In Jesus het ’n nuwe dag aangebreek!
Eugene du Randt
Dag 1: Nuut elke môre
Die Woord is ’n gevaarlike wapen in jou lewe. Dit is skerper as ’n tweesnydende swaard in jou hart en op jou lippe. Hierdie Woord is nie ’n Woord wat jou akkommodeer nie, maar wat jou wel bevry en hoop gee. Die Woord het reeds oorwin sodat jý in oorwinning kan staan. Jesus het gesê dit is volbring! Die vyand is oorwin - dearmed, defeated! Jesus Christus het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood. Hy het aan jou gedink en die oorwinning gevel en daarom is dit vir jou moontlik om oorwinning te behaal oor enige aggressie, verslawing, selfbeeldprobleme, depressie, of wat ookal jou uitdaging is. Elke knie moet buig voor die Naam van Jesus!
Soms voel dit of dinge handuitruk en of die uitdagings te veel wil word, want ons is nie gevrywaar van moeilike dinge nie, maar ons kan in Christus onsself voorberei om nie op te tree soos die wêreld nie. Wanneer ons die Here vra, help Hy ons om reg op te tree, reg te praat en reg te doen soos wat Jesus dit doen.
Volgens 2 Kor.5:17 het alles dieselfde gebly. Nee, as jy lees, sien jy niks is meer dieselfde nie. Jesus het alles kom verander.
’n Nuwe dag het aangebreek! Hierdie nuwe seisoen is een van geleenthede! Dit maak nie saak wat in jou verlede is nie, hoeveel foute daar is nie, hoeveel pyn en seer daarin is nie. Jesus is genoeg. Jesus Christus het agter jóu aangehardloop, sodat jy nie meer in chaos gedompel hoef te wees nie. Jesus het herstel in jou lewe en versoening tussen jou en God gebring. Jy kan nou vrymoedig met jou God in 'n verhouding wees!
Lees:
Mediteer:
- Dink terug:
- Was daar al ’n dag in jou lewe toe jy jou hart vir Jesus Christus gegee het?
- Nee – wat keer jou om Hom nou te ontvang as jou Verlosser en Saligmaker?
- Ja – Hoe was jou lewe voordat jy jou hart vir Jesus Christus gegee het en hoe het jou lewe verander?
- Die Woord bring hoop en spreek waarheid oor my lewe!
Bid:
Here, U het My gevorm en U hou my en alles om my in stand. Dankie dat U my lewe deur u kruiswerk gered het. U is so lief vir my dat U my kom haal het. Meer as dit, dankie dat U my kom verander het en nuut gemaak het, vry gemaak en herstel het sodat ek as verloste in oorwinning kan lewe. U het my verhouding met Vader God herstel sodat ek nie hoef weg te kruip nie, maar in vreugde kan lewe oor hierdie lewe en ook die ewige lewe hierna. Ek is so dankbaar. Dankie, Here! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus het alles volbring vir my om in oorwinning te leef. Ek vertrou die Woord en ’n nuwe dag het vir my aangebreek!
Aanbidding:
Arise – Gillaume & René Worship
Dag 2: Werk wat vorder (Work in progress)
Jesus se kruisdood het vir ons ’n ongelooflike geskenk bewerkstellig. Daardeur het ons geregtigheid ontvang. Hierdie geregtigheid beteken nie ons is nou reg en ander mense is verkeerd nie. Dit beteken ook nie dat as ons nou net mag maak wat ons wil en soos ons wil nie. Hoe werk dit dan, en wat is geregtigheid? Ons het geregtigheid ontvang omdat Jesus Christus die geregtigheid is. Hy is gekwalifiseerd in God. Hy is die Een wat reeds geregtig is en in Hom en deur Hom, is ons nou ook geregtig. Dit het nie deur onsself gekom of deur dit wat ons reg gedoen het nie. Inteendeel, ons moet nog baie groei en het het nog baie om te leer. Ons is besig om Heilig te word om aan Hom gelyk te word. Ons lees die Woord, hoor die Woord en begin leef volgens die Woord wat ons beste riglyn is. Hierdie geregtigheid beteken, dat ons nou in die regte stand teenoor God verkeer (in right standing with God). Dit is ’n posisie van vryheid en ’n nuwe dag wat aangebreek het waar God se son oor ons skyn!
- Ons was leeg, maar nou is ons gevul met die Heilige Gees en is versadig om nie weer dors te word nie.
- Ons was sondig, maar nou lewe ons in vergifnis en vry van die las van sonde.
- Ons was alleen, maar nou lewe ons in God se Alomteenwoordigheid.
- Ons was vêr van God af, maar nou is God, Immanuel, met ons.
- Ons was mismoedig, maar nou is ons hoopvol in Jesus Christus.
- Ons was verlore, maar nou is ons gevind en gevestig in Christus.
- Ons was ongeregtig, maar nou is ons geregtig in Jesus Christus!
Noudat ons uit soveel genade ’n nuwe lewe ontvang het, het ons ’n nuwe taak gekry. Dit is, volgens 2 Kor. 5:17, ’n nuwe bediening: Die bediening van versoening. Ons het ’n taak gekry om deel te wees van die versoeningsproses tussen God en ander mense, net soos Jesus!
Lees:
Mediteer:
- Die Here is nie ’n aannemer van persoon nie. Dit beteken dat Hy nie net sekere mense kies nie. Daarom hoef jy nie te twyfel of jy of die persoon langs jou gekies is nie. God het juis die gordyn van die Allerheiligste geskeur om te sê dat daar nou niks in die pad staan vir die mensdom nie. Dit is volbring. Al wat ons hoef te doen, is om ons harte vir Hom gee en te sê: "Here ek het U nodig!"
- Die Here sê Hy soek jou hart, want wanneer Hy jou hart het, besit Hy alles van jou. Dit sluit jou gesin, finansies, verhoudinge, al jou uitdagings in. Wanneer Hy jou hart besit, het Hy alles en kan Hy alles ten goede laat meewerk, omdat jy Hom dit toelaat!
- Wat beteken dit om geregtig te wees?
- Noudat ek versoening ontvang het en ’n nuwe bediening van versoening tussen God en mense moet uitleef, is daar iemand wat my vergifnis nodig het?
- Wat sê die Woord oor enige mense wat jy afgeskryf het? Is dit ’n geleentheid vir die Here om genesing en versoening deur jou te bring? Bid vir die persoon(e).
- Toets alles van die lewe aan die Woord, dit is jou kompas.
- Die Here vervang harte van klip om sag te word.
Bid:
Here Jesus, ek bring my hart voor U vandag. Ek gee my hart vir U. Ek wil U dien met my hele hart, siel en verstand. Hier is dit.
Dankie, dat U die geregtigheid is, sodat ek nou in die regte posise met Vader God kan leef. Ek is nou ook geregtig in U. Dit is so wonderlik. Ek het geen skuldlas nie, ek is vry! Dankie, Jesus. Dankie, dat ek hierdie wonderlike openbaring met almal om my kan deel. Dat almal met U versoen kan word Vader, deur U Seun. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is die geregtigheid van God, in Jesus Christus!
Aanbidding:
Take It To Jesus – Anna Golden
Dag 3: Ek was blind
"Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal." (Mal. 4:2 ARF53).
Die nuwe dag het aangebreek vir ons in Jesus Christus en dit beteken dat God nou na ons kyk deur die bloed van Jesus. Ons is vry! Hy kyk na ons asof ons vlekkeloos is, perfek en in die regte verhouding met Hom – net soos Jesus is. Hy kyk nie net nuut na ons as gevolg van Jesus nie, maar genees ons ook. Hy herstel ons heeltemal! Die donker nag van duisternis is verby. Ons het 'n gebrekkige visie gehad as gevolg van al die sonde en kon nie duidelik sien nie. Die duisternis het deur die sonde gekom het en ons blind gemaak. Maar Jesus Christus het gekom! Jesus Christus het die sluier afgehaal! Jesus gee nie net vir ons lig nie, maar Hy is nou ons Lig. Hierdie son sal nooit weer sak nie, maar dit sal ons tot in ewigheid in verlig!
Wanneer ons die Woord lees, interpreteer die Heilige Gees dit vir ons in ons gees, sodat ons dit kan verstaan. Hierdie Woord is ons genesing. Hierdie Woord is die saad wat wortel skiet in ons liggaam, siel en gees en lewe spruit hieruit. Hierdie Woord verander ons lewens en nie net vir ons self nie, maar ook om die lig uit te leef en goeie vrug te dra.
Lees:
Mediteer:
- Die son van geregtigheid sal nie weer oor jou lewe sak nie. Wat beteken dit vir jou lewe?
- Wanneer jy die woorde van die Woord lees en iets daaruit leer, ’n openbaring wat jy kry, noem ons hierdie openbaring Rhema. Hierdie Rhema is God wat met jou praat. Wat sê God vandag vir jou uit Mal. 4:2?
Bid:
Jesus, dankie dat U opgekom het oor my lewe en dat U my lewe verlig. U is die Lig en dankie dat ek nou kan vasmaak en weet dat U as Lig, nooit weer oor my lewe sal sak nie, want U is die getroue Woord. U verander en herstel my. Dankie, dat ek hierdie goeie nuus kan vat en glo en ook met iemand anders kan deel. In U Heilige Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek sien wat U sien. U visie is perfek en alles wat U doen, is perfek!
Aanbidding:
Take You At Your Word – Cody Carnes, Benjamin William Hastings
Dag 4: Ewigheid in jou hart
As jy kyk na wat om jou in die wêreld aangaan en die mense se strewe na meer en beter, asook die uitdagings en hoe mense die uitdagings probeer oorkom, dan besef jy dat die mens op soek is na ’n antwoord op die vraag: “Hoe kan ek my lewe verleng of vir ewig leef?” Wat kan ons doen? Wat moet ons eet, wat moet ons drink en hoe moet ons ons leefstyl aanpas of verander? Daar word gedurig raad gegee deur kenners, en mense volg hierdie raad, hierdie wenk, net vir ingeval dit dalk die knoop sal deurhaak. Mense rig standbeelde op en probeer op verskillende maniere hul stempels afdruk. Wat sal van my bly voortleef as ek tot sterwe kom? Wat sal my nalatenskap wees? In sy wese is die mens soekend na ewigheid en ewigheidswaarde!
Die waarheid wat die wêreld miskyk, is dat Jesus reeds die hemel na die aarde toe gebring het en daarmee die ewigheid in ons kom installeer het op die dag wat ons Hom aangeneem het. Toe ons vir Hom ja gesê het, het ’n nuwe dag aangebreek. Die ou dinge is verby! Die skeiding tussen ons en God is verby. Menslike pogings om God te bereik, is verby. Menslike pogings om ewigheid te bereik, is verby. Jesus het ewigheid binne-in ons kom plaas deur sy Gees. Ons leef nou vir ewig! Ja, die realiteite op aarde is nog nie ten volle hemels nie. Daar is uitdagings.
Wat ons wel het, is die antwoord waarna die wêreld op soek is, en ons skuld die wêreld hierdie antwoord. Hierdie antwoord is die ewigheid deur Jesus Christus, naamlik dat Jesus vir ons hemel op aarde kom wys het en ons in sy voetspore kan volg en nog meer. Ons kan God beleef en in sy oorvloed leef. Ons kan ook deur Jesus aan ander mense hierdie hemelse realiteite in hulle chaos en onduidelikheid inbring.
He has made everything beautiful and appropriate in its time. He has also planted eternity [a sense of divine purpose] in the human heart [a mysterious longing which nothing under the sun can satisfy, except God]—yet man cannot find out (comprehend, grasp) what God has done (His overall plan) from the beginning to the end. (Ecc. 3:11 AMP)
Dit is so belangrik om te verstaan dat ons elkeen die bediening van versoening het. Dit is nie net die pastore se werk nie, maar ons elkeen s’n. Ons werk is om mense na Jesus toe te bring sodat hul lewens gered kan word en hulle die ewigheid kan erf. Ons doen dit deur die goedheid van die Here te bedien. Nie deur op hul sondes en verkeerde lewenswyses te hamer nie, maar deur die liefde wat daar in Christus is, te beklemtoon.
We are passionate people finding purpose in His presence.
Hierdie doel kan ons slegs deur die Here bereik! Net deur Hom kan ons die goeie plan vir ons lewens bereik.
"Want met die Here loop ek ’n bende storm en met my God spring ek oor ’n muur!" (Ps.18:30)
Lees:
Mediteer:
- Wat beteken dit vir jou dat die Here ewigheid in jou hart geplaas het?
- Ek kan nie vir ander mense iets uitdeel wat ek self nie het nie. Wat het ek nodig om vir ander mense ewigheidswaarde te bedien?
Bid:
Here, u hart is dat ek en almal om my in die ewigheid saam met U leef. Ek vra dat U my kom volmaak met Uself, u waarheid en liefde, sodat ek U kan bedien vir almal om my. Here gee vir my iemand aan wie ek u ewigheidsplan en u doel vir hul lewens kan openbaar, deur u Geestelike insig en wysheid. In Jesus se Naam.
Bonus: Spreek Lewe!
’n Nuwe dag het aangebreek. Ek leef vir ewig! Wat ek doen, maak saak! God het ’n doel vir my, al verstaan ek nie die volle prentjie nie!
Aanbidding:
Dag 5: 'n Nuwe dag - Vry!
Volgens Galasiërs 5:1 het Jesus duur betaal met sy bloed om vir ons vryheid te gee. Hy het ons letterlik met sy lewe vrygekoop van sonde. Daarom is ons vry om te leef, om te aanbid, om met doel te lewe. Ons is vry van die vrees vir die dood en vry van die las van sonde. Ons is nie meer ingeperk deur ons verlede en met kettings vasgebind wat ’n houvas op ons het nie. Ons is nie meer onder slawerny nie.
In Rom. 6:18-23 verwys Paulus na slawerny. Hy sê ons moet besef ons is nie meer vas nie. Ons is vry! As ons wil slawe wees, moet ons ’n slaaf van geregtigheid wees. Hierdie geregtigheid lei ons in oorwinning na ’n Heilige lewe. Hy sê immers: “Wees Heilig, want Ek is Heilig” ! (1 Pet.1:16)
’n Nuwe dag het aangebreek! Ons het:
- Lewe in Christus
- Vreugde in Christus
- Vrede in Christus
- Vervulling net in Christus
- Ons wen mense vir Christus
- Ons is nou in ’n nuwe verbond in Christus.
- Ons is vry!
Lees:
Mediteer:
- Wat staan in die pad van jou vryheid?
- Soms is daar ’n wanopvattings dat Christene net ‘heilig’ of ‘skynheilig’ is en daarmee wil niemand vereenselwig word nie. Wanneer jy die vryheid in Christus en krag en werking van ’n Heilige Gees lewe gesmaak het, besef jy dat selfs die reuk van sonde nie werklik so aanloklik is as wat dit eers was nie. Sonde het nie meer ’n vashouplek op jou nie. Jy dra nie meer die las van die verlede nie, omdat jy die pad van geregtigheid gekies het. Dan onthou jy die verlede en besef dat jy uit die vuur geruk is en nie wil teruggaan na sonde toe nie. Dit hou net dood in en die ‘skynpret' is van korte duur.
- Wanneer jy uit die Gees begin lewe en die goedheid van die Here in jou lewe tasbaar begin ervaar, is daar niks wat hierdie wêreld vir jou beter kan bied nie! Wanneer jy die goedheid van die Here begin uitleef na ander mense en sien hoe die Here jou kragtig gebruik in ander mense se lewens, word jy deur Hom oorweldig en ervaar hoe ongelooflik en wonderbaarlik Hy is.
- Hoe lei die pad van geregtigheid na Heiligheid?
Bid:
Here baie dankie dat ek vry is in U! Ek vat u Woord as waarheid oor my lewe. Dankie, dat U my kragtig gebruik om U voete te wees en die goeie nuus oral te verkondig waar ek loop. In Jesus se Naam, Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is vry! Ek het vreugde, vervulling en vrede in Christus! ’n Nuwe dag het vir my aangebreek!
Aanbidding: