Wat die Wêreld nou nodig het
Neville Goodchild

Dag 1 Hulle weet nie wat ons weet nie
In Suid-Afrika word ons deesdae geïnspireer deur die Bokke wat wen in alle omstandighede of Dricus du Plessis wat die wêreld vertel dat hulle nie weet wat ons weet nie, nadat hy sy titel suksesvol verdedig. Alhoewel laasgenoemde in ʼn meer informele konteks versprei word, kan dit ook in ʼn geestelike verband gestalte neem.
Het jy al die skoon, ongedrukte bladsy tussen Maleagi en Mattheus gesien? Ou Testament versus Nuwe Testament. Gaan kyk gou. Dit verteenwoordig 400 jaar wat God nie met die volk kommunikeer het nie. Dalk het Hy Hom voorberei vir die verlossing wat ons vandag vier in Jesus se dood. Maar 400 jaar verteenwoordig ʼn minimum van veertien geslagte wat géén kommunikasie van ons Skepper gekry het nie.
Natuurlik het God nie net verdwyn nie in daardie 400 jaar nie. Baie dinge het gebeur in daardie tyd en natuurlik was God nog in beheer, al was dit nie so sigbaar nie. Hy het die wêreld voorberei vir Jesus.
Soms voel dit vir ons of God net weg is in ons lewens, veral wanneer ons in moeilike situasies is. Ons lewe voel soos ʼn blanko bladsy, asof ons alleen is. Maar God is nooit afwesig nie. Hoe oningelig is sulke gevoelens nie?
In Deut. 31:8 sê God (ESV):”The Lord himself goes before you and will be with you; he will never leave you nor forsake you. Do not be afraid; do not be discouraged.”
Maar daar is meer. God wil hê dat ons meer en meer in Sy spore moet loop. Deur ons gedrag, maar ook deur ook die Woord te bestudeer en na Hom te soek. In Jeremia 29:11-14 sê Hy dat Hy ʼn plan vir ons het.
Hoe loop ons in Sy spore? Een van die maniere is om ʼn Woordstudie van die Bybel te doen, nie net te lees om ʼn boksie te tiek nie. Daar is verwysings in ons Bybels na ander tekste toe, wanneer ons dit so begin ondersoek konnekteer ons meer en meer met die Woord. En wanneer ons dan bid, is ons in ʼn beter posisie om met God te kommunikeer. Dit beteken glad nie dat goeie kommunikasie ʼn vereiste vir ʼn verhouding met God is nie, inteendeel, waar ons woorde struikel, sal Jesus instaan vir ons. Dit beteken eintlik dat ons, so goed ons kan, meer en meer van die Woord en God se plan moet probeer verstaan sodat ons dit kan uitleef.
Lees
Mediteer
Hoe kan jy effektief jou Bybel/Woordstudie verbeter
Gebed
Vader God, lei ons om meer effektief U Woord te bestudeer. Amen.
Spreek Lewe
Ek het die Gees, God se Woord en Jesus se offer, niks kan my oorweldig nie.
Aanbidding
My Savior My God – Aaron Shust

Dag 2 Volwasse keuses
Die meeste Christene sal dit eens hê dat die wêreld Jesus nodig het. Ons hoef net rondom ons te kyk om dit te sien. Maar hoe gee ek en jy Jesus aan die wêreld? Een manier is natuurlik deur ons optrede en getuienis.
In Lukas 19 lees ons dat Jesus op pad is na Jerusalem. Sy dissipels en die mense op straat juig en besing Sy lof, maar nie die Fariseërs nie. Hulle vra Jesus om die mense stil te maak. Jesus antwoord hierop dat as hulle sou stilbly, die klippe sal uitroep om die Koning te eer. Hierdeur sê Jesus dat die mense se uitbundige lofprysinge aangemoedig moet word, moet dit nie onderdruk nie. Die mense van Jerusalem se vreugde is so toepaslik vir die geleentheid dat as hulle dit nie doen nie, lewelose klippe dit sou doen.
Dit geld vandag nog vir ons ook. Ons lewens moet getuig van Jesus se impak in alles wat ons doen.
Om te verstaan wat die wêreld nou nodig het, is dit dalk goed om ook te kyk na wat dit nie nou nodig het nie. In Galasiërs 3 raas Paulus met die gemeente omdat hulle teruggeval het in dit waarmee hulle bekend was: die Wet. Die Galasiërs het die Gees ontvang, hulle is gedoop, maar hulle het teruggeval in die ou gewoontes wat hulle onder die wet gehad het. Paulus waarsku hulle dat hulle afgesny van God sal wees as hulle aanhou met hierdie dinge. Al wat vir God tel is geloof wat deur liefde werk.
So is daar dan ook vandag kerke en groepe wat die waarheid verdraai om ʼn sekere agenda te pas. In Efesiërs 4:11-15 is dit duidelik dat ons volwasse in Christus raak wanneer ons gedoop is en die Gees ontvang. Die Gees help ons om onderskeid te tref tussen reg en verkeerd. Volwassenheid in Christus help ons om nee te sê vir verkeerde dinge en op te staan vir wat reg is. As iets nie by Jesus begin en eindig in Sy wederkoms nie, is dit nie vir ons wat glo nie.
Die woord “shalom” word vandag nog as ʼn groet gebruik wat “vrede” beteken, maar eintlik is die betekenis veel dieper. Dit beteken volkomenheid (wholeness) of volwassenheid en dit geld in elke aspek van ons lewe. Dit rig ons in vrede met die Vader, Seun en Gees.
Die doel om God te volg is nie om sy robot of slaaf te wees of ʼn stel reëls (wettisisme) te moet nakom nie. Ons is sy bruid. Om ware vryheid te ervaar, die vryheid wat God ons graag wil gee, moet ons volwassenheid uitoefen met ons keuses en gehoorsaam wees aan die Woord wat Jesus verkondig het terwyl ons deur die krag en leierskap van die Gees gelei word.
Lees
Mediteer
Wat kan ek vandag doen om ‘n meer volwasse Koningskind te wees?
Gebed
Vader God, U was nog altyd daar vir ons en U sal altyd daar wees. Lei ons asseblief deur U Gees om meer effektiewe lewens hier op aarde te lei. Dankie dat U so baie lief is vir ons en dat ons in U nabyheid kan leef. Amen.
Spreek Lewe
Ek maak goeie keuses want die Gees lei my so.
Aanbidding
Still Waters– Leanna Crawford

Dag 3 Skakel jou brein aan
Deesdae is daar so baie dinge rondom ons wat die boodskap van Jesus probeer skeeftrek. Dink maar aan alles wat op sosiale media aangaan; van mooi prentjies met boodskappe wat lyk soos godsdiens en jou aanmoedig om dit aan te stuur na jou vriende anders gaan jy nie die seën ontvang nie tot videos van predikers wat jou aanmoedig om nóú die geldjies oor te stuur sodat jy gesond kan word. Dan is daar nog predikers wat verkondig dat Joodse feeste of dae nog gehuldig moet word sodat die mens kan terugkom by God. Al hierdie is uiterlike, verstandelose en inhoudlose seremonies en lerings.
In 1 Kor. 2:12 (NLT) staan: “And we have received God’s Spirit (not the world’s spirit), so we can know the wonderful things God has freely given us.” Wanneer ons die Gees ontvang, kry ons ook die vermoë om onderskeid te tref tussen spirituele ervarings en gebruike wat nie die Jesuspad volg nie. In Korintiërs 2 praat Paulus oor die krag van die Gees en wat dit vir ons beteken. Hy eindig Hoofstuk 2 dan met hierdie woorde: “But we understand these things, for we have the mind of Christ.” Iemand wie se brein aangeskakel is, val nie rond vir elke nuwe truuk of seremonie nie. Inteendeel, ons het die krag ontvang om ons uit te spreek teenoor verkeerde gebruike, want ons kan deur die Gees dink soos Christus.
Lees hoe takel Jesus die Fariseërs in Mat. 23:27-28. Jesus sien hul geestelike onvolwassenheid en hoe hulle dit probeer verberg, daarom noem hy hulle witgebleikte grafte wat die beendere onder die grond verberg.
God gebruik ons ten volle, en sy Heilige Gees verander ons geheel en al. Ons denke en verstand word ook verander. Paulus sê nie verniet dat ons geloof ook 'n saak van die rede of denke is nie. Hiermee bedoel hy dat die Christelike geloof, onder meer, 'n logiese en rasionele godsdiens is.
Lees
Mediteer
Hoe kan ek my brein aktiveer om beter onderskeid te tref in alles in my lewe?
Gebed
Vader God, dankie dat U deur U Gees vir ons die vermoë gee om onderskeid te tref tussen ware en valse lerings en gebruike. Lei ons, o Gees, om opregte Koningskinders te wees wat in liefde teenoor ander mense leef. Dankie vir U genade, U toewyding en U liefde. Amen.
Spreek Lewe
Deur die Gees het ek dieselfde onderskeidingsvermoë wat Jesus het.
Aanbidding
Lift me to the Light– The Sowers

Dag 4 Wat van liefde?
Gal. 5:22-26:”Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.” Lees ook dieselfde teks in The Message.
Sjoe, kan ek en jy ons vrugte meet aan bostaande? Is dit nie presies wat die wêreld nodig het nie? Mense wat liefde gee in plaas van haat, blydskap in ander se harte veroorsaak, sagmoedig is en nie veglustig nie, getrou aan hulle beloftes en met hope selfbeheersing. Hierdie vrugte van die Gees kan net kom vanuit ʼn opregte verhouding met Jesus Christus, dit is waar geestelike groei gebeur en waar ons “volwasse” raak in ons geloof.
Efesiërs 4:11-13 (NIV):”So Christ himself gave the apostles, the prophets, the evangelists, the pastors and teachers, to equip his people for works of service, so that the body of Christ may be built up until we all reach unity in the faith and in the knowledge of the Son of God and become mature, attaining to the whole measure of the fullness of Christ.”
Volwasse Christene werk vir eenheid in die kerk en hulle doen dit deur die bostaande vrugte van die Gees doelgerig uit te lewe op alle vlakke van hulle lewens. Die wêreld het ons liefde nodig. Dringend. Doelgerig en gefokus.
Lees
Mediteer
Waar in my lewe kan ek meer liefde gee?
Gebed
Groot is die naam van ons God, die God van Liefde. Vader, dankie dat ons U erfgename is, U kinders. Help ons om die vrugte van U Gees doelgerig en doeltreffend uit te leef. Dankie vir U genade en U voorbeeld deur Jesus. Amen.
Spreek Lewe
Deur die Gees kan ek te alle tye liefde gee.
Aanbidding
No longer Slaves– Jonathan David and Melissa Helser

Dag 5 Eenheid
Het jy al opgelet hoe goed geolie die diensspan van Lewende Woord op Sondae is? Dis so lekker om nog van ver aangestap te kom en een van die mense wat by die deur staan, vang jou oog en begin glimlag nog lank voor die handdruk kom. Die tegniese span is agter besig om al die toerusting te toets en reg te kry, oraloor is daar mense wat staan en gesels, sommige met ʼn lekker koffie in die hand. Dit werk net. Natuurlik is die musiekspan fenominaal met die lofprysing. Dan is daar baie mense wat in die agtergrond sorg dat daar koffie is. Iemand was daardie skottelgoed. Die kantoorpersoneel sit soveel tyd in die organisasie van die kerk in. Het jy al gedink dat daar iemand moet wees wat sorg dat die terrein netjies is, die bome water kry ensovoorts? En dit is nie net op Sondae wat jy al hierdie sal oplet nie. By elke geleentheid wat by Lewende Woord aangebied word, is daar spanlede wat help, sommige in die agtergrond en ander op die voorgrond.
Eenheid. Saamstaan. Span. Hierdie is almal woorde wat ʼn mens positief stem. ʼn Span wat saamwerk kan die wêreld omkeer. Kyk maar net hoe die Bokke die hele land agter hulle kan skaar, hoe hulle inspireer en amper die onmoontlike regkry.
Volwasse Christene is mense wat verstaan dat hulle NEE moet sê vir die self, die eie ek of die ego sodat hulle fokus op die groter prent van: ons almal, ander mense, die span, die kerk. Dis mense wat nie omgee vir die kollig nie, maar met liefdevolle deeglikheid help bou aan die eenheid van die gemeente. Natuurlik moet sommige mense in die kollig wees om die woord oor te dra, maar selfs dan is die doel om die lig op die Lig te plaas. In Ef. 4:11-13 praat Paulus oor die verskillende rolle wat mense speel om die liggaam van Christus (die kerk) op te bou. Ons het almal ʼn rol, volwasse Christene vervul daardie rol met liefde en deernis en deeglikheid.
Lees
Mediteer
Waar in die kerk kan ek dalk my hulp aanbied?
Gebed
Vader, ons eer U en is dankbaar dat ons deel van U liggaam kan wees. Ons wil help bou, Here, help ons om deur liefde diensbaar te wees sodat ander nader aan U kan kom. Amen.
Spreek Lewe
Deur die Gees kan ek te alle tye diensbaar wees.
Aanbidding
Jesus is – Leanna Crawford