Die Gees-bemagtigde lewe
Neville Goodchild
Wat hierdie wêreld die meeste nodig het, is …..

Dag 1: Leierskap
Die wêreld maak ‘n groot ophef van spiritualiteit in vandag se dae. Daar is kursusse, programme, boeke, videos, studies, media, uitdrukkings, bewegings en kulture wat verskillende vorme van spiritualiteit bemark en bevorder.
Dit is belangrik om te weet dat spiritualiteit is nie Christenskap nie. Die gevaar is dat daar ontstaan ‘n vermenging van sekulêre spirituele uitdrukkings en Christenskap. God is nie tevrede daarmee nie. Ons lees twee keer in die Nuwe Testament daarvan dat God die Vader met ‘n hoorbare stem gepraat het. In Matteus 17 (Mark 9:2-8 en Luk.9:28-36) lees ons dat Jesus vir Petrus, Jakobus en sy broer Johannes, saam met hom geneem het na die bokant van ‘n hoë berg. Daar het Jesus se gestalte verander en stralend geword. Moses, wat ‘n voorstelling van die Wet is, en Elia, wat ‘n voorstelling van die profete is, het ook op die berg verskyn. Petrus het dadelik gedink dat dit wonderlik is dat hulle nou die wet en profete en vir Jesus almal bymekaar het en het voorgestel dat hulle drie hutte bou en dan kan hulle drie daar bymekaar bly. ‘n Helder verligte wolk het toe ‘n skaduwee oor hulle gegooi en ‘n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”
In die verlede het God deur die wet en die profete met die mense gepraat, maar nou is dit Sy wil om deur Jesus Christus met ons te praat. Heb. 1:1
Gal. 3:14 sien ons dat die wet was daar vir ‘n bepaalde vasgestelde tyd en dit het straf vir sonde vereis. Toe Jesus aan die kruis gesê het dat dit is volbring, het Hy bedoel dat daar is aan die vereistes van die wet voldoen. Hy het die straf betaal wat deur die wet vereis is en daarmee is die kontrak afgehandel. Die wet is afgehandel. Steeds is die wet kosbaar in die opsig dat dit vir ons ‘n riglyn gee van wat die goeie en welgevallige wil van God is, maar in Christus Jesus lewe ons vry van die skuld van die wet.
Die evangelie van Jesus Christus is inklusief. Jesus Christus het vir almal gesterf en die prys betaal en elke persoon, maak nie saak wie dit is nie, wat hulle bekeer van hulle sonde en Jesus Christus aanneem kan gered word.
Mense wat ‘n spiritualiteit skep wat hulle pas deur Christenskap te vermeng met ander uitdrukkings, raak baie keer wetties en verwag dan dat ander mense soos hulle moet glo en optree. Hulle raak eksklusief. Dit beteken dat hulle glo dat net hulle en mense wat soos hulle glo kan gered word.
Dus is leierskap nodig in die wêreld om in Gees en Waarheid te leef in Christus Jesus en die kerk te lei in die
volle waarheid. Ons kan nie die Wet probeer onderhou en Joodse feeste vier, die oue en die nuwe vermeng nie, want dit behaag God nie. Hy het dit duidelik op die berg gesê en Moses en Elia sal nooit weer verskyn in hierdie bedeling nie. Ons kan ook nie sekulêre spiritualiteit vermeng met Christenskap om ‘n spirituele ervaring te skep nie. Dit is belangrik om die suiwer evangelie aan te hang en daarvolgens te leef. Ons kan niks daar byvoeg of wegneem nie.
LEES:
Mediteer:
- Kan jy die vermenging van Christenskap en geskepte spiritualiteit om jou sien waar jy daagliks beweeg?
- Ondersoek jouself en vra jouself die vraag af: “Is ek nog in suiwer Woord gebaseerde Christenskap of het ek dalk begin dinge byvoeg uit onkunde om meer ‘spiritual’ te wees of om meer te beleef?”
- In die tyd wat ons leef sien ons ‘n geweldige invloei van ‘New age” spiritualiteit waarmee baie Christene hulle geloof mee meng. Dinge soos ‘Christian yoga’, ‘possitive thinking’ en selfs dinge soos ‘Tarot Card readings’.
- Net soos ons nie die wet kan meng met die genade boodskap nie kan ons ook nie enige ander vorm van spiritisme by die genade boodskap van Jesus voeg nie.
Bid:
Vader baie dankie vir die afgehandelde werk van Jesus Christus waardeur ek vrygespreek en gered is. Vader ek bely enige iets wat ek wetend of onwetend by U evangelie van genade bygevoeg het in my Christenskap. Ek verwerp nou alle byvoegings en verklaar dat Jesus en Jesus alleen my antwoord is vir my redding en my vervulling. Vader leer my en lei my deur U gees om onderskeid te kan tref tussen u waarheid en die byvoegings van die vyand. Amen.
Spreek Lewe!
Jesus en Jesus alleen is die antwoord!
Aanbidding:
Josh Baldwin (Acoustic) - You Are Our God

Dag 2: Dieper geestelike behoefte
Mense wat ‘n behoefte het na ‘n dieper geestelike ervaring en nie soek op die regte plek nie, raak maklik by sekulêre spiritualiteit betrokke. Die vyand is vaardig in die geestelike realm en in Efesiers 6 sien ons duidelik dat ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. Die vyand kom soos ‘n engel van die lig en verlei mense met goed wat ‘n skyn van heiligheid het. In Egipte het die towenaars die plae nagemaak en die Egiptenare was verward oor waar die plae vandaan kom, aangesien hulle towenaars ook die plae kon skep. God het op die einde die dood van die eerstelinge van almal wat nie die merk van die bloed aan hulle kosyne gehad het nie, gestuur.
Paulus waarsku ons teen die soeke na die goed wat ‘n skyn van heiligheid dra. Mense probeer geestelik wees en word deur emosies gelei en deur skuldgevoelens gedryf. Dit is nie Christenskap nie. Dit is wel misleiding en toksies en kan jou gebroke en teleurgesteld laat.
Jesus Christus is die enigste weg tot die Vader. Hy is die Lig, die Weg en die Waarheid. Ons word uit genade gered deur geloof. Enige iets anders wat ons wil byvoeg of wegvat, is nie van God nie. As ons die Wet bysit, beweeg ons onder die genade uit. Ons kan nie ons saligheid verdien nie. As ons geestelike ervarings najaag, soos om om te val as iemand vir ons bid of om aan die lag te gaan onder ‘salwing’, word ons teleurgestel, want dit is nie standhoudend nie. Ons moet God soek en dien en nie die ervarings nie.
Ons gees word lewendig by wedergeboorte wanneer ons God se gees, die Heilige Gees ontvang. Alles wat ons nodig het om ons behoefte aan dieper geestelike ervaring te vervul is in Christus Jesus deur die Heilige Gees.
Lees:
Mediteer:
- Ondersoek jouself rondom bg. inligting. Raak stil en dink hoe jy dalk kan terugval na die wet en veroordeling in sekere moeilike omstandighede of hoe maklik jy dalk iemand anders kan veroordeel wat nog in sonde leef.
- Ondersoek jouself ook deur die inspraak van die Heilige Gees rondom die gedagte van om ervarings of sekere spirituele dinge te beleef of te ervaar.
- Wees eerlik met jouself en vra Vader om jou hart te ondersoek om aan jou die toestand van jou hart te openbaar.
- Indien daar enige iets is wat Vader deur Sy Gees aan jou geopenbaar het kan jy bloot met Vader praat, bely, vergifnis vra en terugdraai na ‘n suiwer verhouding met Vader deur geloof in Sy seun Jesus Christus sonder enige byvoegings.
Bid:
Dankie Vader dat Jesus se werk aan die kruis genoeg was en dat my wedergeboorte deur Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees my diepste geestelike behoefte kan vervul. Vader kom leer my en vul my met U alles oorheersende vrede, sodat ek geestelik vervul kan wees en nie nodig het om enige verdere vervulling in spiritisme te gaan soek nie. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
My herstelde verhouding met my liefdevolle hemelse Vader in genoeg om my geestelik te vul met Vader se vrede.
Aanbidding:
Sanctus Real – Confidence Lyric Video

Dag 3: Alles is nie vir my nie
Jesus en sy dissipels kom by die stad Naïn en soos hulle nader kom sien hulle ‘n optog van mense. Jesus sien die weduwee wat haar enigste seun begrawe wat treur oor haar seun wat dood is. Sonder hom is sy sonder regsbeskerming en onversorg. Die Woord sê dat Jesus het die vrou innig jammer gekry. Jesus het die optog gestop en die draagbaar waarop die dooie seun was, aangeraak. Jesus het hom opgewek uit die dood en vir die vrou gesê dat sy moet ophou ween, want hier is haar seun. Jesus het nie die seun opgewek oor hom nie, maar oor die weduwee wat Hy jammer gekry het.
Ons word nie gered net om hemel toe te gaan nie, of omdat alles oor onsself gaan en aanhou om oor onsself te gaan nie. God red ons eerstens, omdat dit Sy plan is vir ons. Daarna gaan dit oor die invloed wat ons het om die koninkryk te bring na die wêreld waar ons leef.
God soek jou, want jy is die geleentheid, die oop deur, dalk die enigste oop deur na die mense rondom jou. God wil deur ons, ons wêreld bereik. Ons fokus moet dus skuif weg van onsself af.
Almal wat kinders het weet van die gevreesde vier letter woord …. myne. Dit is gedurig die geveg. Los dit uit, dit is myne. ‘n Babatjie word gebôre en huil as hy honger is, dors is, nat is, ongemaklik is, moeg is of aandag soek. Alles gaan vir die babatjie net oor homself. Soos die kind egter by die baba stadium en die myne stadium verby groei, leer die kind later om te deel met boetie, sussie of maatjies.
Alles wat ons ontvang is ons s’n as rentmeesters, maar dit is nie alles vir ons of om onsself nie. Dit is ‘n teken van volwassenheid om buitentoe te leef en dit is lewegewend.
Lees:
Mediteer
- Die mens se natuurlike en vleeslike reaksie is altyd om hom of haarself eerste te plaas, na sy eie behoeftes en begeertes om te sien.
- As Christen sterf ons egter van ons vlees of ons eie belang, die eie ek.
- As jy stil raak en ‘n eerlike selfondersoek doen oor bg, wat is die gevolgtrekking waarby jy uitkom? Kan jy getuig van volwassenheid waar jy kan sê dat alles gaan nie meer net oor jouself nie, maar dat jou lewe, jou suksesse, jou finansies, jou besittings, jou tyd ens. is eintlik alles vir die koninkryk van God?
- Terwyl jy nou stil is, wil jy nie weer alles wat jy is en alles wat jy het, oorgee aan Vader, sodat jy nie die eindpunt van God se seën is nie, maar dat jy ‘n kanaal kan wees wat verby net jou eie belang en behoeftes gaan na ander mense.
Bid:
Vader ek bely teenoor U dat ek soveel keer net op myself gefokus is, net op my eie behoeftes en begeertes, my eie wêreld. Vader help my asb om die groter prentjie van U koninkryk te sien, help my om te besef dat daar mense om my geplaas is wat wag vir my om hulle bloot te stel aan U koninkryk.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is geseënd om ‘n seën te wees.
Aanbidding:
Casting Crowns – Nobody (Official Music Video) ft. Matthew West
Chris Tomin – Lord You’re Beautiful (Lyric Video) feat. Steffany Gretzinger

Dag 4: Christus roep ons tot volwassenheid
Jesus roep ons nie om geestelike ervarings na te jaag nie, maar om Christelike volwassenheid na te streef.
Ons begin ons Christelike reis as kinders van God en in die begin eet ons melkkos, maar namate ons groter word en meer volwasse word in ons Christelike wandel, beweeg ons na volmaaktheid in Christus. WOW! Wat? Nee, ek kan mos nie volmaak wees nie? Kom ons kyk wat sê die Woord.
Matt. 5:43-48 - 43) “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyande moet jy haat.’ 44) Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir diè wat vir julle vervolg, 45) sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor diè wat reg doen en oor die wat verkeerd doen.
Om jou vyande lief te hê en opreg te wil hê dat dit met hulle moet goed gaan, is maar die begin, kindskap in die koninkryk. As ons eerlik is met onsself is dit ‘n baie moeilike ding om te doen. As iemand jou seermaak en tenakom is dit baie moeilik om vir hom/haar lief te hê en nie ook te wil hê dat dit met hulle moet sleg gaan nie. Dit is reeds ‘n teken van groei na volwassenheid.
48) “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Volmaak wat hier in Grieks gebruik word is tel’-i-os, complete (in various applications of labor, growth, mental and moral character, etc.); neuter (as noun with G3588) completeness: - of full age, man, perfect, not perfection, but referring to idea of being complete/ mature.
Dit beteken dus nie om perfek te wees nie, maar om volmaak te groei na volwassenheid in Christus Jesus ons Verlosser. Ons fokus kan dus nooit wees om spirituele ervarings na te jaag nie, maar om tel’-i-os te wees in Christus Jesus.
Jesus Christus is ons volmaakte voorbeeld. Die eie ek moet sterf sodat God meer kan word in ons. Die Bybel verwys na ‘n koringkorrel wat in die grond moet val en sterf om ‘n oes te kan voortbring.
Wanneer ons terugdink van waar ons vandaan gekom het, besef ons gewoonlik dat ons gegroei het na volwassenheid. As ek egter op ‘n plek gekom het waar ek dink dat ek darm ‘n biedjie verder gekom het as die ander en dink dat daar is mense wat darm nie gered kan word nie, aangesien hulle nie glo soos ek glo nie en nie beleef soos ek beleef nie, is ek op ‘n baie gevaarlike plek. ‘n Plek van: “Raak nie, smaak nie, roer nie aan nie.” Dan bou ons kloosters met die mentaliteit dat ons “more holy than thou” is. ‘n Eksklusiewe tiepe godsdiens, waar net ‘n sekere groep mense gered kan word, omdat hulle spiritualisme najaag, is nie Christenskap nie. Dit is vals. Dit is nie van God nie.
Lees:
Mediteer:
- Dit is moeilik vir ons as mense om volwasse te wees in ons optrede teenoor ander, omdat ons maklik bedreig voel en die wortel van ons optrede is gewoonlik vrees. Ons eerste gedagte in elke situasie is gewoonlik onsself. God wil ons fokus na Hom skuif en ons leer om in Sy volmaakte liefde te leef, want alleen in Sy volmaakte liefde kan ons sonder vrees optree en ander voor onsself stel.
- Dink aan jou laaste konflik situasie. Het jy opgetree uit volmaakte liefde van God of uit vrees? Het jy die Koninkryk van God eerste gestel en jouself en jou eie belange eenkant toe gesit?
- Weet jy hoe lief God jou het?
- Is jou liefde van die mensdom ‘n uitvloeisel van jou identiteit wat gevestig is in ons Verlosser, Jesus Christus?
- Het jy al geleer om te sterf in jou eie ek sodat jy die “greater good” kan dien?
Bid:
Vader dankie vir U volmaakte liefde wat my deel raak in Christus Jesus en wat die vrees verdryf. Dankie dat ek in U kan groei tot volwassenheid en die Koninkryk van God eerste kan stel. Vergewe my as ek enige spirituele ervarings najaag en U hart vir ‘n mensedom wat verlore gaan, mis. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Gees van Vader help my en leer my om daagliks deur die lens van Vader te kyk
Aanbidding:
The Echoes of the Cross – Piet Smit
This is the Kingdom (Live from the Loft) – ft. Pat Barrett - Elevation Worship

Dag 5: Vrug van die Gees
Die Heilige Gees woon in ons as kinders van God. Die Heilige Gees bring Heilige Gees vrug in ons na vore. Ons kan mense nog ‘n rat voor die oë draai en ‘n skyn van heiligheid voorhou, maar God kyk na die bedoeling van die hart. Die Here soek vrug aan die boom van ons lewe en die vrug sal ‘n weerspiëeling wees van wat in ons hart aangaan.
Gal. 5:22-26 'Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.'
Dit is duidelik dat die vrug van God in ons lewe is nie vrug wat op die “eie ek” gemik is nie, maar wat uitreik na die wêreld om ons, in God se liefde. Ons streef om elke dag en elke nag in God se teenwoordigheid te wandel, sodat ons ‘n geesvervulde lewe kan lei en nie net Sondag soos Christene leef nie. Ons moet konstand in diep afhanklikheid van die Heilge Gees leef om die vrug van die Gees te kan dra.
Lees:
Mediteer:
- Neem ‘n oomblik en dink diep na oor jou eie lewe, oor jou Christenskap. Vra Vader om jou hart te ondersoek en om aan jou die ware stand van jou hart te openbaar.
- Is jy gefokus op mense rondom jou of is jou lewe net op jouself gerig?
- Kom die vrug van die Gees vanself na vore in jou daaglikse lewe?
- Dink jy, jy kan na buite leef, op ander gefokus sonder die vrug van die Heilige Gees?
- Raak stil by Vader en vra Hom om jou hart te transformeer sodat die Gees se vrug deur jou kan vloei na ander mense.
Bid:
Vader transformeer my hart dat ek verby myself kan leef, gefokus op mense wat U so nodig het. Heilige Gees kom raak so deel van my dat ek meer en meer die vrug sal dra wat deur U Gees binne my gevorm word. Vader gebruik my in U koninkryk. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Liefde is die vrug van die Heilige Gees van Vader wat deur my vloei na ander mense.
Aanbidding:
April 28 – Worship – The Church at Bushland