NUWE LEWE
De Villiers Nel
Vry van ongeloof!

Dag 1: Geloof is ‘n vaste fondasie
“The Leaning Tower of Pisa” is ‘n pragtige, baie bekende, skewe toring in Italië. Die toring self is in 1173 gebou van die duurste wit marmer en kalksteen, maar die bouers het besluit om te spaar op die fondasie. Die grond is baie sag en met ‘n fondasie van net drie meter, het die toring, met die bou van die derde verdieping, begin om te sak aan die een kant onder die gewig van die toring. Die gevolg is dat hierdie toring ‘n besienswaardigheid is wat ongeveer 5 miljoen mense jaarliks lok. Hulle kom om ‘n foto te neem saam met die skewe toring van Pisa. Die toring het dus nou heeltemal ‘n ander funksie as waarvoor hy oorspronklik ontwerp en gebou is.
Met die mens gaan dit ook so. Ons het ‘n standvastige fondasie nodig, anders trek ons skeef en kan ons nie die rede en plan van ons skepping uitleef nie. Ons verloor dus ons godgegewe missie en word ‘n ‘besienswaardigheid’.
Geloof is die fondasie wat ons nodig het en wat ons standvastig en regop sal hou. Heb. 11:1 Geloof is dan ‘n vaste vertroue in die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Vaste vertroue is afgelei van die Griekse woord ‘Hipostates’; ‘sub-stance’ in Engels; om te ondersteun; wat ons nie noodwendig kan sien nie, maar waarop iets gevestig is’.
Geloof bly staan en is standvastig al val alles waarop ek vertrou het en gesteun het weg. Geloof maak dat my hoop nie wankel nie.
Ongeloof daarenteen is volgens PD le Roux ‘n wantroue in die dinge wat ons hoop en ‘n vaste vertroue in die dinge wat ons sien. As ek dus die stelling ‘seeing is believing’ glo, beweeg ek in die realm van ongeloof.
2 Kor.5:18 – “Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is ewig.”
Geloof in God is om jou oë op die onsigbare, ewige dinge te rig. Dit is ‘n ferm fondasie wat nie wankel onder enige iets in ons daaglikse lewe nie. As ons nie geloof het nie, het ons ‘n wankelrige fondasie en kan die storms om ons, ons maklik omwaai en selfs verwoes.
LEES:
Mediteer:
- Dink oor jou eie geloof. Sou jy kon sê dat dit ‘n vaste fondasie is vir jou lewe?
- Is jou geloof van so aard dat jy selfs wanneer dit moeilik en rof gaan, nog steeds ‘n vaste vertroue in Vader het en vrede kan beleef?
- Sou jy sê jou geloof word beïnvloed deur wat jy sien?
Bid:
Vader ek besef dat my geloof so maklik beïnvloed word deur my omstandighede en dit wat ek kan sien en beleef. Vader wil U my kom help deur die werking van U Gees om my geloof te vestig en te belyn met dit wat U dit bedoel het om te wees. Bevry my van ongeloof. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
My geloof is gerig op dit wat ek nie kan sien nie, wat onwankelbaar is en baie groter as dit wat ek kan sien.
Aanbidding:
Cody Carnes – Firm Foundation (He Won’t)(Official Lyric Video)

Dag 2: Die onsigbare weermag
'Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. ' (2 Konings 6:16-17)
Hierdie is ‘n gedeelte wat my vul met soveel opgewondenheid oor wat God doen. Ons lees hier dat die Arameëse Koning probeer om vir Elisa te vang. Elisa het hulle frustreer omdat hy elke keer die Koning van Israel gewaarsku het as die Arameërs aanval en probeer om die Koning te vang. Dit het die Arameërs so kwaad gemaak, dat hulle na Dotan toe opgetrek het met ‘n groot weermag om vir Elisa te gaan vang.
Die helper van Elisa was bang en het geskrik toe hy die oggend wakker word en besef dat die stad is omsingel en hier kom groot moeilikheid. Hy was moontlik baie ontsteld ('in great distress') en kon nie verstaan hoekom Elisa so kalm kon bly nie. Sy probleem was ‘n geloof probleem. Elisa het geglo in wat die oog nie sien nie. Elisa het ‘n verhouding gehad met God, die Skepper van die heelal. Elisa het ondervinding van God se reddende krag gehad en het ‘n vaste vertroue gehad dat niks sal gebeur wat God nie wou toelaat nie. Net soos Elisa se dienaar kyk ons na die omstandighede rondom ons en dit bepaal ons aksies en reaksies. Sulke gebeure kan ons ontspoor en ons vrede steel.
Elisa vra toe dat die Here asseblief net sy dienaar se oë kan oopmaak, dat hy ook kan sien hoe die hemelse weermag lyk wat aan hulle kant is. Die Here doen dit en die helper van Elisa sien ‘n menigte strydwaens en perde van vuur wat afdaal na hulle. Hoe wonderlik is dit nie om te weet wat tot die beskiking van die kinders van God is nie?
Ons kan maklik dink dat Elisa se dienaar moes van beter geweet het. Hy moes geweet het dat God vir Elisa gaan uitred. Dit is egter nie so maklik as mens die strydwaens en leër sien wat teen ons opgetrek het en ‘n onmiddelike bedreiging vir ons inhou nie. Ons maak die sommetjie in ons kop en ons sien nie hoe ons aan die anderkant daarvan kan kom nie. Dit kan enige iets wees:
- Siekte
- Familie twis
- Finansies
- Onregverdige regsgeding
- Aflegging by die werk
- Kind of familielid wat verslaaf is aan iets
- Kind wat afvallig is en wilde lewe lei
- Huweliks- of verhouding probleme
- Depressie
- Enige iets wat lyk na ‘n oormag in ons menslikheid
Die enigste manier om in sulke omstandighede met vertroue te kan ingaan en standvastig te bly, is om soos Elisa te glo dat ons God wat reeds alles gedoen het om ons te red, ook saam met ons elke tree stap en ‘n weg maak waar daar geen weg is nie. Ons moet hoop, vertrou en glo in God. Dit is die enigste ware antwoord.
Lees:
Mediteer:
- Maak jou fisiese oë vir ‘n oomblik toe en haal jou oë vir ‘n oomblik af van die dinge wat jy in die fisiese kan sien, dinge soos jou finansies, jou kinders, jou bekommernisse en vra Vader dat Hy jou geestelike oë sal oopmaak om Sy grootheid en almag te sien.
- Vra Vader om jou te herriner aan Sy woord beloftes en probeer dit sien in die gees.
- Neem jou Bybel en lees Openbaring 4 en probeer om die prentjie wat Johannes gesien het, te sien.
- Weet nou dat dit is die onsigbare wat veel groter is as dit wat ooit hier, in die fisiese, sigbaar kan wees.
Bid:
Vader ek loof en prys U dat alhoewel U verborge is vir ons fiesise oog, is U groter en sterker as wat ons ooit hier kan beleef. Vader wil U asb ons geestelike oë so oopmaak dat ons U grootheid en majesteit kan sien. Help ons om ons geloof te bou op U en nie op dit wat ons elke dag kan sien nie.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek leef in geloof met ‘n vaste vertroue in dit wat ek nie sien nie, sodat dit wat ek wel kan sien my nie laat wankel in my geloof nie!!!!!
Aanbidding:
My God By My – ft. STASS & Nuwe Lof (Lewendige Opname)

Dag 3: Waarop is jou huis gebou?
Ons almal ken die gelykenis van die huis wat op die rots gebou is en die huis wat op die sand gebou is. ‘n Storm het opgekom, die reën het geval en die wind het gewaai. Die huis wat op die rots gebou was het vas gestaan en die een wat op die sand gebou was, het ineengestort. Ons vergeet egter wat die rots en die sand nou eindlik simboliseer. Ons weet die rots is goed en die sand is nie goed nie. Kom ons kyk biedjie wat dit beteken en hoe kan ons dit regkry om ons huis op die rots te bou.
Matt. 7:24 “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.”
Matt.7:26 “En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.”
Beide die dwase man en die verstandige man het die woorde van Jesus gehoor, maar die verskil kom by die doen van dit wat ons hoor. Die dwase man het gehoor, maar nie gedoen nie. Die verstandige man het die woorde van Jesus gehoor en hy het dit ter harte geneem en sy lewe daarvolgens ingerig. Hy het die manier waarop hy goed doen belyn met die woord wat hy by Jesus gehoor het. Hy het begin wandel in die woord en in verhouding met God begin leef. Ons sien dus dat dit nie genoeg is om die woord te hoor nie. Ons moet toelaat dat dit ons gedagtes en ons lewens verander. Ons moet ons lewe bou op die Woord deur geloof en gehoorsaamheid.
Nog iets wat ons kan sien in die gedeelte is dat dit nie in die goeie tye is wat ons fondasie getoets word nie, maar in die moeilike tye - in die storms. Wanneer hierdie moeilike tye kom sal ons kan sien of ons standvastig in ons geloof in God bly staan te midde van die storm en of ons ineenstort en ons geloof faal. Geloof is die fondasie wat ons standvastig hou te midde van die storm.
Lees:
Mediteer
- Bedink jou eie geloofsreis. Sou jy sê jy is iemand wat dit wat jy by Vader hoor, doen en daarvolgens jou geloof en lewe aanpas, of sukkel jy om die daad by die woord te voeg?
- In die storms van die lewe, twyfel jy in die goedheid van God of dra jou vaste geloof en vertroue in God jou deur die storm.
- ‘n Standvastige geloof is dus om by Vader te hoor wat Sy opinie of waarheid is en dan daarvolgens te handel.
- Is Vader vir jou 100% betroubaar?
Bid:
Vader dankie dat U 100% betroubaar is. Vader help my om die woorde wat U tot my spreek, nie net te hoor of raak te lees nie, maar om dit werklik my eie te maak en dit dan uit te leef in geloof.
Bonus: Spreek Lewe!
My geloof is vas in ‘n onwrikbare Vader wat almagtig is.
Aanbidding:
Brooke Ligertwood – Honey in the Rock (with Brandon Lake) (Official Lyric Video)

Dag 4: Geloof teenoor gevoelens en emosies
Gevoelens en emosies is my reaksies op wat my sintuie beleef. Gevoelens is soos sagte klei wat vorm volgens die druk wat daarop toegepas word. Sagte klei, wat wegsak en veroorsaak dat die toring van Pisa se fondasie aan die eenkant dieper insak, sodat die toring skeef trek na die een kant toe. Dit verander maklik. Emosies en gevoelens is dus wisselvallig en onstabiel. As ons ons oë hou op die omstandighede en situasies om ons, gaan ons nie vrede beleef nie en geen standvastigheid beleef nie.
Geloof daarinteen is die vooropgestelde oortuiging wat ons het, wat gebaseer is op die Woord van God en persoonlike verhouding met God.
Rom. 15:13 “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”
Geloof veroorsaak dus dat ons in ‘n posisie van vrede en ‘n posisie van blydskap kan wees, maak nie saak wat die omstandighede of die situasie is nie. Ten spyte van ons emosies, gevoelens en omstandighede kan ons dus ons besluite neem en reageer uit ‘n plek van vrede en blydskap. Geloof is waar my vrede volmaak is en my blydskap volkome, al is ek hartseer of voel ek vrees. Deur geloof kan ons ons gevoelens en emosies belyn met die Woord van God. Al gaan dit dus hoe swaar kan ons sterk staan in die geloof.
Lees:
Mediteer:
- Word jou geloof, wat ook as vrede beskryf kan word, beïnvloed deur jou emosionele belewenisse?
- Hoeveel keer op ‘n dag word jou emosionele toestand verander deur dinge wat jy sien of hoor of beleef?
- Is jou geloof gekoppel aan ‘n emosie soos opgewondenheid of om ‘n gevoel van gemotveerdheid te beleef?
- Is geloof ‘n emosie?
Bid:
Dankie Vader dat my geloof my anker in U en ek in vrede en blydskap kan leef wat ek van U ontvang. Dankie dat U nooit verander nie en my geloof nie hoef te verander saam met my emosies nie. Help my om my geloof te bou op U waarheid en Woord en nie op dit wat ek sien of beleef nie. Amen.
Bonus: Spreek Lewe
Ek glo in Vader en Sy onveranderlike waarheid ten spyte van hoe ek voel.
Aanbidding:
I Stand In Awe + What A Beautiful Name + Behold (This is Jesus) Grace Revolution Worship

Dag 5: Simptome van ongeloof
‘n Dokter kan net ‘n diagnose maak nadat hy al die simptome identifiseer het. Die simptome is die sigbare goed, soos koors, hoofpyn en ‘n uitslag.
Ons kan die toestand van ongeloof in ons lewens identifiseer as die volgende twee simptome in ons lewe voorkom:
Ek weet nie wie ek is nie: Die Here het die Israeliete gered uit slawerny uit Egipte met wonders en tekens en hulle versorg in die woestyn. Hulle het deur die Rooi See gegaan op droë grond en hulle het God se grootheid en beskerming eerstehands beleef. Tog begewe hulle moed hulle toe hulle die beloofde land moet ingaan. Hulle glo die berig van die verspieders dat die kinders van Enak, die reuse wat in die land bly, is baie groot en hulle lyk vir hulleself soos sprinkane in hulle eie oë. Hulle besluit sommer dat hulle vir die reuse ook soos sprinkane lyk. Dit is wat gebeur as ek my blind staar aan my tekortkominge, storms, moeilike omstandighede, uitdagings en frustrasies. Dan sien ek ‘n verdraaide beeld van wie ek is en ek dink sommer dat ander mense my ook so sien. Ek verloor my lewenslus en vrymoedigheid en onttrek. Ek vergeet dat ek ‘n kind van God is in Christus Jesus my Verlosser en dat ek die Heilige Gees ontvang het wat kragtig is.
“Die duiwel is altyd geneig om op ons gevoelens te speel, maar onthou jy is nie ‘n kind van God omdat jy so voel nie.” – PD le Roux
Die enigste manier om van ongeloof genees te word is om ‘n vaste oortuiging te hê dat ons kinders van God is.
Ek ontwikkel ‘n wanpersepsie van wie God is: Iewers moet ons ‘n leuen glo van God die Vader as ons twyfel in Sy liefde, genade, versorging, voorsiening, vergifnis van sonde en lankmoedigheid. Ons het dus ‘n verdraaide beeld van God en daarom sukkel ons om met ons hele menswees te steun op die getrouheid van God. Ons twyfel soms of Hy vir ons gaan deurkom en ons gaan red uit die omstandighede waar ons is. Ons dink partykeer dat ons weet beter as God wat ons nodig het en wanneer ons dit nodig het. Die waarheid is dat die gedagtes wat God oor ons het is goed en al die werk van God se hande is goed. Van die mens het Hy gesê dat dit was baie goed tydens die skepping. God se liefde is volmaak en aan Sy goedertierenheid is daar geen einde nie. Net in verhouding met God leerken ons die diepte en wydte van God se liefde en getrouheid. Wanneer ons in ‘n vaste oortuiging leef van wie God is en wie Hy vir ons is, kan ons in geloof lewe en standvastig wees in alle omstandighede.
Lees:
Mediteer:
- Wat glo jy omtrent jouself?
- Het jy ‘n vaste oortuiging van wie God sê jy is na jou bekering?
- Die eerste ding wat God kom doen na jou bekering is om jou seun of dogter te maak.
- Wat is jou diepste oortuiging van wie God is?
- Glo jy werklik dat God ten alle tye absoluut betroubaar is of sien jy Hom soos Jeremia Hom gesien het, as ‘n onbetroubare stroompie wat die een dag water het en die volgende dag nie?
Bid:
Vader kom help my deur U Gees se diep inspraak in my lewe om eerstens absoluut oortuig te word van my kindskap en tweedens om absoluut oortuig te word van U onveranderlike betroubaarheid. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is kind van Vader wat ten alle tye die volle voordele van kindskap beleef en Vader is ‘n betroubare God wat nooit verander in Sy goedheid nie.
Aanbidding: