Gelykenis van die verlore seun
Alex Didden
Dag 1: God en sondaars
Lukas 15 begin beskryf hoe die sondaars en tollenaars (1) in die gewoonte was om na Jesus (2) te kom luister, en dat die Fariseërs en skrifgeleerdes (3) daaroor gemurmureer het, omdat Jesus sondaars ontvang het en saam met hulle geëet het.
Hierdie drie groepe kan in ‘n mate vergelyk word met die drie tipe mense waarna Jesus verwys, wanneer Hy die gelykenis van die verlore seun vertel: Die jongste seun (1), die pa (2) en die oudste broer (3).
Ons fokus lê vandag by die jongste seun wat sy erfporsie geneem en verkwis het. Hy het vir jare lank weggebly en niks van hom laat hoor nie. Hy het ‘n lekker lewe gehad, maar na ‘n tydperk het dit begin sleg gaan. Dit het so sleg gegaan dat hy selfs die varke se kos wou hê. Hy het tot homself gekom en gesê: “Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge” (Luk.15:17-19).
In hierdie verhaal moes die pa sy jongste seun baie lief gehad het, want hy staan elke dag en uitkyk vir hom, om te kyk of hy nie terugkom nie. Ons weet dit want daar staan: “toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Luk.15:20).
Dit is hoe ’n goeie vader voel oor sy kind. Selfs al het sy seun hom diep seergemaak en teleurgestel, bly hy lief vir hom en ontvang hom met hartlikheid terug.
Jesus vertel hierdie storie vir sondaars, sodat ons kan verstaan hoe God oor ons as sondaars voel.
Lees:
Mediteer:
- Hoekom gaan soek die pa nie na sy jongste seun nie?
- Wat doen die jongste seun om terug te kom by sy vader se huis?
- Hoe voel die pa en hoe reageer die pa toe hy sy seun sien?
Bid:
Vader, U het lank gestaan en uitkyk en elke dag gehoop dat ek sou terugdraai huis toe. Dankie dat U my as sondaar lief het en dat ek dadelik kan omdraai en terug hardloop na U toe. U ontvang my met liefde en hartlikheid. By U is ek tuis.
Bonus: Spreek Lewe!
So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer! Luk.15:10
Aanbidding:
Run to the Father – Matt Maher
Dag 2: Vader se hart
Die pa wag elke dag met ‘n diep verlange na sy seun wat gekies het om weg te gaan. Hy kyk uit en hoop, maar sy seun bly baie lank weg. Sy oudste het al vir hom begin sê dat hy moet ophou wag, dit is alles verniet, hy mors sy tyd.
Hoekom gaan soek hy dan nie na sy seun as hy so bekommerd is oor hom nie? Dit is omdat die jongste seun gekies het om weg te gaan. Al was dit nie sy pa se wil nie, het hy hom gerespekteer. Die seun sou nie teruggekom het as sy pa hom gevra het nie, want hy was oortuig daarvan dat hy sy eie pad wou volg en nie by die huis wou bly nie. Woorde sou hom nie teruggebring het huis toe nie. Selfs as sy pa hom gesmeek het, sou hy nie berou gehad het nie en net verdere eise gestel het. Die seun moes self tot berou kom en tot die besef dat hy verkeerd opgetree het.
Toe die pa in die verte die silhoeëtte van sy seun sien, was hy opgewonde en oorweldig van blydskap. Toe hy sy seun uiteindelik weer omhels, was dit aanhoudend en met passie en soveel vreugde as wat nie kan beskryf word nie. Al die foute en pyn is iets van die verlede en verligting, dankbaarheid en blydskap heers!
Mense dink dat God kwaad is en gereed is om te straf, maar Hy het egter Sy enigste Seun opgeoffer, sodat daar vir ons ‘n moontlikheid is om weer terug by die huis te kom. Dit is hoe lief God ons het. Hy het ‘n volmaakte plan bewerk, sodat ons as sondaars weer terug versoen kan word met ons Vader. Daar is blydskap in die hemele, selfs die engele juig, wanneer ‘n verlore seun terug is in sy Vader se huis.
Liefde oorwin en vrede heers!
Lees:
Mediteer:
- Dit is sonde wat ons weghou van God af, maar God is nie bekommerd oor ons sonde nie. God is gefokus op sy mense. Jesus het nie teruggedeins vir sondaars nie. Hy het saam met hulle geëet en gekuier en hulle geleer hoe ‘n goeie Vader oor Sy kinders voel. God stuur ons nie weg as gevolg van ons sonde nie. Hy is ‘n uitnemende Pa, wat al ons skuld weggeneem het deur die kruis van Jesus Christus. Hy nooi ons juis nader om saam met Hom ‘n feesmaal te hou!
- Die storie is deur Jesus vertel en die oorspronklike bewoording wys daarop dat die pa sy seun hartstogtelik en aanhoudend omhels en soen van blydskap.
- Wanneer ons berou het en tot insig kom, aanvaar ons dit wat Jesus vir ons gedoen het en ons word versoen met God die Vader. God ontvang ons en omhels ons aanhoudend met passie en liefde. Hy is nou ons Vader.
Bid:
Dankie Jesus dat U al my skuld op U Self geneem het. Ek gee al my sonde vir U en aanvaar dit wat U vir my gedoen het. In ruil daarvoor is ek nou versoen met my Hemelse Vader. Dit is vir my vreemd dat dit so ‘n maklike ruil transaksie is. Ek besef ek verdien dit nie, maar dit is juis nie verdienste wat my red nie, maar die kruiswerk van Jesus Christus. Ek ontvang U nou. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God ontvang my soos ‘n eregas. Ek word oorlaai met hartlikheid!
Aanbidding:
The Father’s House – Cory Asbury
Dag 3: Vader en Christene (Kerkmense)
Die oudste broer was nog altyd getrou aan sy pa en die verantwoordelike een. Hy was daar toe sy pa krom geloop het van hartseer en verlange. Hy het sy pa se droefheid gesien. Daarom word hy bitter kwaad wanneer hy huiswaarts keer na ‘n lang dag se harde arbeid, net om uit te vind dat daar ‘n partytjie is vir die een wat net aan homself gedink het. Hy verdien dit nie! Inteendeel, na al sy skandes moet hy ‘n les geleer word. Hy sal homself eers moet bewys! Daar moet gevolge wees vir sy aksies en ten minste ‘n gesprek, sodat hy kan leer wie is baas van die plaas.
Hy dink by homself: “Gaan hy nou mý erfporsie ook probeer vat!?”; “Dit sal die dag wees!”; “Hoe sal die rolle nou verdeel word?”; “Hy verdien nie ‘n fees nie, hy verdien ‘n loesing!”. Die onregverdigheid dryf hom teen die mure uit. Dit is sekerlik ook hoe die Fariseërs en skrifgeleerdes gevoel het toe Jesus by die sondaars en tollenaars aan huis gegaan het. Is dit hoe ek en jy ook oor sondaars voel?
Die oudste broer is bekommerd dat hy aan die kortste ent trek.
“Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune...” (Luk.15:31).
Lees:
Mediteer:
- As ek dink soos die oudste broer:
- hoe dink ek dan aan myself in terme van my verdienste?
- hoe dink ek dan aan myself in terme van my sonde?
- Hoe voel God oor die sondaar langs my?
- Wat sê God oor ‘n seun/dogter wat al jare lank deel is van Sy Koninkryk?
- Wat verloor ek by my Vader as die sondaar langs my ook deel kry in die hemelse erfporsie?
Bid:
Vader, dankie dat daar genoeg plek in U Koninkryk is en dat elkeen wat hul bekeer deel het aan U erfporsie. Ek hoef nie jaloers te wees oor dit wat ‘n nuwe bekeerling kry nie. Ek hoef nie bekommerd te wees dat ek nie genoeg het nie. Wat U s’n is, is myne. U juig oor dié wat nuut inkom en U maak plek vir nog. Wat U vir my gee, kom van U af en is heilig. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Alles wat God het, is myne!
Aanbidding:
Dag 4: God is hoop
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom.15:13)
Hierdie geloof waarvan gepraat word, is ’n geloof waarín ons staan. Dit is ’n vaste vertroue in die Een wat ons Bron is, en dat Hy is wie Hy sê Hy is, en doen wat Hy sê Hy doen. Dit is ’n wete dat Hy Sy Woord hoog ag bo alles en dat Hy Sy Woord gestand doen. Met ander woorde, Hy kom Sy Woord na. As Hy nie doen nie, hoe kan Hy dan betroubaar wees?
Om in geloof te staan, beteken nie dat ons staatmaak op ’n gevoel of ’n ervaring nie, maar dat ons staatmaak op die Een wat konstant en betroubaar is in elke opsig.
’n Bron is ’n plek van oorsprong. Dit is soos ’n natuurlike fontein, of van waar energie kom, of die plek waar ’n mens spesifieke materiaal of ’n stof vandaan kry. In Rom.15:13 let ons daarop dat God die Bron is waarvandaan ons hoop kom. Dit is Hy wat vir ons hoop gee. Hy doen alles wat Hy sê. Wanneer ons in geloof in Hom staan, omdat Hy is wie Hy is, kry ons hoop. God is waar ons hoop vandaan kom!
Lees:
Mediteer:
- Wat is dit om te glo?
- Wat kry ons wanneer ons glo?
- As geloof in God vir my hoop gee, omdat Hy die bron van my hoop is, wat is die gevolg van my ongeloof?
- Waarin is my hoop gevestig?
Bid:
Vader U is ‘n getroue God wat weet hoe om vir my te sorg. Ek as ouer weet hoe om vir my kind die regte dinge te gee, hoeveel te meer weet U as ‘n goeie Pa nie hoe om vir my presies dit te gee wat ek nodig het nie! Ek plaas my vertroue in U vandag. U is my vaste hoop. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon (Heb.11:6).
Aanbidding:
Dag 5: Oorvloedig!
En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! (Rom.15:13 AFR53)
Dit is deur geloof wat ons blywende, diep vrede en vreugde by God kry. Deur geloof en die krag van die Heilige Gees, ontvang ons hoop wat oorvloedig is. Dit gebeur net deur die Heilige Gees. Dit is deur Sy krag.
Miskien is jy soos die oudste broer. Jy het vir lank hard gewerk en alles gedoen wat reg is, maar die vuur binne jou het flou geraak. Tradisie en gewoontes het jou passie uitgedoof.
Miskien is jy soos die jongste broer. Miskien wil jy terugkom, maar jy weet nie hoe nie. Jy is gereed om op te gee en jouself in te ruil as ‘n slaaf.
Of jy die oudste broer, of die jongste is, die sondaar of die Skrifgeleerde, God wil jou omhels en herstel in Sy volmaakte liefde. Hy het nie verskonings nodig nie. Die pa laat nie eers toe dat die jongste seun sy sin klaarmaak nie. Hy sê dadelik: "bring die kleed, bring skoene, sit 'n ring aan sy vinger en slag ‘n vetgemaakte kalf!"
God wil jou in eer herstel en jou bevestig. Hy wil jou pyn en ongeregtigheid verruil vir hoop, vrede en blydskap. Oorvloedig!
Lees:
Mediteer:
- Hoekom laat die pa nie toe dat die seun sy sin klaarmaak en vra om ‘n slaaf in sy pa se huis te wees nie?
- Met wie identifiseer jy, die oudste broer of die jongste broer? Wat is God se antwoord vir jou as jy na die storie van die verlore seun kyk? Wat is God se wil vir jou?
Bid:
Vader, ek gee vandag my sonde, my woede en jaloesie (noem alles) in en verruil dit vir U blydskap en U vrede. Ek gee al my tekortkominge vir U, al my ongeregtigheid. Dankie vir U offer aan die kruis Jesus, en dat dit genoeg is. U is my Redder. Dankie Vader dat U vir my uitkyk en bly is oor my, dat ek terug is in U huis. Dankie dat U my ontvang soos ‘n eregas en my oorlaai met U hartlikheid. Dankie dat U sê dat alles wat U s’n is, is myne. My blydskap is volkome. Vrede heers in my. Dankie Abba. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
By God is daar geen gebrek nie. By Hom is daar oorvloed!
Aanbidding: