Go Deep 28 Augustus 2022

 Jy is die profeet in jou eie lewe!

Elmarie Goodchild

Wat is jou frekwensie?

 Capture28AUG2022

Dag 1: Gees van kommunikasie

Wanneer ons kinders grootmaak en met kinders werk, is ons vinnig om enige negatiewe of afbrekende woorde wat hulle sê, reg te stel. Dis indrukwekend hoe vinnig ons op negatiewe kommunikasie kan reageer, maar terselfdertyd hoe min ons oor positiewe en opbouende kommunikasie omgee of probeer om dít te bevorder. Dit gebeur selfs in gesprekke met mense om ons. Die oomblik wanneer iets gesê word wat vir ons 'n negatiewe konnotasie het, reageer ons deur dit te probeer hanteer en soms raak ons selfs aanvallend daaroor!  Ons sê maklik, “Dit is nie hoe 'n mens moet praat nie!” So ontwikkel die kuns van kommunikasie.

Die kommunikasiefaktor in ons lewens kan egter ook 'n ander vorm aanneem, naamlik die gees van kommunikasie. Die gees van kommunikasie begin by dit wat ek kies om te doen met dit wat ek hoor, asook wat die dinge wat ek hoor aan my doen. Hoeveel meer kosbaar sal gespreke met mense nie wees wanneer ons motief is om op te bou, lewe te spreek, genesing te verklaar, 'n goeie toekoms aan te kondig, hoop te bring en God se Koninkryk te laat kom nie?

Daar is dinamiese krag en 'n enorme invloed opgesluit in die woorde wat ons uiter. Aan die een kant kan dit 'n verwoestende en katastrofiese uitwerking op mense se lewens hê. Woorde kan doodmaak. Aan die ander kant het dit die mag om 'n fontein van lewende water te word wat verfris, vernuwe, en verryk. Woorde kan lewe gee. Die woorde wat jy vir of oor jouself sê, sal een van daardie twee uitwerkings op jou lewe hê. Wees bewus daarvan dat wanneer God oor jóú praat Hy net liefde, genade, wysheid, waarheid, vrede, guns, goedheid, geregtigheid en aanvaarding spreek.

Lees:

Joh. 4:14

Efé. 1:3-8

Mediteer:

  • Watter uitwerking het die woorde wat jy spreek op jou eie lewe?
  • Wat is jou fokus wanneer jy kommunikeer? Is jy besig om jouself te leer om nie die verkeerde goed te sê nie?
  • Vra die Heilige Gees om jou te bemoedig wanneer jy begin om te in lyn met God se woord te praat, sodat jy die vermoë kan ontwikkel om sy waarheid en woord oor jou lewe te herhaal en oor jouself te profeteer.
  • Maak dit prakties. Gebruik oomblikke in hierdie week, lees deur Efésiërs en skryf die eienskappe neer wat jouself betref. Byvoorbeeld, in Efésiërs 1:3 skryf Paulus: “GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” en sê dat jy geseënd is met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus.

Bid:

Here, ek wil my woorde gebruik om te verander en te transformeer en ek wil in ooreenstemming wees met dit wat U sê! Leer my om u woord te spreek oor my eie lewe en oor ander mense se lewens. Help my ook om te bemoedig wanneer lewe gespreek word en wanneer hoop gebring word met dit wat in gesprekke gesê word. Dankie Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My God spreek lewe oor my. Hy spreek woord wat my in my roeping indra, woord wat vir my genesing bring vir trauma en seer. Hy het 'n woord vir hierdie dag, hierdie week en hierdie seisoen!

Aanbidding:

I Am Your Beloved - Jonathan and Melissa Helser

pexels ahmet polat 9327254

Dag 2: Sleutels van die Koninkryk

“En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Matthéüs 16:19

Jesus verstaan die krag van woorde. Hy weet dat kommunikasie, veral in die gees, 'n lewensveranderende invloed kan hê. Niemand verstaan dit beter nie, want Hy word erken as die Woord wat saam met Vader God aan die begin was en waardeur alles gemaak is en ontstaan het. In Genesis sien ons duidelik dat alles wat geskape is, deur God se Woord geskep is. Vader God het gespreek en die skepping het plaasgevind. Dit wat woes en leeg was het God se Woord nodig gehad, en die oomblik toe die Woord gegee is, is alles herstel.

Jesus leer sy dissipels dat die sleutels van die Koninkryk van die hemele vir ons gegee is. Alhoewel ons lewe vir die ewigheid saam met Jesus in die hemel, het God bedoel dat ons op aarde ook deel kan hê aan hemelse dinge. Dit is waarom Jesus die sleutels oorhandig het. Dit is 'n groot voorreg, maar ook 'n groot verantwoordelikheid. God se belofte oor jou lewe is waar en betroubaar, maar jy het die sleutels om die Koninkryk oop of toe te sluit.

Jesus, in sy wysheid, stop nie net deur te sê dat ons die sleutels ontvang het nie, maar Hy leer ook vir ons hoe om dit te gebruik. Hy herhaal hierdie waarheid in Matthéüs 18:18 en ook in verse 19 en 20: “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”

Die sleutel om die beloftes en God se Koninkryk-realiteite hier op aarde oop te sluit is:

  • Dat jy hoorbaar saamstem met die Woord van God oor jou lewe.
  • Dat jy en jou geliefdes, vriende en vennote gesamentlik en hoorbaar saamstem met die Woord van God oor realiteite in julle lewens.

Lees:

Mat. 16:19

Mat. 18:18-20

Mediteer:

  • Gebruik jy die sleutels wat vir jou gegee is om God se beloftes oor jou en ander mense se lewens oop te sluit?
  • Wat is God se beloftes vir jou?
  • Maak dit prakties. Dink weer oor dit wat jy vir jou familie en jou geliefdes in hierdie laaste week gesê het. As jy dit moet plaas in die twee kategorieë van God se beloftes van oopsluit of toesluit, waar sou jy dit plaas? Vra vir God om jou te help om jou manier van praat te verander sodat jy by sy lewegewende frekwensie sal aansluit.

Bid:

Jesus, U verstaan die waarde van liefdevolle en lewegewende woorde oor mense se lewens. U het gesê dat U my só liefgehad het dat U vir my sou sterf en U het dit ook gedoen! Help my om saam te stem met dit wat God sê sodat ek hierdie sleutels wat vir my gegee is verantwoordelik kan gebruik om u beloftes oor mense se lewens oop te sluit. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ons het die sleutels ontvang om God se Koninkryk op aarde oop te sluit. Waar ons saamkom en saamstem met God se Woord, begin die effek van sy woord om ons realiteite te verander en ons lewens te transformeer.

Aanbidding:

Where You Go I’ll Go - Brian and Jenn Johnson

 Capture30Aug2022

Dag 3: Ontdek God se woord vir jou

Om die sleutels wat Jesus vir jou gegee het doeltreffend te gebruik, moet jy weet wat God se woord vir jou is sodat jy daarmee kan saamstem. Daar is baie woord vir jou opgesluit in dit wat in die Bybel geskryf is. Alles waarby God se kinders betrek word, is van toepassing op jou. Dit is nie net vir die volk van Israel geskryf nie.  Aangesien Jesus almal wat Hom kies, toelaat om kinders van God te word, is dit beloftes en waarhede wat vir jou gegee word as deel van die geskenk van genade.

Bykomend tot dit wat in die Bybel geskryf is, wil God wil met jou praat oor dit wat jy tans in jou lewe beleef. Hy het spesifieke woord wat slegs van toepassing is op JOU lewe. Verder het God ook 'n woord wat Hy met jou vir jou huidige seisoen, hierdie jaar, jou week, asook vandag wil deel. Hy het nie besluit dat jy daardie woord by ander mense moet ontvang nie. Hy wil met jou 'n persoonlike verhouding hê en vir jou persoonlik openbaar wat sy woord is.

God se woord sal eggo in die harte waarin sy waarheid reeds lewe. Wanneer woord gedeel word deur iemand en jou gees stem daarmee ooreen, beleef 'n mens die inspirasie, die opgewondenheid en die passie van daardie woord. God wil dus met jou praat sodat sy woord lewendig sal raak in jou hart. Wanneer woord uit ander bronne gedeel word, sal dit vir jou die bevestiging sal wees van dit wat reeds in jou hart lewe. Dit is n elk geval die grootste vreugde van 'n lewe saam met die Here om sy stem persoonlik te kan hoor, sodat ons die geestelike avontuur saam Hom kan uitleef. 

Lees:

Mat. 18:18-20

Rom. 12:1-2 MSG

Mediteer:

  • Wat is die laaste woord wat jy van die Here af gehoor het? Indien dit 'n opdrag was, het jy dit al uitgevoer?
  • Volgens The Message-vertaling moet 'n mens  wanneer God spreek, gereed wees om dit te ontdek en gou daarop te reageer. So leer jy om God se stem duideliker te hoor en jy neem ook deel aan die lewe wat Hy vir jou voorberei het.
  • Moenie net deur middel van handelinge reaggeer nie. Wanneer God praat, maak 'n punt daarvan om sy woord oor jou lewe hoorbaar te herhaal.
  • Maak dit prakties. Wanneer jy stiltetyd hou, gebruik 'n tyd waar jy alles om jou stilmaak, of gaan sit op 'n stil plek en vra vir die Here om met jou te praat. Hou pen en papier naby en skryf dit neer wat jy beleef die Here vir jou sê.

Bid:

Vader God, u Woord is lewendig! Ek wil persoonlik hoor wat U vir my sê. Leer my om u stem te herken en te hoor wat U vir my sê. Heilige Gees, help my ook om gehoorsaam te wees aan God wanneer Hy met my praat. Ek dank U dat U nie stil is nie, maar voortdurend met ons wil kommunikeeer. Ek loof en prys U, Here! In Jesus se Naam, amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here wil persoonlik met my praat. Hy het woorde van profesie gereed wat my lewe sal verander!

Aanbidding:

Way Maker - Paul McClure

 fauzan saari AmhdN68wjPc unsplash

Dag 4: Wen of verloor

Daar is deesdae baie inligting in die wêreld beskikbaar wat mense probeer help om positiewe denkers te word en aan ons die motivering vir positiewe denke en positiewe uitsprake te gee.  Alhoewel dit edel klink, is dit nie volhoubaar nie. Dit is pogings om uit ons eie krag te probeer om goeie dinge oor ons lewens te spreek. Dit is nie nodig dat ons so hard hoef te probeer om postiewe dinge oor ons lewens uit te spreek nie, want ons kan bloot vertrou op die Heilige Gees wat in ons lewe om ons te lei om die woord van God te spreek.

Jesus het vir ons die Heilige Gees gestuur om voortdurend by ons te wees. Hy is ook in lyn met Vader God se woord. In Lukas 12:12 gee Jesus aan ons die gerusstelling dat die Heilige Gees vir ons die nodige woorde sal gee wat gespreek moet word. Hierdie vers gaan spesifiek oor die verdediging wanneer jy voor gesagvoerders moet verskyn. Die Heilige Gees wil jou egter in alle aspekte van die lewe lei en die openbaring van God se woord aan jou bring. Dit verg ook aktiewe deelname van ons kant af. Terwyl die Heilige Gees met ons gees kommunikeer, nooi Hy ons uit om saam met Hom  deel te neem. Weens hierdie verhouding met die Heilige Gees vorm daar 'n vennootskap tussen ons en Hom. Ons moet met Hom saamwerk en saamstem. Die Heilige Gees bring die openbaring en verleen sensitiwiteit aan God se stem. Ons kan die hemele oopsluit deur daardie woord te spreek met die gesag wat ons van die Here ontvang het.

Lees:

Luk. 12:12

Mat. 18:18-20

Mediteer:

  • Ervaar jy die Heilige Gees se deelname in jou kommunikasie?
  • Vra vir die Here watter valse opvattings daar by jou oor die Heilige Gees is en laat Hom toe om vir jou die waarheid oor die Heilige Gees te wys.
  • Maak dit prakties. Spreek in geloof die woorde wat jy ervaar die Heilige Gees met jou wil deel.

Bid:

Heilige Gees, U weet wat Vader God se wil is. U is die een wat my help om volgens Vader God se wil te leef. Openbaar aan my die woorde van God in hierdie seisoen of gebied van my lewe. Ek wil saam met U spreek oor my toekoms en die toekoms van my geliefdes. Ek prys u Here! In Jesus se Naam, amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Heilige Gees ken die woorde van God. Hy is altyd in lyn met Vader se wil. Sonder dat dit vir my nodig is om uit my eie te probeer om die regte woorde te vind om te sê, weet Hy klaar daarvan en kan Hy my help om ook in lyn met God te spreek!

Aanbidding:

Heart of God - Zach Williams

 Capture2sep2022

Dag 5: Droë bene

“DIE hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het 'n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit.” Eségiël 37:1-3

Selfs wanneer alles lyk asof dit tot niet gegaan het, is daar hoop. Eségiël het die hopeloosheid van die laagte vol doodsbeendere gesien. Hy het nie geweet wat die Here daarmee kon maak nie, maar hy was gereed om te luister en saam te stem. Die Here vra vir Eségiël of hy dink dat daardie bene lewendig kon word.  Alhoewel hy nog nie begin profeteer het nie, het Eségiël gekies om nie by die frekwensie van hierdie wêreld aan te sluit nie. Hy het geweier om die einde van hoop oor daardie bene te verklaar, want hy het besef dat hy daardeur die deure van die hemele sou toesluit.

Eségiël het God geantwoord dat net Hy sou weet of die bene lewendig kan word, en God het inderdaad geweet. Vader God lei vir Eségiël persoonlik om die profetiese woord oor daardie bene te spreek. God kon dit self gedoen het, maar omdat Hy 'n verhouding met ons wil koester, wil Hy ons deel van sy werke maak. God het gekies om sy dienskneg deel van hierdie oorwinning te maak. Dit oomblik toe Eségiël begin profeteer, het God se krag losgebreek. Alles wat dood was het begin verander en lewendig geword. Vader God wil jou lei om te profeteer oor die dooie bene in jou lewe. Die Here wil uit die dinge wat al vir so lank in jou lewe uitgedroog en vernietig is, nuwe lewe laat vloei.

Lees:

Ese. 37:1-10

Mat. 18:18-20

Mediteer:

  • Watter gedeeltes in jou lewe voel vir jou asof dit soos 'n laagte van dooie bene geword het?
  • Het God al vir jou 'n woord van openbaring of profesie daaroor gegee?
  • Vra vir die Heilige Gees om jou met die woord te lei wat God oor daardie omstandighede wil spreek.
  • Maak dit prakties. Skryf neer wat jy beleef die Here vir jou sê oor die gedeeltes in jou lewe wat dood is en sit dit wat jy neergeskryf het neer op ‘n plek waar jy dit gereeld sal kan sien en herinner word aan wat die woord wat God daaroor sê, sodat jy gereeld daarmee kan saamstem.

Bid:

Vader God, U weet wat U kan doen. U kan lewe gee aan enige iets wat dood is. U kan oorwinning bring waar dit onmoontlik lyk, want niks is vir U onmoontlik nie. Ek vra dat U sal inspreek in hierdie dele van my lewe en dat U net oorwinning daaroor sal bring. Ek sal U in alles loof en prys! In Jesus se Naam, amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here gee vir jou die woord om te profeteer oor dit wat dood is. Saam met Hom sal jy sien hoe dit lewendig word!

Aanbidding:

Rattle - Elevation Worship