Go Deep 15 September 2024

Wat die wêreld nou nodig het #3

Neville Goodchild

 

Dag 1   Die Gees versus chaos 

Doen jouself ʼn guns as jy nog nie het nie, woon die volgende gespreksessie vir nuwe lidmate van Lewende Woord Bloemfontein by. Dit is soveel meer as ʼn inligtingsessie. Dis ʼn kuier, ʼn veilige omgewing waar jy vrae kan vra en eerlike antwoorde kry. Verlede Woensdag kom die vraag op oor die term “holy chaos” wat in ʼn vorige kerkdiens genoem is.

Daar is plekke waar spirituele ervarings nagejaag word waar mense na die tyd sê dat hulle niks kan onthou van wat gebeur het nie. Hulle noem dit holy chaos...

 Daar bestaan nie so iets nie. Waar die Gees teenwoordig is, is daar nie chaos nie. Ons sien dit sommer in die heel eerste hoofstuk van die Bybel, Gen. 1:2-3:”En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees!. En daar was lig.”

Hier alreeds kom die Gees en stel orde in oor die chaos. Daar is nie plek vir chaos in God se Koninkryk nie, Hy is ʼn God van orde. Vandag se leesstuk kom uit 1 Korintiërs 14. Dit is duidelik dat die kerk en kerkdienste nie in chaos gedompel sal word as die Gees teenwoordig is nie. Maar daar is meer. Waar God teenwoordig is, is daar groei. As iets agteruitgaan is God nie ingenooi nie.

By God kry alles orde deur Sy Gees en as alles in orde is, word potensiaal vir groei geskep. Die brak grond word voorberei en die kunsmis is die Woord. Dan kom groei.

Hoe word ek deel van God se werk op aarde? Beteken dit dat ek hande in die lug gooi en Jesus vra om al die werk te doen? Nee, ons roep Jesus aan en vra Hom om te heers in ons lewens, maar dan vat ons die graaf en begin spit in die droë areas van ons lewens. Ons lei dit nat met aanbidding en lofprysing en tyd by God. Ons lewensreis is baie makliker wanneer ons in die Here se teenwoordigheid is. Psalm 84:5-7:” Blessed are those whose strength is in you, whose hearts are set on pilgrimage. As they pass through the Valley of Baka, they make it a place of springs; the autumn rains also cover it with pools.  They go from strength to strength, till each appears before God in Zion.”

As jy moeg is vir die chaos in jou lewe, nooi die Gees in. God se ingryping is oombliklik en effektief.

 

Lees

1 Kor. 14:26-33

Mediteer

Is daar aspekte van my godsdiens wat dalk hersien moet word?

Gebed

Vader, dankie dat U orde en beskerming in ons lewens bring. Dankie dat U nie onvoorspelbaar is nie, ons kan nie funksioneer in so ʼn omgewing nie, dankie ook dat U dit weet. Amen

Spreek Lewe

My Vader is ʼn God van liefde eerstens en tweedens ʼn God wat groei bewerkstellig.

Aanbidding

The Jesus way– Phil Wickam

Dag 2   Die wêreld het nie rusbankkenners nodig nie ...

In sport kry mens baie te doen met mense wat nie self deelneem nie, maar tog ernstig kritiek lewer op die wat wel op die veld is. As ons na die toestand van die wêreld kyk, is dit duidelik dat daar verskeie antwoorde is op die vraag van wat dit nodig het. Jesus. Volwasse christene wat in Jesus se voetspore loop.

Maar wat van jou en my. Ek. Die wêreld het nodig dat ons begin heers. Dis dalk so dat die wêreld vir baie van ons nodig het, maar nie in die hudige weergawe van onsself nie. Baie van ons haal Jesus uit op Sondagoggende 09h00 en dan bêre ons hom as’t ware vir die res van die week. Rusbankkenners van Jesus.

Daar kom gereeld geleenthede in ons pad om Jesus aan te bied vir iemand wat hulp nodig het, maar omdat ons nie presies weet hoe om dit te doen nie, bly ons eerder stil. Vroeg in die Bybel, in Gen. 1:26-31, Word die mens as heerser van alles op aarde aangestel.

Joh. 15:5. ” I am the vine; you are the branches. Whoever abides in me and I in him, he it is that bears much fruit, for apart from me you can do nothing.” Hierdie teks is baie toepaslik vir iemand wat graag ʼn aktiewe rol in die Koninkryk van God wil speel. Ons kan nie ses dae van die week weg van Jesus wees en dan verwag om vrugte te dra nie. Ons moet daagliks inskakel by Sy krag sodat ons aangeskakel vir die Koninkryk in die wêreld kan wees.

Die wêreld word oorval deur alternatiewe voorstellings van Christelike godsdiens. Sommige kerke gaan daarop uit om sensasioneel op te tree, goeters te doen om mense geïnteresseerd te hou, rituele te hou wat uit die Joodse Ou Testamentiese geloof kom. Sommige TV pastore verkoop items soos heilige water van hulle webtuistes af, ander laat siek mense na hulle toe vlieg sodat hy teen ʼn koste, vir hulle kan bid.

ʼn Ware Nuwe Testamentiese kerk blaas nie horings en vra geld om vir iemand te bid nie, so ʼn kerk het nie allerhande seremonies wat verband hou met die Joodse geloof. Ons is opsieners van die kerk, dit is ons plig om dit suiwer en op Jesus gefokus te hou, vry van alternatiewe sensasionele opsies. En ons mag nie stil bly nie: Rom. 10:10.

 

Lees

Romeine 6

Mediteer

Hoe kan ek meer en meer ʼn heelweek Geestelike volgeling van die Here wees?

Gebed

Vader, dankie vir U Seun wat aan ʼn kruis vir ons gehang het. Dankie dat ons saam met Hom kon opstaan en ʼn nuwe lewe kan lei. Dankie dat ons gedoop kon word met die wete dat die Heilige Gees nou in ons woon en ons daaglikse aksies sal rig. Amen

Spreek Lewe

Ek is dapper genoeg om teen verkeerde goed op te staan, want die Gees rig my aksies.

Aanbidding

Same God- Brandon Lake & Phil Wickham

Dag 3   Die wêreld het vir jou en my nodig

Die jou en my wat die wêreld nodig het is iemand wat gefokus is op Jesus en Jesus alleen, nie allerhande alternatiewe wat ons weg trek van die diep geestelike ervarings wat daar kan wees met Jesus nie. In Lewende Woord verkondig ons Jesus. Dis al. Ons verkondig nie Jesus plus nog iets nie.

Paulus is baie duidelik hieroor in Galasiërs 5:1-5.

“ So Christ has made us free. Now make sure that you stay free, and don’t get all tied up again in the chains of slavery to Jewish laws and ceremonies. 2 Listen to me, for this is serious: if you are counting on circumcision and keeping the Jewish laws to make you right with God, then Christ cannot save you. 3 I’ll say it again. Anyone trying to find favor with God by being circumcised must always obey every other Jewish law or perish. 4 Christ is useless to you if you are counting on clearing your debt to God by keeping those laws; you are lost from God’s grace.”

Jesus het ons vrygemaak, ons behou daardie vryheid deur nie afgelei te word deur ou Joodse gebruike of enigiets in die wêreld wat iets anders as die evangelie van Jesus verkondig nie. Daar is baie Christene wat nog Joodse gewoontes nastreef; besnydenis, die gebruik van ʼn kallit, die eet van spesiale brode op spesifieke dae ensovoorts. As Nuwe Testamentiese Christene is ons roeping Jesus Christus, nie joodsheid nie.

Maar dit gaan nie net oor Joodse gewoontes en wette nie. Daar is baie sogenaamde Christelike webtuiste en leraars (sommige noem hulleself apostels) wat gereeld nuwe openbarings bekend maak sodat daar nog meer mense na hulle bewegings kan stroom in die (valse) hoop dat dit nou uiteindelik ʼn plek is waar God naby is.

Die Heilige Gees het nie verander in die 2000 jaar sedert Jesus se kruisiging nie, ons het die Gees ontvang (1 Kor. 12:13), dit woon in ons (Rom. 8:9) en dit verlei ons nie. Hoekom sal ons dan enigsins na God soek in plekke, boeke, televisie-uitsendings en bewegings of rituele wat nie van Jesus Christus se evangelie getuig nie?

Ons moet dapper wees om ons uit te spreek teen verkeerde goed. Onlangs in Orlando in die VSA het ʼn pastoor by  ʼn mannekonferensie die dapperheid gehad om hom uit te spreek oor die sensasioneelsoekende opening van die konferensie deur ʼn kaalbolyfpaaldanser wat swaarde sluk. Hy is gevra om te loop en nie sy bydrae klaar te maak nie. Ons is soos die leiers van daardie groepering ook soms geneig om aanstoot te neem wanneer ons reggehelp word.

Bedieningsomgewings waar leiers voel hulle moet entertaining wees engereeld verrassings opbring om mense te stimuleer is nie besig met Jesus se evangelie nie. Galasiërs waarsku die kerk teen alternatiewe spiritualiteit, Joodse wettisisme en populêre gebruike. Rick Joiner het gesê:”You can applaud anything, be very careful what you celebrate.”

Kom ons vier Jesus, Jesus se evangelie en ons dien mekaar in liefde . As ons regtig in die Gees wandel sal ander alternatiewe nooit ons aandag van God kan aftrek nie. Die antwoord is Jesus. Die antwoord is altyd Jesus.

 

Lees

Gal. 3:1-5

Mediteer

Watter areas van my lewe kort meer van Jesus en minder van die wêreld?

Gebed

Vader, dankie vir Jesus se offerande. Hy het ons finaal kom vrymaak sodat ons U Koninkryk kan bou met die hulp van die Gees wat in ons woon. Hou ons oë op U evangelie Vader, ons wil die reis met U saam maak. Amen

Spreek Lewe

Die Evangelie van Jesus is meer as genoeg vir my.

Aanbidding

Christ is Enough – David Mwonga

Dag 4   Die vrugte van die Gees is wat die wêreld nodig het

Gal. 5:22 sê: ”Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Ons kan eintlik ʼn dubbelpunt agter “liefde” sit, want al die ander eienskappe vloei uit liefde. Blydskap het niks met lag te doen nie, dit het te make met Christene wat besef dat God binne-in hulle is. Dit laat hulle toe om in alle omstandighede, hoe naar ook al, nog steeds op koers te bly. Die woord “bly” en die ander vorm “blydskap” kom dertien keer in Johannes 15 voor. Dit is baie duidelik dat Jesus wil hê dat ons in Hom sal bly en nie deur wêreldse dinge afgelei kan word nie. Blydskap beteken dus in hierdie verband dat ons die vreugde van die Here te beleef en dat slegte goed wat gebeur ons nie sal beïnvloed nie. Mense wat in Jesus bly hoef nie duisende kilometer te vlieg om ʼn geloofsgeneser te betaal om vir hulle te bid nie, die geesvervulde Christen draai na sy broer en suster en vra hulle om saam te bid.

Dan is daar vrede, nog ʼn uitvloeiing van liefde. Vrede is nie die afwesigheid van iets nie, dit is die teenwoordigheid van die Here in ons lewens. Dít wat vrede nie is nie, staan duidelik in Gal. 5:19-22. Ons produseer goed wat die teenoorgestelde van vrede in ons lewens opwek.

In Jesaja 9:5 staan daar dat die wêreld die koms van ʼn Vredefors, Jesus Christus, kan verwag. Wat ʼn mooi woord is Vredefors nie. Dit beskryf so baie van Jesus. Die vertaling vir Vredevors is Prince of Peace. Die Prins van Vrede. Hoe wonderlik is dit nie dat ek en jy toegang het tot God deur die Heilige Gees nie. Kom ons werk saam aan die Koninkryk van God deur die vrugte van die Gees in ons eie lewens toe te pas. Ons kan dit nie uit eie krag doen nie, net as ons wedergebore, gedoop en vervul is met die Gees.

 

Lees

1 Petrus 1

Mediteer

Watter vrug van die Gees moet ek oor bid sodat ek effektiewe impak maak op mense se lewens?

Gebed

Vader, dankie dat U alles so eenvoudig vir ons maak. Dankie dat ons kan fokus op liefde en dit wat daaruit voortvloei. Help ons om meer en meer Geesvrugte in die wêreld te plant. Amen

Spreek Lewe

Ek het toegang tot al die vrugte van die Gees.

Aanbidding

Prince of Peace – Josh Baldwin

Dag 5   Antwoorde op die vrae van moderne Christene

Eintlik moet ons net meer Bybel lees en konnekteer met die Here. Die Bybel het al die antwoorde vir uitdagings wat die hedendaagse mens mee sukkel. Dit is die skakelaar wat die lig vir ons aansit en die Gees gee die bevestiging. Kyk hieronder hoe maklik leer Paulus ons om ʼn verskil te maak en stresloos te lewe.

Fillipense 4:4 “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Hierdie vers in The Message lyk so:” Celebrate God all day, every day. I mean, revel in him!” Die Afrikaanse woord vir “revel” is verlustig. Wanneer ons onsself in God elke dag verlustig en sy Sy goedheid vier (celebrate) is daar nie tyd vir tweespalt nie.

Fillipense 4:5 gaan verder. “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.” The Message: “Make it as clear as you can to all you meet that you’re on their side, working with them and not against them. Help them see that the Master is about to arrive.” Twee dinge staan uit in hierdie vers. Eerstens spoor Paulus ons aan om saam met mense te werk (vriendelik te wees), dieselfde opdrag wat in Galasiërs gegee word (ons vorige dae se inhoud oor liefde en die vrugte van die Gees). Maar dit is asof daar ook ʼn dringendheid in Paulus is om te sê dat ons nie moet tyd mors hiermee nie, die wederkoms is naby en daar is nog siele wat gered moet word.

Vers 6 en 7 in Fillipense is vandag so nodig in hierdie wêreld: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”

In The Message:” Don’t fret or worry. Instead of worrying, pray. Let petitions and praises shape your worries into prayers, letting God know your concerns. Before you know it, a sense of God’s wholeness, everything coming together for good, will come and settle you down. It’s wonderful what happens when Christ displaces worry at the center of your life.”

In Hebreeus is die woord in die teks wat “besorg” beteken merimna. Dit beteken angstig. Moenie angstig wees nie, sê Paulus. As ons wese geanker is in Jesus het ons waarlik vrede. Vrede is ook die afwesigheid van tweespalt, naamlik eenheid. In Fillipense en in Galasiërs druk Paulus dit op die hart aan die kerk dat mense in eenheid met mekaar moet leef. Vrede heers as daar eenheid is. Wanneer ons in Jesus geanker is en die vrug van vrede begin deel in ander mense se lewens en ook in ons verhoudings sal ons word wat die wêreld nou nodig het.

 

Lees

Fillipense 4

Mediteer

Is daar nog iemand met wie ek in onvrede leef? Hoe kan ek dit reg maak?

Gebed

Vredefors, ons Vader, dankie dat U mense soos Paulus gebruik het om vandag nog die moderne mens te kan help om nader aan U te beweeg. Ons wil ons verlustig in U Here, U goedheid en U guns is daar vir ons. Ons wil ons lewens anker in U en vra U om ons te lei deur U Gees om meer en meer die tipe mense te wees wat die wêreld nou nodig het. Amen

Spreek Lewe

Vrede is in my hart, want die Gees is in my.

Aanbidding

Worthy is the Lamb – Julian Goedhart