MINDSETS
Neville Goodchild
Beoefen toegangsbeheer oor jou toekoms!

Dag 1: Lanseerplatform (Launchpad)
Jou denke is die totale grondgebied waar die geestelike geveg oorwin word. Die meeste Christene verstaan nie dat ons denke en gedagtewêreld ‘n groot invloed het op ons geestelike volwassenheid nie. Geestelike volwassenheid word, inteendeel, so vergeestelik dat dit byna onverkrygbaar klink. Perspektiewe en idees dat jy 'n sekere iets moet doen of bereik voordat jy geestelik volwasse kan wees, of dat slegs sekere mense ‘gesalf’ is om 'n groot werk vir die Here te vervul, vul ons gedagtes en verhoed ons om met vrymoedigheid vir die Here te lewe.
Ons denke is die lanseerplatform (launchpad) van alle verandering in ons lewens. Die Heilige Gees begeer toegang tot jou denke sodat Hy kan begin om jou gedagtes te verander in goddelike gedagtes. So veg die vyand ook om toegang te kry tot ons gedagtes. Daarom noem Paulus in 2 Kor. 10:4-5 dat ons kragtige wapens het om geestelike vestings te oorwin en hy sluit dan af met die raad om ons denke te belyn met Christus.
Gedagtes speel 'n groot rol in die aktiveering van jou geloof. Positiewe denke aktiveer positiewe geloof, terwyl negatiewe denke negatiewe geloof (vrees) aktiveer. Wat jy kies om aan te dink, gaan bepaal hoe jou lewe verander.
Lees:
Mediteer:
- Dink jy dat jou denke en psige onder die vleeslike of geestelike domein van jou lewe val?
- Het jy al die Heilige Gees gevra om jou gedagtewêreld te kom verander?
- As ons praat van jou hart, is dit nie die fisiese hart wat bloed pomp nie, maar eintlik die samevatting van jou psige waaruit jou emosies, denke, waardes en karakter vloei. Vader God kyk na die hart. Hy is dus ingestel op die gesondheid van jou denke.
- Nooi die Heilige Gees in om jou gedagtes te verander en te beïnvloed om in lyn te kom met die gedagtes van Jesus.
Bid:
Vader God, dankie dat U begin het om my hart te verander en dat U aanhou om die goeie werk wat U begin het, te voltooi tot die dag wat Jesus terugkom. Heilige Gees, ek nooi U in my gedagtewêreld in. Ek vra dat U my sal help om my gedagtes te belyn met Jesus en die gedagtes wat Vader God vir my lewe koester. Ek bid dit alles in Jesus se naam! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees ontwikkel ware geestelike volwassenheid in my lewe wanneer Hy toegang tot my denke kry. Deur die krag van die Here kan ek dan goddelik begin dink en lewe!
Aanbidding:
Voice of Truth - Casting Crowns
Dag 2: Verbeelding
Verbeelding is dikwels 'n woord wat ons ver verwyderd hou van enige gesprek wat gaan oor geestelike volwassenheid of goddelike leefstyl. Tog is beelde een van die doeltreffendste metodes om ons gedagtes te verander. Wat anders is verbeelding dan as om beelde te skep wat ons denke beïnvloed?
Dink net aan die kere wat jy, nog voordat 'n gesprek plaasgevind het, reeds vir jouself oortuig het hoe die gesprek gaan verloop - omdat jou verbeelding jou gedagtes beïnvloed het. Of kere toe jy 'n positiewe en hoopvolle beeld gevorm het oor iets waarna jy uitsien. Hierdie verbeelding tas meer as net jou denke aan. Dit het 'n invloed op jou optrede.
Jesus het vir jou denke gegee en dit sluit jou verbeelding in. Saam met die Heilige Gees moet ons kies waarop ons ons verbeelding fokus. Jou verbeelding is 'n kragtige instrument om God se toekoms vir jou lewe te aktiveer. Net so is jou verbeelding ook 'n kragtige vesting wat jou kan uithou uit die toekoms wat God vir jou lewe beplan. Dit word 'n toutrekkery tussen geloof en vrees (negatiewe geloof).
Heb. 11:1 sê dat ons geloof 'n vaste vertroue is op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Ons sien dit nie met ons fisiese oë nie, maar ontvang 'n hoopvolle en godgewe beeld deur die Heilige Gees wat dan geloof aktiveer. Daarin vind ons visie, asook hoop op 'n goddelike toekoms wat die Here vir ons voorberei het.
Lees:
Mediteer:
- Watter gedagtes word in hierdie stadium die gereeldste deur jou verbeelding gevorm?
- Jy kan jou verbeelding beheer en belyn met God se wil en gedagtes. Aktiveer jou geloof met die krag van die Heilige Gees om die heeltyd daardie gedagtes te bevorder en ander gedagtes geen vatplek te gee nie.
- Watter goddelike drome of visie het die Here in jou lewe geopenbaar?
Bid:
Vader God, dankie dat U ons leer hoe om ons gedagtes te belyn met U wil en plan vir ons lewens. Gee ons die wysheid om ons verbeelding te gebruik om hoop te skep in ander se lewens en ook vir onself. Here Jesus, leer ons om ons verbeelding te gebruik in lyn met Filippense 4:8. Heilige Gees, dankie dat U vir ons krag gee om ons gedagtewêreld met die Here se wil te belyn. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kan my verbeelding gebruik om geloof te aktiveer en die Here se wil te kan sien en daarvolgens te leef!
Aanbidding:
See a Victory - Elevation Worship
Dag 3: Die fontein van die landskap
In Numeri 13 lees ons van die 12 verkenners wat uitgestuur is om die beloofde land te gaan verken. Na hul terugkoms en hul terugvoer oor die land aan die die volk van Israel, het Kaleb gesê dat hulle die land moet intrek, omdat hulle dit beslis in besit sou kon inneem.
10 van die ander manne het hieroor van hulle verskil. Volgens hulle, het hulle vir hulself soos sprinkane gelyk in vergelyking met die inwoners van die land. Hulle gaan selfs verder en sê dat hulle ook in die oë van die inwoners van die land soos sprinkane vertoon. Weens die vrees wat in hulle ontstaan het, het hulle in hul verbeeldiing 'n beeld gevorm wat nie gebaseer was op feite nie.
In hierdie verse in Numeri 13 word die woord “oë” vertaal uit die Hebreeuse Ayin wat “oog” beteken. Hierdie woord beteken ook “fontein van die landskap”. Die gesondheid asook die vrugbaarheid van die landskap word bepaal deur wat uit die fontein vloei. Wat ons sien of kies om te sien, gaan bepaal hoe die "landskap" van ons gedagtes en ons karakter lyk.
Beelde van vrees onderdruk die gedagtes van geloof in die Here wat in ons moet wees en dit veroorsaak dat ons op onself begin fokus. Beelde van hoop gaan geloof aktiveer en jou gedagtes verander na denke wat die Here verheerlik en jou laat vertrou op God se toekoms vir jou lewe. Kaleb en Joshua het gekies om God se toekoms te sien en dit het hulle lewens gered. In teenstelling hiermee het die ander 10 verkenners, en die res van Israel wat na hulle geluister het, vergaan weens die vrees wat hulle gedagtes gevul het.
Lees:
Mediteer:
- Wat vloei uit jou fontein uit? Koester jy gedagtes van hoop en geloof? Of word jy oorweldig met gedagtes van vrees?
- Jesus ken al die uitdagings wat jy beleef en Hy het self nog erger beleef toe Hy geveg het om sy liefde en genade aan jou bekend te maak. Hy verstaan wat jy deurgaan en die denkpatrone waarmee jy sukkel. Hy is jou oorwinning daarteen! Hy kan dit verander na gedagtes wat jou bemoedig en opbou.
Bid:
Vader God, dankie dat U altyd my benader met liefde en dat U wil deelneem aan my lewe as ‘n goddelike en wonderlike Vader wat net die beste vir my wil hê. Ek bely dat ek soms toelaat dat vrees my gedagtes begin oorheers en nie staatmaak op u goedheid en getrouheid nie. Jesus, kom en vernuwe my gedagtes. Herinner my aan u liefde en laat my gedagtes eerbaar raak vir U. Heilige Gees, dankie dat U my geloof kom versterk sodat ek my hoop in Vader kan plaas. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus is my oorwinning teen enige vrese en die Here het vir my die Heilige Gees gegee, wat nie ‘n gees van vrees is nie, maar die Gees van liefde, krag en selfbeheersing!
Aanbidding:
Graves Into Gardens - Elevation Worship
Dag 4: 20/20 Visie
Jesus het 'n antwoord vir visieloosheid. In die tydperk wat Hy hier op aarde mense bedien het, ontmoet Hy ‘n man wat blind is. Die mense van Betsáida het die man na Hom toe gebring en Hom gesmeek om die die man aan te raak. Jesus neem hom eenkant en bedien hom en vra die man of hy iets kan sien. Die man sê dat hy mense kan sien, want hy sien hulle soos bome rondloop.
In hierdie stadium het die man se visie begin verbeter, maar dit was nog onduidelik. Hy kon nie tussen mense en bome onderskei nie. Jesus het hom egter nie daar gelos nie, net soos Hy ook nooit vir ons sal agterlaat met werk wat nie afgehandel is nie. Jesus het die man weer aangeraak en daarna was die man se sig so herstel dat hy alles van ver af duidelik kon sien.
In hierdie skrifgedeelte van Markus 8:22-25 wil die Here vir ons wys dat:
- Wanneer God jou aanraak, gaan jy begin sien! Die Here gee goddelike visie wat dit vir ons soveel makliker maak om ons gedagtes en ons verbeelding te belyn met sy wil.
- Totdat jy nie van ver af duidelik begin sien nie, is God nog nie klaar met jou nie! Die Here wil in sy verhouding met jou deurentyd die volgende deel van sy ongelooflike goeie toekoms aan jou openbaar. Net soos dit in Fil. 1:6 geskryf is, gaan die Here, totdat Jesus teruggekom het, nie ophou met die goeie werk wat Hy in jou begin het nie.
- God is gemoeid met ‘wat’ en ‘hoe’ jy sien! Die Here wil hê ons moet duidelik kan begin sien sodat ons kan begin onderskei tussen waarheid en leuens, of tussen goed en sleg. Ons moet kan sien watter gedagtes in lyn is met en afkomstig is van die Heilige Gees, asook watter gedagtes deur die vyand geplant is. Dan sal ons die regte ‘saad’ in ons gedagtes kan water gee.
Lees:
Mediteer:
- Watter visie vir jou lewe of areas van jou lewe het die Here al vir jou gewys wat onlangs begin onduidelik raak het as gevolg van jou bekommernisse of vrese?
- Jesus word nie onkant gevang met enige iets wat in jou lewe gebeur nie. Hy is altyd gereed met 'n visie vir 'n sekere tydperk of seisoen van ons lewens en wil dit met jou deel sodat jy duidelik kan sien in daardie tyd.
- Ons hoor en sien slegs wat die Here met ons wil deel wanneer ons in verhouding met Hom lewe. Soek na die Here en na sy wil, en vra Hom om aan jou die visie wat Hy vir jou het, te openbaar.
Bid:
Vader God, dankie dat U my nooit los om op te hou groei nie, maar dat U deur u oneindige liefde en genade my voortdurend leer en help om meer te groei in U wil vir my lewe. Here Jesus, U is die lig van my lewe en ek wil U volg en U najaag in die rigting waarin U my lewe wil stuur. Wys vir my duidelik wat die visie is wat U aan my wil openbaar. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus is vir my 'n lig en herstel my visie na 'n duidelike plan wat die Here vir my voorberei het!
Aanbidding:
Here I am to Worship / The Call - Hillsong Worship

Dag 5: Grensdraad
Ons het die bemagtiging ontvang om ons gedagtes te kan verander en het geleer om ons verbeelding te gebruik om die Here te verheerlik en ons gedagtewêreld te belyn met sy koninkryk. Hierdie landskap moet egter beskerm word.
Net soos die boer se landerye deur grensdrade beskerm moet word om indringers uit te hou wat sy eiendom wil steel, moet ons ook vir ons denke grense stel ten opsigte van die tipe gedagtes wat ons daar toelaat. As ons in situasies beland wat sekere negatiewe gedagtes in ons laat ontstaan, moet ons eienaarskap neem en enige gedagtes wat nie in lyn is met die Here se wil nie, onmiddelik vasvat en verander.
Die oomblik wanneer sekere soort denke begin om 'n plek in ons gedagtes te kry, kan dit begin groei en gaan dit die gevaar inhou om 'n vesting te word. Daarom moet jy vir jouself bepaal watter gedagtes, drome en beelde jy wil laat groei en watter gedagtes jy wil uitroei. Die goeie nuus is dat, wanneer jy die Heilige Gees toelaat om in jou gedagtes te kom werk, dan kan jy jou denkwyse verander en goddelike gedagtes begin dink.
Lees:
Mediteer:
- Jy is die enigste een wat eienaarskap van jou gedagtes en jou verbeelding kan neem. As jy dit nié doen nie, stel jy jouself bloot aan enige mening, waarheid, leuen, beeld, droom of fantasie. Dit sal altyd na chaos lei.
- Jesus maak dit deur sy genade en liefde vir jou moontlik om bybelse beginsels in jou lewe toe te pas.
- God het deur sy Gees aan jou die toerusting gegee om nugter te dink en die waarheid deel van jou lewe te maak!
Bid:
Vader God, dankie dat U my nooit laat gaan nie. U plaas die drome vir u koninkryk in my hart en dit wat U voorberei, is net goed! Ek wil saam met U deelneem aan u planne. Gee vir my 'n visie wat in lyn is met dit waarmee U besig is. Here Jesus, ek wil my gedagtes aan U oorgee. Kom en verander dit en vorm goddelike waardestelsels en gedagtepatrone in my psige. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Aksie!
- Neem negatiewe gedagtes gevange en maak dit gehoorsaam aan die wil van God.
- Verander en vernuwe jou gedagtes om soos die gedagtes van Jesus te wees.
- Werp al jou bekommernisse op jou Hemelse Vader.
- Raak oor niks angstig nie, maar vertrou op die Here wat jou nooit sal verlaat of in die steek laat nie.
Aanbidding: