GOD SE PLAN VAN HOOP MET DIE KERK EN DIE KRUIS
Neville Goodchild
Hoekom nie ons nie! hoekom nie nou nie!
Dag 1: Nuwe onverganklike saad
Kan jy getuig van jou eie getransformeerde lewe? Is jy betrokke in mense se lewens om jou? Kan jy saam met hul die transformasie van hul lewens in Christus vier? Of is jy op ’n plek waar jy wonder oor wat jy moet doen, sodat jy ook kan begin getuig van transformasie? Voel jy vasgeval en wonder jy dalk waarom jy nie vervulling beleef nie? Sit jy en luister na boodskappe, maar niks maak vir jou sin nie? Ons gesels verder hierdie week oor waarom kerk belangrik is, hoe om vervulling en transformasie te beleef en waarom ons ons aan kerk toewy.
Hier is ’n paar ker idees wat belangrik is vir ons om vas te maak:
God is nie ’n aannemer van persoon nie. Dit beteken dat God nie soos in die Outestamentiese dae spesiale mense uitkies as priesters, profete en konings nie. Deur Jesus Christus red en roep Hy ons elkeen om ’n geesvervulde lewe te leef waarin, eerstens, ons eie lewe transformeer en dan ook ons geliefdes s’n.
God frustreer ons nie met Woord wat nie gepas is vir die seisoen nie. Dikwels het ons ’n valse idee dat die Woord nie vir nou is nie, of nie vir my is nie. Elke Woord wat God gee is relevant. Hy wil ons nie frustreer met onvervulde Woord nie. As ons dit betwyfel, dan maak ons ons Christenskap irrelevant. Dit is presies wat die vyand wil regkry, want jy sal gefrustreerd op eindig met die vraag Hoekom tog?
Met wedergeboorte is jy nuutverwek, nuutgebore. Jy het ’n nuwe bloedlyn en is verwek uit God se onverganklike Goddelike saad. Sy DNS kwalifiseer jou. Jy is nou koning, priester en profeet van jou lewe en leef as ’n heilige van die Allerhoogste. Jy kan geestelik groei en verandering in jou eie lewe beleef. Jy leef ook invloed uit om positiewe geestelike groei in ander mense se lewens te sien en saam met hulle te vier!
Lees:
Mediteer:
- Luister jy na ander mensese stories van deurbraak en getuienisse en wonder dan waar die blokkasie in jou lewe is?
- Hoe moet jy aanmeld en waar moet jy wees sodat dit jý kan wees wat getuig?
- Wat is nodig vir jou om te sê: “Hier is ek Here, gebruik my”?
- Waarom kom die Woord wat oor jou gespreek is nog nie in vervulling nie? Hoekom nie nou nie? Het jy al vir die Here vir Woord oor jou lewe gevra? As jy Woord ontvang het, herinner jy jouself gereeld aan hierdie Woord?
- Die enigste rede waarom iemand sal kan sê “Nie ek nie en nie nou nie”, is as hul nog nie wedergebore is nie.
- Woord wat oor jou lewe gespreek is, sal nie ledig terugkeer nie. Soms sien ons dit nie onmiddellik in vervulling nie, maar ons kan met alles daaraan vashou, want God is ’n waarmaker van sy Woord.
Bid:
Jesus, U is die Woord wat lewend geword het, onder ons kom woon het en vir Wie alles gemaak is. Deur Wie alles gemaak is. Alles word deur U instandgehou. Dankie, dat ek nuutgebore uit onverganklike saad gemaak is en dat U my transformeer. U verander my om soos U te lyk en ’n aangename geur vir hierdie wêreld te wees. Dankie, dat U nie spesiale mense kies wat bekwaam is nie, maar dat U elkeen wat gewillig is, bekwaam maak. Ek is gewillig Here. Ek lê myself voor U neer, in nederigheid. Ek aanbid U, want U is waardig en Heilig. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies Jesus en daarom leef ek ’n getransformeerde lewe in oorwinning.
Aanbidding:
Dag 2: Hoekom nie ek nie en hoekom nie nou nie?
Die enigste manier waarop die antwoord vir die vraag hierbo ‘nee’ is, is as jy nog nie wedergebore is nie. Wedergeboorte verander jou lewe daadwerklik. Daar is ’n ommeswaai op elke vlak van jou lewe wanneer jy uit Goddelike saad gebore word (1 Pet.1:23). Die oue is verby en die nuwe het aangebreek. Daar is vars manna vir elke dag, nuwe openbaring elke dag en deurbraak in areas wat voorheen dor en leeg was. Verwoesting wat gesaai was, word ’n terrein waarop jy jubel en dans. Fonteine van lewende water spoel uit jou soos ’n oase, sodat almal daarvan kan drink.
Die eerste stap vir so ’n vernuwing is dié van bekering. Dit is om jou hart vir die Here te gee en te bely dat jy jouself nie kan red nie. Hierdie stap is waar jy jou sonde neerlê voor die kruis en die genade wat Jesus vir jou aan die kruis bewerk het, ontvang. Dit is ’n wonderlike oomblik. Jy ontvang die ewige lewe deur Jesus Christus en vir die eerste keer is daar vir jou hoop en ’n toekoms!
Saam met hierdie belydenis van jou sonde is dit nodig om die proses te voltooi en Jesus deur die doopwater te volg. Sodoende raak jy ontslae van die las van die verlede en alles wat aan jou geknou het. Wanneer jy Jesus as jou Verlosser en Saligmaker ontvang, is die Woord duidelik: “Bekeer julle, laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mar.1:4). “Want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword” (Gal.3:27).
Daar is geweldige geestelike konfrontasie vir mense wat nog nie gedoop is nie. Die vyand wil dit keer en sy strategie is verskonings en redenasies. Daar is konflik en spanning in verhoudinge en baie weerstand, sodra dit kom by die doopgesprek. Hoekom? Omdat daar ’n enorme geestelike waarde en impak gebeur deur die doopwater. Die vyand weet dit. Om Jesus Christus deur die doopwater te volg, skud die poorte van die hel! God deel met die vyand se greep op jou lewe in die doopwater. Daarom is die Woord duidelik oor: Bekeer jou, volg My (Jesus) deur die doopwater en word vervul met die Heilige Gees.
Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe sodat ons, soos Christus, deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is en ons ook so ’n nuwe lewe kan lei (Rom.6:4).
Lees:
Mediteer:
- Om jou te bekeer, is ’n keuse wat jy maak vir Jesus.
- Om jou te laat doop, is ’n gehoorsaamheidstap.
- Let op die antwoord wat Jesus vir Nikodemus gee: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus vra hoe is dit tog moontlik, want jy kan tog nie ’n tweede keer gebore word nie? “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie”. (Joh.3:3-7)
- Om vervulling van die Heilige Gees te ontvang, is God wat jou bemagtig in sy Koninkryk met sy geestelike gawes wanneer jy gedoop word en daar vir jou hande opgelê word.
- Jy kan nie geestelike insig kry sonder dat jy gedoop is met die Heilige Gees nie.
- As jy wonder hieroor, lees skrif en laat die Woord self jou leer.
Bid:
Here Jesus Christus, U is my Verlosser en Saligmaker. Daar is geen ander Een bo U nie. U is die Seun van God, die Heilige Lam. Dankie, dat U soveel genade aan my bewys het en dat ek in gehoorsaamheid U kan volg deur myself aan U te wy en U deur die doopwater te volg. Dankie, dat ek vervulling van die Heilige Gees kan beleef en kan begin leef uit U Gees. U Gees is die Een wat my alles leer wat ek moet weet. U vervul my deur en deur. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het ’n keuse gemaak. Ek volg vir Jesus.
Aanbidding:
Who You Say I Am – Jenn Johnson
Dag 3: Jesus in ons midde
Vir ons is ’n Seun gebore (Jes.9:5). Jesus (die Woord) het vlees geword (Joh.1:14). Hierdie Mens het die volle Gees van God ontvang. Dit is waarom Hy die Christus genoem word, want Hy is die Gees van God geïnkarneer.
Daar is spesifieke geestelike reëls. Alle gees het vlees nodig. Lucifer het deur die slang gewerk, want ’n gees kan nie sonder vlees funksioneer nie. Wanneer Saul na die heks gaan om Samuel se gees op te roep, verag God dit. Samuel het nie meer vlees nie en ’n reël is gebreek, want geen gees mag werksaam wees sonder vlees nie (1 Sam.28:1-25).
Christus is die Gees van God en Jesus is die vlees. Christus manifesteer nie sonder vlees (Jesus) nie. Wat het gebeur toe Jesus opgaan na die Hemel? Van daardie oomblik af word al die gelowiges saam genoem, die liggaam van Christus. By Lewende Woord Bloemfontein is ons gemeente se ritme Sondag kerk en Woensdag sel. Wanneer ons as gelowiges bymekaarkom, dan beleef ons Jesus, want ons het die wettige manifestasie van Jesus op aarde as liggaam. Die skrif sê wanneer ons twee of drie bymekaarkom, is Jesus daar (Mat.18:20). Wanneer ons bymekaarkom, beleef ons Jesus Christus. Die liggaam van Christus het krag en vul mekaar aan.
Daarom moet ons mekaar aanmoedig om meer en meer die byeenkomste te eer en toenemend opskerp om nie byeenkomste te versuim nie (Heb.10:25). Ons verstaan dat Jesus Christus op pad is en dat Hy enige oomblik hier kan wees. Ons moet gereed wees vir Hom! In die bymekaarkom beleef ons Jesus en openbaar Hy Homself aan ons (Heb.2:12-13)!
Lees:
Mediteer:
- Toe Jesus gesterf en sy laaste asem uitgeblaas het, het sy Gees na die doderyk gedaal en die sleutels van die dood geneem. Daardie Sondag het Jesus opgestaan. Sy liggaam is deur die Gees verwek. Thomas kon aan Jesus se wonde vat, want die Gees het Jesus se vlees vernuwe.
- ’n Mens is gebore met ’n gees wat God gegee het. Hierdie gees word óf gered en gaan na die ewige lewe, óf gaan verlore in die verderf.
- Wanneer ons deur die doopwater is en vervulling van die Heilige Gees beleef, word ons ’n tempel van God. Ons erf die ewige lewe. Die Heilige Gees is inwonend in ons en ons beleef die Heilige Gees kragtig in en deur ons.
- Wanneer ons bymekaarkom, daag Jesus op, doen ’n werk en red lewens. Om bymekaar te kom is nie ’n kultuur, instelling of gewoonte nie. Ons elkeen eer en prioritiseer bymekaarkomste, want ons glo en weet dat Jesus daar is!
- Wanneer jy besef dat die wederkoms nader kom en enige oomblik hier kan wees, is dit makliker om te kies waarvoor jy ja of nee sê.
Bid:
Here Jesus, dankie dat U u eie lewe nie liefgehad het nie, maar gegee het, sodat ek die Gees van God kan ontvang. Dit is U wat my met UuHeilige Gees doop (Joh.1:33). Dankie, dat Uself ook teenwoordig is wanneer ek saam met ander gelowiges bymekaarkom en dat U my nader trek om gehoorsaam te wees en nie die bymekaarkoms te versuim nie. Dankie, dat ek deel kan wees van u liggaam en dat u Gees kragtig werk en beweeg. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus is daar waar ek saam met ander gelowiges bymekaarkom. Ek is deel van sy liggaam. Ek is ’n ledemaat van Jesus. Sy Gees werk deur my!
Aanbidding:
His Name is Jesus – Jeremy Riddle
Dag 4: Het jy die hout?
In die natuur sien ons die verloop van tyd. Dit wat solied was, word los soos sand. Daar is erosie en verwering wat plaasvind en die invloede van die natuur gee baie en aanhoudend weerstand. Die gevolg is dat dit wat rots was, loskom en sand word. Dit is die natuurlike proses en agteruitgang.
In ons lewens sien ons ook die tekens van die tyd. Daar is ’n natuurlike verloop van sake en dinge wat loskom. Daar is swakheid. Simon beteken "swak", soos sand. Wanneer Jesus oor Simon se pad kom, draai Jesus hierdie natuurlike proses om en verander Simon se lewe. Hy is nou Petrus, sterk soos rots! Natuur keer altyd terug na die natuurlike. Dit word soos stof. Wanneer God betrokke raak, draai Hy die natuurlike om in die Goddelike. Dit is die boodskap van die kruis!
Dit gebeur ook wanneer ons in ’n effektiewe kerkomgewing is. Daar waar suiwer Woord bedien word, kom daar ’n "maar" in die natuurlike proses in. Daar is ’n ommekeer en verandering. Dit is ook ’n aanhoudende gebeurtenis en gereelde getuienis. Die boodskap van die kruis bring altyd transformasie.
Die Israeliete is so dors in die woestyn en kom by die bitter water van Mara aan. Wanneer die stuk hout ingegooi word, word die bitter water soet. Hierdie hout simboliseer die kruis. Selfs in die woestyn is dit die boodskap van die kruis, die goeie nuus, wat verandering bring!
Lees:
Eks.15:22-25
Mediteer:
- Daar waar gebrokenheid is en die kruis nie aangebied word nie, is daar agteruitgang. Die roete na God se beloftes is via die kruis.
- Jesus, die boodskap van die kruis, bring ’n "maar" in ons huise in. Ons beleef verandering en het getuienis om te deel.
- Het die boodskap van die kruis jou lewe verander?
- Die storie van Mara is die storie van hout wat die hele tyd bygegooi moet word sodat dit wat bitter is, kan lewe.
- Solank die kerk die kruis vir mense se seer en trauma bied, is daar ’n toekoms en ’n pad van oorvloed.
- Hoekom val soveel gelowiges vas by bitter water? Dit is ek en jy (kerk) wat tussen hulle en vars water staan. Gooi die hout in!
Bid:
Here Jesus, dankie dat U alles oorwin het aan die kruis en dat U die werk afgehandel het. Dankie, dat ons nou net hierdie goeie boodskap kan vat en dit ook kan deel met almal om ons. Help my om altyd terug te kom by die boodskap van die kruis, sodat gebrokenheid kan verander in jubel en dans, omdat U reeds oorwin het en daarom kan ons oor en oor getuig dat U vir ons ’n lewe in oorvloed kom gee het en ons dit het! In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus leef en bring verandering waar ons saamkom om van Hom te getuig!
Aanbidding:
You changed it all – GR Worship
Dag 5: Gooi die hout in!
Wat doen jy as jou ryding se wiele los raak? Los jy dit net? Wat gebeur as jy dit net los? Ja, later kom die wiele af. Dinge wat los raak, raak verlore. Daarom is dit so nodig om aandag te gee wanneer dinge in jou lewe los raak. Dit is nodig om aandag te gee aan familie en vriende waar jy kan sien dinge is besig om los te raak. Sien jy mense wat agteruitgaan en verval in sonde en ongeregtigheid? First things get loose, then they get lost. When you lose your conviction, it’s gonna get lost!
In 2 Konings 6:1-7 lees ons van die geleende byl wat in die water geval het. Die kop van die byl het stelselmatig losgeraak en toe uiteindelik afgekom. Die bylkop het gesink en daar in die modder gelê (vasgeval). Die man kon dit nie uithaal nie. Dit is die natuurlike verloop van sake. Dinge raak nie net verlore in die middel van die stroom nie. Dit raak eers los en dan gaan dit verlore. Elisa gooi toe ’n stuk hout in die water, daar waar die bylkop ingeval het. Toe die stuk hout ingegooi is, het die swaar bylkop begin dryf en dit was moontlik om te strek en dit uit te haal!
Die natuurlike verloop van dinge is dat dit afsak, vasgevang raak en eventueel verlore gaan. Die funksie van die kerk is juis om te verstaan dat daar krag lê in die kruis. God se Koninkryk is nie een van praatjies nie, maar een van krag! Gooi die hout (kruis) in die situasie/gesprek in en die natuurlike word omgekeer. Dit wat vasgeval het kom los en kan gered word. Dit is die storie van die redding van die kruis!
Ons moet ’n besluit te neem oor ons reis saam met ander gelowiges, die kerk, ons geliefdes en oor die Woord. Besluit oor die toekoms. Jou besluit oor die kruis beïnvloed jou toekoms en die toekoms van almal om jou.
Lees:
Mediteer:
- Het jy al gevra dat die Here jou help om die geleentheid te sien waar jy die kruis in ’n situasie kan inbring?
- Glo jy dat die kruis verandering kan bring en dat dit dinge wat losgeraak het, vasgevang of verlore geraak het kan omdraai en verander in ’n seën?
- Het jy al die besluit geneem om sonder ophou en sonder huiwering die kruis aan te bied in elke situasie?
- Bid:
Here Jesus, dankie dat U kruis my lewe verander en omdraai. Ek kan getuig van transformasie as gevolg van u afgehandelde werk aan die kruis. Ek wil vandag hierdie besluit neem om in elke omstandigheid te getuig van u kruiswerk en dit as oplossing in elke situasie te bied. Ek kies dit en vra dat U my help om u goeie boodskap te verkondig oral waar ek gaan. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
And I overcame and conquered him (the enemy) because of the blood of the Lamb and because of the word of my testimony, for I did not love my life and renounce my faith even when faced with death. (Rev.12:11)
Aanbidding: