Go Deep 25 Julie 2021

 

MINDSETS

Neville Goodchild

Neem God se woord en wil vir jou lewe in besit!

sinai 517893 1280

Dag 1: Die Bevrydingsverhaal

Een van die bekendste reddingsverhale wat herhaaldelik oorvertel word en heel aan die begin van geskiedenis opgeskryf is, is van God se volk wat bevry is van slawerny, siekte, verdrukking, hopeloosheid en wrede realiteite. Hierdie geskiedenis is ’n kragtige bewys van God se karakter en die feit dat Hy sy volk wil lei na die toekoms wat Hy vir hulle beplan. Eers oorreed God vir Moses om God se plan te volg, waarna Hy die Farao oortuig deur 10 verskriklike rampe wat Egipte tref. Moses moet die volk oorreed om weg te beweeg van die dinge wat hulle ken en God se plan te volg, omdat Hy iets beter vir hulle beoog. Dit is hier waar die grootste wonderwerke gebeur. God laat die see in twee deel en red miljoene mense van verdrinking en slawerny. Hulle word verskeie kere van dors en hongersnood gered. God verslaan hul vyande, beskerm hulle teen pes en siekte, teen hitte en koue. Nie eens hul klere het verslete geraak van 40 jaar se wandel in die woestyn nie. Hier, in die onherbergsaamste wildernisse en woestyne in die wêreld, voorsien God elke dag vir hulle manna en kwartels: kos uit die hemel. God is so ernstig oor sy plan vir hulle dat Hy wil hê hulle moet ervaar en beleef hoe goed Hy vir hulle is. Elke dag het hulle ’n wolkkolom en elke nag ’n vuurkolom wat hulle vooruitgaan. Elke moontlike risiko wat sy volk kan bedreig, ruim Hy uit die weg. Hierdie reis is so indrukwekkend en die belofte is so groot dat God die bestemming beskryf as die land van melk en heuning. Die plek waar God se seën en voorsiening op sy volk rus. Dit is sy plan vir sy mense.

Dit is daarom moeilik om te verstaan hoe dit dan moontlik kan wees dat, uit die miljoene Israeliete wat elke dag en nag hierdie wonderwerke van God beleef het, daar net twee mense wat uit Egipte gekom het  is om die land wat God belowe het, in besit te neem. Vir 40 jaar lank het miljoene Israeliete van God se versorging en voorsiening geleef en nie eens hulle skoene het uitgetrap geraak nie - net om in hierdie onherbergsame plek te moet sterf.

Hierdie verhaal wat beskryf word, wys op die aanslag wat daar is om God se magtige werk teen te werk en lewens te verwoes. Hierdie aanslag was nooit iets wat van buite af sou kom nie. Dit was nie die eksterne realiteite, bedreigings, wêreldgebeure, politieke leiers of virusse nie. Dit was nie Moses as leier of die Farao as vervolger van God se mense nie.

Die aanslag was van binne af.

’n Grondgebied wat meer onherbergsaam is as die wildernis van Sinai, ’n dodelike aanslag, is MINDSET - ingesteldheid.

Lees:

Eksodus

2 Kor.10:3-5

Mediteer:

  • Hoekom het die Israeliete tydens indrukwekkende wonderwerke na die kospotte van Egipte verlang?
  • Wat in jou lewe kan net spreek van God se voorsiening?
  • Waarop is jy gefokus in jou gedagtegang?
  • Wat is die beloftes wat God vir jou beoog het, wat jy nog nie sien nie?

Bid:

Here, in hierdie verhaal van u eie volk besef ek dat ek eintlik ook in die woestyn staan en kla. Ek kyk na alles wat om my gebeur en sien en hoor opinies van ander, in plaas daarvan om my oë op U te rig en my gedagtes en hart met U te belyn. Ek besef dat daar baie vestings in my gedagtegang opgerig is wat afgebreek moet word. U het ’n goeie wil vir my lewe, ’n toekoms en verwagting vir my. Ek wil aansluit by u planne, Vader. Dankie vir u kragtige wapens wat kan help om hierdie vestings te vernietig wat in my opgerig is. Ek stel myself oop vir U om deur u Woord en deur u Gees in  my wil en wee te groei. Dankie dat U my help om die oorlog te voer en vas te staan op U beloftes en Uself, my Rots en Anker. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jou verstand is die totale grondgebied van wie jy is en waarheen jy op pad is.

Aanbidding:

Protector – Kim Walker-Smith

signpost 5274077 1920

Dag 2: Grondgebied

Jou verstand is so ’n geweldige belangrike omgewing wat so dikwels misgekyk word. Dit is die totale grondgebied van wie jy is en waarheen jy op pad is. As transformasie nie ook in hierdie area van die verstand gebeur nie, dan word daar oorwinning gevel deur die vyand oor hierdie grondgebied. Alles wat God begeer wat jy moet ontvang, verstaan, beleef en in besit neem in jou lewe, gebeur in die grondgebied van jou verstand. Dit is juis hierdie gebied van derduisende Israeliete wat aangeval is. In hulle koppe kon hulle nie verstaan en oortuig word dat God ’n toekomsplan vir hulle het wat groter is as dit wat hulle sien nie. Selfs met al die risiko’s en oorwinnings wat God vir hulle behaal het, al die wonderwerke en uitkomstes wat Hy gebring het, kon hulle nie die wapens wat teen hul denke gesmee was, oorkom nie. Die beperkinge was nie aan God se kant nie. Dit is nie omdat Hy nie goed genoeg was, betrokke genoeg was of nie kon uitkoms gee nie. Nee, die grondgebied in hul verstand was onherbergsaam.

Hierdie onherbergsaamheid is ’n gedagtegang wat jy aanhang en uiteindelik begin aanbid. Jou perspektiewe word so belangrik, dit word jou alles en jy verdedig dit. Jy verdedig dit só dat jy niemand sal toelaat om jou anders te oortuig nie. Nie die Woord nie, nie profetiese woord nie en ook nie God self nie.

Jou verstand is die totale grondgebied. Dit sluit aan al die kante al die grense in van wie jy is en waarheen jou lewe op pad is. Jou hele lewe word geleef in die grondgebied van jou verstand. Die toekoms wat jy verwag en beplan, word beplan in die grondgebied van jou verstand.

Die geestelike volwassenheid waarna jy streef en wat aan jou deur die Gees geopenbaar word, word uitgeleef in die grondgebied van jou verstand! Alles wat God vir jou en deur jou wil doen, gebeur in jou lewe in die grondgebied van jou verstand!

Lees:

2Kor.10:3-5

Mediteer:

  • Wat is die grense wat jy in jou verstand stel wat beperkinge op God se werk in jou lewe plaas?
  • Wat is die beperkinge wat jy op jouself plaas as gevolg van hierdie grense?
  • Vra die Here om die grense vir jou te identifiseer en wat Hy daaroor sê.
  • Wat dink jy oor God se toekoms vir jou?

Bid:

Here, dankie dat U die grondgebied van my verstand verbreed deur die veranderinge wat U in my bring deur u Gees. Dankie dat ek kan loskom van mure wat ek opgerig het en vestings wat so diep gelê is deur die vyand. Dankie dat u waarheid deurbreek en my bevry. U is ’n God van liefde, U is volmaak en U beplan vir my net die beste. Ek loof U daarvoor. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Vernuwe jou denke oor jou toekoms!

Aanbidding:

Whatever Your Plan Is – Josie Buchanan

pexels gladson xavier 59197 1

Dag 3: Slagveld

Alles wat God in jou lewe vir jou wil doen, sluit die grondgebied van jou verstand in. Die mate waarin God se belofte van melk en heuning in jou lewe realiseer, word beïnvloed deur wat jy in jou denke toelaat. Vir ons as wedergebore mense is daar baie meer beskikbaar. Die realiteit is dat daar ’n geveg tussen lig en duisternis is. Ons verstaan net nie hoe om hierdie geestelike realiteite te benader nie. Ons verstaan nie hoe om uit te kom by die meer wat God vir ons beoog nie.

Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor.10:3-5)

Ons voer hierdie stryd nie deur die vlees nie: Om jou gedagtewêreld te belyn met die gedagtes van God, is om die Geestelike stryd te begin voer.

Kragtig deur God! As jy wil beleef hoe God in jou lewe begin werk, begin jou gedagtewêreld belyn met sy waarheid!

Vestings neerwerp: Hierdie is die area waarin die vyand vestings opbou en gelowiges lewenslank deur leuens (en halwe waarhede) mislei en met vrees verlam.

Jou verstand is die grondgebied waarop elke geestelike geveg afspeel en gewen of verloor word!

Lees:

2 Kor.10:3-5

Mediteer:

  • Watter gedagtes koester jy wat belyn is met God se waarheid?
  • Watter gedagtes koester jy wat nie belyn is met God se waarheid nie?
  • Hoeveel gesprekke wen jy in die grondgebied van jou verstand?

Bid:

Here, dankie vir u Woord waar ek kan gaan lees hoe U oor ’n saak voel en dink. U Woord is ’n kragtige swaard in my lewe. Dankie dat ek altyd op u Woord kan steun en dat u Woord altyd doen waarvoor U dit uitstuur. Ek wil gehoorsaam wees aan U waarheid. Ek wil ook graag U openbaringe vir my eie lewe ontvang en op grond daarvan lewe. Heilige Gees, kom vul my met my Vader se openbaringe en wys my waar my gedagtes nie belyn is met God s’n nie. Dankie dat U altyd beskikbaar is om my te help: sodat ek my verkeerde gedagtes kan begin vasvang en aan U gehoorsaam word. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jou verstand is die grondgebied waarop elke geestelike geveg afspeel en gewen of verloor word.

Aanbidding:

Surrounded – Michael W. Smith

hands 4906663 1920

Dag 4: Bekeerde gedagtes

Gelowiges glo dikwels dat ons gedagtes die vleesdeel van ons liggaam is. Dit is ook wat ons in die verlede geleer het. Die brein bestaan uit biologiese weefsel en daarom koppel ons dit noodwendig aan die vlees.  In die skrif sien ons dat ons geveg nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die pyle wat deur die vyand afgevuur word. Hy doen dit deur brandpyle op jou denke af te vuur. Jou denke is die oorlogsveld waarop die geeswêreld sy aanslag loots. Daar waar die deure wawyd oop is, is waar die duiwel sy ingang vind. Hoeveel van ons het nie ’n verlede nie? Deur gebrokenheid en ’n onafgehandelde verlede vind die vyand ’n oop deur. Hierdie oop deure is beskikbaar op die grondgebied tussen jou twee ore. Dit is jou denke. Dit is ’n slagveld vir baie en ’n oorwinningsgebied vir talle ander. Dit is juis hier waar die geeswêreld ’n toegang tot jou vleeswêreld probeer kry.

Bekeer jou verstand na Christus. Jesus het uit 'n geestelike plek opgetree. Daar was iets geestelik en heilig aan sy gedagtes. Hierdie grondgebied van jou verstand moet belyn en bekeer word na dieselfde grondgebied waaruit Jesus Christus opgetree het. Wanneer jy glo dat jou gedagtewêreld vlees is, word jy onbereikbaar vir God se Gees. As jy leer verstaan hoe kragtig die wapens van die Gees is, sal jy agter Jesus kan aanloop om die oorwinning te smaak.

Lees:

2 Kor.10:3-5

Fil.4:8-9

Mediteer:

  • Hoe lyk die veld tussen jou ore? Is dit ’n slagveld of oorwinningsgebied?
  • Hoeveel keer moet jy jou gedagtes nagaan en aan Christus gehoorsaam maak?
  • Hoe kan jy dit regkry om jou gedagtes gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus?

Bid:

Here, dankie dat U besig is om my te leer hoe om oorwinning te smaak deur U in elke area van my denke te volg. As ek enige hooghartige aanval glo wat opgerig word teen my kennis van U, God, word dit ’n leuen wat my bind. Dankie Here dat U besig is om my los te maak van die leuens en dat ek gehoorsaam kan word aan U. Dankie dat ek vryheid en oorwinning kan smaak. In u heilige Naam, Jesus. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Neem elke verkeerde gedagte gevange en maak dit gehoorsaam aan Christus!

Aanbidding:

No One But You – Hillsong Worship

 pexels lisa 2412353 1

Dag 5: Jou refleksie

Hoekom het miljoene Israeliete, wat vir 40 jaar lank God se voorsiening beleef het en sy wonderwerkende krag aanskou het, in die woenstyn gesterf? Omdat hulle met hulle verstand terugverlang het na die vleispotte van Egipte. Hulle het toegelaat dat hulle vrese hulle rem. Hoe raak ’n mens ontslae van die binding van jou verlede? Paulus verwys na die kragtige wapens van God. Dat ons elke gedagte gevange sal neem tot gehoorsaamheid aan Christus.

In Fil.4:8 lees ons van spesifieke dinge wat ons moet bedink. Hierdie het niks met ons emosies of gut feel uit te waai nie. Dit is nie ’n gevoel van die regte rigting nie. Die oorlogsveld lê hoër op. Dit lê in die denke, die verstand. Ons moet ons gedagtes bekeer en die regte dinge begin bedink.

Terwyl ons die regte dinge bedink, kan dit ook nie net by die denke bly nie. Volgens Fil.4:9 moet ons ook die goeie dinge wat ons bedink, begin doen. Dan sal ons ook die regte dinge begin beleef – God se waarheid, beleef.

Jy is gemaak met vermoëns en kapasiteite wat Goddelik is. Dit is waarom die geesteswêreld probeer inkom en steel en verwoes. Dit gebeur op die grondgebied van jou verstand. Neem beheer en eienaarskap van jou denke sodat jy kragtig gebruik kan word in God se Hande!

 Lees:

2 Kor.10:3-5

Fil.4:8-9

Mediteer:

  • Oor 2 jaar is die persoon wat na jou terugkyk in die spieël die persoon wat gevorm is deur die denke van vandag.
  • Die lewe wat jy leef, is ’n refleksie van die gedagtes wat jy dink.
  • Wat sien jy wanneer jy in die spieël kyk? Waaraan dink jy?

Bid:

Here, ek kyk vandag vir myself en sien my raak soos U my sien. Ek bedink die gedagtes wat U oor my het. U het my goed gemaak en U is tevrede met my. U praat met my en openbaar u wil aan my. Ek het ’n roeping en omdat ek u waarheid ken en bedink, leef ek dit uit. U herinner my wanneer daar leuens as aanval geloots word en ek kan die wapens wat gesmee word met U waarheid oorwin. Dankie, vir u liefde. Ek gee myself oor aan u liefde en waarheid. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Wat ons dink, bepaal wie ons word. Ons lewens beweeg in die rigting van ons sterkste gedagtes. Die tipe goed wat ons die meeste oordink, bepaal ons lewens, wie ons word. – Craig Groeschel.

Aanbidding:

You are Good – Israel & New Breed