Go Deep 11 September 2022

Silhoeët van ons stad

Neville Goodchild

Kan my lewe ’n verskil maak in iemand anders se wêreld?

joshua lanzarini Vct0oBHNmv4 unsplash 

Dag 1: Is die tyd reg?

Ons wil graag nuwe Woord, nuwe openbaringe hoor en ontvang by die Here. Ons is op soek na kos wat ons kan voed en ook praktiese Woord wat ons lewens aanraak en aktiveer.

Die feit is dat daar waar die Woord suiwer verkondig word, daar altyd openbaringe in ons gees is. Wat egter baie belangrik is, is dat ons gereed sal wees om hierdie Woord te ontvang. Die Woord is soos saad. ’n Pakkie saad het baie potensiaal om iets te word. As dit egter nie in goeie, ontvanklike grond beland nie, sal niemand weet van die potensiaal van hierdie saad nie.

My grond moet gereed wees om die saad te ontvang, sodat daar ’n oes kan wees in my lewe. Dus moet ek gereed wees om die Woord te ontvang (wil hoor en luister), sodat daar goeie vrug kan wees in my lewe.

Die wonder van die Woord is ook dat dit altyd van toepassing is. Wanneer Jesus die opdrag aan ons gee om na elke nasie en taal toe te gaan om die Woord te verkondig, beteken dit dat daar geen seisoen of streek is wat nie gereed is om die Woord te ontvang nie. Die evangelie van Jesus Christus is gereed om onder elke omstandigheid te groei en ’n oes voort te bring. Die tyd is reg, die tyd is nou!

Lees:

Mat.13:1-23

Mat. 28:19

Mediteer:

  • Gaan jy soms met die Woord om asof die tyd nie reg is nie en die seisoen nie gereed is nie?
  • Wat keer dat ek nie gereed is om Woord te ontvang nie?
  • Wat keer dat ek nie gereed is om Woord met ander te deel nie?
  • Wat is Jesus se opdrag oor die Woord?
  • Wat gebeur wanneer die Woord verkondig word?

Bid:

Here, U Woord is ’n kragtige swaard in my lewe wat sny deur murg en been en verandering bring. Ek stel myself oop, kom berei die grond voor sodat ek onder alle omstandighede ontvanklik is vir u Woord. Laat hierdie grond gereed wees, maar ook goeie grond wees om u Woord te ontvang, sodat daar goeie vrug sal wees en ’n goeie oes ingebring kan word. Ek wil vrymoedigheid neem en die Woord wat ek ontvang ook uit te deel aan almal om my en besef dat elke omstandigheid ’n goeie geleentheid hiervoor is. Help my asseblief om suiwer Woord te verkondig. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is gereed om te ontvang, ek is ontvanklik vir die Woord. Die Woord is Lewend en aktiveer my lewe. Die Woord word geplant in my lewe en daarom is daar in elke omgewing en omstandigheid ’n oes wat my lewe oplewer.

Aanbidding:

Your Word – Hillsong Worship

pexels suliman sallehi 3107467

Dag 2: Hoekom nie ons nie, hoekom nie nou nie?

Dit is belangrik om te besef dat die Koninkryk van die Here besig is om met rasse skrede uit te brei en ons kan deel wees daarvan, of onsself isoleer daarvan! Wat sal gebeur as ons vir die Here “ja” sê? Waarom moet die Here iemand anders soek of verder kyk as na ons en nou?

Kan ons begin kyk na die silhoeëtte van ons stad, of is ons steeds te gefokus op ons eie realiteite, ons eie buitelyne? Kerke het die afgelope drie jaar baie intensief daarin belê om suiwer Woord te verkondig. Hierdie Woord verander die buitelyne van jou lewe, die silhoeëtte van jou eie bestaan. Dink aan wat jy geleer het, wat jy weet en wat jy verstaan. Is dit genoeg om net na jou eie omstandighede te kyk en te weet en verstaan? Is dit nie nodig om te begin kyk na die buitelyne van jou omgewing nie?

’n Mens kan nooit op ’n plek kom waar jy sê ek het nou gearriveer en daar is niks meer om te leer of na toe te groei nie. Die leuen is dat as ek nie 100% reg is nie, dan is ek nie reg om die Woord te deel nie. Dit is ’n onwaarheid. Wanneer jy suiwer Woord ontvang, begin jy glo en daar is openbaring vir jou. Hierdie waarheid word nie vir jou gegee om vir jouself te hou nie, maar om uit te deel so vêr soos wat jy beweeg. Daarom is dit belangrik om toe te laat dat hierdie vraag jou aktiveer. Hoekom nie jy nie en hoekom nie nou nie?

Die Here vra: “Wie sal Ek stuur?” Wat is jou antwoord? ____________

Lees:

Joh.7:38-39

Mediteer:

  • Wat sal gebeur as jy “ja” sê vir die Here?
  • Wat is nodig, wat moet regkom voordat jy kan sê: “dit is ek en dit is nou?”.
  • Hoe kan ek gesond genoeg word sodat ek kan begin kyk na omstandighede buite my eie silhoeëtte?
  • Wat is die realiteite van die saad wat die Here die afgelope jaar of drie in my lewe kom deponeer het?
  • Hoe lyk die buitelyne van my omgewing?

Bid:

Here, al wat U vra is my bereidwilligheid. Ek kom verklaar vandag my bereidheid om my kop op te lig en te begin kyk na my omgewing. Ek het so vasgevang geraak in my eie realiteite dat ek nie eers besef het hoe geïsoleerd ek begin raak het nie. Dankie, dat U my uit my gemaksone uitbring na u lig sodat ek u liefde en waarheid na ander rondom my kan uitleef. In Jesus se Naam, Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here kies my en gebruik my soos ek is. Deur sy Gees lei Hy my in waarheid en liefde, sodat ek nie net self verander nie, maar uitreik na ander mense en toelaat dat die Here die silhoeëtte van my omgewing verander en my deelname is krities hiervoor!

Aanbidding:

Send Me – Jenn Johnson, Chris Quilala

Dag 3: The Goodness of God

Jou eie realiteite, jou emosies en perspektief is baie belangrik vir die Here. Dit is ook vir Hom belangrik dat jy jou fokus begin skuif na realiteite buite jouself. Enige persoon wat vir te lank en te veel na hulself kyk en in hul eie omstandighede vaskyk en fokus, raak ’n probleem vir hulself en gediskwalifiseerd om te doen wat hul eintlik moet doen.

Hoekom nie ons nie en hoekom nie nou nie?

Jy kan nie wag totdat jy perfek is voordat jy bereid is om betrokke te raak nie, want indien jy by perfek uitkom, sal dit ook nie lank kan hou nie. Jy kan nie wag om op ’n plek te kom sodat jy gereed kan wees vir die Koninkryk van die Here nie. Die Koninkryk maak nie ’n opwagting wanneer jy gereed is nie en word ook nie uitgebrei wanneer die kerk perfek is nie.

Jesus’s resurrection is the beginning of God’s new project not to snatch people away from earth to heaven, but to colonize earth with the life of heaven. That, after all, is what the Lord’s prayer is about – NT Wright

Mense dink en sê dikwels dat rampe kom as gevolg van God se straf of omdat Hy mense wil bekeer. Hierdie teologie stem glad nie ooreen met dit wat Jesus Christus aan ons kom verkondig en bewys het nie. Jesus het juis vir ons God se hart en Koninkryk kom wys. Hemel op aarde. God is goed en Hy wil sy goedheid konstant aan ons openbaar. Is ons ontvanklik vir Hom? God is goed en kan nie sleg word om jou siel te probeer red nie. Straf red nie. Jesus Christus het reeds alles volbring sodat ons gered kan wees.

It is the goodness of God that draws nations!

Lees:

2 Pet.1:9

Ef. 2:1-10

Mediteer:

  • Hoe langer ons na onsself kyk, hoe minder is ons gekwalifiseerd om te doen wat ons eintlik moet doen in die Koninkryk. Hoekom is dit so?
  • Die leuen is dat jy gekwalifiseerd moet wees om die Here aan ander uit te leef. Die leuen is dat jou verlede jou diskwalifiseer. Die leuen is dat dit wat jy deurgemaak het en wie jy is, nie goed genoeg is vir die Koninkryk nie.
  • Wat is die realiteit van die saad wat in jou lewe gesaai is en wat die Here in jou lewe kom deponeer het die afgelope paar jaar?
  • Is dit nie tyd vir ons om ons fokus te skuif na die realiteite buite onsself nie?
  • Dink terug aan die pad wat die Here met jou gestap het. Dink terug aan sy goedheid en getrouheid oor jou. Waar sou jy gewees het as dit nie vir Hom was nie? As dit nie vir God was nie, het ons geen hemelse realiteite, toekoms of hoop gehad nie. Waarvan het God jou vergewe?

Bid:

Here, dankie dat U my uit die vuuroond gered het en vir meer as dit - dat ek nie net hemel toe gaan nie, maar nou reeds deel kan wees van u Koninkryk op aarde. Dankie, Jesus vir U voorbeeld van hemelse realiteite op aarde en dat U Vader se hart vir ons kom openbaar het. Here U is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is gereed om na buite te kyk na my omgewing en realiteite rondom my en nie terug te staan vir die leuens nie. Die waarheid is dat God my bekwaam deur sy Gees om te doen wat Hy my geroep het om te doen.

Aanbidding:

Goodness of God – Jenn Johnson

Dag 4: Gemaak om te heers

Volgens Ef. 2 is ons reeds gesetel in hemelse plekke; ons heers reeds saam met Jesus Christus op aarde. Om hemel toe te gaan, is nie ’n lewenslange proses nie, dit gebeur in elk geval met dié wat Hom dien. God se doelwit is om hemelse realiteite aarde toe te bring en die roete is om jou te red en jou dan te aktiveer sodat dit moontlik is. God werk deur sy liggaam en jy is deel van hierdie liggaam. Wanneer jy eendag by die Here kom, wil Hy graag vir jou sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg...”. Dit is hoekom die Here wil hê dat jy reg moet lewe, want Hy wil vir jou ’n lang lewe gee.

Jesus is op pad! Die Koninkryk van God is besig om klaar te maak met die werk wat Hy begin het. Die tyd het gekom dat die Koninkryk van die Here openbaar gemaak word. God wil sy goedheid wys, want dit is die enigste manier waarop die wêreld kán verander. Dit is tyd dat ons die goedheid van God in ons lewens sien en ervaar en met ander deel, sodat ons omgewing, die mense in ons omgewing kan begin verander.

God se goedheid is beter en méér waardevol as die skepping self! In Ps. 33:4-5 lees ons dat God se werk met trou is. Dit beteken met waarheid (truth). Hy het geregtigheid en reg lief. Dus, as jy dink dat God rampe en teenspoed veroorsaak, glo jy dat God ongeregtigheid en onreg liefhet. God het dan juis sy wraak klaar uitgeneem op Jesus aan die kruis. Dit is hoekom Jesus aan die kruis gehang het, onherkenbaar as ’n mens. Die dag van oordeel is om af te reken met sonde wat nog nie onder die bloed van Jesus gebring is nie (die wat Jesus nie aangeneem het nie). Die oordeel is nie vir vandag nie. Vandag is ’n dag van Genade.

Ons het dus ’n verantwoordelikheid het teenoor ander mense rondom ons. Ons het ’n invloed wat ons uitleef!

Lees:

Ef. 2:5-6

Luk.19:17

Ps. 33:4-5

Mediteer:

  • Wat sê die Woord gaan gebeur sodra die hele wêreld (elke volk, stam, taal en nasie) die volle evangelie gehoor het? Waar staan ek in hierdie prentjie?
  • Waar rondom my kan ek ’n bydrae lewer?
  • Hoe hanteer God my sonde volgens die Woord?
  • Het ek vrees vir die oordeelsdag? Waarom?
  • Watter invloed leef ek uit na ander mense rondom my?

Bid:

Vader, dankie dat ek saam met U regeer op hemelse plekke en dat ek nie bekwaam hoef te wees nie, omdat U dit nie verwag nie. U verwag net my geloof en vertroue in U en gehoorsaamheid aan U as Woord. Dankie, dat U my help om my te posisioneer op ’n plek waar ek ’n verskil kan maak in my omgewing en deel kan wees van die missie om u Koninkryk uit te brei. Dankie, dat ek U kan uitleef en u liefde en waarheid met almal om my kan deel. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Dit is tyd dat ek my posisioneer op ’n ander plek as net ek en myself. Ek kan ’n ongelooflike bydrae lewer en 'n invloed uitoefen op die wêreld rondom my.

Aanbidding:

Heart of God – Zach Williams

Dag 5: Skuld

Die verantwoordelikheid wat ons het, om te kyk na die silhoeët van ons omgewing, is drie spesifieke goed wat ons die wêreld skuld. Ons staan nie in skuld teenoor God nie. Ons skuld by God is afgeskryf deur Jesus Christus. As geredde wedergebore kinders van die Here, wat Jesus Christus ontvang het, staan ons wel in skuld teenoor die wêreld.

Ons is ’n ontmoeting met God teenoor die wêreld verskuldig. Ons weet dat ons hemel toe gaan, maar nie nou nie. God het jou lewe gered en vat jou nie nou hemel toe nie, omdat jy die wêreld ’n ontmoeting met God skuld. Mense rondom jou ken Hom nie, het nie verhouding met Hom nie. Rus jouself toe om hierdie ontmoeting te bewerkstellig. Kyk uit rondom jou vir mense wat gereed is om God te ontmoet!

Ons skuld hierdie wêreld ’n voorbeeld. Jy leef ’n boodskap uit na die wêreld. Wat is die boodskap? Die mense in jou omgewing weet nie hoe om te lewe nie. Hul sukkel met gesonde beginsels en daar is nie goeie voorbeelde nie.

Het jy ’n:

Word worth listening to? Wat kom uit jou mond?

Faith worth embracing? Watter getuienis leef jy uit en wat verkondig jy? Skyn jy Lig?

A life worth imitating? Is die manier wat jy leef, die moeite werd om na te streef?

Ons skuld die wêreld die boodskap van Jesus Christus. Dit het tyd geword dat ons vasstaan in Woord waarheid, Lewende Woord en begin uitspreek wanneer ander Christene verkeerde dogma, ismes, irrasionele byvoegings tot teologie bring, betrokke raak in ander uitdrukkings. Dit is tyd om Christene rondom ons te belyn met Koninkryk. Die rede waarom ons nie besig bly met Sabbat, Saterdag-gesprek, wie die ware bruid is, die wegraping, bloed-mane, horings en salf nie, is omdat ons besig is met Jesus. Al die distractions is tekens dat Jesus op pad is. Al die vorige instellings is wat dit is, ou instellings wat gedui het op Jesus Christus wat na die wêreld kom. Jesus het gekom! Jesus is die antwoord. Hy vervul alles waarna ons soek. Ons het intimiteit met Jesus Christus!

Lees:

Ps.67:2-3

2Pet.1:12-13

Rom.10:14

Mediteer:

  • Watter skuldlas het ek en waarom?
  • Hoe kan ek sorg vir ’n ontmoeting met God? Wat het ek nodig hiervoor?
  • Hoe lyk die voorbeeld wat ek uitleef? Is dit ’n woord wat ander na kan luister, ’n geloof wat die moeite werd is om aan te neem en ’n lewe wat die moeite werd is om na te volg?
  • Kan ek Jesus vir ander bedien? Wanneer ek Jesus bedien, maak ek seker dat dit die volle Evangelie is wat ek bedien? Hoe kan ek seker wees?
  • Om Jesus te bedien moet ek uitkyk vir mense in krisis, mense wat verward en verlore is! Ek moet hulle kerk toe bring!

Bid:

Vader, dankie dat my skuldlas afgeskryf is deur die bloed van Jesus Christus en dat ek nie die oordeelsdag hoef te vrees nie. Dankie, dat daar vir my ’n beloning wag in die hiernamaals en dat U vir my gaan sê welgedaan. Ek vra dat U my help om ’n lewe te leef volgens U beginsels: A word worth listening, a faith worth embracing and a life worth imitating. In die Naam van Jesus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek maak seker dat ek die volle waarheid ken en in liefde bedien. Ek sorg dat ek ’n Woord het om na te luister, ’n geloof wat lewens red en ’n lewe wat die moeite werd is om na te volg!

Aanbidding:

I Speak Jesus – Charity Gayle