Moenie Vashaak Nie
Mark Hodgetts
Dag 1: Vra ek vir hulp?
Ons elkeen wil graag weet presies in watter rigting ons moet gaan. Ons wil weet dat die pad van die lewe suksesvol gaan wees en dat ons die regte besluite neem. Ons weet net nie presies hoe hierdie pad lyk nie, of hoe om by die eindbestemming uit te kom nie. Ons weet ook nie hoe om vir die aanwysings op die pad te vra of hoe om daarvoor uit te kyk nie of dat ons wel mag vra en moét vra nie. Wát moet ons vra en hoé moet ons vra? Hoe moet ons die antwoorde kry? Wanneer die Here stil is, of ons Hom net nie kan hoor nie, dan wil ons vinnig tot ’n negatiewe gevolgtrekking kom. Ons dink Hy hoor nie, Hy stel nie belang nie, ons is nie goed genoeg nie, of Hy bestaan nie.
Die Here wil graag inspraak lewer in ons lewens. Hy weet wat die pad is wat ons moet volg. Hy het van die begin af ’n ongelooflik plan vir ons lewens. Al wat ons nodig het om te doen, is om Hom te vra en in te haak by Sy ongelooflike plan. Wanneer ons die Here vra is Hy vinnig om ons te hulp te snel.
Hy hoor en Hy wil graag hê dat ons Hom moet ken in die pad wat ons loop sodat Hy ons op die regte koers kan hou. Hy is ’n goeie Pa wat presies weet wat ons nodig het en ook hoe om vir ons meer te gee as wat ons bid, dink, of vra. Hoekom dan vra? Hy wil graag hê dat ons Hom deel maak van die ongelooflike reis!
Lees:
Mediteer:
- As God se wil vir jou nou op hierdie oomblik lewe is en lewe in oorwinning, wat hou jou gevangene?
- Ken jy die Here, in al jou planne?
- God se Woord is vir ons ’n padkaart om ons op die regte roete te hou. Daarmee saam het Hy ook vir ons Sy Gees gegee. Dit is ons ingeboude GPS! Die Heilige Gees ondersoek konstant God se wil en wil graag God se wil aan ons openbaar maak.
Bid:
Here, U is my rigtingwyser. U help my om met my verlede klaar te maak en my uit te strek na die toekoms. Ek bring alles van my verlede en my toekoms voor U en vra dat U my sal losmaak van dit wat my vashou, sodat ek kan vorentoe beweeg. Help my om hierdie week te ontdek wat U plan is, hoe die verlede deel vorm daarvan en watter rigting U my in wil lei. Ek vra dat U my duidelik sal wys, dat ek mooi sal kan hoor en sien en weet. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
U is lewe en U is in my toekoms. Ek is standvastig in U en daarom is my toekoms een van verwagting en oorvloed!
Aanbidding:
Your Word – Hillsong Worship
Dag 2: In watter tydperk leef jy?
Daar is drie tydperke waarin ons leef: Verlede, Hede en Toekoms.
Dit is so maklik vir ons om in ons gedagte wêreld óf in die verlede vas te haak, óf in die toekoms. Wanneer ons by een van hierdie vashaak, dan sukkel ons juis om vorentoe te beweeg en voluit te leef.
Na Lasarus se dood sê Marta vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Marta rou oor haar broer en dink terug aan die verlede. As Jesus maar net daar was en dinge verander het, sou dit nou anders gewees het. Dikwels wil ons teruggaan in tyd en die verlede verander. Die verlede het so ’n groot impak op ons hede dat ons sukkel om te fokus en om vorentoe te gaan.
Daar is dinge uit die verlede wat belangrik is om te onthou en daaruit te leer. God het die verlede toegelaat. Hy was betrokke al was ons onbewus daarvan. Ons is nie meer daar in die verlede nie, maar het gegroei en Hom leer ken. Die Here het ons daadwerklik kom red van ons verlede en ons kan daaruit getuig dat God goed is, dat Hy God is en dat daar niemand is soos Hy nie (Jes.46:8,9). Dit is ons getuienis, dat Jesus Christus ons gered het, dat die bloed van die Lam ons uit ons verlede en sonde kom ruk het.
Daar is ook dinge wat ons agter ons moet sit en nie toelaat dat ons die hele tyd daaroor tob nie. Hierdie is die dinge waarmee ons moet klaarmaak, sodat ons dit kan vergeet (Fil.3:13).
God wil ’n nuwe dinge in jou lewe doen (Jes.43:18,19). Jy is nie jou verlede nie. Vergifnis speel ’n groot rol in die afhandeling van die dinge van jou verlede. God sê dat daar niks in vergelyking is met wat Hy nou gaan doen nie. Hy gaan iets nuuts kom doen in jou lewe!
Lees:
Mediteer:
- Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe.”
- Leef jy as gevangene van ou herinneringe of ou wonde? Vra dat die Here jou losmaak van die verlede.
- Is daar iemand of mense in jou verlede wie jy moet vergewe sodat jy kan aanbeweeg? Wanneer ons onvergewensgesind is, bly ons vaskleef aan daardie persoon en dit hou ons gevangene. Daarom is God se wil dat ons vergewe sodat ons vry kan wees.
- Om te vergewe beteken nie dat ons vergeet soos geheueverlies nie. Wanneer God vra dat ons vergeet, beteken dit dat ons dinge van die verlede agter ons sit en nie weer aanhou om daaraan te dink nie. Is daar dinge van jou verlede wat jy nodig het om by die kruis te sit en daar te los, om nie weer op te tel nie?
Bid:
Here Jesus, dankie vir U bloed wat my gered het. U het my van die begin af so lief, dat U vir my gesterf het, sodat ek nie hoef te sterf vir my sonde nie, maar die ewige lewe kan erf. Daarmee saam wil U vir my hoop en ’n toekoms gee. Vandag wil ek hierdie dinge van my verlede begrawe by U kruis, sodat ek die slegte nie meer saam hoef te dra nie. Vergewe my asseblief vir my verlede [noem dit wat jy by die kruis wil neerlê]. Ek sit hierdie nou by U neer [noem dit voor die Here]. Ek vergewe [noem die name van die persone wie jy vergewe]. Dankie, dat U my ook vergewe. Ek vergewe myself ook vir my aandeel. Dankie, dat U my help waar ek sukkel om [naam] te vergewe. Vandag kies ek om te vergewe al voel ek nog nie die vergifnis in my hart nie. Jesus, U neem hierdie swaar las van my skouers af en U is die nuwe lewe wat ek optel. U las is lig, U is vrede en U gee vir my ’n nuwe lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus Christus het gesterf sodat ek ’n nuwe lewe kan leef in Hom! Ek juig, want God doen iets nuuts in my lewe!
Aanbidding:
Thank You for the Cross – Life Church Music
Dag 3: Leef vir Vandag!
Dit is belangrik om te leer by die verlede en om klaar te maak met die dinge van die verlede. Verwerk die dinge van gister sodat jy vandag in die hede kan leef.
As Jesus ons leer vra “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mat.6:11), leer Hy ons eintlik om in afhanklikheid van God te staan vir alles wat ons nodig het en om Hom te begin vertrou daarvoor. Hy sê ook baie duidelik dat ons nie in môre moet leef nie, maar vandag voluit! (Mat.6:34; Ef.5:16). Sy Wil is dat ons voluit in vandag leef! In Joh.10:10 staan daar “Ek het gekom om vir jou ’n lewe in oorvloed te gee”. Beteken dit nie dan dat God ’n God is wat wil hê dat ons voluit moet leef uit Sy oorvloed nie? As Hy die God is wat elke dag getrou vir Sy volk manna gee, hoeveel te meer gee Hy nie nou vir ons wat in Jesus Christus is nie? Oorvloed! Watter beperking gee Hy vir ons? Geen! Ons hoef nie van gister se genade te leef nie, maar van dit wat God vandag vir ons in stoor het. En dit is genoeg.
Jesus leer ons ook bid soos in die hemel so op aarde. Is daar enige gebrek in die hemel? As ons vra, ontvang en leef, soos in die hemel, in oorvloed en voluit volgens God se Wil, hoe kan ons dan nie hierdie dag aangryp nie!
Lees:
Mediteer:
- Wanneer jy van vakansie af terugkom, pak jy jou tas uit. Jy sleep nie daardie bagasie verder saam nie. Dit is belangrik om dinge soos mislukkings en teleurstellings te begrawe. Om te misluk beteken nie jy is ’n mislukking nie. Maak klaar met die dinge wat jou verhoed om God se nuwe dinge te ervaar. Maak klaar met die dinge wat ’n las is.
- Wanneer ons God se Koninkryk eerste stel, sê Hy dat Hy vir ons sorg (Mat.6:34). Is daar iets in jou verlede, of toekoms waaroor jy bekommerd is, wat besig is om jou te oorweldig? Het jy dit al vir die Here gegee en begin fokus op dit wat Hy nou vir jou gee?
- Wat hou jou terug daarvan om die beste weergawe van jouself te wees soos God jou geskape het? Is dit iets wat jy by die kruis kan neerlê?
Bid:
Here dankie vir elke belofte in U Woord en dat elke belofte vir my is. Ek maak dit nou vas in my hart, dat U betroubaar is en dat U goed is en my lief het. Dat U beloftes nie net vir ander is nie. Ek kom lê (hierdie ding van die verlede) by U kruis neer Jesus. Ek wil die dinge van die verlede afhandel. Dankie, dat U dit neem sodat ek dit nie weer hoef op te tel nie en dat ek kan begin leef vir vandag. Ek gee (hierdie bekommernis) vir U. Ek kies om U te vertrou dat U vir my genoeg gee vir vandag. Dat ek hierdie pakkie nie hoef te dra nie. U las is lig en U juk is sag. Ek kom ruil nou my bagasie vir U Koninkryk. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies Jesus en plaas al my vertroue in Hom. Hy sal my nooit teleurstel nie.
Aanbidding:

Dag 4: Vandag is die dag
Hoekom het Lot se vrou agtertoe gekyk? Sy het in haar hart verlang na die dinge wat sy ken, haar ou sondige natuur. In haar hart wou sy nie eintlik wegdraai daarvan af nie. Sy het ook gevrees vir die toekoms en wat die toekoms inhou. Sy kon nie indink dat dit beter sou wees nie. Haar vertroue was nie in die goedheid van die Here en dit wat Hy vir haar in stoor het nie.
Hoe strek ek my uit na wat voor is en hoe span ek my in om by die wenstreep te kom? (Fil.3:13-14)
(Die verkeerd en seer van gister is so swaar dat ek amper nie kan beweeg nie. Dit is asof daar ’n gewig is wat maak dat ek vasval en sukkel om te beweeg. Daar is dinge in gister wat so verkeerd was en ek kan dit nie verander nie. Die las van gister se sonde is ’n swaar gewig wat my verstrengel wil hou. Dit laat my agteruitbeweeg. Hierdie dinge werk in op vandag. Vandag is die gewig van gister vir my te swaar om te dra - Anoniem)
Daar is ’n tyd vir alles en gister was moeilik, dit was ’n tyd van moeilikheid. Dit is belangrik om stil te staan by die dinge wat seermaak en verwoesting saai en om daarmee te deel. Om te deel daarmee is nie om dit te onderdruk nie, maar om dit te erken (Embrace your past so that you can claim your God given future). Dan om vergifnis te vra en ook vergifnis te gee. Dit is deel van die proses van losmaak. Sonder vergifnis dra ek die seer van gister in vandag in en ook in môre in. Die Here het vandag vir my gegee en Hy gaan die son môre weer laat opkom. Daarom maak ek klaar met gister sodat ek my kan uitstrek na môre. Ek wil nie gister se pyn in môre inneem nie. Ja, gister bly deel van my geskiedenis, maar ek kan kies om te deel daarmee, sodat dit nie my vandag en môre negatief beïnvloed nie.
Alles het sy bepaalde uur. In sommige opsigte was gister makliker en ek dink terug aan die verlede en wens terug na beter tye. Wysheid is egter om nie te sê dat die ou dae beter was as nou nie. Wysheid weet dat God beter in stoor het vir vandag en ook vir môre. Die uitdaging is om aan die Here vas te hou tydens die moeilike tye en te vertrou op die Here se daaglikse goedheid. Die Here dra ons dag na dag en daarom moet ons kyk na die goedheid van die Here in gister en weet dat Hy goedheid Self is, en vir my wil hê.
Die Here genees my so dat ek vandag kan vier en in oorwinning kan wandel soos wat Hy ook graag vir my wil hê. Ek wil dit graag hê. Ek wil leef vir vandag en weet dat Sy beloftes elkeen vir my waar is. En dit is! Want Hy is getrou aan Sy Woord!
Lees:
Mediteer:
- Wat hou jou terug sodat jy nie vandag en die toekoms kan embrace nie?
- Is jy ’n gyselaar wat vrees vir die toekoms? Dit is belangrik om bekommernisse vir die Here te gee en te leef in die hede.
- Hunker jy terug na dit wat agter jou is? Struikel jy daaroor? Hoe kan jy jou verlede embrace en deurwerk sodat jy vandag voluit kan leef?
Bid:
Here ek wil graag vandag voluit leef en die dag aangryp. Laat my oorloop van vreugde in U, in Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Vandag is die dag wat die Here gemaak het; ek juig daaroor en is bly!
Aanbidding:
This is The Day – Planetshakers
Dag 5: Ewigheid!
Daar is ’n tyd vir uitstrek na dit wat voorlê. Jy kom by ’n kruispad waar jy moet besluit om gister se dinge agter te laat. Die vyand wil jou bly herinner aan die verlede om jou te diskwalifiseer vir die toekoms. Dit is egter hier waar jou antwoord is – deur Jesus. As jy vergifnis ontvang het en gegee het; en jy het Jesus Christus ontvang as jou Verlosser en Saligmaker, dan het die vyand geen méér sê nie. It is done. Die kruiswerk het alles afgehandel en oorvloedig vir jou voorsien. Die Here het vir jou die hek gegee om deur te loop na die ander kant. Hy is immers die deur en die weg! Deur Jesus Christus is jy vrygemaak en skoon gewas. Jy hoef ook nie stil te staan hier nie, maar jy kan aangaan en leef in die volle inhoud van die evangelie!
Elke ding het ’n bepaalde tyd, maar die Here het ewigheid (onbepaalde tyd), in ons harte geplaas. Hierdie ewigheid geld van hierdie oomblik af. Dit waarmee ons nou besig is, het ’n impak in die ewigheid in!
Hy het ons op aarde geplaas, nie net om te dink aan eendag wanneer alles verby is en beter is nie, maar aan nou ook. In hierdie oomblik is daar toekomstige dinge wat moet gebeur waarvan ons ’n kern deel uitmaak en wat Hy aan ons wil openbaar. Ons verstaan dalk nie en sien dalk nog nie die volle prentjie nie. Ons het net dít nodig wat Hy vir ons gee sodat ons die volgende tree kan gee. Dit is soos ’n stel trappe. Jy het nie nodig om die bopunt duidelik te sien om die trappe te begin klim nie. Ons het wel visie nodig en leiding by die Here om hierdie trappe te klim en te volhard daarin. Ons het nodig om op ’n gereëlde basis by die Here te hoor waarmee Hy besig. Ons wil by Sy plan inskakel en, sodat ons in vervulling kan leef. Daarvoor het ons nodig om Hom te raadpleeg. Hy wil graag Sy wil aan ons bekend maak en al wat ons nodig het, is om te vra. Hy sal ons wys!
Lees:
Mediteer:
- Leef jy as gesagvoerder van jou toekoms? Hoe kan jy beslag lê op die toekoms.
- Wat is in jou verlede wat die Here kan gebruik in jou toekoms?
- Het jy al vir die Here gevra vir Woord oor jou lewe? Wat is hierdie Woord? Gaan terug na die Woord wat jy al in die verlede ontvang het. As geen, vra die Here om vir jou Woord te gee.
- Die Here wil graag vir jou ’n openbaring gee oor jou doel. Hy het jou vir ’n rede gemaak en die uitdagings wat oor jou pad gekom het, het jou gefatsoeneer om gereed te wees vir Sy groot plan met jou lewe. Jy is tans besig om in hierdie plan te leef. Dit maak nie saak hoe klein of groot die oomblikke is waarin God al die eer kan kry vir dit wat Hy deur jou doen nie.
Bid:
Here, U gee vir my ’n toekoms en ’n hoop. Maak asseblief U wil vir my lewe bekend. Ek vertrou U en wil graag die pad loop wat U vir my droom. Dankie, dat U drome en ideale in my hart geplaas het en dat U hulle ook in vervulling wil bring. Ek verklaar dat U dit sal doen wat U gesê het (verklaar dit). U het vir my die outoriteit gegee om te spreek wat U spreek en ek skaar my by dit wat U sê. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Daar lê ’n toekoms vir my voor, ’n vaste hoop en verwagting. Hierdie toekoms sluit die ewigheid in en God se droom oor my is groot. Ek kan vandag en môre met albei arms aangryp omdat ek weet ek is veilig in my Maker se Hande!
Aanbidding:
Run to the Father – Cody Carnes
Let There be Light – Hillsong Worship