Go Deep11 Desember 2022

Op soek na betekenis

Neville Goodchild

VIND BETEKENIS IN DIE LEWE

Dag 1: Hardloop na die Vader

Dit is vir ons natuurlik om na ons lewens te kyk en te probeer om dit betekenisvol te maak. God het ewigheid in ons geplaas en ons lewens sal dus net betekenisvol wees as ons al meer in die gees begin lewe en volgens die doel en die plan wat God vir ons het.

Die proses van wedergeboorte bring ons na 'n plek waar ons kan begin om in die gees te lewe. Wedergeboorte sluit in om tot bekering te kom en Jesus Christus as ons Verlosser en Saligmaker te aanvaar. Tydens hierdie proses word ons gees weergebore en kom die Heilige Gees in ons woon. Die waterdoop help ons om hier op aarde ons vlees neer te lê en te begin om onder die leiding van die Heilige Gees te wandel. Dan volg die doping met die Heilige Gees wat ons toerus vir bediening en werk in die Koninkryk van God.

Sonde skei ons van 'n sinvolle en betekenisvolle lewe. Die eerste vraag wat ons moet vra is: Wie betaal vir my sonde? Jesus Christus het reeds die prys van my sonde betaal. Deur genade ontvang ons telkens vergifnis vir ons sonde wanneer ons ons bekeer en ons sonde bely. God is getrou en regverdig en Hy vergewe ons ongeregtighede en dink nooit weer daaraan nie.

Ons probleem ontstaan wanneer dit vir ons voel asof ons die genade misbruik wanneer ons telkens ons sonde bely en vergifnis vra. Ons ervaar dat ons elke keer faal en dat ons nie elke keer van God kan verwag om ons sonde te vergewe nie. God die Vader ken ons as mense en al wat Hy graag wil hê, is dat ons met vrymoedigheid in sy teenwoordigheid moet inkom. Ons moet dus ons sonde afhandel. Jesus sê ons moet mense sewentig maal sewe keer op een dag vergewe. Vergifnis van sonde is nie vir God 'n probleem nie en ons misbruik nie die genade indien ons probeer om reg te lewe nie. Wanneer ons egter roekeloos lewe omdat ons weet dat God ons sonde deur die werk van Jesus Christus sal vergewe, sal dít op misbruik van sy genade neerkom.

In die Message-vertaling staan daar: Rush back to God! Dit is wat God graag wil hê ons moet doen. Indien ons wel weer gesondig het, moet ons ons haas om by Vader uit te kom om so gou as moontlik sy genade te gebruik. Indien ons nie die genade verstaan nie en dit nie elke keer gebruik as ons faal nie,  sal ons foute ons lewens bepaal en sal ons ons sin in die lewe verloor.

Lees:

1 Joh. 1:8-9

Mediteer:

  • Leef jy met vrymoedigheid voor Vader met die vaste oortuiging dat daar ten volle betaal is vir jou sondes, ook die sonde wat jy môre gaan doen?
  • Maak jy daagliks gebruik van die genade wat beskikbaar is, of voel jy partykeer onvrymoedig omdat jy bang is jy misbruik die genade?
  • Stel vir jou die prentjie voor van Vader wat met oop arms vir jou wag om terug te hardloop na Hom toe.

Bid:

Dankie Vader dat die volle prys betaal is vir my sonde. Dankie dat Iemand vir my onvermoë intree, en dat ek nie elke keer as ek fouteer of weer sondig, moet wonder of u genade ook hiervoor genoeg is nie. Dankie Vader dat ek telkens na U kan gaan vir genade. Vader, help my om die volle omvang van u genade te besef. Vader, help my deur die Gees om sonde af lê en om nie u genade te misbruik deur agter sonde aan te loop nie.

 

Spreek Lewe!

My lewe het betekenis omdat ek weet dat my skuld is betaal.

Aanbidding:

Cody Carnes – Run to the Father (Official lyric video)

Dag 2: Wat is my storie?

Psalm 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien en in U boek is hulle opgeskrywe : dae wat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Hoe kosbaar is die wete nie? God het reeds oor ons in Sy boek geskryf toe ons nog net ‘n gedagte was. Hoe kosbaar is die wete dat Hy Sy drome vir ons neergepen het en vir ons elke dag die geleentheid skep om die regte besluite te neem en die wonderlike lewe te lewe wat Hy vir ons gedroom het? Ons storie is vir God belangrik. Van die dag wat ons gebôre word op hierdie aarde tot die dag wat ons doodgaan het ons lewe ‘n inpak. Dit beïnvloed nie net my lewe nie, maar elke persoon met wie ons in aanraking kom.

“The two most important days in your life are the day you are born and the day you find out why.” – Mark Twain.

Van ‘n kind van die Here kan mens sê die twee belangrikste dae is die dag wat jy wedergebôre is en die dag wat jy uitvind waarom jy wedergebôre is.

Donald Miller, New York Times bestselling author in his book, “Building a Story Brand” calls it the “Narrative void.” Most businesses are plagued by it and don’t even know it, which is costing them more than they know. Donald Miller defines the void as a vacant space that can be found in an organization when there’s no story to keep it aligned(source). This is most especially true when everyone in the company has different ideas about what their brand represents with no unifying story that acts as a guide.

As kinders van God loop ons storie saam met die skeppingsverhaal, die verhaal van Jesus Christus, die ontvang van die Heilige Gees, die verhaal van ons ouers en die plek en tyd waar ons, ons bevind. Die storie wat ons visie en misie vorm gee, is ons storie van redding en deel word van die familie van God. Ons verhouding met God is die grondslag van ons storie.

Jy is nie net per ongeluk waar jy nou is nie. Die mense wat nou deel uitmaak van jou lewe en die plek waar jy nou is, is dus nie net toevallig nie. Alles is jou keuse oor hoe jy goed gaan hanteer en wat jy gaan doen in jou verhoudings en die spesifieke omstandighede waarin jy is.

Lees:

Psalm 139:16-20

Mediteer:

  • Toe my eerste baba gebore is, het daardie klein lyfie die mees radikale verandering in my as mens veroorsaak. Dieselfde tyd wat daar ‘n babatjie in die wêreld inkom, verander ‘n jong vrou in ‘n mamma. ‘n Jong man verander in ‘n pappa. In daardie soete oomblikke het ek my Skepper se handewerk bewonder en vir die eerste keer my Pappa Vader se hart ontbloot gesien. Daar was niks anders as Liefde nie. Van daardie oomblik af was ek die kwesbaarste wat ek nog ooit was, want net soos God die Vader het my hart oopgelê en ontbloot in suiwer liefde. Elkeen van ons was eens ‘n baba. Vanaf die oomblik wat ons begin het, twee selletjies was wat een geword het, is ons ons wêreld aangeraak en beïnvloed.  Ons was op daardie oomblik die grootste openbaring van die liefde van God.
  • Hierdie proses begin weer by wedergeboorte. Die grootste openbaring van God se liefde wat mens kan beleef wanneer jou verstand op ‘n plek is waar jy kan verstaan wat om jou aangaan, is met jou wedergeboorte. Op daardie oomblik word die Skepper van die heelal jou persoonlike Vader. Hy het jou al gekies voor die grondlegging van die aarde. Dit word egter eers vir jou ‘n realiteit die oomblik wat jy God die Vader kies en deur Jesus Christus, die Weg, die Waarheid en die Lewe, na die Vader kom.
  • God skryf in die hemelse boek oor jou en droom oor jou. Jy moet ook droom in die konteks van jou as kosbare kind van God en met ‘n spesifieke rol in die Koninkryk. Die keuses wat jy maak skryf jou verhaal. In verhouding met God is dit altyd die allermooiste liefdesverhaal.

Bid:

Dankie Vader, dat ek en my lewe vir U belangrik en kosbaar is. Dankie dat U my in u groot liefde voor die grondlegging van die aarde beplan het en dat U nie deur tyd en ruimte beperk word nie. U is en was en sal altyd wees. Daarom omarm ek en vier ek my lewe en omstandighede. Ek vier wie ek is as gevolg van my verlede en ek weet Here dat dit deel is van my doel vir die toekoms.Dit is deel van my rol in u Koninkryk. Sonder U  kan ek nie bestaan nie en kan ek nie die regte besluite maak nie. Ek bid vir die leiding deur u Heilige Gees. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is kosbaar in die Vader se oë. Hy kyk na my as ‘n oorwinnaar deur die bloed van Jesus Christus. Ek spreek lewe oor my lewe en die invloed wat my lewe in ander mense se lewens sal hê.

Aanbidding:

Goodness of God(Lyric video)_- Bethel music 

Dag 3: Slagoffer, skurk, held of gids

Die rolverdeling by 'n toneelstuk bestaan gewoonlik uit vier tipes karakters. Die slagoffer is gewoonlik die persoon in die storie met wie daar dinge gebeur en die slagoffer moet dan besluit hoe hy daarop gaan reageer.

Die volgende karakter is die skurk. Die skurk is altyd besig met allerhande planne om ander mense seer te maak en te na te kom. Wanneer 'n mens dieper ondersoek doen, besef jy dat die skurk eens op 'n tyd self 'n slagoffer was en hy het gekies om nie te vergewe nie en die seer nie finaal te hanteer en af te handel nie. Hy het gekies om vas te hou aan onvergewingesindheid en bitterheid. Die uiteinde daarvan is dat hy aanhou om seer te kry en daarom daarop uit is om ander mense rondom hom ook seer te maak.

Dan kry ons die held. Die held is die een wat in die situasie inkom en, ten koste van die prys wat dit vir hom gaan kos, die slagoffer help en uit sy situasie red. Die vraag ontstaan hoekom iemand ten koste van homself sal opstaan, vir iemand anders intree, en die persoon help sonder dat hy enige vergoeding vir die heldedaad sal ontvang. Die rede is gewoonlik dat die held ook eens op 'n tyd in sy lewe 'n slagoffer was en iemand moes hom ook red. Vir hierdie rede kan hy, uit dankbaarheid omdat iemand ook vir hom ingestaan het, vir die slagoffer instaan.

Almal van ons is in 'n stadium van ons lewens slagoffers en dan het ons twee keuses. Ons kan ons harte verhard en almal daarvoor blameer. Ons kan vashou aan onvergewingsgesindheid en bitterheid en in skurke verander. Of, ons kan kies om ons te verootmoedig en ons hulp by die een lewende God te soek. Ons kan ons redding en krag kry uit die werk wat Jesus Christus aan die kruis gedoen het. Ons kan diegene vergewe wat teen ons oortree het, omdat ons self ook vergifnis van sonde ontvang het. Ons kan oorwinning behaal en verander in 'n held wat uitreik na ander slagoffers en hulle help, omdat ons verstaan waar hulle hulle bevind. Ons harte kan warm klop vir iemand wat verlore is en vir God nodig het, want ons weet dat ons ook eens op 'n tyd na God en redding gesoek het. Ons kan uitreik en, ten koste van onsself, iemand help om redding te ontvang en na God die Vader te gaan deur ons verlosser Jesus Christus.

Die ander karakter in die toneelstuk is die gids.  In ons eie lewens is God, die Heilige Gees, die Gids. Die gids lei die slagoffer op verskillende maniere en met die hulp van verskillende persone na 'n plek van oorwinning.

Die Here skryf die toneelstuk van ons lewens, maar in die lewe kies ek en jy of ons die slagoffer wil bly, die skurk wil word, en of ons die held word en die Gids volg. Niemand anders kan ons rolle vertolk of enige keuses namens ons maak nie. Ons sal die gevolge van ons keuses dra.

Lees:

1 Tim. 6:17-19

Mediteer:

  • Jy sal met een van die karakters in jou toneelstuk kan identifiseer.
  • Laat jou storie betekenis kry. Die hoofgedagte is dat ons ons pad vind na God die Vader deur die enigste weg, Jesus Christus. Verder moet ons ander mense  help om Christus te ontmoet, Hom aan te neem en dan ook hulle pad na die Vader te vind.
  • Het jou storie 'n doodloopstaat bereik, of is jy nog deel van die groot storie? Het jy in 'n stadium seergekry en besluit om vas te hou aan bitterheid en onvergewinsgesindheid? Voel dit vir jou onmoontlik om daar verby te kom en te vergewe? Indien jy dít ervaar, is daar goeie nuus vir jou. Daar is hulp in die liggaam van Christus. Reik uit na 'n selleier of kerkleieir, 'n geestelike volwasse persoon wat jou hand kan vat en kan help om uit hierdie selfvernietiggende siklus te kom. Bid dat die Here jou by die regte persoon sal uitbring om jou te help om die plek van oorwinning te bereik. Herwin jou vrede deur te laat gaan en los te kom van bitterheid en onvergewingsgesindheid.

Bid:

Vader, Seun en Heilige Gees – dankie dat ek kan liefhê omdat U my eerste liefgehad het. Dankie dat ek kan vergewe, omdat U my eerste vergewe het. Dankie dat ek versoening kon ontvang en geregtigheid kan wees in Christus Jesus. Help my om die mense wat om my is te help om by die Vader uit te kom deur Jesus Christus, ons Verlosser. Dankie, Heilige Gees dat U my help om elke verkeerde gesindheid in my hart te identifiseer en dit te hanteer en af te handel. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Who the Lord sets free is free indeed. Ek is vry van alle ongeregtigheid en ek lewe in God se teenwoordigheid deur Jesus Christus. Ek kies om 'n storie van oorwinning te leef waar Abba Vader Koning is en ek my rol in die Koningkryk van God speel. My lewe het betekenis en is sinvol omdat God 'n plan vir my lewe het.

Aanbidding:

Brook Ligertwood – Nineveh (Live)

Dag 4: Aanbid en dien die een lewende God

Volgens Hand. 17:16-28 het Paulus opstandig geword toe hy sien dat die hele stad Athene vol afgodsbeelde was. Athene was daarvoor bekend dat van die slimste mense daar gewoon het en hulle was die hele dag besig om nuwe wyshede te soek en te ondersoek. Hulle het alles beredeneer om die betekenis van die lewe te definieer en te omskryf. Hoe ironies dat hulle, die slim mense, afgode aanbid het en altare en tempels vir honderde gode gehad het, maar nie die een ware lewende God geken het nie. Hulle het nie geweet wat God se naam is nie en ook nie geweet wat Hy alles vir hulle gedoen het nie. Hulle het nie besef dat die enigste ware sin vir die lewe in Hom alleen te vinde was nie.

Die Here het vir Paulus wysheid gegee en hy het die slim mense nuuskierig gemaak deur hulle van die evangelie van Jesus en van sy opstanding te vertel.

Hulle was verbaas oor die leer wat hulle nog nie geken het nie en hulle wou meer hoor. Hulle wou die leer wat Paulus verkondig het ontleed en sin maak daarvan. Hulle het aan Paulus 'n platform, die Areopagus, gegee en almal van hulle het gaan luister na wat hy verkondig het.

Paulus het nog wysheid ontvang en hy gebruik ‘n altaar in die stad waarop die volgende woorde staan: ‘Aan ‘n onbekende God.’ Paulus het aan hulle vertel dat hy aan hulle die God verkondig wat hulle aanbid het sonder om sy naam ken. Hy wat die Skepper is van die heelal en wat binne  bly. Wat nie tempels nodig het vir aanbidding nie, maar wat ‘n tempel het, ‘n plek van aanbidding, in elkeen van sy volgelinge. Hy wat alomteenwoordig is. Hy wat nie nodig het dat ons vir Hom moet kos gee en Hom moet regmaak as Hy breek nie. Hy wat alles vir almal gee en alles geskep het en dit nog steeds in stand hou. Dit is Hy wat die mensdom uit een bloed geskep het. Paulus het die kans gekry die om die Waarheid aan die mense in Athene te verkondig. Party mense het daar tot geloof gekom.

Ons kan maklik dink dat ons gelukkig nie afgode en tempels vir afgode het nie, maar dit is nie waar nie. ‘n Afgod is enige iets wat ons tyd, geld en onverdeelde aandag kry en wat die plek van God in ons lewens inneem. Dit kan sport wees of dit kan onsself wees wanneer ons lewens net om ons self draai. Dit kan materialisme wees. Dit kan ‘n persoon wees vir wie ons bewonder en alles wat ons doen draai net om daardie persoon. Dit kan jou werk wees en om die leer na sukses te klim. Dit kan status wees. Dit kan verslawing wees. Die hartseer hiervan is dat 'n mens al jou energie, hulpbronne en emosionele verbintenis uitstort op hierdie afgod en dat die lewe vir jou geen betekenis het nie.

Lees:

Hand. 17:16-34

Mediteer:

  • Raak stil en neem bestek op van jou lewe en jou verhouding met God. Is God vir jou ‘n onbekende God? Het jy die evangelie van Jesus joune gemaak en is jou verhouding met God en jou rol in die Koninkryk van God ‘n prioriteit? In Matt. 6:33 staan geskryf: "Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word."
  • Is daar iets wat jou gedagtes, tyd en lewe in beslag neem en jou tyd met God steel? Is daar iets wat jou fokus wegvat van dit wat belangrik is en ewigheidswaarde het? Laat toe dat die Heilige Gees jou hart en die gesindheid van jou hart openbaar.
  • Is jy steeds ‘n lewende offer aan God en is jy ‘n tempel van die Heilige Gees? Bring  jy nog tyd deur by jou altaar van gebed?

Bid:

Vader, in die lewe is daar so baie dinge wat vir my belangrik is. Heilige Gees, ondersoek my hart en openbaar aan my as my hart weer begin verhard het. Maak my hart teer en ontvanklik vir u liefde en laat my tyd in u teenwoordigheid deurbring. Vader, ek wy my opnuut aan U. Dankie dat U my gered het van 'n vals en betekenislose bestaan. Dankie dat U vir my 'n plan, 'n plek en doel gegee het. Daar is niks en niemand wat u plek in my lewe kan inneem nie. Ek eer U en aanbid U. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde is die enigste Lewende God. Ek aanbid Hom alleen en ek en wy ek myself aan Hom alleen.

Aanbidding:

Casting Crowns – All Because of Mercy (Official lyric video)


Dag 5: Hoe maak ek sin van my lewe?      

Wanneer 'n mens se lewe nie betekenisvol is nie, verloor mens maklik perspektief en hoop. Die rede waarom ons kan hoop, is omdat ons gered is deur die kruiswerk van Christus. Nadat ons onsself oorgegee het en die verlossing en genade deur Jesus Christus ontvang het, kan ons altyd weer na die genadetroon gaan wanneer as ons gesondig het en nogmaal vergifnis ontvang. Sodoende kan ons in 'n verhouding met God bly en sy plan vir ons lewe uitleef. Ons het die verwagting van 'n ewige lewe in die hiernamaals saam met Abba Vader.

Ons lewe op aarde het betekenis wanneer ons onsself begin sien soos wat God ons sien en besef dat Hy ons oneindig lief het en 'n plan vir ons lewens het. Alles wat in ons lewe gebeur het en waaruit ons op die einde van die dag gered word, kan ons nou gebruik in die Koninkryk, want dit vertel die storie van ons lewens. Die storie van ons lewens is ons eie narrative void - daardie vakante spasie in ons lewens wanneer daar geen betekenis is waarvolgens dit kan belyn nie. Dit maak dat ons weet en glo dat, al kom daar moeilike goed oor ons pad, ons nooit alleen is nie en God ons uit alle gevaar red. Ons het hoop en 'n verwagting.

Ons lewensverhaal is ook iets wat die Here kan gebruik om ander mense na Hom toe te trek en ook vir hulle hoop te gee. Dit is 'n geval van:  As daardie persoon van daardie plek gered kon word, is daar vir my ook hoop om gered te word en om 'n wonderlike getuienis met die wêreld te deel.

Daar is niks in hierdie wêreld wat standvastig is en waarop ons ons hoop kan sit nie. Nie eers in onsself nie. Al het ons die beste bedoelings, is ons mense en feilbaar. Die Woord waarsku dat ons nie opgeblase moet word en ons hoop op onsself, rykdom of ander mense sal plaas nie, maar alleenlik op God. Die gee betekenis aan die lewe. Dit is die wete dat die genade van God oorvloedig beskikbaar is, sodat ons in dankbaarheid en blydskap in sy liefdevolle teenwoordigheid kan leef. Die Heilige Gees leer ons gedurig en ontwikkel ons om te groei om die mense te word wat God bedoel het ons moet wees.

Gryp die werklike lewe aan - Take hold of that which is truly life

Lees:

1 Ti. 6:17-19

 

Mediteer:

  • Voel dit vir jou of jou lewe sin maak?
  • Waar soek jy jou lewelank na betekenis? In jou beroep? In jou stokperdjies? In ander mense soos jou lewensmaat of kinders?
  • Dink na oor jou lewensverhaal, het jy genesing en kan jy dit met vrede kan aangryp (embrace)?
  • Dink aan hoe jy sin in die lewe kan kry deur jou verhaal so te gebruik om ander mense te help.
  • Die lewe het slegs betekenis as ons heers en ons skeppingsdoel uitleef soos God dit bedoel het.

Bid:

Vader, dankie dat u my genees van my seer van die verlede. Help my om dit aan te gryp (embrace) en deur my lewenservaring ander mense te help genees. Vader, help my om my sin in die lewe te kry in u koninkryk. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het 'n sinvolle lewe omdat ek vrede het met Vader en myself en ander mense, asook deur my betrokkenheid in ander mense se lewens.

Aanbidding:

Zach Williams – Heart of God (lyrics)