genade

Neville Goodchild

Dag 1 Kry jou brandstof by Jesus

Ons weet waar ons kos kan koop om te eet ,waar die plekke is waar ons gou 'n melk en brood kan koop, ons weet waar die petrolstasies is en ons weet wanneer ons voertuig leeg is. Maar waar vul jy jou geestelike tenk, kind van Jesus?

Vandag het Lewende Woord Bloemfontein Nagmaal gehou. As jy gewoond is aan seremonies wat elke keer dieselfde is, sal jy verbaas staan, want hierdie is nie ʼn ritueel nie. Geen pretensies. Groepe mense, meestal gesinne, die enkellopendes vind mekaar op ʼn  manier, staan en breek brood vir mekaar, bid en versterk. Ons het geen twyfel dat die Here in beheer is nie.

Baie van ons is geneig om skaam, ontbloot, te voel wanneer iemand vir ons bid, maar dit gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor Jesus wat ons wil makker maak vir Sy beloftes.

God speel nie met die Nagmaal nie. Hy wil ons intrek, versorg, versterk. Ons gedagtes word soms verstrengel deur vriende, idees, rituele en gebruike wat ons laat dink dat ons op die regte pad is. Jesus het met sy kruisdood alles omgekeer. Ons hoef nie op ʼn spesifieke dag spesifieke rituele na te kom om by Jesus te wees nie.

God het die Nagmaal nie as ʼn instelling gevestig vir kerke om seremonies te hou nie. Daar is niks verkeerd as kerke die Nagmaal onderhou nie, maar wat van gesinne? Hoekom gebruik ek en jy nie Nagmaal saam met ons mense nie? Die Bybel sê nêrens dat die Nagmaal slegs op Sondae ʼn instelling moet of mag wees nie. Dit is in werklikheid ʼn geskenk van God, vir ons, om te “re-connect, krag te kry, vrede te maak en stil te raak sodat ons Sy stem kan hoor,”

In ons daaglikse bestaan is daar waarskynlik twee basiese behoeftes (daar is meer) wat ons deurgaans aan voldoen: Kos, want ons mense kort energie om ʼn impak te maak waar ons is en brandstof en vir ons voertuie om kinders by die skool te kry, ons verpligtinge na te kom, gou by die supermark te stop om melk en brood te koop, of kos af te lewer vir die oom en tannie wie se pensioen net huur kan betaal.

Vraag is, waar kry ons ons geestelike petrol? Gang by die werk? Nee, in die Woord en wanneer ons as gesinne Nagmaal hou sodat die Heilige Gees ons versterk. Die Nagmaal is petrol vir die siel.

Lees

Joh 1.

Mediteer

Gebruik ek die krag van die Nagmaal?

Gebed

Vader, dankie dat U alles so eenvoudig vir ons maak. Leer ons om die Nagmaal  as ʼn blywende bron van energie te gebruik. Amen

Spreek Lewe

Die Nagmaal is nie eksklusief nie.

Aanbid

Jesus have it all  - Jeremy Riddle

Dag 2  ʼn Vaste Rots in ʼn veranderende wêreld

In vandag se tye is dit so maklik om in die wêreld se dinge opgevang te word. Dink maar aan hoe sosiale media die kommunikasie tussen mense daadwerklik verander het. Vandag sien jy amper nie jongmense wat nie op ʼn foonskerm fokus nie. Vandag se fone neem beter foto’s as gister se kameras. En dan is ons nog in die middel van die Vierde Industriële Rewolusie. Vir baie van ons is dit ʼn heel onwerklike gedagte. Kunsmatige Intelligensie, wat is dit? Nano-robotte wat kanker kan opsoek in iemand se lyf? Webtuistes soos ChatGTP3 wat met ʼn paar instruksies hele paragrawe oor enige onderwerp op aarde kan skryf?

Kenners voorspel dat die meeste beroepe soos ons dit ken binne ʼn paar jaar heeltemal gaan verdwyn. Eerstens moet dit ons nie angstig maak nie, ons moet hierdie veranderende wêreld trotseer met die wete dat God in beheer is. Maar daar is meer.

Hebreërs 13:8 gee die pas aan in hierdie omgewing waar ons heeltyd ons planne moet aanpas. In die NIV vertaling lees dit so:” Jesus Christ is the same yesterday and today and forever.”

Dit is lekker om die gister en vandag te sien, maar die “forever” is vir seker vir ons die belangrikste. In al die onsekerheid is daar iets wat uitstaan, nee, uittroon: Jesus.

Johannes 1 (gister se leesstof) verduidelik die Nuwe Testamentiese Era so mooi. Dit verbind die Woord met Jesus. Die Skepping met Jesus. Die Lam van God wat die wêreld se sondes kom wegvat het se rol word deeglik beskryf. Jesus lei met Sy koms ʼn nuwe era in, ʼn era waar ek en jy nie offers hoef te maak in die hoop dat ons sondes vergewe is nie. Nee, Hy ly ʼn nuwe bedeling in waar ons vrygemaak en vrygespreek is, totaal vergewe, genade sonder ʼn bybetaling ontvang.

As ons dink hoe die wêreld verander het sedert Jesus se kruisdood en opstanding. Mense het met donkies gery of geloop om iewers te kom. Vandag is daar vliegtuie as jy gou van een plek na die ander wil skiet. Kommunikasie is destyds deur boodskappers gebring en hulle was soms sommer doodgemaak as dit slegte nuus was. Vandag kommunikeer ons met vriende en familie oorsee deur net ʼn foon op te tel.

Deur al hierdie tye het Jesus nooit verander nie, die boodskap het dieselfde gebly, so ook die genade waarvoor Hy homself geoffer het tot ons voordeel. Dis liefde. Dis opregte Vaderliefde.

 

Lees

Heb. 13:8-16

Mediteer

Hoe kan ek getuig dat ek ʼn Rots het wat nooit verander nie?

Gebed

Vader, ons denke beperk ons in veranderende tye. Help ons om die skakelaar te draai na 2025 met die wete dat U nog steeds daar is, in beheer is, dieselfde is en nog steeds net soveel omgee soos toe U Adam en Eva geskape het. Here, ons verstaan nie U liefde en U genade nie, maar ons kniel in dankbaarheid en klou daaraan vas. In Jesus naam, Amen.

 

Spreek Lewe

Jesus verander nooit nie. Sy liefde bly, sal bly, vir altyd en altyd.

Aanbid

I love you Lord - Jenn Johnson

 

 

Dag 3  Die Ou Testament is die Verlede, Vriende

Vandag is daar nog steeds sommige van ons wat Ou Testamentiese gebruike of rituele aanhang omdat ons dalk glo dat dit ons nader na God sal bring. Die hartseer waarheid, vriend of vriendin, dit vat jou verder weg. Lees Heb.13:9-10.

“Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie. Ons het ʼn altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; ...”

Om hierdie deeglik te verstaan is dit dalk goed om Mat. 26:26-30 te lees waar Jesus Nagmaal hou met Sy dissipels. Jesus sê dat Hy die brood is wanneer Hy dit breek. In die Ou Testament , onder die ou verbod, was daar toonbrode by die altaar in die tempel. In die nuwe bedeling van Christus is Hy die brood uit die hemel en die tempel van God. Waar Hy is, is God en wie by Hom is, is by God.

Wanneer jy na hierdie twee tekste kyk, is dit duidelik dat Jesus ons wil weglei uit ons Ou Testamentiese gedagtes, rituele en verdoemenis, na ʼn plek waar ons genade ervaar, want Jesus is geoffer.

Die Nuwe Testamentiese Christen het nie nodig om brood te breek op seker tye of om sekere rituele uit die Ou Testament na te boots vir sy of haar verlossing nie. Jesus het al daardie goed stukkend gebreek. Hy gee vir ons Sy genade. Hy het ons gekies, nog voor die Skepping om heilig en sonder blaam te wees, Ef.1:4.

ʼn Mooi voorbeeld van Jesus se genade wat die wettiese veroordeling van die Joodse wette totaal en al omslaan, is in Johannes 8 waar die vrou wat owerspel gepleeg het in die tempel voor Hom gebring word. Lees dit.

Die deel in vers 11 staan uit: ““Then neither do I condemn you,” Jesus declared. “Go now and leave your life of sin.”

Wat is die punte om te oordenk? Jesus veroordeel ons nie, ons het nie rituele nodig om Hom te probeer beïndruk nie en Hy het elkeen van ons al voor die Skepping beplan. Ons is deel van ʼn ontsaglike Koninkryk.

 Lees

Mattheus 26:26-30

Mediteer

Is daar gebiede in my menswees waarin ek nie God se genade verstaan nie en deur eie wil gered word?

Gebed

Jesus, U het gekom en ons wêreld radikaal en vir altyd verander. Daar is by ons geen twyfel dat U ons toegang tot God se troonkamer is nie. Amen.

 

Spreek Lewe

Pella, ons het genade en ʼn God wat omgee. Wat meer wil ons hê?

Aanbid

House of the Lord – Phil Wickham

Dag 4  Die Kruis was buite Jerusalem

Hebreërs 13:11-16 stel die ou Testament duidelik op teen die nuwe Jesusbedeling wat ons uit genade in die Nuwe Testament ontvang. Geskiedenis versus toekoms ...

In die Ou Testament het die mense offers gebring wat deur die hoëpriester geslag is. Hierdie offers is dan buite die stadsmure verbrand sodat niemand daarvan eet nie. Net so, staan dit, is Jesus se bloed buite Jerusalem uitgestort sodat ons heilig kan word deur Sy bloed.

Hierdie Woord het verreikende gevolge vir jou en my. Die kruis buite Jerusalem simboliseer ook dat Jesus, redding, die troonkamer van God, vir almal bestem is, nie net vir Jode nie. Verder kyk ons nie meer terug na die geskiedenis of verlede nie, al die goed wat ons oor jare af versamel het om onsself mee sleg te laat voel oor ons sondigheid maak nie saak nie. Dit is op ʼn kruis op Golgota afgehandel. Ons hoef nie meer soos die Jode destyds in Jerusalem ʼn klomp reëls en rituele na te volg om vergifnis te ontvang nie. Die Lam van God is reeds geslag vir ons onthalwe. Die offer is volbring.

Nou kan ons by die Nagmaaltafel aansit en na die toekoms kyk met verwagting. Ons ontvang by die tafel en daarom aanbid ons Hom. Ons het toegang tot God, só anders as in die Ou Testament waar slegs die hoëpriesters toegang tot die binnekamer gehad het.

Geloof is nie ʼn ervaring nie, dit is ʼn diepe wete dat Iemand ons liefhet. Dit is om met God saam te stem oor onsself. Ons begin onsself sien soos wat Hy ons sien.

(Hierdie skrywer sit Sondagoggend in die kerk en een van die leiers in die gemeente kom groet. Ons sit en gesels oor die uitdagings wat mens soms ervaar met jou kinders en in daardie kort gesprek sê hy dat wanneer ons kinders swaarkry, kry ons net so swaar. Hy gaan verder en sê dat ons onsself nie kan indink oor hoe diep God se liefde vir ons is nie. Wat ʼn voorreg om leiers te hê met omgee-harte en ʼn opregte liefde vir die Here en wat presies uitleef waarvoor die skrywer van Hebreërs vra. Hierdie ervaring het my diep geraak en inspireer vir Jesusliefde.)

 Lees

Rom. 10

Mediteer

Wat beteken die Nagmaal vir my en my gesin?

Gebed

Vader, ons is opgewonde oor die toekoms. Ons kyk vorentoe na U beloftes. Dankie dat ons die verlede met sy seerkry en trauma kan afskud by U. In die naam van Jesus, Amen.

 Spreek Lewe

Ons is werklik gered en ons kyk na die toekoms met verwagting in, want ons Skepper het ons innig lief.

Aanbid

God really loves us – Dante Bowe & Crowder

Dag 5  ʼn Feësmaal vir gesinne, by Jesus

Hierdie skrywer was Sondagoggend so intens en diep geraak deur die afsluitingsgebed van Neville Goodchild dat hy voel om dele daarvan hier neer te pen vir dié van ons wat dalk sukkel om ons gedagtes mooi te bewoord. Dit is ʼn gebed wat ons hardop kan lees en vir die Here vra om dit te seën. Natuurlik het ons almal nie dieselfde vermoëns nie, dankie tog daarvoor, die Here hoor ons, selfs al sukkel ons om woorde agter mekaar te sit, Hy ken ons gedagtes en dit is meer as genoeg. Die punt is, sit aan by die tafel, want ons is genooi om daar te wees.

Neville:“Here, ons eer U dat ons by U tafel kan kom sit en nie uit rituele of godsdiens nie, maar omdat U ons persoonlik genooi het. U gaan haal ons in ons toestand, in ons vervallenheid, in ons ellende, in ons hopeloosheid, in ons idees oor God en maniere om God te verstaan en Hom heeltemal te mis. U bring ons naby aan die tafel sodat ons kan getuig dat wanneer ons ons oë oopmaak na die Nagmaal, is ons omring met liefde, bedien met krag, voorsien in alles wat ons nodig het en versoen op die hoogste vlak met ons Vader. Ons het lewe in oorvloed ontvang, want ons het aan die tafel kom sit. Here, leer ons om so dikwels as wat ons saam is, U Nagmaal te hou en ons ewige insluiting met Jesus Christus te vier.”

In hierdie mooi gebed word die storie aangehaal van Dawid wat tydens sy koningskap versoenend optree teenoor een van Saul se kleinkinders. ʼn Gestremde man. Kind van Jonathan. Hierdie man kry toegang tot Dawid se etenstafel, hy kry sy pa se eiendom terug, net omdat Dawid ʼn hart van vergewingsgesindheid gehad het. Onthou jy hou Saul hom vervolg en probeer doodmaak het op verskeie geleenthede? Hierdie aanhaling is simboliek vir wat Jesus later kom doen het. Vergewe. Opbou. Heropbou. Herstel. In liefde.

Ons het toegang tot die tafel. Kom ons gebruik die geleenthede met ons gesinne, vriendekringe en ons sit aan by die Vader. Wanneer ons wegstap is ons geseënd sodat ons moed het vir die toekoms, vorentoe kyk, uitsien, want Jesus het die verlede uitgevee en ons hoef nie die heeltyd oor ons skouer terug te kyk na die verlede nie. Jesus het alles verander. Prys die Here.

Lees

2 Sam. 9

Mediteer

Met wie in jou onmiddellike omgewing is dit nodig om mee brood te breek?

Gebed

Vader, ons is stil aan U tafel. Laat U naam geheilig word. Amen.

 

Spreek Lewe

Ons het toegang tot die Skepper deur Jesus se opoffering.

Aanbid

The Table – Jonathan Traylor