Go Deep 22 September 2024

Wat hierdie wêreld nou nodig het, is...

Neville Goodchild

Christene wat wandel in die Gees

Dag 1: Vrug van die Heilige Gees

Gal.5:22 en 23 – ‘Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.

Ons vra hoe lyk mense wat meer geestelik is en wat in die Gees wandel? Mens sien in hulle lewe hoe Jesus manifisteer in hierdie wêreld deur hulle. Die Heilige Gees wat in kinders van God is, maak dat die vrug vir die wêreld beskikbaar is deur hulle lewens.

God se motief, hart en fokus vir hierdie wêreld is en was nog altyd om ons met Hom te verenig. Nadat Jesus Christus opgevaar het en aan die regterhand van God gaan sit het, het God die Heilige Gees gegee. Die Heilige Gees is altyd en oral saam met ons. Ons is nooit alleen nie. God het verseker dat Hy altyd by ons kan wees deur die Heilige Gees. Die vrug wat ons in ons geestelike wandel dra deur die Heilige Gees is vir hierdie wêreld. Dit is vir elkeen wat honger en dors na die Woord van God en Sy teenwoordigheid.

Wanneer ons dink aan vrugte, sien ons in ons gedagtes die helder kleurige vrugte in ‘n groen boom. Die vrug is duidelik sigbaar, maklik bekombaar en dit is voedsaam. Mens ruik sommer die vrugte as jy in ‘n boord is of by ‘n vrugte boom staan. Dit is aanloklik en mens raak sommer lus vir daardie appel of piesang. Die vrug is ook nie vir die boom nie, maar vir die mense wat die vrug moet eet. Daarom het God dit gemaak dat dit op so ‘n mooi manier aangebied word.

Net so is dit met die vrug van die Gees. Die doel van die vrug van die Gees is om die Woord van God te voorsien aan geestelike honger mense in hierdie wêreld. Die vrug van die Gees wat in ons lewens sigbaar is, is die strategie wat God gekies het om die verlore wêreld na Hom te trek.

Mense wat geestelik hoogmoedig en hoogdawerend is, maak of die evangelie ingewikkeld is en of dit amper onmoontlik is om saligheid te beërwe. God se plan is inklusief. Hulle evangelie is ekslusief. Hulle gebruik net sekere name vir die Here en hulle optrede strook nie met hulle sogenaamde verering en agting van God nie. Dit is nie van God nie en mens sien nie die vrug van die Gees daar nie.

Die kerk moet verseker dat hulle fokus op die duidelike, maklik verstaanbare en toeganklike Woord en evangelie van God. Daar is ‘n wêreld daar buite wat smag na iets om hulle geestelike honger en dors te stil.

LEES:

Gal. 5:22-23

Mediteer:

  • Dink oor die vrug van die Heilige Gees en identifiseer in jou wêreld mense wat jy met elkeen van die vrug van die Heilige Gees kan verbind. Is jou naam ook onder die mense aan wie jy gedink het?
  • Ons vind party van die vrug van die Gees makliker as ander en daarom moet ons fokus op die wat ons sukkel om uit te leef. Probeer identifiseer hoekom jy sukkel met party van die vrug van die Gees en vra die Here om jou te help met dit.
  • Meld aan om deel te wees van die liggaam van Christus wat die geestelike honger wêreld na God te trek deur die vrug van die Gees.

 Bid: 

Abba Vader ons eer U vir die Heilige Gees en die Heilige Gees vrug wat ‘n antwoord is op hierdie wêreld se elke begeerte en behoefte. Dankie Here dat ons deel kan wees van U liggaam en dat U gekies het om ons te gebruik. Laat ons in geloof en oortuiging handel in die Gees met die oog op die redding van ‘n verlore wêreld. Help my Here om te groei in elke vrug van die Gees waarin ek nog struikel in Jesus Naam vra ek dit. Amen.

Aanbidding:

Hungry (Falling On My Knees) – ft. Kathryn Scott Live

Dag 2: Vrede - Shalom

Die vorige weke het ons gekyk na liefde en blydskap. Vrede is ook ‘n vrug van die Gees. Vrede is nie die afwesigheid van oorlog nie, maar eerder die teenwoordigheid van iets. Mens dink baie keer dat as omstandighede anders was sou hulle vrede beleef het, maar ware vrede in die Gees, wat alle verstand te bowe gaan, is juis die vrede wat ons beleef ten spyte van ons omstandighede.

Dit is menslik onmoontlik om altyd in beheer te wees van alles in ons lewens. Ongelukkig is ons altyd besig om dit te probeer regkry en dan val die pap op die grond. Ons gedagtes word in so baie rigtings verdeel en ons probeer oplossings soek vir goed wat nie ons mandaat is nie.

6) 'Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7) En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.' FILIPPENSE 4:6-7

‘Merimna’ is die Griekse woord vir angstigheid. Dit is afgelei van die basis woord ‘merizo’, die Griekse woord wat beteken om te verdeel of te skei. Die Meridiaan is die kontoerlyn wat in kaartwerk gebruik word om die wêreld in twee te deel. Dit is ook afgelei van die Griekse woord.

Ons gedagtes word verdeel en dit veroorsaak angstigheid en vrees. Ons sukkel dan om besluite te neem. In Engels sê hulle: ‘To be in two minds.’ Ons gedagtes maal en spring rond van een probleem na ‘n ander. Die probleem is dat ons fokus dan baie keer op goed is waaroor ons geen beheer het nie en waaraan ons niks kan doen nie.

Ons moet daarop fokus om niks in ons lewe toe te laat wat ons in twee verdeel nie. Dit word ‘n kompromie genoem. Die Woord sê dat ons oor niks besorg moet wees nie en alles na God moet bring en dat ons dan vrede sal beleef wat alle verstand te bowe gaan. Ons moet dus fokus op wat voor ons is en nie op die dinge wat buite ons beheer is nie.

Hoe smag ons nie baie keer na daardie vrede en rus in ons gemoed nie. Neem alles in gebed en smeking, met danksegging na ons Vader.

Lees:

Fil. 4:6-7

Mediteer:

  • Ondersoek jouself rondom bg. inligting. Raak stil en skryf al die goed neer wat jou gedagtes besig hou en probleme waarmee jy sukkel. Doen ‘n gebed en maak al die goed aan God bekend.
  • Dank God en aanbid Hom vir sy goedheid en almag.
  • Gaan kyk op die lysie of daar goed is waaraan jy iets kan doen en begin daar om jou lysie te laat krimp deur af te handel wat jy kan.
  • Maak vrede daarmee dat jy nie alles kan beheer nie en vertrou God en glo in Sy goedheid en versorging vir Sy kinders.
  • As liggaam van Christus is ons daar in selgroepe en in die gemeente om vir mekaar by te staan en ondersteun in moeilike tye. Reik uit en vat hande. Saam versterk elkeen se antwoorde op gebed ons geloof en help dit ons om staande te bly.
  • Hier is ‘n skakel na ‘n artikel wat handel oor die Griekse woord ‘merimna’: https://ezraproject.com/merimnao-the-dilemma-of-anxiety/

Bid:

Dankie Vader dat Jesus se werk aan die kruis genoeg was en dat my wedergeboorte deur Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees my diepste geestelike behoefte kan vervul. Vader kom leer my en vul my met U alles oorheersende vrede. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My liefdevolle hemelse Vader is my versorging en my veilige plek.  In Christus Jesus het ek alles wat ek nodig het om my geestelik te vul met Vader se vrede.

Aanbidding:

Casting Crowns – I Will Praise You in This Storm (Live from YouTube Space New York)

Sanctus Real – Confidence Lyric Video

Dag 3: Lankmoedigheid

Gal.5: 22 'Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. '

Die vierde vrug wat Paulus hier noem is lankmoedigheid. Oor die algemeen praat ons van geduld. Daar is twee Griekse woorde vir lankmoedigheid. ‘Hupomone’ verwys na lankmoedigheid in moeilike omstandighede en om nie moed op te gee nie. Dit verwys na seisoene van ons lewe.

Paulus praat egter hier van ‘makrothumia’ wat verwys na lankmoedigheid waar mense betrokke is. Ons moet deur die Heilige Gees vrug bemagtig word om met koningkryk visie na mense te kyk. Ons moet hulle sien soos God hulle sien, sodat ons hulle met  die liefde en lankmoedigheid van Jesus self kan behandel.

Jesus het ‘n pad met Petrus gestap. Iemand anders sou dalk moed opgegee het, maar Jesus het lankmoedigheid met Petrus gehad. Petrus wat Jesus verloën het; wat die wag se oor in die tuin van Getsemane afgekap het; wat na Jesus se dood terug is na sy visserboot om te gaan visvang. Dit is dieselfde Petrus wat, nadat hy die Heilige Gees ontvang het, gepreek het en drie duisend mense het tot bekering gekom. Lankmoedigheid sien hoe mense foute maak en stadig groei, maar gee nie moed op met hulle nie. Dit is net soos God die Vader nie moed opgee met ons mensdom nie. Die Woord sê dat Hy die oordeelsdag uitstel, omdat Hy lankmoedig is en nie wil hê dat enige een van ons verlore moet gaan nie.

Lees:

Gal. 5:22

Mediteer

  • Hoe lank hou jou moed met ander mense, veral mense wat nie wil reageer soos jy wil hê hulle moet reageer nie?
  • Dink aan iemand wat jy dalk al vir jare probeer om na Jesus toe te lei of iemand wat in ‘n verslawing vasgevang is en al soveel kere mense om hom teleurgestel het. Het jy “lang moed” of dan geduld met so persoon ten spyte van hoe lank of hoeveel keer hy al gefaal het?
  • Vra die Heilige Gees om die vrug van liefde in jou so te laat ontwikkel, dat jy ook hierdie deel van die vrug van lankmoedigheid meer en meer so sal kan uitleef en mense vir Sy koninkryk gewen kan word.

Bid: 

Vader ek besef dat ek so maklik kort van draad kan raak met mense wat nie wil reageer soos ek wil hê hulle moet reageer nie. Heilige Gees dankie dat U in my woon. Wil U my so kom bedien en verander dat die vrug van lankmoedigheid/geduld na vore sal kom as ‘n vrug wat deur U geproduser word in my lewe. Help my om soos Jesus lang moed te hê met mense.

Bonus: Spreek Lewe!

Mense sal lewe ontvang deur die vrug van lankmoedigheid/geduld wat hulle van my ontvang.

Aanbidding:

Run To The Father, Reckless Love, Until Grace (Lyrics) – Cody Carnes, Cory Asbury, Tauren Wells

Dag 4: Drie groepe mense waarmee ons ‘makrothumia’ moet hê

1 Tess.5:14 'En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. '

Die onordelikes verwys na die mense wat ‘ongedissiplineerd’ is, rebels en ‘nonchalant’ reëls verbreek. Hulle beweeg in hulle eie raamwerk en het geen agting vir jou ritme, prioriteite, wette en reëls nie. Let baie mooi dat die woord nie sê dat hulle gestraf moet word of verwerp moet word nie, maar vermaan moet word. Die engelse woord wat gebruik word is “council them”, met ander woorde beraad hulle en wees lankmoedig. Moenie vinnig tou opgooi nie. Dra die vrug van die Heilige Gees. Betoon Jesus se liefde aan hulle en gee hulle aanvaarding. Leer hulle van geloof en vertroue in die Here. Baie kere is die wortel van rebelsheid verwerping. Dit is die grootste seer. Daarom moet ons handel vanuit ‘n plek van liefde.

Mense wat ‘selfstarters’ is beweeg baie vinnig en alles moet nou dadelik gebeur en moet reg gedoen word. Sulke mense skep min ruimte vir ander mense wat nie teen hulle ritme beweeg nie. Hulle moet veral fokus op die Heilige Gees vrug van lankmoedigheid (makrothumia) sodat hulle die mense wat moed verloor het kan bemoedig en kan ophelp. Hulle moet geduldig wees en die ander persoon se belange voor hulle drang om voort te spoed stel, sodat hulle nie die persoon seer maak en dalk nog verder ontmoedig nie.

Swakkes verwys na die mense wat nie so vinnig uit die blokke kom soos jy nie. Hulle leef nie uit jou oortuiging nie en is bang en onseker om te beweeg. Dit is soos wanneer mens in ‘n nuwe omgewing is en jy is nie seker wat is die riglyne van die algemene operasionele prosedure in die omgewing nie, dan is jy onseker oor wat jy mag en nie mag nie. Wat jy moet en nie moet nie. Jy voel asof jy uitstaan soos ‘n seer vinger en wanaangepas in die omgewing. Wanneer ons gemaklik is in ‘n omgewing en ons sien dat daar ander is wat sukkel, moet ons hulle met die liefde van die Here inneem en hulle op hulle gemak laat voel en tuis laat voel. Ons moet hulle stelselmatig help om gewoond te raak aan die omgewing en om vertroud te raak met wat die prosesse en aksies van die omgewing. Hulle sal dan stelselmatig mense leer ken en selfvertoue opbou.

Met hierdie groepe mense is daar nie ‘n kitsoplossing of antwoord nie. Daar is nie ‘immediate gratification’ nie. Ons het lankmoedigheid nodig en moet met liefde saai en bewerk om dalk eendag vrug te sien. Hierdie mense het nodig dat ons in die vrug van die Gees wandel en handel, sodat hulle ‘n deurbraak kan beleef. Ons moet hulle liefhê in hulle ‘purpose’ in.

Lees:

1 Tess. 5:14

Mediteer:

  • Bedink bogenoemde en ondersoek jouself deur die hulp van die Heilige Gees om vas te stel of jy lankmoedigheid het teenoor bg  drie groepe mense.
  • Herken jy jouself of dalk iemand anders wat in hierdie groepe val?
  • Wat is jou natuurlike reaksie teenoor hulle?
  • Vra nou die Heilige Gees om jou bewus te maak van hierdie mense wat dalk in jou wêreld is en vra Heilige Gees om jou te verander van binne om meer en meer lankmoedigheid te ontwikkel teenoor hulle.

Bid:

Vader ons is so baie keer ongeduldig of kort van draad teenoor ander mense, veral die wat nie wil reageer soos ons wil hê hulle moet reageer nie. Vergewe my daarvoor. Vader kom verander my deur U Gees om meer en meer die vrug van lankmoedigheid te ontwikkel. Leer my om geduldig te werk met mense sodat hulle Jesus so kan beleef. Amen .

Bonus: Spreek Lewe

Net soos Vader geduldig is met my kan ek deur die Gees ook geduldig wees met ander.

Aanbidding:

Casting Crowns – All Because of Mercy (Lyric Video)

Dag 5: Die liefde is makrothumia

'Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, '

I KORINTHIËRS 13:4

1 Kor. 13 is bekend as die hoofstuk in die Woord wat liefde (agape) baie mooi beskryf. Dit is opvallend dat die eerste woord wat Paulus gebruik om liefde te beskryf in vers 4, is juis lankmoedigheid. Daar word gewoonlik nie baie aandag aan die konsep van lankmoedigheid gegee nie. Die liefde waarna hier verwys word is nie net ons liefde vir mekaar nie, maar ook vir almal wat nie in ons binnekring is nie. Liefde is makrothumia. Dit is ‘n liefde wat meegevoel het met ander en jouself in hulle skoene probeer plaas. Dit fokus meer op ander mense as op jouself en jou eie behoeftes, tyd, hulpbronne en gemak. Die feit dat die vrug van die Gees weer benoem word in die hoofstuk oor liefde is net ‘n bevestiging dat die vrug van die Gees vloei uit liefde wat ons ontvang as ons in Christus Jesus is.

Gal. 5:22-26 'Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.'

Dit is hoe dit lyk as ons volgens die Woord meer geestelik is. Ons sal lankmoedig wees en in liefde uitreik na mekaar en almal…

Lees:              

Gal. 5:22-26

1 Kor. 13:4

Mediteer:

  • Hoe lyk jou fokus? Fokus jy meestal net op jou eie behoeftes en begeertes of sal jy jouself tweede stel tot voordeel van ander?
  • Dink weer oor jou geduld met ander mense, kan jy jou eie belange op agtergrond plaas en oor ‘n lang tyd geduldig bly met mense om jou?
  • Kan jy lank genoeg geduldig bly teenoor iemand wat dalk al vir jare almal rondom hom/haar teleurstel? Kan jy geduldig bly totdat daardie persoon sy volle potensiaal in Christus bereik?
  • Jou lankmoedigheid kan die rede word vir iemand se redding of verlossing.

Bid:

Vader transformeer my hart dat ek verby myself kan leef, gefokus op mense wat U so nodig het. Heilige Gees kom raak so deel van my dat ek meer en meer die vrug van lankmoedigheid/geduld(makrothumia) sal dra, wat deur U Gees binne my gevorm word.  Vader gebruik die vrug van lankmoedigheid in my lewe tot voordeel van U koninkryk. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek gee U, Heilige Gees die toestemming om die vrug van lankmoedigheid in my te produseer.

Aanbidding:

Casting Crowns – Love Moved First (Official Lyric Video)