Go Deep 25 September 2022

SILHOEЁT VAN ONS STAD

Neville Goodchild

Wees die verskil!

 

Dag 1: Wat bied ons?

Ons as Kerk (Die Koninkryk van die Allerhoogste) is geroep om 'n invloed in ons omgewing uit te leef. Ons moet nie net die realiteit van ons stad beïnvloed en verander nie, maar dit ook bepáál en die pas aangee. Hoe doen ons dit op 'n daaglikse basis? Daar waar die Gees van die Here beweeg, is daar waarheid en vryheid! Deur God se Gees kan ons 'n stad in liefde oortuig van die waarheid van die Woord. Waar die Woord toegepas word, verander gesinne, omgewings en stede. As die kerk die bepalende faktor in die omgewing is, is daar ’n hoop en ’n toekoms vir die omgewing, vir die stad en vir die land. Daarom is dit so nodig dat die kerk toenemend invloed uitoefen en Goddelike (hemelse) antwoorde bied. Jesus het hemelse realiteite aarde toe gebring.

Ons het die afgelope weke gekyk na dit wat ons aan ons omgewing skuld. Ons moet verder kyk as net na onsself. Wanneer ons Christus het, moet ons begin om Christus uit te leef sodat ander mense Hom ook kan ontvang. Ons skuld ander mense:

  • ’n ontmoeting of ervaring met God
  • ’n voorbeeld wat die moeite werd is om na te volg
  • die goeie nuus van Jesus Christus en wat hierdie nuus behels

Lees:

Heb. 1:1-3

Mediteer:

  • Op watter manier het Jesus sy omgewing verander?
  • Hoe kan ons die bepalende faktor in ons omgewing wees?
  • Is dit moontlik om die karakter van Jesus te reflekteer?
  • Whatever you think you know about God, that you can’t find in the person of Jesus, you have reason to question. Jesus Christ is the fullest and most precise revelation of the Father and His nature that could ever be made known (Bill Johnson).
  • Hoe kan ons Jesus prakties en doeltreffend reflekteer in die omgewings waar ons beweeg?

Bid:

Here, vergewe my waar ek u karakter en u hart nie reg reflekteer nie. Sal U die skanse wat ek ophou, verwyder en my gedagtes en hart reinig om soos U te dink en soos U te lyk. Ek besef dat ek ’n verantwoordelikheid het, maar ook dat ek dikwels baie tekortskiet. Ek benodig U. Dit is alleen uit u Gees en die krag van u Woord dat ek u waarheid in liefde kan uitleef en die pas kan aangee. Kom wees U die verandering in my en my gesin/geliefdes se lewens. Dankie, dat U so goed is vir ons en dat ons kan getuig dat U ’n goeie God en Vader is. Dankie, dat U ’n goeie hart en goeie gedagtes oor ons het en dat ons getuienis en die goeie nuus van Jesus Christus, die bloed van die Lam en die veranderende faktor in ons gemeenskap is. Help my om U uit te leef. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek getuig van God se goedheid in my lewe en ek het ’n verhouding met Hom. Daarom kan ek ’n voorbeeld wees en oorloop van die goedheid van die Here. Ek kan getuig wie Jesus Christus is en Hom in die wêreld uitleef, sodat die wêreld Hom kan sien. Die goeie nuus is dat Hy oorwin het. Hy Leef! Hy is die Woord en Hy is die weg en die waarheid en die lewe!

Aanbidding:

Worthy – Elevation Worship

Dag 2: Wie is jou anti?

In die gesprek van die kerk teenoor die wêreld is daar verskillende uitgangspunte.Sommige mense dink dat die kerk anti-wêrelds behoort te wees.

Anti-wêrelds beteken dat ons dink dat ons as kerk alles moet wees wat die wêreld nie is nie. Verder dink ons dat ons nie dít moet wees wat die wêreld is nie. Dit is ’n reaktiewe uitgangspunt: Ons glo dat solank as wat ons nie dieselfde as die wêreld is nie, ons reg is. Hierdie mentaliteit bring veroordeling in ons eie harte mee. Ons voel ons is anders en die wêreldtipe is nie ons tipe nie.

Hierdie uitgangspunt hou nie groei vir die Koninkryk in nie, want die wêreld kan hom nie met hierdie kerk vereenselwig nie nie en gladnie met hierdie ingesteldheid oor die wegkom van die wêreldse om daardeur in die Koninkryk te kan inkom nie. Die Koninkryk kry seer wanneer ons onsself skaar by ’n anti-wêreldse beskouiing. Dit is nie ’n ware verteenwoordiging van God se Vaderhart nie.

Hoe kan ons die suiwerste voorstelling van Jesus aan die wêreld voorhou? Jesus is die mees betroubare openbaring van Vader se hart. Jesus deel nie veroordeling uit nie. Hy isoleer nie homself of ander nie. Hy verwerp ook nie die wêreld nie. Daarom mag ons nie dink dat ons dit so aan die wêreld behoort aan te bied nie. Uit Jesus se optrede sien ons ook dat Hy nie noodwendig ’n uitgesonderde deel vir die Koninkryk soek nie. Jesus soek almal en alles! As ons self sukkel met veroordeling, isolasie en verwerping, moet ons ons eie harte ondersoek. Ons word deur ons eie harte veroordeel. Dan moet ons by Jesus uitkom en sy perspektiewe oor ander mense ek ook oor onsself aanneem.

Lees:

Heb. 1:1-3

1 Cor. 9:19-23

Mediteer:

  • Wat gebeur wanneer die kerk anti-wêrelds is?
  • Hoe sien Jesus die wêreld?
  • Koninkryk gryp wêreldprobleme aan en gee antwoorde vir verwerping. Koninkryk is nie anti-wêrelds nie.

Bid:

Jesus, U is nie anti-wêrelds nie, maar U is vír die wêreld. Alles wat bestaan, kom vanaf U as Woord wat alles geskape het. U is vir ons, wie en wat kan dan teen ons wees? Dankie, dat U vír my en ook vír die wêreld is en dat ek as kerk en as Koninkryk U kan verteenwoordig soos Uself Jesus Vader verteenwoordig het en dit steeds doen. Ek is dus ook vír die wêreld. U is liefde, U is waarheid, U is getrou, U is lewe. Ek lewe u lig waar ek gaan, sodat u Koninkryk kan uitbrei en almal kan inkom. Die oes is groot, die arbeiders is min. Ek skaar myself by U. In u Naam Jesus, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is vír die wêreld, omdat Jesus vír die wêreld is!

Aanbidding:

I Am Your Beloved – Jonathan David Helser & Melissa Helser

Dag 3: Is jy eerder kontra?

Om kontra te wees, beteken om anders te wees. Dit is nie soos om anti iets te wees nie, m.a.w. heeltemal teen iets nie. Dit is om bloot anders te wees. Dit gebeur wanneer ons met ons kerkmensmentaliteit die idee het dat ons kontra die wêreld moet wees - dat ons ánders as die wêreld moet wees.

Moet ons kontra (anders) wees of nie? Die Woord sê tog dat ons ín hierdie wêreld is, maar nie ván hierdie wêreld nie. Wat is die bedoeling dan van hierdie skrif as dit nie is om ons te onderskei van die wêreld nie? Die skrif sê ook dat ons nie aan hierdie wêreld gelyk moet word nie. Beteken dit dan nie tog dat ons nie dieselfde moet wees nie, maar anders?

Die probleem met 'n kontra-mentaliteit wat nie heeltemal met Goddelike waarheid belyn is nie, is dat wanneer ons hierdie kontra- identiteit uitleef, die wêreld hom nie daarmee kan vereenselwig nie. Om kontra te wees, beteken dat die wêreld nie met jou kan assosieer nie, omdat jy "anders" is. Die wêreld kan nie by jou uitkom nie, want jy is anders, jy is kontra, jou ingesteldheid is kontra.

Tog was Jesus anders, hemels anders. Ten spyte van Jesus se Goddelikheid, of eerder as gevolg daarvan, het Hy Hom geskaar by gebrokenheid. Hy kon die wêreld gaan haal en die wêreld kon na Hom toe kom. Hoe het Hy dit reggekry?

Dit is belangrik om daarvan bewus te wees dat ons ’n kontra-mentaliteit kan uitleef, wat ’n subtiele boodskap aan die wêreld kan oordra dat ons te goed is, te anders is, nie ander mense se kant kan verstaan of insien nie. Dat ons so anders is dat die wêreld hom nie met ons kan vereenselwig nie en ons ook nie met die wêreld nie. Met hierdie uitkyk vind mense rondom jou dit  onmoontlik om deel te word van die kerk, omdat hul nie met jou kan assosieer nie. Die groter probleem is egter wanneer die kerk (jy) nie met die wêreld wil assosieer nie. Die Here het nooit bedoel dat die wêreld voor ’n toe kerkdeur (’n toe hart) moet staan nie. Hoogmoed en afsydigheid bring skeiding tussen kerk en ’n gebroke wêreld. Dit was nooit God se hart vir Koninkryk nie. Koninkryk is om in te sluit, nie uit te sluit nie. God se hart is nog altyd vír ’n gebroke wêreld en Jesus wys dit vir ons in die persoon.

Om ’n brug tussen die wêreld en die kerk te bou, beteken nie dat die kerk moet word soos die wêreld nie, maar dat die gebroke wêreld in die kerk verwelkom moet word!

Kom soos jy is!

Lees:

Heb.1:1-3

1 Cor. 9:19-23

Mediteer:

  • Die Woord sê “ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie”. Wat gebeur met die wêreld wanneer ek as Christen ’n kontra-mentaliteit uitleef?
  • Jesus het dit reggekry om uit die hemel te kom. Watter hemelse realiteite het Hy gehad waarvan Hy afstand gedoen het om op aarde te kom leef en Vader se hart aan ons te openbaar? Hoe het Hy alle mense in sy vertroue geneem?
  • Hoe kan ek die verskille tussen my en ander mense so effens versag en nie die kontras tussen ons so beklemtoon nie?

Bid:

Here, gee my ’n hart vir u Koninkryk, u mense en help my om almal in te sluit en nie my rug te draai op diegene wat nie soos ek is of lyk nie. Here, u hart is vir almal. Ek vra dat U my help om te sien soos U sien. In Jesus se Naam

Bonus: Spreek Lewe!

Ek assosieer met ander omdat Jesus met my assosieer!

Aanbidding:

God So Loved - We The Kingdom

Dag 4: Pro

Die pro-benadering is beter as die anti-benadering. Ons is pro-wêreld en daarom verwelkom ons die wêreld in die kerk. Dit help om pro te wees, veral wanneer die kerk bedreig word, want dan kan die wêreld kerk toe kom, omdat ons die wêreld in die kerk akkommodeer. Ons wil doelbewus hê dat die wêreld gemaklik moet wees in ons kerkomgewing. Ons sien dan ook méér van die wêreld in die kerk.

Die probleem met hierdie benadering is egter dat die kerk dikwels hierdie kompromieë aangaan, só akkommoderend is, en dat die wêreld se idees soveel saak maak dat die kerk ’n stuk van sy grondgebied prysgee. Dit gebeur wanneer daar so daarop gefokus word om die wêreld só gemaklik te maak in die kerk, dat ons swyg wanneer dit kom by die volle evangeliewaarheid. Dan sit hierdie wêreld in die kerk, maar verander nooit nie. Ons probeer versigtig wees om die wêreld nie ongemaklik te laat voel nie.

Ons moet eerder hier sê: “Ons is Lewende Woord en nie akkommoderende woord nie”. Kom kry die Woord as jy dit wil hoor. Die Woord gaan jou verander, maar ons kan nie die Woord aanpas by die wêreld en die wêreld akkommodeer nie. Sodoende word ons ondoeltreffend met ’n Christenskap wat meer ’n godsdiens word as wat dit ’n lewende verhouding met Jesus Christus is. Dan funksioneer ons ook sonder die kragwerking van die Heilige Gees. Daarom kan die kerk nie pro wees nie. Die is nie die antwoord  om die wêreld se sienswyses aan te neem sodat ons relevant kan wees nie.

Lees:

Heb. 1:1-3

1Cor. 9:19-23

Mediteer:

  • Wat is die risiko’s van ’n pro-benadering in ons bestaan as Koninkryk?
  • Waar in jou verhoudings is jy versigtig om die volle evangelie te praat, omdat jy bang is om ander mense ongemaklik te maak?
  • Hoe kan jy waarheid in liefde deel?

Bid:

Here Jesus, help my om die volle waarheid van U as die goeie nuus uit te leef, sonder enige eie idees of wêreldse idees. Kom vervang my verkeerde perspektiewe oor Christenskap, oor dit wat ek vir die wêreld moet wees en dit wat die wêreld vir my moet wees met u eie siening. In Jesus se Naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is ’n Koninkrykind wat op die volle evangelie fokus en my medemens in liefde bedien.

Aanbidding:

I Speak Jesus – Charity Gayle

 

Dag 5: Inkarnasie!

God het sy volk uitgesonder en eenkant gehou, maar dit het nie die gewenste uitwerking op ander nasies gehad nie. Daarom het God gesê: “Ek stuur my Seun”. Hierdie Seun is gebore uit ’n vrou wat in die wêreld was en hierdie Seun het alles verander!

Jy is in hierdie wêreld vir ’n rede. Dit is dieselfde rede waarom Jesus Christus in hierdie wêreld gekom het. God het jou opgerig vir ’n tyd soos hierdie, om die inkarnasiebeginsel uit te leef vir almal om jou. Hier waar God jou geplaas het, is waar jy kan lééf! Om God se liefdevolle karakter uit te leef, sodat mense gemaklik en opgewonde kan wees om jou deel van hul lewens te maak.

In 1 Kor. 9:19-23 verduidelik Paulus hoe hy vir elkeen toeganklik geword het, sodat hy elke persoon kon ontmoet op die plek waar hulle is, soos Jesus. Jesus Christus het die grense van die samelewing dowwer gemaak deur te gaan sit by die dronkaards en prostitute. Hy het daar, op die mees onaanvaarbaarste plekke, sy mooiste leringe gegee. Hy het daar wonderwerke verrig. Die Here hou ons hier op aarde deur sy genade, sodat ons in die potensiaal van die wêreld kan begin glo, soos wat Hy in óns glo.

Jy is strategies geplaas sodat God lewens deur jou kan transformeer. Om met uitnemendheid te leef en doeltreffend te wees met elkeen wat oor jou pad kom en nie net met sekere mense nie. God wil jou oral gebruik en almal om jou bereik. God wil hê dat jy Hom intiem moet ken en weet hoe goed Hy is, sodat jy Hom kan uitleef en nie net jou eie lewe transformeer nie, maar ook die lewens van almal om jou, van die hele gemeenskap! Jy het die antwoorde vir hierdie gebroke wêreld. Dit is die enigste manier wat saak maak.

Hy sê: “Jy is myne, Ek het jou naam in my hand gegraveer. Kom terug en probeer weer!”

Lees:

Heb. 1:1-3

1Cor. 9:19-23

Ps. 78:40-42

Jer. 31:12-14

Mediteer:

  • Hoe beperk ons God in ons en ander mense se lewens?
  • Die karakter van die kerk wys of ons Jesus doeltreffend in die wêreld voorstel of nie.
  • Kan ons gemeenskap verander soos wat God dit wil hê? Hoe beskryf Jeremia (Jer. 31:12-14) dit en hoe kom ons daarby uit?
  • Waaraan meet ons sukses? Probeer ons alles in ons vermoë om iets van ander mense te verstaan sonder om iets prys te gee en hulle te transformeer omdat ons weet wie ons is?
  • Wat deel ons uit aan ander mense? Ons kan net uitdeel wat ons het. Weet ons wie ons in Christus is of voel ons bedreig? Het ek myself al in Christus ontdek?
  • Wat is ons ingesteldheid en verstaan ons God se hart vir mense, vir Koninkryk? Verstaan ons verhouding en liefde?

Bid:

Here Jesus, dankie dat U Vader se hart aan my openbaar deur u optrede en s hart wat gelyk is aan Syne. Dankie, dat ek deur u Gees ook nou kan deel hê daarin wat U aan die wêreld bied. Dankie, dat U my geroep het en bekwaam gemaak het om u hart aan die wêreld om my te bedien. Alles begin en eindig by U Jesus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef die liefde van God met uitnemendheid uit aan almal om my!

Aanbidding:

Your Spirit – Kim Walker-Smith