Go Deep 21 September 2025

DIS GEESTELIK – Meer geestelik as wat jy dink

Neville Goodchild

Hoe tree ek op as ek besef “Hierdie is geestelik”?

 

Dag 1: Die Wederkoms

Sy wederkoms is voor die deur, dit is goeie nuus, wonderlike nuus!

Met die voorspellings wat wêreldwyd die rondte doen, is dit belangrik om net eers by hierdie gesprek stil te staan en God se waarheid vas te maak. Ons het nie nodig om hierdie gesprek te vermy, te ignoreer of vreesagtig te word nie. ’n Geesvervulde gelowige reageer wanneer daar gesprekke is oor die koms van Jesus Christus, nie op ’n sarkastiese, ’n ligsinnige of ’n afbrekende manier nie. Ons wil reageer omdat ons sekerheid het en in vrede is. As gelowiges wil ons op ’n plek wees waar ons harte en sinne bewaar word. Ons wil in die vrede wat alle verstand te bowe gaan leef (Fil.4:7).

Om in vrede te wees beteken dat ons in die volmaakte liefde van God staan. Ons staan reeds in ‘n perfekte verhouding met God, omdat ons vrede het met God deur Jesus Christus. As ons nie in so ’n plek geposisioneer is nie, beteken dit dat ons ons nog nie bekeer het, en in verhouding met God gekom het nie. Om in verhouding met God te staan, in Sy volmaakte liefde, bring vir ons vrede, vrees word uitgedryf en ons het vrede en vrymoedigheid oor die oordeelsdag (1Joh.4:17), want volmaakte liefde verdryf die vrees (v.18).

Daar is wêreldwyd angstigheid en onvrede oor die wederkoms. Vrees word aangejaag. Wat nodig is dat ons weet in hierdie tye, is om waaksaam te wees, en die Woord te ken, sodat ons nie mislei word nie.

Om gereed te wees beteken nie dat ons ’n datum het nie, en dit beteken ook nie dat ons broers en susters afbreek en beledig nie.

In Matteus 24 lees ons van klomp tekens van die eindtyd en die verdrukking wat sal gebeur. Maar die Woord sê nie dat ons hierdie tekens moet gebruik om voorspellings te maak nie. Inteendeel, Jesus sê baie duidelik vir ons dat nie die engele nie, en ook nie Hy Self weet watter dag en watter uur dit sal gebeur nie. “MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen” (v.36). “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie” (v.42).

Jesus se eie woorde is dat niemand weet nie en Hy het nie Sy plan verander hieroor nie. Die probleem met voorspellings wat mense maak, is dat dit nie konsekwent is met die Woord nie. Dit werk teen die Woord en teen die bedoeling van dit wat Jesus ons leer.

Jesus verduidelik dat Hy soos ’n dief in die nag sal kom. As iemand weet wanneer dit is, dan sal daardie persoon dit probeer keer (v.43). Daarom, sal die koms van die Seun wees soos in Noag se tyd (v.37-39).

Ons moet nie probeer om Jesus se woorde te verander nie, om God se wil en bedoeling te probeer verander of te verdraai nie.

 Wat moét ons dan nou doen?

“Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie” (v43-44).

Die kerk het nodig om te waak, om reg te leef en gereed te wees. As jy weet wanneer Jesus kom, sal jy onnatuurlik leef, jy sal nie reg optree nie. Jy het nodig om te leef volgens God se wil, en ons sien dat Jesus vir ons God se wil duidelik maak in vers 45-51.

Jesus sê jy is gelukkig, wanneer Hy kom soos ’n dief in die nag, en Hy vind jou besig met dit waaroor Hy jou aangestel het. As ons vermoed dat die wederkoms voor die deur is, moet ons nie ophou doen wat ons moet doen nie, ons moet nie alles los nie. Ons moet nie gereed staan met ’n tas nie. Ons moet besig wees met ons werk, want dan sal Hy tevrede wees.

Sy wederkoms is voor die deur, dit is goeie nuus, wonderlike nuus! Dien die Here, leef reg, daar is geen vrees nie!

Lees:

Mat.24

Mediteer:

  • Hoekom is dit goed dat ons nie weet wanneer die Here kom nie?
  • Hoe weet jy of jy gered en gereed is?
    • Bekeer jou, word gedoop en ontvang die Heilige Gees
  • Wat is jou werk, jou roeping? Waaroor het God jou aangestel? Doen jy wat jy moet doen tot die beste van jou vermoë?

Bid:

Vader, ons leeftyd op aarde is so kort en gaan vinnig verby. Help my asseblief om op die regte dinge te fokus en om besig te wees met dit wat U vir my op aarde gegee het en my oor aangestel het. Dankie vir U vrede wat heers oor my hart en gedagtes en dat ek nie vrees het oor die wederkoms nie, maar kan opgewonde wees oor daardie dag. Ek wil leef volgens U wil. Help my waar ek sukkel, en om besig te wees en te fokus op die taak wat U vir my gegee het, wanneer U kom. In Jesus se Naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek weet Hy kom, ek het vrede met God en vrede in my hart en verstand, daarom doen ek wat ek moet doen!

Aanbidding:

No Body – Elevation Worship

Dag 2: Goddelike Orde

Daar is geestelike realiteite in ons lewens, seisoene waarin ons minder vleeslik moet optree.

As gelowiges het ons ander waardes, wanneer dit kom by die geestelike goed. Wanneer ons in ’n situasie van konflik of konfrontasie kom, wanneer die vyand terugdruk of bedreig, of ons toekoms of gesin bedreig, dan handhaaf ons as gelowiges ander standaarde as die wêreld. Die wêreld maak toe, beskerm, raak aggressief, val aan met woorde en beledig, herinner jou aan jou verlede. Dan is dit meer geestelik as wat jy dink, en jy moet minder vleeslik optree.

Om geestelik op te tree beteken nie dat jy in arrogansie dinge kwytraak nie. Geestelik, is wanneer jy vas staan in jou posisie in Christus en in jou binnekamer op jou knieë is. Dít is waar geestelike oorlogvoering plaasvind. In Christus is jy nie sterk in jou eie krag nie, maar sterk in die krag van Sy sterkte. Christus het reeds oorwin, en daarom kan jy in Christus bly, want dit is die veiligste plek om te wees. In Christus het jy nie nodig om jou eie swaard uit te trek om oorlog te maak nie. Jy het nie nodig om jouself te verdedig, deur slim woorde en ’n sekere gesindheid om die vyand af te probeer skrik nie. Om buite Christus sterk te probeer wees, bring skade.

Baie gelowiges maak die fout om juis wanneer dit lyk of daar fout is, meer vleeslik te wil optree, dinge in eie hande te neem en rasionele denke te gebruik om hierdie dinge uit te sorteer. Hierdie is die verkeerde kanaal en nie jou konneksie met die geeswêreld nie.

In 2 Korintiërs 10, sien ons dat ons as gelowiges in tye van konflik tussen mense, moet optree met Christus se sagmoedigheid en vriendlikheid. Dan kan jy skanse aftrek en sterk vestings neerwerp, in die Gees. Dít is hoe jy gedagtes gevangene neem en onderwerp aan God.

Ons sien ook in dieselfde gedeelte, dat ons dinge geestelik kan benader wanneer ons gehoorsaamheid volkome is. Daar is sekere dinge in die natuur wat reg gedoen moet word. Jy kan nie byvoorbeeld onderneem om ’n huurkontrak uit te neem, en dan die huurgeld gebruik en spandeer op ander lekker dinge soos om vakansie te hou nie. Aan die einde van die maand, en elke maand, sal die verhuurder die kostes van die eiendom se huur verhaal. Indien jy dan nie kan betaal nie, sal dit dan nie reg wees om te probeer om skanse af te trek en die rekening wat betaal moet word onderhewig probeer maak aan die wil van God nie.

As jy nie gehoorsaam is aan die natuurlike orde nie, kan jy nie geestelik reageer nie. Jy moet die dinge doen wat natuurlik vereis word. Jy kan nie geestelik oorlogvoer as jy nie jou natuurlike verantwoordelikhede nakom nie. As jy weet jy is nie gehoorsaam nie, word gehoorsaam. Jou aksies en jou gehoorsaamheid is jou getuienis. Dan, wanneer jy gehoorsaam is en die aanslag is steeds daar, dan kan jy dinge sien as ’n geestelike aanslag en dinge op ’n geestelike manier hanteer. Dit is dán wat jy na jou binnekamer toe gaan en geestelik optree deur gebed.

Efesiërs 6:13-18 bevestig dit wat ons in 2 Korintiërs 10 lees:

“Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly”.

Om alles te volbring is die natuurlike verantwoordelikhede en orde wat reg moet wees. Ons kan nie verkeerd leef en dan soos Christene probeer weerstand bied nie. Dit is misbruik van geestelike wapens vir jou eie voordeel. Maak seker jy kom jou deel van die ooreenkoms ná en wandel in gehoorsaamheid.

As daar verhoudingskonflik in jou lewe is wat uitgesorteer moet word en reggemaak moet word, gaan maak dan reg, voordat jy geestelik begin oorlog voer. Staan dán vas.

Lees:

Ef. 6:13-18

2 Kor. 10:1-6

Mediteer:

  • Is daar tye wat jy weet jy is nie gehoorsaam nie? Wat doen jy hieraan?
  • As jy wonder of dit geestelik is of nie, kyk of jy in gehoorsaamheid wandel. Jy weet wanneer jy ongehoorsaam is. Meet jou aksies aan die Woord.
  • Hoekom moet jy nie deelneem aan geestelike oorlogvoering, as jou gehoorsaamheid nie volkome is nie?
  • In watter van jou gesin- of familie-verhoudings beleef jy konflik wat jy nodig het om uit te sorteer?

Bid:

Vader, dankie vir die orde wat U daargestel het, wat ’n belangrike doel het vir ons as mense. Dankie vir die geestelike wapens wat U ook daargestel het, sodat ek kan heers hier op aarde. Ek wil nie die geestelike wapens wat U gegee het misbruik en skade bring nie. Help my asseblief om in gehoorsaamheid aan U te wandel, met wysheid en insig, en om alles nodig te volbring en staande te bly. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef in gehoorsaamheid aan God se orde en daarom kan ek in die gees deelneem.

Aanbidding:

The Narrow Way – Steffany Gretzinger

Dag 3: Watter swaard gebruik jy?

Ons as gelowiges gebruik nie die wapens van die wêreld nie, maar die wapens van die Gees.

Wanneer Jesus in die nag gearresteer word, maak Hy dit duidelik dat Hy daar is om God se wil te manifesteer.

Jesus is Geestelik en verstaan die dinge van die Gees. Toe die soldate by die tuin opdaag, het Jesus uitgegaan om hulle teggemoet te gaan en gevra na wie hulle opsoek is. Hy vra die soldate twee keer en hulle antwoord hom beide kere dat hulle opsoek is na “Jesus, die Nasaréner” (Joh. 18:4-8).

Jesus wandel in die Gees en daarom is Sy reaksie in lyn met God se wil. “Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan — sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie” (v.8-9). Dit was God se wil gewees dat geen van die ander dissipels sterf nie.

Wat gebeur wanneer ons nie verstaan hoe om in die Gees oorlogvoering te doen nie?:

Simon Petrus wat gesukkel het om in die gees te onderskei, het in die vlees opgetree en ’n swaard uitgetrek om Malchus dood te maak (v.10). Hy het egter gemis en Malchus se oor afgekap.

Jesus hanteer hierdie oomblik op ’n Geestelike manier. “Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” (Joh.18:11). En in die volgende oomblik maak Jesus vir Malchus ’n nuwe oor. Dit is hoe Jesus in die Gees wandel en konflik hanteer wanneer Hy op pad is om Sy lewe te verloor. Hy raak die een wat oppad is om Hom om die lewe bring aan en genees hom.

God wil hê dat ons moet begin verstaan dat die geestelike wapens tot ons beskikking, anders is as die swaarde van vlees en yster ons monde waarmee ons onsself beskerm of verdedig, mense bedreig en op hulle plek sit, terug praat, beledig, standpunte forseer en uit ons eie krag beweeg. Dit is wat die wêreld gebruik en presies wat Petrus gebruik het...hy kap terug!

Jesus gebruik egter die wapens van die Gees om in God se wil te wandel en te bly wandel. Hy hanteer dinge anders, want Hy verstaan dat God se wil moet geskied en Hy kies God se wil vir Sy Koninkryk.

Lees:

Joh. 18:8-11

Mediteer:

  • Wat was Petrus se bedoeling toe hy die swaard gegryp het?
  • Watter swaard gebruik jy wanneer jy bedreig word?
  • Hoe verskil die swaard van die Gees en die swaard van die vlees?
  • Hoe kan jy onderskei watter swaard jy mee besig is?

Bid:

Vader, ek wil volgens U wil leef en nie my vleeslike instinkte volg nie, maar gehoorsaam wees aan U en aan die leiding van U Gees. Help my asseblief om te onderskei waarop dit neerkom en om te weet wat U wil is in elke oomblik. Om nie die Gees te onderdruk nie, maar in die vlees gehoorsaam te word aan U Gees en die geestelike wapens wat U gegee het, kragtig te gebruik tot U eer. In Jesus se Naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek gebruik die swaard van die Gees om kragtig in die wil van God te wandel.

Aanbidding:

God I Look to You – Jenn Johnson

Dag 4: Wees gewapen

Jy het seker al gehoor van mense wat vertel van die wapenrusting en hulle roetine om elke oggend in hul verbeelding te sien hoe hul die wapenrusting aantrek. Miskien het jy dit afgelag, of dalk ook in jou soeke na sin uit hierdie Skrif oor die wapenrusting, dit getoets en ook probeer sien hoe jy dit aantrek. Die bedoeling van hierdie Skrif is nie dat jy jou verbeelding moet gebruik, sodat jy geklee kan wees nie. Hierdie is ’n stand wat jy inneem, ’n posisie wat jy in Christus het, waarmee jy reeds geklee is. Jy moet verstaan wie jy is in Christus. Jy moet verstaan dat jy sekere geestelike wapens het wat jy moet gebruik. Hierdie wapens help jou om vas te staan:

“Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:13).

Hoe staan jy vas in uitdagende tye? Jy moet weerstand bied met waarheid, jou geregtigheid, bereidheid om die goeie boodskap te deel, jou geloof en verlossing, die Woord, en dit alles in gebed.

“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord” (Ef. 6:14a). Dit beteken dat jy die waarheid moet vasmaak soos jy ’n belt om jou vasmaak. In moeilike tye sal jy nie vrymoedig kan wees as jy nie die waarheid het nie. Jy sal onseker wees en rondval. Daarom, wees verstandig en omgord jou met die waarheid!

“met die borswapen van die geregtigheid aan” (Ef. 6:14b). Jou geregtigheid wys op die toestand van jou hart. Jou geregtigheid is gesetel in jou nuwe identiteit. Jy is en staan in geregtigheid voor God deur Jesus Christus, en jy kan reg glo, want jy is in die regte stand met God. Mense wat nie reg is nie, kan nie reg glo nie. Dit is ’n hart ding. Om in geregtigheid te staan beskerm jou hart. “want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom.10:10). Die borswapen van die hart is jou geregtigheid. Weet wie jy is in die Here, sodat jy kan glo wat jy moet glo. “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet. 1:23). – Hierdie is jou borswapen wat jou help om gevestig te wees in jou identiteit in die Here, en om reg te glo.

“en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede” (Ef. 6:15). Wat is jou gesindheid in moeilike omstandighede? Of in tye van verhoudingskonflik? Is jou ingesteldheid om die Evangelie van vrede te bring? Die Evangelie is die boodskap, die goeie nuus van vrede. Dit is om in alle omstandighede, vinnig te wees en bereid te wees om vrede te bring. Om vinnig jammer te sê en versoening te bewerk. Hierdie is ’n wapen, want dit hou die vyand uit. Dit is waarom die Woord verwys na die geseënde voete wat die goeie nuus, die goeie boodskap bring. Elke oomblik wat jy wag en nie bereid is om vrede te bring nie, gee jy vir die vyand vatkans. Dit is die prominentste oop deur in mense se lewens. Wees vinnig om vrede te bring!

“Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Ef. 6:16). Pyle van die vyand wil jou oortuig dat jy dit nie gaan maak nie, en wil jou verswak. Daarom moet jy jou geloof juis opneem in hierdie tye. Jou geloof is jou skild wat die brandpyle keer.

“En neem aan die helm van verlossing” (Ef. 6:17a). Hierdie is die wete dat jy verlos is deur die bloed van Jesus Christus. Jy is vry en nie meer gebind nie.

“en die swaard van die Gees — dit is die woord van God” (Ef. 6:17b). Hierdie swaard is nie die swaard van die vlees nie, maar die swaard van die Gees. Om op die Woord te steun ten alle tye is die manier waarop jy veg. Die Woord sny soos ’n swaard deur alles. Hierdie swaard waarmee jy veg is nie jou eie nie, dit is nie ’n menslike swaard nie, maar die swaard van die Gees. Dit behoort nie aan jou nie. Dit is daarom belangrik om nie hierdie swaard te hanteer soos jy dit sou wou doen nie, maar om seker te maak jy hanteer dit soos wat die Gees dit wil gebruik.

“terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Ef. 6:18).

Dit is nie nodig om in ’n roetine te kom waar jy probeer om die wapenrusting aan te trek nie. Dit wapenrusting is nie ’n verbeeldingspel nie. Dit is jou posisie in Jesus Christus. Beklee jou met Sy waarheid, Sy geregtigheid, Evangelie van vrede, Geloof in Hom, Jou Verlosser, die Woord en doen dit deur na jou binnekamer te gaan en te bid!  

Lees:

Ef. 6:13-18

1 Pet. 1:23

Mediteer:

  • Is jy geklee in die volle wapenrusting?
  • Hoe kry jy die volle wapenrusting?
  • Is daar ’n gaping in jou mondering?
  • Wat moet jy doen om die gaping te addreseer?

Bid:

Vader, dankie vir ’n ongelooflike wapenrusting in die Gees waarmee ek geklee kan wees. Dankie dat dit nie uit my eie krag en swaard is wat ek hoef te wen nie, maar U het reeds oorwin en ook vir my hierdie tools gegee. Help my asseblief om hierdie volle wapenrusting vas te maak waar nodig en nie te vergeet daarvan nie. Ek wil altyd reg wandel, dit reg aanwend, tot U eer, sodat ek kan vasstaan, nie uit my eie krag nie, maar uit U krag en U wysheid. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God beklee my met Geestelike wapens wat ek vasmaak en waarmee ek vasstaan volgens God se wil!

Aanbidding:

For the One – Brian & Jenn Johnson

Stand Firm – Joshua Luke Smith

Dag 5: Terwyl

“terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Ef. 6:18).

In Grieks dui hierdie term terwyl daarop dat die geestelike wapens geskied deur middel van gebed in die Gees. Dit word in gebed in die Gees toegepas. God is Geestelik en Sy tyd, Sy hemelse (Kairos) tyd, is anders as ons aardse (Kronos) tyd.

Die enigste manier om ‘n moeilike tyd te hanteer, is deur hierdie tyd Goddelike tyd te maak. Die skild, die swaard, die borsharnas, die helm, die skoene en belt werk terwyl.....terwyl julle bid. Dit is die omgewing waarin hierdie wapens toegepas word. Dit is hoe dit werk.

Ons verander nie die geestelike, deur vleeslike swaarde rond te swaai, of kwaai boodskappe oor te dra nie. Die wapens van die Gees is ook nie daar om verkeerd toe te pas nie. Dit is hoekom gebed van kardinale belang is. Tyd in gebed begin om kronologiese tyd van konflik in jou verhoudings te verander in Goddelike tyd; dit begin om aardse gebrokenheid en frustrasie te verander in Goddelike deurbrake; en ons begin sien dat dinge eintlik baie meer Geestelik is as wat ons gedink het. Dit is hoe ons seisoene van ons lewens verander.

Pas hierdie wapens in jou gebedslewe toe. As jy nie weet hoe nie, kom bid saam met ons gemeente en kom leer hoe dit werk.

Lees:

Ef. 6:13-18

Mediteer:

  • Besef jy hoe kragtig die gebed van ‘n gelowige is?
  • Hoe lyk jou gebedslewe?
  • Het jy oop gesprekke met Vader?

Bid:

Here, ek wil graag leer hoe om te bid, om tyd in gebed te spandeer, sodat ek hierdie Geestelike wapens kan begin toepas. Help my asseblief om deur te druk en tyd te maak vir my binnekamer, in U Teenwoordigheid. Kom leer my die dinge van U Gees, en hoe om vas te staan. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek pas die Geestelike wapens wat God my gegee het toe, in my binnekamer deur gebed!

Aanbidding:

God of Revival – Brian and Jenn Johnson

Surrounded (Fight My Battles) – Michael W. Smith