Go Deep 18 Julie 2021

Wie ek is versus wie ek wil wees

Albert Verwey

austin distel tLZhFRLj6nY unsplash

Dag 1: Wie ek wil wees

In vandag se tyd word ons baie blootgestel aan verskillende opsies. Die opsies wat ons die meeste konfronteer, gaan oor wie jy kan wees. Sosiale media maak dikwels die grootste indruk op ons lewens in hierdie opsig.

Een groep mense wil ons motiveer om 'n gedrewe en werkgerigte persoonlikheid aan te neem. In ander aanbiedings word ‘n konsep van “jy mag enige iets wees wat jy wil, selfs ‘n ander geslag” voorgehou. Uiteindelik is ons grootste uitdagings as gevolg van vriende en familie wat die naaste aan ons is. Ons sien wat hulle op hul Facebook- of Instagram-blaaie oplaai en ons begin om vergelykings tussen hulle lewens en ons lewens te tref.

Inteendeel, ons begin self fotos, boodskappe, of stories op te laai van die kant van ons wat ons graag wil hê mense moet sien. So begin ons 'n weergawe van onself te skep wat ons graag sou wil wees, in plaas daarvan dat ons ons ware self aanvaar en voorhou. Ons word so gedryf deur wie ons graag wil wees, dat ons begin vergeet wie ons is en dus begin ons om nie meer vanuit ons sterk punte te funksioneer nie, maar ons werk voortdurend aan daardie swak punte wat nie gemaak is om vanuit te funksioneer nie.

Die Here het vir jou baie spesifieke sterk punte, vermoëns en eienskappe gegee. Wanneer jy daaruit leef, sal jy vervuld en gelukkig voel in vergelyking met eienskappe wat nie deel van jou samestelling is nie, wat jy probeer uitleef en wat jou frustreerd of moedeloos laat voel.

Lees:

Ps. 139:14 NIV

Jes. 64:8

Mediteer:

  • Is daar areas in jou lewe waar jy probeer om 'n ander persoonlikheid of ander eienskappe voor te gee of na te streef?
  • Die persoonlikheid en eienskappe wat die Here in jou geplaas het, is deel van sy volmaakte plan vir jou lewe. Jou grootste vreugde sal gevind word in wie jy werklik is, en nie om soos ander te moet wees nie.

Bid:

Vader God, ek loof en prys U vir die liefde wat U vir my gee. Dankie dat U oor my dink en dat U my gevorm het. Ek bely dat ek nie altyd myself aanvaar as die persoon wie ek is nie. Ek plaas my vertroue in u handewerk wat my geskape het soos wat ek is en ek kies om te lewe volgens u ontwerp. Wys my die dele wat U wil verander en help my om slegs daarop te fokus en nie op ander areas wat U nie wil verander nie. Ek bid dit in Jesus se Heilige Naam! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kan vol van vreugde wees wanneer ek uitleef wie ek geskep is om te wees!

Aanbidding:

Who You Say I Am - Hillsong Worship

dietmar becker 8Zt0xOOK4nI unsplash

Dag 2: Die seën van Esau

Selfs in God se woord vind ons voorbeelde van mense wat deur God gekies is met 'n groot roeping en 'n groot doel en wat nogtans hulle identiteit probeer vind het deur soos die mense om hulle te probeer wees. Jakob begin sy lewe met 'n poging om sy broer se plek in te neem. Hy het aan Esau se enkel vasgehou toe hulle gebore is en vir die res van sy lewe het hy probeer om Esau se posisie, as die eersgeborene, te vat.

Hierdie strewe om iemand te wees wat hy nie is nie, het skade veroorsaak aan die verhoudings met sy naastes. Hy het op 'n punt gekom waar hy beplan het hoe hy sy broer se eersgeboortereg, naamlik hulle pa se seën, kan ontvang. Hy het eers sy broer omgekoop met kos om hierdie reg aan hom oor te gee. Daarna het hy homself soos Esau vermom en na sy pa gegaan om die seën in Esau se plek te ontvang.

Jacob het probeer om seën te ontvang deur voor te gee om iets te wees wat hy nie is nie. Die gevolge hiervan was dat hy van sy broer af moes vlug en sy familie en tuiste moes verlaat sodat hy nie om die lewe gebring sou word nie. Alhoewel ons dalk kan redeneer dat hierdie keuse van Jakob eerder seën van hom af verwyder het, sien ons dat die Here uit sy groot genade in die jare wat gevolg het steeds vir Jakob geseën het wat sy finansies en verhoudings betref.

Jou strewe om iemand te wees wat jy nie is nie, kan groot skade veroorsaak. Miskien het dit al in jou lewe gebeur, maar die Here is met jou en sy genade is groot. Hy sal jou steeds liefhê en Hy staan gereed om vir jou te wys wie jy werklik is en hoe baie seën daar vir jou wag deur in jou ware identiteit te lewe.

Lees:

Gen. 27:14-19

Rom. 8:28

Mediteer:

  • Is dit die moeite werd om jouself oor te gee aan 'n valse lewe en te kry wat jou hart begeer?
  • Die Here beplan baie meer dinge vir jou wanneer jy in jou ware identiteit lewe. Hy sal altyd liefde aan jou bewys, maar sy seën wag vir jou om jouself te wees.

Bid:

Vader God, dankie dat U my nie verlaat of in die steek laat nie. Here Jesus, in U vind ek uit wie ek werklik is. Ek kies om U te volg en U te leer ken sodat ek by U kan hoor en ontdek wie ek gemaak is om te wees. Heilige Gees, help my om nie vergelykings te tref met die mense om my nie, maar my oë gefokus te hou op Jesus. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is geen gevolge wat nie deur die Here verander word kan word in dit wat goed en voordelig vir my is nie!

Aanbidding:

Reckless Love - Cory Asbury

ben white bEbqpPeHEM4 unsplash

Dag 3: Die seën van God

Jakob bring 'n groot deel van sy lewe in 'n vreemde land deur nadat hy van sy broer weggevlug het. Jare later, nadat hy 20 jaar se harde werk aan Laban gegee het, beleef hy dat Laban vyandiggesind geraak het teenoor hom weens die seën wat God vir hom deur Laban se dogters en met sy vee gegee het. Die Here praat toe met Jakob in 'n droom en sê vir hom om terug te gaan na sy huis toe.

Vir 'n tweede keer in sy lewe moes Jakob vlug. Hierdie is ook die tweede keer in Jakob se lewe waar hy seën sou ontvang. Een spesifieke aand, terwyl hulle besig was om te trek, bly Jakob aan die eenkant van die Jabbokrivier agter. Daar begin hy stoei met 'n man wat hy nie ken nie. Hy stoei deur die nag tot dagbreek toe met hierdie man.

Met dagbreek het die man vir Jakob gesê om hom te los, want Jakob het aan hom vasgeklou en dit het begin lig word. Jakob sê vir die man dat hy hom slegs sal los as die man hom seën. Hierop vra die man vir Jakob wat sy naam is, en hierdie keer het hy nie die verkeerde naam gegee nie, maar gesê dat hy Jakob is. Toe seën die man vir Jakob en sê vir hom dat hy van daardie oomblik af nie meer Jakob is nie, maar Israel genoem sal word.

Die oomblik dat Jakob homself aanvaar en ophou om voor te gee om enige iemand anders te wees, seën die Here hom en gee vir hom 'n beter goddelike identiteit. Die enigste keer wat Jakob moes hoor dat hy iemand anders moet wees, was toe die Here bevestig wie hy werklik gemaak was om te wees.

Lees:

Gen. 32:22-29

Heb. 12:2

Mediteer:

  • Wanneer jy jouself aanvaar en opreg voor die Here kom soos wat jy is, gee die Here vir jou 'n beter identiteit. Wees lief vir die persoon vir wie Jesus reeds lief was toe hy meer as 2000 jaar terug vir jou gesterf het.
  • In Jesus kan jy werklik ontdek wie jy gemaak is om te wees. Dit sal nooit wegneem van wie jy tans is nie, maar deur die Heilige Gees verbeter dit wat die Here reeds in jou geplaas het en daardeur ontdek jy ook ander nuwe eienskappe van jouself.

Bid:

Vader God, ek kom voor U net soos ek is. Dankie dat u Vaderhart my net so verwelkom en aanvaar. In U word ek getransformeer en begin my lewe meer as ooit tevore betekenis te kry. Dankie dat ek in u, Here Jesus, vreugde vind met wie ek is en hoe ek is. U lei my na Vader se wil toe en soos Hy my geskape het om te wees. Help my om die identiteit wat U in my lewe wil skep, te ontdek. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here het sy geregtigheid in my identiteit, karakter en persoonlikheid belê en sal my help om dit te ontdek in 'n verhouding met Hom!

Aanbidding:

Nothing Else - Cody Carnes

Capture18jul2021 2

Dag 4: Die God van Abraham, Isak en Jakob

God het meer gedoen as om vir Jakob 'n nuwe identiteit in God te gee. Toe Jakob gestoei het met die man en gevra het wat die man se naam was, het hy geen antwoord ontvang nie. Nogtans het hy besef dat dit God was wat daar saam met hom was. Volgens baie teoloë was dit moontlik 'n vorm van Jesus wat met Jakob gestoei het. Die rede waarom die man nooit geantwoord het nie, was omdat dit God se missie was om aan Jakob te openbaar wie hy is.

Alhoewel Jakob nie hierdie antwoord gekry het nie, ontvang Moses die antwoord baie jare later. Weereens in 'n vreemde land, lees ons van Moses wat 'n ontmoeting met God by die brandende bos het. Hy ontvang die opdrag om die Israeliete uit Egipte te bevry, maar Moses vra vir God hoe hy na God moet  verwys wanneer die Israeliete vra wat God se naam is.

Eerstens antwoord die Here, “Ek is wat Ek is." Verder sê die Here vir Moses, “Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur.”

Wanneer God sê dat Hy die God van Jakob is, in stede van die God van Israel, bevestig die Here dat hy mense kies wat nie lyk asof hulle aanvaarbaar of waardig sal wees nie. God kies vir Jakob, die man wat nie die reg gehad het om seën te ontvang nie en Hy seën hom nogtans.

Lees:

Exo. 3:13-15

Jes. 41:13

Mediteer:

  • Die Here was voorheen jou God, ten spyte van wie jy was. Hy is nog steeds jou God, ondanks wie jy tans is. Hy sal ook aanhou om vir altyd jou God te wees, maak nie saak wie jy word nie.
  • Die enigste plek waar ons kan verander en verbeter, is in die genade en aanvaarding van ons Hemelse Vader.

Bid:

Vader God, dankie dat U van die begin af besluit het om my te kies en my uit te soek. Sonder u genade en liefde kan ek nie volkome myself wees nie. Dankie dat ek by U 'n veilige plek kan vind om myself te wees. Heilige Gees, transformeer my lewe en verander my volgens Vader se wil. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here het gekies om my God te wees, selfs toe ek verwyderd was van Hom af en Hy sal altyd my God wees!

Aanbidding:

Our God - Chris Tomlin

Capture18jul2021 3

Dag 5: Die God van jou familie, vriende en kennisse

Die Here se missie was nooit dat ons deur sy liefde en genade aanvaarding kan kry vir wie ons is en dat dit daar moet stop nie. Die Here wil toelaat dat elkeen van ons na Hom terugkeer sodat ons deel kan word van sy oorspronklike plan, naamlik dat die mensdom in verhouding met Hom sal wees.

Dit is nodig dat jy eers die aanvaarding kry van wie jy is. Soos jy dan vir  jy God meer toelaat om oor jou te spreek, jou identiteit te definieer en jou te transformeer, is die volgende doel dat die fokus begin skuif na die mense om jou. Hy wil hê dat sy liefde, genade en aanvaarding vir jou jou sal aktiveer om dieselfde aan jou naaste te gee.

Begin by jou familie. Aanvaar die persoonlikhede en eienskappe van jou geliefdes sodat hulle ten volle hulleself kan wees. Wees lief vir jou vriende net soos wat hulle is, selfs al het hulle snaakse geaardhede of persoonlikhede wat glad nie ooreenstem met joune nie. Selfs t.o.v. vreemde mense, of mense wat jy nog nie goed ken nie, moet jy altyd gereed wees om liefde te gee, genade te bewys en mense te aanvaar.

Selfs aan diegene wat  jou  verraai of in die steek laat, moet jy liefde en genade bewys. Dit gaan moeilik wees, maar onthou dat hulle net seermaak omdat hulle self seer het. Vertrou op die Here om vir jou die krag te gee om lief te hê, te vergewe en te aanvaar.

Lees:

1 Kor. 13:4-7

Luk. 6:35

Mediteer:

  • Het jy die vrymoedigheid om na die Here toe te kom met probleme, foute en al?
  • Op watter manier kan jy hierdie liefde en aanvaarding aan jou naaste oordra?
  • Jesus het alle skeiding tussen jou en God verwyder toe Hy gesterf het. Jy kan met volle vrymoedigheid na die Here toe gaan. Hy wil nie in verhouding wees met jou om jou te straf nie, maar om jou te vergewe en liefde en genade te bewys.
  • Die Here wil nie hê dat sy liefde by jou moet stop nie. Hy gee aan al sy kinders die bediening van versoening, wat beteken dat ons deur liefde en genade ook verhoudings kan herstel en mense na Jesus toe lei.

Bid:

Pappa God, U het nog altyd 'n plan gehad vir my lewe, en dit wat U beplan, is altyd goed. Ek loof en prys U, want U is waardig om geprys te word vir wie U is. U is die groot Almagtige God en U is ook my Hemelse en liefdevolle Vader. Here Jesus, lei my om soos U lief te hê en my naaste en ook vreemde mense te aanvaar en lief te hê. Ek bid dit in Jesus se Heilige Naam! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here se liefde stop nie by my nie. Deur my sal Hy baie ander mense laat ontdek dat Hy hulle liefhet met liefde wat onbeskryflik groot is!

Aanbidding:

What a Beautiful Name w/ Break Every Chain - Hillsong Worship