HOE GOD HARTE GENEES MET GOEDHEID
De Villiers Nel
In een woord vasgevang
Dag 1: חֶסֶד
Ons staan hierdie week stil by die een Hebreeuse woord uit Psalms 23:6, wat God se getrouheid die beste beskryf. Dit is die woord “khesed”. Hierdie woord het ’n ryke betekenis wat nie sommer maklik in afrikaans of engels omskryf kan word nie:
“Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae” (AFR53).
“U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae” (AFR83).
“Waarlik, goedheid en goedertierenheid sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal vir ewig in die huis van die HERE woon” (CAB23).
“Surely goodness and mercy and unfailing love shall follow me all the days of my life, And I shall dwell forever [throughout all my days] in the house and in the presence of the LORD” (AMP).
“Surely your goodness and love will follow me all the days of my life, and I will dwell in the house of the LORD forever” (NIV).
“Your beauty and love chase after me every day of my life. I’m back home in the house of GOD for the rest of my life” (MSG).
Hierdie woord kom 255 keer in die Ou Testament voor. Dit word herhaaldelik gebruik om God se liefde vir ons te beskryf, maar is soveel groter as die beperkinge van ons taal. Die woord se breedvoerige betekenis word moeilik omskryf as troue liefde, guns, liefde, verbondsliefde, lojaliteit, lovingkindness, everlasting love, unfailing love, grace, tender mercy, forgiveness, truth, faithfullness. Al hierdie woorde vorm saam hierdie een hebreeuse term “khesed”, en elke woord gee ’n klein deeltjie of aspek van hierdie woord.
Die 33 vertaling praat van goedertierenheid. Hierdie term beteken:
“die goedheid wat iets laat floreer”
“die goedheid wat iets laat groei”
“die goedheid wat iets voorspoedig maak”
“die goedheid wat maak dat iets bot, dat die bloeisels uitkom”.
Goedertierenheid is die “aard van goedheid wat my laat bot, my laat bloeisels maak”. Daar is groei betrokke.
Ons kan ook sê: Goedertierenheid is God se lente in my winter!
Lees:
Mediteer:
- Wat beteken God se goedertierenheid vir my vir vandag en vir môre?
Bid:
Vader, dankie vir U goedertierenheid, U troue liefde wat my laat groei en floreer. Vader dit is wie U is. U is, goedheid wat my omvou en voorspoedig maak. Dankie Here!
Bonus: Spreek Lewe!
God se aard, Sy goedheid, laat my floreer!
Aanbidding:
What a Beautiful Name/Worthy – Lizzie Morgan & Charles Weems
Dag 2: Khesed
Hierdie woord “Khesed”, wat onder andere beskryf word deur terme soos goedertierenheid en lojaliteit, is nie net om te sê dat God somtyds liefde en guns bewys en soms vol genade is nie. Dit is soveel meer...
“Khesed is die ingesteldheid van toewyding om jou woord na te kom; gewoonlik is dit verpligtinge wat binne die konteks van ’n verbond of ooreenkoms gedefinieer is”.
Dit is die ingesteldheid van toewyding om integriteit te bewys.
Khesed is dus God se lojaliteit aan Sy verbond, aan Sy beloftes, aan Sy verhoudings, aan Sy identiteit. Dit is deel van wie God is en hoe Hy Sy identiteit uitleef. Om te verstaan hoekom ons hierdie woord kan beskryf as guns of goedertierenheid, moet ons verstaan wie God is!
Dit is wie God belowe, wie Hy is. God is getrou aan Homself en aan dit wat Hy sê! Daarom kan ons in die Woord kyk na wat God oor Homself sê, hoe Hy Homself voorstel en hoe Hy Homself sien.
Ons lees in Eksodus 34:5-6 hoe God Homself aan Moses voorstel:
“En die Here het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die Here uitgeroep. En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep: Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou”.
Hierdie is hoe God Homself beskryf. Hy is Almagtige God, maar Hy kies om Homself te beskryf as:
- Barmhartig
- Genadig
- Lankmoedig
- Groot van goedertierenheid
- Trou
Dit is die belofte wat God gee oor wie Hy is.
Wat wil God hê moet ons weet van Hom?
Wanneer Hy kommunikeer wie Hy is, belowe Hy, Hy is: liefde, genadig, vergewensgesind. Dit is wat goedertierendheid is.
Maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. God is presies wie en wat jy nodig het in elke situasie. Hoe meer jy die Woord bestudeer, hoe meer sal jy besef wie God is, waarvoor Hy is, en wie Hy vir jou wil wees.
God is totaal en al toegewyd, ten spyte van jou.
Sy verbond van Khesed, is met Homself gesluit en word nie bepaal deur jou besluite, optrede of identiteit nie. Wie Hy is in Sy verhouding met jou, is wié Hy bepaal het Hy ís, onafhanklik van jou – dit is ’n uitgemaakte saak.
Wie Hy is behels áltyd genade, uiterste liefde, getrouheid, vriendelikheid, en ook vergifnis.
Lees:
Mediteer:
Wat beteken Khesed vir jou?
Glo en aanvaar jy God se lojaliteit teenoor jou?
Is daar iets wat jou beeld van God belemmer?
Khesed is nie ’n gevoel nie, dit is.....
Bid:
Vader, dankie vir U barmhartigheid, liefde en trou en dat U goed is, goedertieren is, Khesed is, omdat dit is wie U is. Dat wie U is, en wie U is vir my, nie veranderlik is volgens my eie onstandvastigheid nie. U is standvastig, onwankelbaar, opreg en getrou. Dankie vir die verbond wat U met U Self gesluit het, sodat ek ook veilig in verhouding met U kan staan. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God is Khesed en daarom word ek ingesluit in Sy verbond!
Aanbidding:
You Keep Your Promises – Charity Gayle
Dag 3: Khesed agtervolg jou
In ’n tyd van lyding, pyn en smart, skryf Jeremia Klaagliedere. Hy verwys na sy swerwersbestaan en die wildeals en gif in Klaagliedere 3:19-24. Dat dit wat met hom en om hom gebeur, so toksies is dat dit ‘n mens alleen en bitter laat voel. Terwyl dit so moeilik gaan, skryf Jeremia tog ’n boodskap van hoop:
“Dit is deur die troue liefde (Khesed) van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom” (Vers 22-24).
In tye van pyn, en lyding, weet God hoe jy voel, en Hy verstaan. God se Khesed is die hoop wat jou aanwakker en jou neerslagtigheid laat wegsmelt. Dit is God se hand wat jou uit die depressie en vrees lig, die duisternis verdryf. Dit is wat jy nodig het in donker tye; God se liefde en lojaliteit wat jou vashou en genesing en hoop bring. Dit is God wat ’n vlam in jou binneste stook!
In vers 21-22 sê Jeremia spesifiek dat wanneer hy dink, sal hy onthou, hy sal herroep, sy hart bekeer na die Here toe en homself herinner aan die liefde en trou van die Here. Dit is wat jy doen in winter seisoene van die lewe. Jy onthou God se goedheid en liefde. Dit is wat jy nodig het in tye wat jou hart soos winter word. Wanneer jy op hierdie slegte plek is, het jy nodig om jou hart terug te bekeer na liefde toe, sodat jy weer kan groei en bot. Jy het nodig om jouself te herinner aan God se Khesed. Draai jou kop na die son, sodat Sy lig op jou skyn en jou gesig warm maak, dat Hy jou denke verhelder en jou laat groei en bloeisels maak. Dit is waar jou hoop lê; in Hom!
Wie God is, is genoeg vir jou, want Hy is alles wat jy nodig het. Hy is lief vir jou al is jy in ’n plek van swakheid. Die Here se troue liefde is juis daar vir jou in die oomblik. God se troue liefde verander jou storie. God se uiterste liefde, Sy ongelooflike lojaliteit, smelt die pyn weg en verlig die smart. Sy genade en liefde, is elke oggend vars en nuut. Selfs al dwaal jy weg, sal Sy liefde jou weer kom soek, jou bly volg, omdat Sy liefde elke oggend opnuut soek na jou. Sy goedheid en Khesed sal jou najaag en jou vind!
Lees:
Mediteer:
- Sukkel jy met swaarmoedigheid, bitterheid of depressie?
- Wat is die twee oplossings volgens Jeremia?
- Het jy al jou hart terug bekeer na die Here toe?
- Aanvaar jy wie God vir jou wil wees?
Bid:
Vader, dankie dat U goedheid en guns my volg, my agtervolg en my vind. Dat ek elke dag U nuutheid en goedheid kan beleef en U Khesed deel is van my lewe. Vader ek wil onthou van U goedheid in my doen en late elke dag en nie vergeet nie. Dankie dat U alles is wat ek nodig het. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God se liefde jaag my na en vind my!
Aanbidding:
Dag 4: Verbondsliefde
Daar is twee maniere waarop ons Khesed in ons lewens kan waarneem. Die eerste manier is in ’n verbond. Khesed is die verbondsliefde wat God ingestel het.
Die huwelik is hierdie verbond wat God ingestel het, waar Sy Khesed beleef word; God se goedertierenheid en trou sigbaar word.
’n Huwelik is ’n plek waar ’n mens die seerste kry, omdat ons dikwels geneig is om dié naaste aan ons die seerste te maak. Maar in God, het ons altyd hoop:
“Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid” (Klaag. 3:21-24).
God het die huwelk ingestel om Sy Khesed te reflekteer, en wanneer jy jou daarop toespits om só te leef, jou eggenoot met liefde te soek en te vind, in toewyding en ’n ingesteldheid van nuwe genade elke dag; wanneer God jou bron word, en jy Khesed uitleef, sien hoe jou huwelik bloeisels maak en vrug dra. Dan gaan dit ook goed met jou, want God se liefde is nie beperkend nie.
Wanneer jy jou eggenoot najaag met goedertierenheid (faithful, loving, kindness), dan floreer hy/sy. Wanneer jy Khesed teenoor jou maat uitleef, word jy ’n beter, meer volwasse eggenoot.
Hou God in oë en wees vasberade om jou maat lief te hê met Goddelike Khesed (troue liefde, guns, liefde, verbondsliefde, lojaliteit, lovingkindness, everlasting love, unfailing love, grace, tender mercy, forgiveness, truth, faithfullness). Hierdie is nie ’n gevoel nie. Dit is ’n Goddelike besluit om toegewyd te leef met God as die bron van hierdie Khesed.
Moet nie toelaat dat jou huwelik ’n plek van bitterheid word nie. Wees intensioneel en kry hulp as dit nodig is. Laat toe dat jou huwelik getuig van Khesed.
Begin by God, by wie God is, en laat toe dat Hy jou bron, is waaruit jy leef. God se goedertierenheid is die basis van ’n gesonde huwelik. Wanneer Sy goedheid sigbaar word deur jou, dan floreer jou eggenoot binne in hierdie Goddelike verbond. Dit is ’n weërspieëling van God se karakter, God se Khesed.
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan jy God se Khesed na jou eggenoot toe uitleef? Maak ’n nota van ’n paar praktiese maniere en begin dit stelselmatig toepas.
Bid:
Vader, huwelik is nie maklik nie, maar ek besef nou dat U huwelik gemaak het om U te reflekteer. U staan binne verhouding en leef goedertierenheid teenoor my uit. Sal U my help om goedertierenheid teenoor my eggenoot uit te leef, om genade en vergifnis uit te leef, lojaliteit en troue liefde. Ek is afhanklik van U as my bron om Khesed uit te leef in my huwelik. Dankie dat ek kan weet dat dit ook U wil is, vir eenheid, liefde en trou, en dat U daarom ingryp en nuut maak. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Huwelik is deur God ingestel as ’n refleksie van God. Khesed is Goddelikheid in my huwelik!
Aanbidding:
Shine You Light Through Me – Chris Tomlin
Dag 5: Khesed is Jesus
Daar is twee maniere waarop ons Khesed in ons lewens kan waarneem. Die eerste is deur die huwelik as ’n verbond. Die tweede manier is ook in ’n verbond. Khesed is die verbondsliefde (convenant loyalty and covenant love), wat Jesus Christus vir ons kom bewys het. Dit is waarna God verwys en oor geprofeteer het in die Ou Testament. Deur die Evangelie, leer ons dat hierdie verbond deur Jesus Christus beseël is.
God het ons kom najaag in die vlees, ons wat verlore was en is, kom soek. Hy het ons kom wakker maak en in Sy vergifnis toegedraai. Sy troue liefde, het ons sondes weggewas en ver van ons verwyder. God dink nuut oor ons en nie meer aan ons sondes nie. Hy dink aan ons deur die lens van Sy verbond!
“God’s mercies are not abstract. They are new every morning because they are embodied in Christ. In Him, the steadfast love of the Lord is not just a promise—it’s a Person” (Tim Keller).
Jesus is Khesed wat my kom soek, kom haal, vergewe en vir my hoop gee. Jesus is Khesed wat my neerslagtigheid laat wegsmelt. Jesus is my lente en die einde van my vrees. Sy liefde verander my winter en laat my weer bot. Hy is my vreugde en die son op my gesig!
“Because Your lovingkindness is better than life - this is the cry of the soul that has seen Jesus” (John Piper, volgens Psalm 63:4).
God se lojale liefde is die medisyne vir ons harte, wat angs en smart verwyder. Hy wek blydskap in ons harte.
As jy ver voel van God af, kom terug huis toe en laat toe dat God se genade en vergifnis jou vang en vashou. Die Here se liefde jaag jou ná. Hy wil die bron van jou vreugde wees. Sy liefde is wat jy nog altyd gekort het en na opsoek was. Kom terug na God toe en laat toe dat Sy barmhartige, lojale liefde jou omvou, jou vashou en jou vrymaak.
Lees:
Mediteer:
- Hoe raak ek deel van God se verbond?
- Hoe kan God se liefde my najaag en vind?
- Is ek bereid om deur God gevind te word?
Bid:
Here Jesus Christus, ek glo en bely dat U die Seun van God is. Ek het U as my Redder nodig. Vergewe asseblief my sondes.
Ek glo en aanvaar nou, dat U vir my aan die kruis gesterf het. Dat my sondes deur U kruiswerk vergewe is en dat ek nou versoen is met God die Vader.
Dankie Vader, dat U nie meer aan my sondes dink nie. Dankie vir hierdie ongelooflike genade. Dankie dat ek nou vrye toegang het tot U, deur die kragtige werk van die kruis deur Jesus Christus. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus is running after me!
Aanbidding: