Geplant in die Huis van die Here
Neville Goodchild
Hoekom kerk?

Dag 1: Ecclesia
Die samekoms van gelowiges is nie ‘n nuwe konsep nie en dit kom oor duisende jare aan. Dit staan bekend as ‘ecclesia’. Weekliks kom gelowiges reg oor die wêreld georganiseerd bymekaar en aanbid saam die Here. Hierdie is die model wat God gekies het. In die tyd van Moses was daar die “Tent van Samekoms”. Dawid het by die ‘tabernakel’ aangegaan toe hy in die nood was en by die priester toonbrode gekry vir hom en sy manskappe om te eet en die swaard van Goliat om mee te veg. Dawid se seun, Salomo, het die tempel in Jerusalem gebou. Ons lees dat Jesus na die tempel gegaan het en daar het hulle gelees uit die woord (boekrolle) en Jesus het die mense geleer.
Dit is belangrik om as Christene in ‘n weeklikse ritme as ‘n gemeenskap van gelowiges, liggaam van Christus, bymekaar te kom, waar Jesus Christus die tema is en waar mense saam vir God kan aanbid. Dit is die plek waar lering plaasvind en waar belyning plaasvind. Elkeen vind hulle plek van funksionering en effektiewe bediening as deel van die liggaam van Christus. Dit skep die atmosfeer vir God om te werk en vir groei om plaas te vind. Groei in ons verhouding met God, in die getal gelowiges, in motivering en visie.
Die idee dat ons as kinders van God afgesonder moet wees om heilig te kan wees, is nie God se model nie. ‘n Mens wat afgesonder is kan maklik mislei word, verdwaal en heeltemal afvallig word.
Wanneer ‘n kooltjie by ‘n vuur eenkant val, brand dit vinnig uit en gaan dood. So kan ‘n persoon wat afgesonder is, visie en entosiasme verloor en loop die gevaar om geestelik dood te gaan.
LEES:
Mediteer:
- Het julle as gesin toe jy in die huis was die gewoonte gehad om weekliks kerk toe te gaan?
- Het die manier hoe jy as kind blootgestel was aan kerk toe gaan, ‘n rol gespel oor hoe jy nou kerk bywoon?
- Onderhandel jy elke week daaroor of jy/julle as gesin kerk toe gaan of nie?
- Hang jou “kerk toe gaan” af van die weer, jou Saterdag aand kuier, of hoe jy voel ens?
- Dink jy dalk anders na die diens oor hoekom dit belangrik is om in ‘n vaste, ononderhandelbare ritme te kom van kerk toe gaan?
- Hoekom dink jy is dit belangrik om deel van ‘n plaaslike gemeente te wees, ingeskakel en verbind?
- Skep van nuwe patrone: Raak rustig en neem ‘n intensionele besluit oor jou en jou gesin se ritme van kerkbywoning. Besluit en deel dit met jou gesin en neem saam ‘n defnitiewe besluit daaroor. By Lewende Woord word aanbeveel om in ‘n Sondag oggend – Woensdag aand(selgemeente) ritme te kom. Probeer om jouself hiertoe te verbind.
Bid:
Vader baie dankie vir die ongelooflike voorreg om deel te wees van ‘n plaaslike gemeente wat U kan aanbid in vryheid sonder beperking. Vader help my om dit nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar om dit op te pas en te koester. Vader vergewe my waar ek afgekoel het en dalk weggedryf het van U gemeenskap van gelowiges(ecclesia). Ek kom nou en verbind my weer opnuut aan U ecclesia en gee myself as ‘n lewende en heilige offer vir U en U kerk. Amen.
Spreek Lewe!
Waar twee of meer vergader daar is Jesus in hulle midde.
Aanbidding:
Zach Williams – Old Church Choir (Official Music Video)

Dag 2: Julle sal my getuies wees….
Matt. 28:18-19 ‘En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19) Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”’
In hierdie laaste opdrag van Jesus aan Sy dissipels maak Jesus Sy hartsbegeerte bekend, dat soveel as moontlik mense die goeie nuus moet hoor en gered moet word. Jesus se hart is belyn met God die Vader se hart. Die Woord sê dat die Vader die oordeelsdag uitstel – elke keer weer uitstel – omdat Hy wil hê dat alle mense gered moet word. God wil hê dat soveel as moontlik mense Jesus moet aanneem en van hulle sonde bevry moet word en die ewige lewe moet beërwe.
Jesus gee die opdrag aan sy dissipels. Hy gee die opdrag vandag vir my en vir jou. Ons is nou die dissipels. Ons is nou in die liggaam van Christus. Ons is die bruid van Christus. Hy sê vir ons vandag ons kan nie ons redding net met dankbaarheid ontvang en dan agteroor sit nie. Nee, ons hart moet warm klop vir elke mens wat verlore gaan. Ons moet intensioneel deel wees van die Heilige Gees se werking, van die kerk se uitreik aksies, om elke dag as dissipels van Christus in ons gemeenskap te lewe en doelgerig die goeie nuus met almal om ons te deel.
Mense wat verlore gaan is ‘n onberekenbare verlies vir die Koninkryk van God. Jesus Christus het met Sy eie lewe betaal vir elke verlore mens. In die liggaam van Christus is ons saam ingebind in die visie van elke nasie vir Christus. Ons verstaan die reddende krag van Jesus Christus wat ons as verlore mense op ver plekke kom haal het, ons uit die put van sonde en skande kom red het, ons ‘n nuwe lewe gegee het en ons denke vernuwe en getransformeer het, wat ons ‘n nuwe doel en rigting in die lewe gegee het, wat ons aangeneem het as kinders van God, wat ons die inwonende Heilige Gees gegee het, hoop en geloof gegee het en ‘n ewige lewe. Ons missie is nou om dit te gee vir elke mens wat nog verlore is.
Lees:
Mediteer:
- Wat is die fokus van my lewe? Waarmee is jou gedagtes, jou drome, jou planne of dit waaroor jy opgewonde raak besig?
- Kan jy sê dat Vader en Sy koninkryk jou grootste fokuspunt is en dat jy baie keer in jou gedagtes besig is met Vader se koninkryk en dat jy planne maak en dink oor hoe kan jy vandag deelneem aan die uitbreiding of opbouing van Sy koninkryk?
- Is mense wat verlore gaan op jou gedagtes?
- Sien jy jouself as ‘n dissipel van Jesus?
- Besef jy dat jy vandag in 2024, as deel van die bruid nog steeds ook deel is van die laaste opdrag, om verlore mense te bereik met die goeie nuus van Christus en om hulle in te bring in God se koninkryk?
- Dink ‘n oomblik na oor hierdie laaste woorde van Jesus en bedink jou eie deelname hieraan.
- Belyning: Raak ernstig stil by Vader en vra Hom om jou ‘n hart te gee vir verlorenes en gee jouself oor aan Hom as lewende en heilige offer wat bereid is om deel te neem aan hierdie opdrag.
Bid:
Vader ek kom bely voor U vandag dat ek soveel keer so maklik hierdie wêreld en sy begeerlikhede my fokuspunt maak, dat ek soveel keer al my energie spandeer aan die nou en die tydelike. Vader help my om vry te kom van ‘n aardse uitkyk en help my om my fokus te skuif na dit wat ewig is, na U en U koninkryk. Vader ek kom gee my oor as ‘n dissipel wat bereid is om my eie lewe neer te lê om ander van U goeie nuus van redding te vertel. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek gaan dan nou intensioneel na verlorenes om hulle dissipels te maak en hulle te lei om gedoop te word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Aanbidding:
Hoe Groot is U Liefde//Retief Burger//Official Video

Dag 3: En kyk, Ek is met julle
Ons kan na Matt. 28:18-20 kyk as ‘n geheel en in vers 20 sluit Jesus hierdie laaste opdrag af deur te sê: “En kyk, Ek sal met julle wees al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Die ..en kyk…, dui daarop dat wanneer ons besig is om die laaste opdrag uit te voer, deur na al die nasies te gaan en die mense dissipels van God te maak; hulle doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; hulle leer om alles te onderhou wat Jesus ons geleer het; as ons dan kyk sal ons sien dat God ons nooit alleen laat nie en altyd by ons is.
Ons is deel van ‘n globale opdrag en missie en solank ons inskakel in ‘n gemeente, huiskerk of selgemeente waar Jesus die fokus is, sal Jesus se laaste opdrag ons fokus bly en sal ons aktief daarmee besig wees. Om hierdie rede is dit baie belangrik om nie geïssoleer te word en ons af te sonder van ander gelowiges nie. Dit is ‘n baie gevaarlike plek om te wees. In die liggaam van Christus kry ons die openbaring van Jesus se getrouheid en goedheid, maar in afsondering raak ons maklik gefokus op onsself en verloor ons perspektief. Ons mis baie keer al die goeie dinge wat in die koningkryk van God aangaan en dit wat God doen. Dan raak ons maklik moedeloos en skryf gebeure toe aan God wat nooit God was nie.
‘n Ander gevaar is om geestelik koud te word en te begin onderhandel oor goed wat eindlik vas moet wees. Sodra mens begin onderhandel oor iets, dan begin raak dit opsioneel en later raak dit irrelevant. Om by ‘n gemeenskap van gelowiges ingeskakel te wees en aktief deel te neem is een van die geestelike dissiplines wat nie opsioneel kan raak nie. As mamma en pappa Sondag nie kerk toe gaan nie, want dit is koud en volgende Sondag gaan hulle nie kerk toe nie, want hulle het Saterdag te laat gekuier, dan leer die kinders van kleins af dat ons hoef nie noodwendig kerk toe te gaan op ‘n Sondag nie. Ons kan besluit of ons lus is daarvoor.
Dit is dan hoe maklik iets wat ‘n geestelike dissipline moet wees, om die goedheid van God te kan beleef, irrelevant word vir die volgende generasie. Ons moet mooi dink of ons die belangrike begunsels so hanteer dat ons kinders die waarde daarvan kan verstaan en ook na waarde kan ag.
Lees:
Mediteer
- Dit is moontlik om elke Sondag in die kerk te wees en baie getrou te wees daarin en tog kan jy eenkant staan en nie deel wees van die gemeenskap van gelowiges nie.
- Is jy ingeskakel by ‘n kleingroep van Lewende Woord, soos ‘n selgemeente?
- Dink aan hoe gou raak ‘n kool koud en asvaal as dit weggerol het van die vuur of hoop kole.
- Onderhandel jy elke Sondag oggend met jouself oor of jy kerk toe gaan of nie?
- Iets om oor te dink: Het Jesus die laaste opdrag vir individue of vir die kerk as geheel of dalk vir beide gegee?
Bid:
Dankie Vader vir kerk en vir gemeenskap van gelowiges. Vader dankie vir ‘n selgemeente waar ek kan behoort en waar ek gemeenskap van gelowiges kan ervaar. Vader ek verbind my nou weer absoluut tot die liggaam van Christus, U kerk. Vader help my om nooit kerk as vanselfsprekend te aanvaar nie en help my om gehoorsaam te wees as individu, as deel van U kerk, aan U laaste opdrag om dissipels te maak van alle nasies.
Bonus: Spreek Lewe!
As ons as liggaam van Christus vergader. Selfs al is ons net twee of meer is Jesus self in ons midde.
Aanbidding:
Speak to me | Bethany Music | Official Music Video
Chris Tomin – Lord You’re Beautiful (Lyric Video) feat. Steffany Gretzinger

Dag 4: ‘Grace is Space’
Aan die begin het God gesê laat daar lig wees. Daar is bewyse dat die heelal tot vandag toe nog met die spoed van lig groei. Waar God betrokke is, is daar groei en hou dit aan met groei.
Wanneer mense bewus word van die vergifnis van sonde en die genade en liefdevolle aanvaarding in Christus Jesus, word hulle deur die wonder van genade na God getrek. Dit is die hele tyd besig om te gebeur en meer en meer mense bekeer hulle tot God die Vader deur die liefde en genade wat hulle ontvang het.
Die oes is groot en die arbeiders is min. Mense honger en dors na die verlossingsboodskap, sonder dat hulle eers daarvan bewus is. Een mens wat gered word het ‘n rippel effek en raak weer ‘n klomp ander mense se lewens. So brei die koninkryk konstant uit.
Die koninkryk van God pleit by my en jou om mense wat verlore is na God te lei. Lewende Woord is ‘n gemeente wat deel is van die laaste opdrag. Jou kerkbelewenis moet nooit een van godsdiens wees nie. Daar moet altyd geestelike groei wees. Ons gemeente moet altyd ‘n plek wees waar die Here kan leef onder die lofsange van sy mense. Ons weet dat waar twee of meer mense in Jesus se Naam vergader, daar is Jesus Christus self in ons midde. Met Jesus Christus as ons verlosser en saligmaker is daar altyd groei, want ‘grace is space’.
Genade word altyd ontvang om weer uit te gee. Ons gee genade want ons het eerste onverdiend genade ontvang. ‘n Veroordelende gesindheid wat ander uitsluit van die redding van Jesus Christus deur genade, is nie van God nie. Die gemeenskap van gelowiges is nooit ‘n ekslusiewe ervaring wat ander uitsluit of ons klein groepie afsonder nie.
Lees:
Mediteer:
- Hoeveel mense ken jy persoonlik, dalk familie, dalk vriende, dalk kennisse of mense saam met wie jy werk wat jy nie weet of seker is oor of hulle gered is of nie?
- Dink oor dit en skryf ‘n paar name neer.
- Hoe dink jy gaan hulle tot redding(wedergeboorte) kom? Hoe gaan hulle die volle waarheid en boodskap van genade hoor?
- Is daar iemand wat Heilige Gees nou op jou hart druk? ‘n Naam wat by jou opkom wat jy weet as daardie persoon nou sou sterf heel moontlik nie gered is nie?
- Dink jy, jy kan ‘n rol in Vader se plan speel om daardie persoon voor te stel aan die genade boodskap van redding?
Bid:
Vader ek besef nou dat ……………….. heel moontlik nie gered is nie. Vader ek bely dat ek nog nooit eers gedink het aan hoe …………… ooit blootgestel sou word aan die boodskap van vergifnis deur genade nie. Vader ek besef dat ek deel kan wees van U plan om vir …………. na U te lei. Vader ek stel myself nou tot U beskikking om deur U gebruik te word as ‘n instrument om ……………. na U boodskap van genade te lei. Vader ek weet nie presies hoe nie, maar wil u my leer en wys in Jesus naam? Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Want so lief het U vir ………….. dat U, U enigste Seun Jesus laat sterf het, sodat ………….. gered kan word.
Aanbidding:
Casting Crowns – All Because of Mercy (Lyric Video)

Dag 5: God is reg
Psalms 92:13-15 (Amp.) ‘13) Planted in die house of the Lord, they shall flourish in die courts of our God. 14) [Growing in grace] they shall still bring forth fruit in old age; they shall be full of sap [of spiritual vitality] and [rich in the] verdure [of trust, love, and contentment]. 15) [They are living memorials] to show that the Lord is upright and faithful to His promises; He is my Rock and there is no unrighteousness in Him. [Rom. 9:14.]’
Dit is die wonderlikste vooruitsig om hierdie seën in mens se lewe te kan sien omdat jy getrou gewortel en geplant was in die huis van die Here jou hele lewe lank. Dink net daaraan: om oud te word in die genade; om wanneer jy oud is nog vrug te dra; om geestelik so vol te wees soos ‘n sappige vrug; om ryk en lewegewend te wees in geloof, vertroue, liefde en tevredenheid; dat mense wat kyk na die lewe wat jy gelei het, beleef dat jou lewe getuig van die Here se getrouheid aan sy beloftes en sy geregtigheid.
(Afr. 53) Psalm 92:13-16 ’13) Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal groei soos ‘n seder op die Libanon. 14) Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. 15) In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees, 16) om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.’
Die palmboom en die seder groei in die wildernis en is spesiaal aangepas om in baie geharde omstandighede te kan floreer. Die palmboom kan so effektief reën stoor dat dit in verskriklike droë omgewings kan groei en vrug dra. Die palmboom groei heel jaar deur teen ‘n konstante spoed. Dit groei nou wel stadig, maar dit lewe en groei in omstandighede waar ander plante nie kan bestaan nie.
Net soos die palmboom sal die een wat geplant is in die huis van die Here konstant kan groei, maak nie saak hoe sleg die omstandighede is nie. Daardie persoon sal vrug dra reg deur die jaar en sy lewe sal getuig dat die Here reg is, dat die Here sy Rots is en dat ons kan weet en vertrou dat God altyd goed is. Dit wat die Here gesê het Hy gaan doen, het Hy gedoen in hierdie lewe en hy het standvastigheid beleef en is geestelik ryk.
Die seders van die Libanon is bome wat hoog teen die hange van die berg groei en wat sterk stamme/hout het. Die boom maak ‘n uitgestrekte kap/ ‘canopy’ en kan dit dra, omdat die hout van die boom so sterk is. Die seders was nog altyd ‘n verwysing na leierskap en kwaliteit, ‘n hoë standaard.
Soos die seder, so sal die een wat geplant is in die huis van die Here sterk wees en baie kan dra. Die persoon se lewe sal getuig van God se teenwoordigheid. Dit sal spreek van leierskap en van uitsonderlike geestelike waarde.
Mag dit my en jou begeerte wees dat ons lewens daarvan sal getuig dat God reg is en mag ons die vrug dra daarvan om geplant te wees in die huis van die Here.
Lees:
Mediteer:
- Ken jy mense wat lewenslank geplant is in die kerk, in ‘n gemeente?
- Wat sien jy in hulle lewens?
- Bedink hierdie belofte van God wat sê dat iemand wat geplant is in die huis van die Here, hy sal op sy oudag getuig dat God reg is.
- Is jy geplant soos ‘n palm of ‘n seder in die kerk (liggaam van Christus) waar jy konstant kan groei soos ‘n palm ten spyte van die seisoen of waar jy soos ‘n seder sterk kan groei deur die gemeenskap van ander gelowiges om vas te kan staan in die storms?
Bid:
Dankie Vader vir my kerk waar ek kan groei deur die gemeenskap met ander gelowiges om vrug te dra en om stewig gegrond en geplant te kan wees om storms te kan deurstaan. Dankie vader dat ek kan getuig dat U reg is en nog altyd reg was en altyd reg sal wees.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek groei en staan vas, omdat ek geplant is in my plaaslike gemeente.
Aanbidding:
Good Good Father – Casting Crowns (Official Live Performance)
Goodness of God - Stephen McWhirter - Worship At Home