Go Deep 18 September 2022

 

Silhoeët van jou stad

Neville Goodchild

Kyk verder as jou eie silhoeët!

 

Dag 1: Meer genade

Ons het as kinders van God deur Jesus Christus se opoffering genade ontvang. Voorheen het die volk en volgelinge van God gelewe as of hulle aan God iets verskuldig is weens die sonde wat hulle gepleeg het. Dit was ‘n konstante werk om die goedheid van God te probeer verkry deur minstens genoeg dinge vir Hom  te doen om sy genade te verdien.  Wanneer ons egter lees van diegene wat God se guns ontvang het, getuig baie van hulle dat hulle God se guns weens sy genade ontvang het en nie as gevolg van al die werke wat hulle verrig het om dit te verdien nie.

Nou skuld ons Hom niks meer nie, want Jesus het ons skuld deur sy genade verwyder. Alhoewel ons niks meer aan God verskudig is nie, is ons wel nog aan die wêreld die volgende verskuldig:

  • 'n Ontmoeting met God
  • 'n Voorbeeld
  • Die goeie nuus van Jesus Christus

Hoe gaan ons daarin slaag om hierdie dinge aan die wêreld te bied? Ons moet begin om verby ons eie silhoeët te kyk, daardie lyne te laat vervaag en na die groter prentjie te kyk. Die vraag is: Hoekom nie óns nie, en hoekom nie nóú nie? Moses het besef dat hierdie geloofslewe uit meer bestaan as net die lewensreddende genade wat God gee. Moses het geweet dat hy genade van God ontvang het, maar hy het meer gesoek. Moses was vir meer dinge bestem. God het nie deel van Moses se lewe geword sodat net hy daaruit kon baat nie. Die Here wou vir Moses leer dat hy verby sy eie verwysing en realiteit moes kyk om raak te sien wat God vir sy hele volk in gedagte het.

Moses het genade by God ontvang wat redding vir homself en die volk van Israel gebring het. Moses kon nog niks bied wat die nasie van God sou laat verander nie. In Exodus 33:13 skryf hy van 'n nuwe ontdekking: “As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.” Hy verklaar dat hy genade ontvang het, maar dat hy God nog nie ken nie. Hy is van mening dat hy God sal leer ken deur God se werke te sien. Met daardie openbaring sou hy meer genade kon ontvang waardeur die nasie wat hy lei, sou kan verander. Daar is 'n groter vlak van genade vir ons om te ontdek: 'n Tipe genade en openbaring van God wat  ons sal help om aan hierdie wêreld 'n ontmoeting met God te gee  en waardeur ons 'n verandering in ons stad en ons land sal kan sien.

Lees:

Exo. 33:13

Mat. 6:33

Mediteer:

  • Na aanleiding van Moses se verwysing dat ons God ken wanneer sy weë aan ons bekend gemaak word, hoe goed ken jy God? Is jou kennis van Hom beperk tot dit wat jy gehoor het en die opinies van mense om jou, of het jy begin met jou eie oë die werk van God te sien en Hom so te leer ken?
  • Die gedagte om jou perspektief van jouself af te verskuif na ander mense toe kan uitdagend wees veral wanneer jy self uitdagings beleef en verlang dat die Here aan jou behoeftes moet aandag gee. Jesus sê dat wanneer ons begin om ons oë van onself af te haal en te soek na die wil van God vir die uitbreiding van sy Koninkryk, sal ons behoeftes vervul word (Mat. 6:33).

Bid:

Here, U het vir my genade gegee en my lewe gered. Ek wil meer as dit hê. Maak vir my u weë bekend. Wys vir my u werke en dit wat U doen. Wys vir my u karakter daardeur. Help my om u werke ook te sien wanneer ek Bybelstudie doen, veral wanneer ek lees van Jesus wat gekom het om U te openbaar. Dankie Here. In Jesus se naam! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is 'n groter mate van genade vir my beskikbaar om in hierdie lewe te ontvang. Die Here is besig om my stad en my land te verander en ek kan deur hierdie nuwe ontdekking van God begin om deel te neem aan hierdie verandering.

Aanbidding:

Make Room - Kim-Walker Smith

 

Dag 2: Openbaring en vrymoedigheid

Baie mense lewe met kennis oor die Here. Kennis wat deur ander mense se opinies of getuienisse opgedoen is. Kennis is nie genoeg om jou te oortuig van die eienskappe van God nie. Om nie genesing eerstehands te sien nie, kan jou verhinder om op die Here te vertrou vir genesing. As jy nog nie gesien het hoe God 'n deurbraak bring in onmoontlike finansiële omstandighede nie, kan dit moeilik wees om op Hom te vertrou dat Hy dieselfde vir jou sal doen. Indien jy nie die openbaring van sy liefde persoonlik ontvang het nie, kan dit uitdagend wees om nie oorweldig te word deur die realiteite van hierdie wêreld nie.

Moses besef dat hy nie volledig op God kan vertrou om sy Koninkryk te laat kom in die lewens van die volk wat hy moes lei totdat God vir hom kom wys het wie Hy is deur die werke wat Hy doen nie. Daardie persoonlike openbaring, waar Moses self sou sien wie God is en wat Hy doen en hoe Hy werk, sou vir Moses die vrymoedigheid gee om die Koninkryk uit te brei en te laat kom in die lewens van ander mense. Dit is ook die vrymoedigheid wat hy nodig gehad sodat hy nie sou vrees nie, maar enige uitdagings kon teenstaan en standvastig vertrou op die Here.

Dit is die persoonlike openbaring van wie God is en hoe Hy werk wat vrymoedigheid gee en wat selfs vryheid bring. Wanneer jy persoonlik leer wie God is en oortuig raak dat Hy jou onvoorwaardelik liefhet, sal alle vrese verwyder word in jou lewe. Jy sal bemagtig word om die lewe te begin lewe wat God bedoel het vir jou. ‘n Lewe wat ander mense se lewens sal beïnvloed, verbeter en verander. Wanneer jy God ken, kan jy soos Dawid die reus in die oë staar en verklaar dat hy in die Naam van die HERE van die leërskare kom. Dawid het nie homself gered nie, hy het die volk van God in nood gesien en uit sy eie openbaring van God vir die volk ‘n ontmoeting met God gegee.

Lees:

1 Sam. 17:45

1 Joh. 4:18

Mediteer:

  • Wat se persoonlike openbaring het jy al van God ontvang?
  • Van watter karaktereienskappe van God is jy oortuig waarvoor jy met vrymoedigheid en vol geloof op die Here kan vertrou?
  • Hoe kan jy daardie vrymoedigheid gebruik om mense om jou se lewens te verander?
  • Die Samaritaanse vrou het ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad en vir die mense van haar dorp ook ‘n ontmoeting met God gegee deur vir hulle te gaan vertel wat Jesus gesê het. Daardie selfde mense het vir haar gesê dat hulle nie verder slegs geglo het na wat sy vir hulle vertel het nie, maar oor hulle self Jesus gehoor en gesien het. Wat kan jy van jou eie openbarings van Jesus gebruik om vir ander mense ‘n ontmoeting met God te gee?

Bid:

Here, U het my onvoorwaardelik lief. Ek het al gesien hoe U in my lewe werk en ek loof en prys U daarvoor! Wys my hoe ek dit wat U aan my kom openbaar het kan gebruik om vir hierdie wêreld ‘n ontmoeting met U te gee. In Jesus se naam, amen!

Bonus: Spreek Lewe!

My verhouding met God kan vir ander  mense ‘n ontmoeting met God gee. Dit het krag om ander se lewens te verander, want dit wys vir hierdie wêreld dat God goed is en vir almal die beste wil gee.

Aanbidding:

Move Your Heart - Maverick City Music and UPPERROOM

 

Dag 3: Perfekte teologie

“NADAT God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy 'n voortrefliker naam geërf het as hulle.” Hebreërs 1:1-4

Die Vader is in Jesus sigbaar. Jesus sê selfs vir Filippus dat as hy vir Jesus gesien het, het hy die Vader ook gesien. As ons die suiwerste uitdrukking wil sien van wie God is en die werke wat Hy doen, behoort ons na Jesus te kyk. Jesus is die afskynsel en die afdruk van God op aarde. Jesus is die silhoeët of die skaduwee (die afskynsel) van God op aarde. Die wyse waarop Jesus liefgehad het, was soos die Vader liefhet. Jesus was ook die voetspore (die afdruk) van God. Waar Jesus gewandel en gewerk het, het die Vader gewandel en gewerk. Wat Jesus gedoen het, was wat die Vader gedoen het, want Jesus het niks gedoen wat Hy nie die Vader sien doen het nie.

As ons enigsins wil meet of ons besig is om God se goedheid vir hierdie wêreld te bied, moet ons dit wat ons doen, sê en uitbeeld, kan meet aan Jesus. “Whatever you think you know about God that you can’t find in the person of Jesus, you have reason to question. Jesus Christ is the fullest and most precise revelation of the Father and His nature that could ever be made known.”

Jesus is die beste verwysing van wie die Vader is en hoe Hy werk. Indien jy nie dit wat jy oor God en sy maniere glo in Jesus kan raaksien nie, behoort jy te bevraagteken wat jy glo. Daar staan waarhede van hoe God gewerk het in die Ou Testament aangeteken, maar Jesus het God se nuwe manier, naamlik genade, kom aankondig. As Jesus genade kon hê vir mense wat in hulle sonde verlore was en hulle sodoende kon red, moet ons die goedheid van God aan hierdie wêreld wys.

Lees:

Heb. 1:1-4

Joh. 14:7-11

Mediteer:

  • Watter goedheid wat jy in jou eie lewe sien, kan jy vir hierdie wêreld bied?
  • Watter dele van jou lewe lyk nie nou soos wat Jesus doen nie?
  • Watter dinge glo jy oor God wat nie in Jesus gesien kan word nie?

Bid:

Vader God, dankie dat U vir my met u Seun die beste voorbeeld gegee het. Help my om U te leer ken deur te sien wie Jesus is en wat Hy doen. Kom  transformeer en verander my lewe deur die genade wat deur Jesus gekom het, sodat ek U ook aan hierdie wêreld kan openbaar soos Jesus dit gedoen het. In Jesus se Naam, amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is die standvastige en volledige openbaring van God. Hy verander my lewe en help my om ander mense se lewens te kan verander. In Hom kan ek Koninkryk en God se goedheid aan hierdie wêreld bring sodat transformasie kan plaasvind en redding kan kom!

Aanbidding:

I Speak Jesus - Charity Gayle feat. Steven Musso

Dag 4: Laat U wil geskied

Ons is geroep om op ander mense te fokus. Die Here wil nie hê ons moet lewe deur net op onself te fokus nie. Hy wil selfs hê ons moet die ywer om ons eie lewens te verander, neerlê en op Hom vertrou om ons te verander. “... Those who think they can do it on their own end up obsessed with measuring their own moral muscle but never get around to exercising it in real life. Those who trust God’s action in them find that God’s Spirit is in them—living and breathing God! ...” Romeine 8:5-8 MSG.

Ons sien hoe die perfekte uitbeelding van wie God is vir ons wys hoe om ons perspektief vanaf onself na ander mense te verskuif. Jesus het geweet dat mense nie toegang tot God gehad het nie. Slegs die hoëpriester het toegang gehad. Net hy mag een keer per jaar, met baie risiko, by die allerhoogste ingaan om die Here daar te ontmoet. Jesus wou hierdie bedeling beëindig en vir elke persoon toegang na God toe gee. Hy het geweet dit sou beteken dat Hy God se wil moes uitvoer, al sou dit sy eie lewe kos.

Jesus het in ‘n stadium in die tuin van Getsémané 'n verskriklike angs beleef. Dit was so intens dat Hy bloed gesweet het en vir die Here gevra het om die beker van leiding van Hom af weg te neem. Nogtans het Hy gekies om te vra dat God se wil sal geskied in Sy lewe en dat Hy dit sal uitvoer wat God van Hom gevra het. Deur die wil van God te ken en te fokus op die silhoeët van ander lewens om Hom, het Jesus vir hierdie wêreld ‘n ontmoeting met God gebring. Op die dag wat Jesus gesterf het, het God die gordyn in die tempel geskeur en verklaar dat almal wat na Jesus toe kom, volle toegang na God die Vader kan kry en enige oomblik met God kan ontmoet. Net so kan ons ook, deur God se wil te ken en te weet wie Hy is, mense se lewens verander en vir hulle ‘n ontmoeting met God gee.

Lees:

Mat. 6:36-42

Rom. 8:5-8 MSG

Mediteer:

  • Probeer jy om self verandering in jou lewe te bewerkstellig?
  • Waar is jou fokus?
  • Wat is God se wil vir ander mense om jou?

Bid:

Here, U wil nie net my lewe gebruik sodat ek voordeel daaruit kan trek nie. U wil deur my lewe ‘n verskil in ander mense bring. Gebruik my om vir hulle ‘n ontmoeting met U te gee soos wat Jesus dit gedoen het. Wys my wat U wil oor daardie mense se lewens is en wat ek kan doen om aan hulle U goedheid te wys. In Jesus se Naam, amen!

Bonus: Spreek Lewe!

My lewe is ontwerp om vir hierdie wêreld na 'n ontmoeting met God te bring. Ek kan sien hoe transformasie in die mense om my se lewens plaasvind!

Aanbidding:

Don’t You Give Up On Me - Brandon Lake

 

Dag 5: Wie is Jesus in die storm?

Die goedheid van God sal nasies na Hom toe trek! Jesaja het hiervan geprofeteer in Jesaja 60:3, waar hy sê: “En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.”  Die mense in hierdie wêreld smag na die goedheid en die lig wat God gee. Hulle soek ‘n antwoord vir omstandighede waar daar geen hoop is nie. Om ‘n verskil in hierdie wêreld te maak, moet ons aan hulle die antwoorde gee waaroor net ons beskik.

Vra vir jouself: Wie is Jesus in die storm? Hy is die antwoord en nie die probleem nie. Jesus was nie die oorsaak van enige storm nie, maar in elke storm waarin Hy te vinde was, was Hy die antwoord. Ons het daardie antwoord gekry en ons kan mense in hierdie wêreld help om die Antwoord te ontmoet. Jesus het ons geroep om vir hierdie wêreld die Goeie Nuus te gee; om vir hierdie wêreld die Antwoord te gee. Dit is ‘n nuwe lewe in Jesus waar daar vryheid en vergifnis van sondes is, asook die vervulling van God se beloftes in elke mens se lewe. Dit is die antwoord van hoop waarna hierdie wêreld smag.

Soms kan ons self begin hopeloos voel oor die omstandighede in ons stad en in ons land. Ons wag dalk vir iemand om net te begin om iets te doen sodat dinge kan verander. Die Here het egter vir ons die hoop kom gee vir 'n goeie toekoms in Jesus sodat transformasie en verandering kan plaasvind. Hoekom moet ons wag vir iemand om verandering te bring wanneer óns die verandering kan wees? Why not us and why not now?

Lees:

Jes. 60:3

Exo. 33:13

2 Kro. 1:7-12

Mediteer:

  • Watter antwoord kan jy bied vir mense in omstandighede waar hulle hopeloos voel?
  • Wat kan jy nou begin doen, ongeag hoe groot of hoe klein dit is, om te begin om verandering te bring in jou omgewing en die omgewings van ander mense om jou?
  • God het vir Salomo gevra wat hy wil hê en was bereid om vir hom enige iets te gee wat hy sou vra. Salomo het gekies om te vra dat God vir hom wysheid sou gee sodat hy God se volk kon lei en vir hulle ‘n beter toekoms kon gee. Die Here het vir Salomo geëer vir sy begeerte om ‘n verskil in ander se lewens te maak, tot so 'n mate dat God vir hom rykdom, eer en roem bygevoeg het, soos wat nog nooit te siene was het. Vader God eer die harte wat kies om in ander mense se lewens ‘n verskil te maak.

Bid:

Jesus, U is die antwoord op alle probleme. Daar is niks wat hierdie lewe inhou wat groter is as U nie. U oorwin in almal se lewens wat U kies as hulle Redder en Koning en U sal dit ook vir my doen. Help my om te begin fokus op ander mense se lewens en om my eie lewe aan U oor te laat. Gebruik my om nou ‘n verskil te maak in die omgewings van ander mense. U het my gekies om u goedheid en lig aan hierdie wêreld te bring. Help my ook om dit doeltreffend te bring aan mense wat daarna smag. In Jesus se naam, amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is my antwoord en Jesus is die antwoord vir mense wat ‘n antwoord nodig het, deur my!

Aanbidding:

1000 Names - Phil Wickham