Go Deep 30 Oktober 2022

Celebrate!

Neville Goodchild

Celebrate life and change in God's Kingdom!

 

Dag 1: Geloof bring transformasie

“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” Romeine 1:17.

Ons is nie setlaars nie, maar pioniers. God het ons nie gemaak om met minder tevrede te wees nie. Hy het net ‘n “beste” lewe wat Hy vir ons wil gee. Jesus self sê dat Hy gekom het om lewe en in oorvloed te gee (Joh. 10:10), maar alles wat die Here wil doen begin by geloof. Niks sal gebeur waar daar nie geloof is nie. Ons eie redding kan ons nie bekry deur werke nie, maar alleenlik deur geloof. Wanneer wonderwerke gebeur en deure oopgaan, is geloof betrokke.

Die motief van God is om ons te verander deur Sy genadewerk, om te word soos wat Hy oorspronklik bedoel het ons moes wees. Terwyl almal van ons ‘n verlede het wat meeste van ons nie wil herroep nie, wil God vir ons kom wys dat daar ‘n beter lewe is. Die geloofshelde waarvan Hebreërs 11 praat was ook mense met ‘n verlede, maar baie van hulle het ‘n ontmoeting gehad met die lewende God en daarna was nie net hulle lewens verander nie. Baie van hierdie geloofshelde het die verandering van hulle identiteit ondergaan in die vorm van naamsverandering wat hulle nuwe goddelike identiteit gegee het.

Lewe kan vir jou ‘n naam gee. Slegte omstandighede of ‘n skandelike verlede kan jou laat glo in ‘n valse identiteit. God se planne vir jou is groter as die lewe wat jy dalk kies om te aanvaar as vanselfsprekend. Dit begin alles net by geloof. Jy sal nooit genoeg kan doen of gee vir God om jou lewe te verander nie, maar om eenvoudig te begin glo dat God jou lewe sal verander deur Sy genade wat niks van jou vra behalwe jou vertroue, sal beteken dat jy gaan herstel na God se perfekte plan en doel vir jou lewe.

Lees:

Rom. 1:17

Joh. 10:10

Heb. 11

Mediteer:

  • In wat se deel van jou lewe het jy gekies om tevrede te wees met minder?
  • Wat se area van jou lewe wil jy graag God se transformasie in beleef?
  • Waarvoor kan jy begin om die Here te vertrou vir oorwinning?

Bid:

Jesus, U weet wie ek is. Saam met Vader God, het U my gemaak en U Vader het vir my ‘n naam gegee. Ek wil daardie naam, daardie identiteit, aanneem en daaruit lewe. Kom en transformeer my lewe deur U genade. Leer my om op U en U alleen te vertrou vir ‘n lewe wat vervulling vind in alle omstandighede en U oorvloed sal sien! Dankie Here! Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die oue is verby, die nuwe het gekom! My lewe sal getuig van Sy goedheid en ek sal begin om te word soos Jesus.

Aanbidding:

Build My Life - Pat Barrett feat. Chris Tomlin

 

 

Dag 2: Simon/Petrus

Vader God wil ons ontmoet. In daardie ontmoetings wil Hy vir ons openbaring bring van Sy karakter en van Sy wil. Hierdie ontmoetings bring verandering in mense se lewens. Abraham het ‘n ontmoeting gehad met God en dit was vir Hom so indrukwekend dat hy God se vreemde stem gevolg het en getrek het na ‘n land wat hy nie eers geken het nie. Saulus ontmoet vir Jesus oppad na Damaskus toe en is nooit weer dieselfde nie. Die Bybel is deurspek met stories van transformasie.

Een van die bekendstes is die storie van Simon Bar-Jona. Hierdie man ontmoet vir Jesus in lewende lywe en begin om Hom te volg. Op hierdie reis lees ons van verskeie gebeurtenisse waar Simon optree in impulsiwiteit en soms selfs selfsugtigheid. Hierdie gebeurtenisse verweer nie Jesus se uitdrukkings van liefde teenoor Simon nie, want Jesus het geweet wie Simon gemaak is om te wees. ‘n Oomblik kom waar Jesus vir sy dissipels vra, wie hulle dink Hy is. Simon antwoord dat Jesus die Messias, die Seun van God, is. Die openbaring wat Hy ontvang het van Jesus was ook die oomblik wat sy ware transformasie begin het. Hy ontvang sy nuwe naam: Petrus.

‘n Man verander vanaf ‘n identiteit wat swakheid verteenwoordig na een wat standvastigheid en sterkte uitbeeld. Hy het sy nuwe naam gekry, en toe eers begin sy transformasie. Ons het ‘n storie van transformasie om te ontdek, of om nog te vervul. Nogmaals sal dit nooit gebeur sonder genade en sonder om God te ontmoet in ons lewens nie. Jesus is opsoek na mense wat se harte wil afhanklik wees op Hom en wat erken dat ons nie lewe sonder Hom kan maak nie. Hy belowe dat Hy ons persoonlike gids sal wees en ons nooit sal verlaat nie (Jes. 42:10-16 MSG). Hy sal hierdie proses begin, en Hy sal dit volbring (Fil. 1:6).

Lees:

Gen. 12:1-4

Mat. 16:16-18

Jes. 42:10-16 MSG

Fil. 1:6

Mediteer:

  • Het jy al persoonlike ontmoeting met die Here gehad?
  • Ervaar jy dat jy nie weet waarheen om te gaan met jou lewe nie?
  • Vra vir God om jou te kom lei en persoonlik betrokke te raak in jou lewe, en glo dat Hy jou nooit sal verlaat nie, want wanneer Hy begin werk, sal Hy nie ophou tot die dag wat Jesus terugkom nie.

Bid:

Vader God, ek kan nie sonder U hulp, ware lewe verkry nie. Ek het U nodig. Ek het U leiding nodig. Wys my waarheen U wil gaan met my lewe en help my om my doel te ontdek asook U wil vir my lewe! In Jesus se Naam, amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het ‘n naam wat God vir my gegee het! Ek kan die volheid van lewe in Hom ontdek!

Aanbidding:

Every Giant Will Fall - Rend Collective

 

Dag 3: Hierop sal Ek my kerk bou

“En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Matthéüs 16:18 AFR53

Alhoewel die naam Petrus, “sterk soos rots” beteken, is dit nie die rots waarna Jesus verwys nie. Hier was ‘n oomblik van bonatuurlike ingryp wat gelei het na ware transformasie. Die rots waarop Jesus Sy kerk bou, is nie ‘n persoon soos Petrus nie, maar die werk wat God wil doen in mense se lewens, naamlik goddelike transformasie. Dit wat die kerk relevant maak, is die potensiaal om mense se lewens so te impakteer, dat hulle nie onveranderd kan wegstap nie.

Ons het hoop dat God lewens kan verander. Ons vind hoop in Sy woord wat dit bevestig, maar die enigste plek wat God gekies het om daardie verandering te laat plaasvind, is in die kerk. Nadat Jesus opgevaar het Hemel toe, het mense begin om die byeenkomste van die gelowiges by te woon. Dit is by daardie byeenkomste waar honderde na duidsende lewens gered was. Daarna was die nuwe wedergebore lewens genooi om deel te raak van die byeenkomste. Daar is meer as net die redding wat ons kan ontvang by Jesus.

Vader God het beplan dat ons ‘n pad van verandering saam met Hom sal stap. Hy wil nie hê ons moet net eindig by die redding van ons siele nie, maar dat ons sal ontdek dat Hy ons gemaak het vir baie meer. Die uitdrukking hiervan begin by jou groei as deel van ‘n geestelike familie.

Kerk is bedoel vir meer as net jou geestelike voeding. Dit is ‘n plek waar jy die gereedskap kry om ‘n lewendige verhouding met God te kan weerspieël in die wêreld. Jou geestelike gawes word ontdek en plek gegee om te groei deur geleenthede wat jou toelaat om jou gawes te gebruik tot eer van God en tot voordeel van die Koninkryk. In hierdie geestelike families, leer jy om jou hart te kondisioneer sodat jou fokus heeltyd op die belangrikste opdrag van God sal wees: om Hom lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en met al jou krag, asook om ander lief te hê soos jouself. Slegs deur hierdie pad te stap sal verandering wat oor sal dra na jou ewige tuiste toe, kan plaasvind.

Lees:

Mat. 16:18

Mark. 12:30-31

Mediteer:

  • Wat glo jy oor die plek van kerk in jou lewe?
  • Wat het jy om te bied vir die Koninkryk en vir ander mense?
  • Daar is geleenthede wat die Here geskep het vir jou om verder te groei en jou geestelike lewe te verryk deur ‘n meer intieme verhouding met Hom te ontwikkel, waar Hy vir jou kom wys wat Hy wil doen deur jou lewe.

Bid:

Vader God, U het vir my ‘n kerk gegee. Ek prys U dat U mense om my geplaas het wat deel vorm van my geestelike familie. Ek vra dat U my sal help om my plek in hierdie familie te vind en om verder getransformeer te word deur die rol wat ek het om te speel. Jesus kom en verander my lewe om meer soos U te lyk deur hierdie familie waarvan ek kan deel wees. Ek prys u Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is ‘n vlak van verandering wat nie net my lewe op aarde gaan beïnvloed nie, maar ook my lewe in ewigheid!

Aanbidding:

Homecoming - Bethel Music

 

Dag 4: Twee elemente van verandering

Jesus wys vir ons die twee belangrikste elemente wat nodig is vir verandering wanneer Hy praat met Petrus in Matthéüs 16:18. Hy verwys na die Kerk en na die Kruis. Hy sal sy gemeente bou op die potensiaal van verandering in mense se lewens, en die poorte van die doderyk wat Hy betree het nadat Hy aan die kruis gesterf het, sal dit nie oorwin nie.

Die eerste en grootste verandering wat in mens se lewe kan plaasvind is jou bekering van die wêreld af, terug na God toe. Hierdie oomblik waar jy kies om in Jesus te glo, sy vergifnis te vra en te ontvang, en te erken dat Hy aan die kruis gesterf het en weer opgestaan het, is die begin van jou ewige lewe. Jy is verander van ‘n lewe wat dood bring, na een wat lewe gee. Dit is ook die begin van nuutwording, van wedergeboorte. Jou transformasie vind plaas wanneer jou vertroue in die Seun van die lewendige God geplaas word, want deur Jesus, leer jy die Vader ken, en daardie openbarings van Vader God, is wat mense, name, en identiteite verander.

Daarna gebeur Romeine 12:2. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Word verander deur die vernuwing van julle gemoed. Hierdie is ‘n “wording” proses. Dit is nie ‘n eenvoudige oornag transformasie nie, maar ‘n gelykmatige proses van verandering. Hier vind ons die rol van die kerk in ons lewens. Slegs ingeskakel by ‘n geestelike familie waar jy as deel van die liggaam van Christus kan funksioneer, sal jy begin om verandering in jou lewe te sien.

Jou nuwe lewe kan nie begin sonder om Jesus se kruiswerk te erken en te aanvaar nie, maar dit kan ook nie verder ontwikkel sonder die ondersteuningsnetwerk en geleenthede wat deur die kerk gebied word nie. Dit is in daardie veilige omgewing, waar jy die volheid van God leer ken en tussen mense wat dieselfde veranderende lewens lei, waar jy leer wie jy is in die liggaam van Christus en jou ware doel ontdek.

Lees:

Mat. 16:18

Rom. 12:1

Mediteer:

  • Het jy ‘n verwysing na ‘n oomblik waar jy in Jesus as jou redder begin glo het?
  • Is jy ingeskakel by ‘n kerk waar jy groei beleef?
  • Het jy mense in daardie gemeente waarmee jy waarlik kan “connect”?

Bid:

Jesus, dankie dat U my uit dood uit gevat het, na nuwe lewe toe. Dankie dat U ook vir my plek maak in ‘n gemeente waar ek geplant kan wees en kan groei. Help my om my rol in die liggaam van Christus te ontdek. Heilige Gees, bewerk hierdie verandering in my hart en in my lewe. Ek prys u Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here sal my nie in die steek laat nie. Hy sal aanhou met die werk in my wat Hy begin het!

Aanbidding:

Reckless Love - Cory Asbury

 

Dag 5: Verwagting

Lewens wat verander is begin om die werderkoms van Jesus te verwag. Mense wat die wederkoms van Jesus verwag, skakel in by 'n kerk familie en begin met inisiatiewe wat die kerk hulle meer kan help. Om getransformeer te word deur die vernuwing van jou denke, beteken dat dit wat in God se gedagtes is, begin om jou gedagtes vol te maak. God se wil is om sy Koninkryk te laat kom sodat mense Vader God se diep en intense liefde kan ervaar en sy goedheid kan begin sien in hulle lewens.

Ons gedagtes raak gelykvormig aan Filipense 4:8. Die uitdrukking van al daardie goddelike gedagtes is gevind in die kerk waar mens die praktiese effekte van God se Koninkryk kan waarneem. As dit wat by die kerk gebeur jou nie opgewonde maak vir die bevordering van God se Koninkryk nie, gaan jy nie in jou wêreld buiten die kerk kan begin om vir God se Koninkryk te vertrou nie.

Wat van as ek nie opgewonde raak oor die kerk nie?

Soms is dit nodig om onself te vra, waarvoor wag ek op die Here? Om te wag op die Here beteken dat daar ‘n verwagting is dat Jesus iets groot gaan doen in jou lewe. ‘n Getransformeerde lewe kan deur ‘n geneesde en heel hart, begin om te vertrou in God se goedheid wat oor ander mense losbreek. Maar Vader God werk deur mense. Mense wat Hy oor jou pad bring wanneer jy inskakel by ‘n gemeente, is bakens van God se lig en draers van sy genade in jou lewe. Wat Vader God doen deur mense om jou, help jou om te herstel van seer en so heel te raak dat jy ook vir ander genade en lig kan bring.

Lees:

Fil. 4:8

Heb. 10:25

Mediteer:

  • Is daar mense by die kerk by wie jy God se liefde ontvang?
  • Is daar mense vir wie jy lief geraak het en vir wie jy meer kan teruggee?
  • Wat se mense het ‘n behoefte van aanvaarding en liefde wie jy na toe kan uitreik?

Bid:

Vader God, ek wil teenvolle herstel word. Ek het mense nodig wie U vir my bring wat my liefhet, my ondersteun en my aanvaar. Ek soek na U goedheid in my lewe, maar wil ook begin om op U te vertrou vir U goedheid vir ander mense om my. Dankie Jesus dat U nogsteeds besig is in my lewe en my help om beter te raak as wat ek was. Ek prys u Naam, Jesus. Amen.

Bonus: Getuienis

Die Here het my lewe kom red as gevolg van die goeie harte van mense wat Hy oor my pad gebring het. Ek het begin inskakel by Lewende Woord in Maart 2016. Gedurende daardie tyd was ek besig om ‘n passie vir musiek te ontwikkel en sodra die geleentheid vir my aangebied was het ek betrokke geraak by die aanbiddingspan. Alhoewel ek in my hart nog nie vir Jesus geken het nie, het die mense daar my aanvaar en vir my plek gemaak om te ontwikkel.

Ek het begin om goeie verhoudings met die mense in hierdie span te vorm. In daardie tyd het ek veral met ons aanbiddingsleier en nog ‘n persoon wat ‘n baie goeie mentor en geestelike suster vir my geword het, sterk verhoudings ontwikkel. Wat ek nie geweet het nie, is hoe doelgerig hierdie twee mense was oor my lewe. Hulle kon sien wie hierdie gebroke en moedelose man was wat nog in sonde geleef het en nog nie Sy hart vir Jesus oopgemaak het nie. Tog het hulle my met die grootste liefde en genade hanteer en my laat voel dat ek deel kan wees van hulle lewens. Lank na my bekering het die Here ook met my meegedeel hoe getrou hierdie mense was om vir my te bid terwyl ek nog in die donker geleef het.

Jesus se hart wat uitgaan na sondaars toe, was vir my geopenbaar deur hulle optrede. Net ‘n paar maande later het die mure wat om my hart opgebou was, begin afbreek en een aand waar ons ‘n diep oomblik van aanbidding betree het op die dak van ons stad se bekendste winkelsentrum, het Jesus my gered. Vader God werk deur mense in die kerk wie se harte op Hom gerig is en ‘n Jesus-lewe uitleef sodat mense soos ek, die ewige lewe kan ontvang.

- Anoniem

Aanbidding:

Evidence - Josh Baldwin feat. Dante Bowe